Nuuskommentaar: Gaan Afrika-spitsberaad globalisering hupstoot gee?

Foto: www.sourcingjournalonline.com

Foto: www.sourcingjournalonline.com

Voorstanders vir globalisering wat met Brexit ’n hou weg het, is opgewonde oor die potensiaal van ’n e-paspoort wat die week tydens ’n spitsberaad van die Afrika-unie (AU) in Kigali, Rwanda, bekend gestel word. Hierdeur hoop hulle word verlore grond herwin. Maar ken hierdie hoopvolles die harde werklikhede van Afrika?

Terwyl die 27ste Afrika-spitsberaad wat gister in Kigali, Rwanda, begin het, in Suid-Afrika bitter min media-aandag geniet, word daar met sommige oë elders in die wêreld met groot aandag daarna gekyk. By dié geleentheid word Afrika se e-paspoorte bekend gestel, en van die AU se top-amptenare in Addis Abeba sal die eerste ontvangers hiervan wees.

Vir die voorstanders van globalisering is dit ná die liederlike bloedneus weens Brexit, en die Skotte se nuwe stemmakery oor onafhanklikheid, soos balsem. Politieke wetenskaplikes wat globalisering as die noodwendige verloop van die toekoms beskou het, gryp met die e-paspoorte na grashalmpies.

Die e-paspoorte sal aan die houers daarvan vrye, visumvrye toegang tot ander lidlande van die AU gee.

Die voorstanders wys uitasem van opgewondenheid na die openingsboodskap dat die spitsberaad gemik is op “an integrated, prosperous and peaceful Africa, driven by its own citizens and representing a dynamic force in the global arena”.

Die AU wys ook daarop dat die spesifieke doelwit van die e-paspoort “is facilitating free movement of persons, goods and services around the continent – in order to foster intra-Africa trade, integration and socio-economic development”.

Skeptici, en die werklikheid in Afrika, vertel natuurlik ’n heeltemal ander storie. Die naweek het die Verenigde Nasies se veiligheidsraad tydens ’n byeenkoms beslis dat die geweld in Suid-Soedan tot ʼn einde moet kom. Na berig word, is 272 mense in die jongste gevegte in die Suid-Soedannese hoofstad, Juba, dood. Die gevegte woed tussen die magte van pres. Salva Kiir en die visepresident, Riek Machar. Tegnies geld daar ’n vredesverdrag tussen die twee, en nie een weet mooi hoe en hoekom die gevegte uitgebreek het nie.

’n Wye opvatting bestaan egter dat Kiir die vredesooreenkoms nie ernstig opneem nie.

Die ironie is dat Suid-Soedan tot stand gekom het juis om onomkeerbare geweld in die heterogene Soedan te probeer hokslaan. Die AU het, soos in die geval van Eritrea, sy handves se bepaling oor die onskendbaarheid van koloniale grense eenkant geskuif – ’n bepaling wat maak dat Marokko nou al baie lank weens die anneksasie van Wes-Sahara nie deel van die AU is nie.

Die realiteit is dat daar in die praktyk eerder enorme strome teen eenheid is. Afrika word lank reeds daarvan beskuldig dat dit sy eie groeipotensiaal ondermyn deur op bilaterale en multilaterale vlak versmorende grensbeheer as deel van handelsreëlings op mekaar toe te pas. Dis dikwels vir ’n land meer lonend om produkte na Europese lande, as na ’n buurland, uit te voer.

Niemand kan mooi voorspel wat die sielkundige uitwerking van groter eenheid op minderheidsgroepe en volke wat nou deur koloniale grense verdeel word, sal wees nie. In Europa is gevind dat verskeie groepe, soos die Skotte, Vlaminge en Kataloniërs, na groter selfstandigheid begin beweeg het namate die Europese Unie die karakter van ’n staat begin aanneem het. Daar word gevoel dit is onnodig om nog deur ʼn regering soos die Britse, Spaanse of Belgiese regering te moet werk om by die Europese regering te moet inskakel.

Maar gaan huidige Afrika-despote sonder meer toelaat dat groot dele van hul bevolking deur ’n oorhoofse verenigingsproses dros?

Vir pro-globaliseringsondersteuners om verlore aansien vir globalisering in die jongste AU-verwikkelinge te soek, is soos om wors in ’n hondehok te soek. Hulle ken eenvoudig nie die harde werklikheid van Afrika nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarie ·

En is die werklikheid nie erg nie. Die lande wat baatvind is altyd die lande wat die agterlikste is en as die lande meer is dan is dit gedoem.

John ·

Na-apery van die EU-styl. Hoe oorspronklik! Watter land gaan Duitsland se posisie verteenwoordig met sy arrogante nazi-leierstyl en watter land gaan die meeste deurloop onder instromings van elders. Terrorisme sal soos groot pes versprei. Koes almal… nog ‘n nagmerrie se wit spookstert swaai wyd en suid…

Wern ·

Die supperykes is lief vir globalisering en vrye beweging van hulself want dan kan hulle selfs nog vinniger en makliker hulpbronne stroop en klein familieondernemings oorneem of uitdruk.

Thuunda ·

Kan net dink hoeveel meer miljoene in SA in sal kom as dit ‘n vrye migrasie gebied soos die EU word.

En natuurlik sal die onwettigheid met rasse skrede vermeerder.

Theuns ·

Dankie Herman vir nog ‘n seldsame toekoms blik op die toekoms van Afrika. Nadat ek jou berig gelees het kry ek skielik die beeld in my gedagte van n grasveld wat in saad is en swerm voels wat opvlieg na ‘n volgende kol toe, gaan sit en na ‘n rukkie weer opvlieg en so al die saad stroop. Dit gee ‘n beeld van wat gaan gebeur as die grense oop is en vrye toegang vir almal daar gaan wees. Dink aan al die kriminele aktiwiteite wat sal aangaan nl mensehandel, diefstal, dwelmhandel, korrupsie , moord ens. En die beste van alles die polisie sal heeltemal oneffektief wees. Kriminele sal van een grenslose land tot die ander grenslose land beweeg sonder om ooit gevang te word! Europa en die Afrika oorgrens parke is ‘n goeie voorbeeld en hoe dinge eksponentieel verkeerd sal gaan!

GJ de C K ·

In praktyk is dit juis die geval in die RSA. Hier is verskeie volke en gemeenskappe onder een staatsbestel ingedwing…en dit gaan “lekker” (sarkasties).

Tipies Afrika sal hul juis (uit pas met die beste volke in die wêreld) globalisering hier verder voer.

Dié verskynsel is ‘n skim wat nagejaag word uit gebrek aan behoorlike bestaanshandhawing van volke. Soos straatkinders wat bendes vorm weens gebrek aan ouerlike sorg.

Wern ·

Ons moet begin onderhandel vir selfbeskikking voor dan, so gou moontlik!

Hein ·

Wern voordat ons begin onderhandel vir selfbeskikking moet ons ‘n Afexit uitvoer op die huidige S.A. demokrasie. Ons moet onsself ontrek vanuit die demokrasie deur nie aan verkiesings deel te neem nie. Onthou deur deel te neem aan die verkiesing gee ons erkenning aan die demokrasie. Dit is nie ‘n demokrasie net omdat die meerderheid se dit is ‘n demokrasie nie. Die regering wil he ons moet deel wees van die demokrasie en dit kan ons gebruik as ‘n hefboom vir onderhandeling vir selfbeskikking.

Theuns ·

Middag WERN. Ek stem saam met jou! Ek het nie vir die bestel gestem nie maar dit maak nie meer saak nie. Die witmense het oorweldigend gestem vir die huidige bestel en hulle demokratiese reg uitgeoefen. Hulle het dit gedoen agv van leuns wat aan hule opgedis is. 1994 is daar dus ‘ n kontrak gesluit tussen die regering en die bree samelewing onder sekere voorwaardes waarvan die huidige regering alles geskend het. Maw daar is kontrak breek gepleeg wat seker in Regs Terme beteken dat ons moet terugaan na die onderhandelings tafel? Wat is jou opininie Herman?

Wern ·

Absoluut het die huidige regering kontrakbreek gepleeg, die onderhandelinge het nie behels dat ons afgemaai gaan word, onregverdig van rassisme beskuldig word en ons ons sosiale instansies soos skole, selfs kleuterskole, universiteite en nou al kerke gaan verloor nie. Regstellende aksie sou sover ek weet net beperk wees tot staatsposte. Ons kan nie meer so aangaan nie. Ons moet uit. Daar is regtig nie enige hoop nie. Die laaste hoop sou wees op n nuwe goed geskoolde swart generasie maar die ANC hou nie eers by sy beloftes oor opvoeding aan swartmense nie met bewys dat ons die swakste skoolsisteem in die wereld het. Die regering het ons bedrieg en ons moet nou onsself regeer eerder. Daar is mos voorsiening gemaak, ons moet nou die proses begin.

Freud ·

Hierdie e-paspoort gooi die land se grense vir nog 10 miljoen immigrante oop. Die ou paspoorte sal heeltemal goed werk. Al wat gedoen moet word is net om die visum regulasies te verander. Iemand maak weer n hand vol geld hieruit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.