Nuuskommentaar: Gaan Afrikaans die pas kan volhou?

afrikaanse-taalmonument-leuse

Die Afrikaanse taalmonument in die Paarl. Foto: commons.wikimedia.org

Afrikaans het pas sy 92ste bestaan as amptelike taal gevier, maar die enorme druk wat die taal ervaar – ook uit eie geledere – laat baie mense wonder of die taal ’n toekoms het. ’n Nuwe navorsingsverslag uit Nederland toon dat die Engelse taalmode grootliks die wyk daar geneem het, maar in Suid-Afrika is die modegier nog sterk.

Afrikaans het pas sy 92ste herdenking as amptelike taal gevier. En al is Afrikaans reeds lank daarvoor gestandaardiseer, bly dit ’n jong taal. Maar is die prognose inderdaad dat ’n kindersterfte (in taalgeskiedenis-terme gesproke) op hande is?

Een van die redes wat gereeld gehoor word oor hoekom Afrikaans in die stof gaan byt, is dat selfs Nederlands, ’n veel groter taal, geleidelik in Nederland en België voor Engels die aftog blaas. Veral uit die akademie word gehoor van klasse wat nou in Engels plaasvind, en wetenskapartikels wat in Engels verskyn. Engels dring ook die Nederlandse woordeskat binne, word aangevoer.

Maar hoeveel van hierdie aansprake is inderdaad op feite gebaseer?

Dié week het die Meertens Instituut, die Taalunie en die Universiteit Gent ’n navorsingsverslag die lig laat sien wat van baie van die doemprofeet-aannames kleingeld maak. “De Nederlandse taal behoudt een sterke positie in het dagelijks leven en wordt nauwelijks daadwerkelijk bedreigd door het Engels. Het Nederlands is in vrijwel alle sectoren van de samenleving dominant en bijna alle – oorspronkelijke en niet-oorspronkelijke ‘moedertaalsprekers’ – vinden het Nederlands een ‘mooie taal’ die vooral aan de volgende generatie moet worden doorgegeven,” berig Trouw.

Nederlands word wel deur globalisering en immigrasie beïnvloed, lui die verslag.

Enkele sektore voel wel die Engelse druk. Altesaam 48,3% van die Nederlandse respondente, en 53,6% van die Vlaamse respondente en 66,7% van die Brusselse respondente in die navorsingsektor wys daarop dat die jaarverslag van hul werkgewer naas in Nederlands, ook in Engels gepubliseer word.

Engelse woorde, veral uit die rekenaarwêreld, wat Nederlands indring, word gou vernederlands. Die omvang daarvan is ook te gering om Nederlands te bedreig.

Intussen het Engels vanuit ’n ander oord onder druk begin kom. Gaan Brexit veroorsaak dat Engels se invloed in Europa gaan afneem? Die vraag word nou gevra nadat aanvanklike vrese dat Engels as amptelike taal van die Europese Unie afgeskaf kan word, wat die Engelse betref, besweer is. Engels se probleem is dat die ander “Engelssprekende lande” in die Unie, Ierland en Malta, Iers en Maltees onderskeidelik as hul amptelike tale by die EU “opgegee” het. Met Brexit is daar dus geen land oor wat Engels as voorkeurtaal aangedui het nie. Trouens, hoewel Iers al sedert 2007 ’n amptelike taal van die EU was, gaan dit nou geleidelik opgegradeer word om ’n ten volle gebruiks- en werkstaal van die Unie te word.

Maar hoe raak dit die posisie van Afrikaans?

In die briewekolomme word gereeld verwyte geslinger dat Afrikaans se kreeftegang by voormalige Afrikaanse universiteite die gevolg is van druk/gekonkel/beïnvloeding deur “ons eie mense”. Inderdaad het stemme gereeld uit hierdie geledere opgegaan, en by geleentheid is selfs ’n petisie by die US geteken (weliswaar deur ’n kleinerige minderheid van die personeel) om te pleit vir verengelsing. Prominente Afrikaanse vanne duik byvoorbeeld ook op onder diegene op die voorpunt om Afrikaans by Kovsies grootliks mee weg te doen (onder die vaandel van die bevordering van meertaligheid).

Dat Afrikaans oor ’n wye front deur die owerheid weggewerk word, is geen geheim nie. Die Suid-Afrikaanse Ruimteagentskap, wat onder die ministerie van Naledi Pandor val, is een van talle instansies wat die Taalwet “gebruik” het om die Grondwet te ondermyn, en met Afrikaans weg te doen. Engels, Zoeloe en Pedi word as die agentskap se amptelike taal bevorder.

Of nog erger, as ’n premier die verhitte atmosfeer van die begrafnis van ’n seun gebruik om wesenlik Afrikanerskap met rassisme gelyk te stel. Hy het nou ’n klag by die Menseregtekommissie op die lyf geloop.

Die aanslag teen Afrikaans kom nie net van owerheidsweë nie. Die aanbied van die pas-afgelope Bloem Show met bykans alles slegs in Engels – ook die feesleuse – is maar net ’n enkele voorbeeld.

’n Neiging om ouer uitdrukkings te “vernuwe” lei soms tot koddighede, indien nie lawwighede nie. ʼn Nuwe pad word nou “oopgemaak” in plaas van “geopen”. Word stootskrapers ingespan om ’n grondwal weg te werk sodat die nuwe pad nou oop vir gebruik kan wees? In plaas daarvan dat iemand ’n operasie ondergaan, “kry” hy nou ’n operasie, of ietwat meer deftig, hy “ontvang” nou ’n operasie. Interessant, volgens die verslag oor Nederlands verkies die Nederlanders ou woorde en begrippe, en is lief daarvoor.

Die voorbeelde van die aanslag op Afrikaans is legio.

Tog oorpresteer Afrikaans op vele terreine. Talle Afrikaanse organisasies werk op verskillende maniere om die posisie van Afrikaans te bestendig en te bevorder, met die Solidariteit Beweging se Plan B wat op ’n unieke wyse ’n leefruimte (in die wydste sin bedoel) skep.

Die bevelvoerders kan met die beste strategieë na die front opruk, maar as daar nie soldate saamgeneem word nie, gaan hulle waarskynlik op hul baadjie kry.

Ouma het graag vertel van hoe ’n ongeïdentifiseerde oumatjie kort ná die ABO geïrriteerd toegekyk het hoe die kleinkinders in Afrikaans ’n hond uit ’n bos speel. Kort-kort kom haar vermanende stem: “Kinders, julle moet Ingels praat. Dis ghrind om Ingels te praat.” Hiervoor was die kinders horende doof.

Hoewel daar steeds eietydse miesiese Vên der Baails is, het die modeklank oor Engels onder Afrikaanssprekendes minder akuut geword en word eerder argumente van ’n “pragmatiese” aard aangevoer soos dat die kind in elk geval eendag na dié of daardie land gaan verhuis.

Die pikantheid is egter die verskynsel dat dieselfde mense wat so gal braak oor enige aanspraak betreffende voordele wat met kolonialisme gepaardgegaan het (aan Engels) juis so ’n koloniale erfenis koester.

Afrikaans se stryd is nie altyd teen ʼn rasionaal nie, en dit maak dit moeilik, en politiek baie sensitief.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Cornelis Loots. ·

Ek stem volkome saam.Hoekom word die koloniale klere gedra,motors mee gery en koloniale tale gepraat.En een advertensie wat my ń kramp amper sê ek bollie gee, is waar die ou sê “drank is nie te koop aan kinders onder 18 nie”.Nou het ek dit van hart my hart af.Hendrik.

Vark ·

Maar hoekom moet ek vir Afrikaans op die internet betaal ???? Nuus / Naslaanwerke ens…..

So dan gebruik ons maar die gratis Engelse inligting

Dankie aan Maroela vir julle gratis Afrikaanse diens

Pietman ·

Die toekoms van Afrikaans lê by die sprekers. Mense wat baie Afrikaans lees kan ordentlik Afrikaans praat. Die meerderheid kyk slegs tv ( ongelukkig). Dis hier waar hulle slegte gewoontes leer. Die meerderheid Afrikaners is nie trots op hul taal en identiteit nie. Praat selfs met mede Afrikaners engels as sake gedoen word. Ons rugbyspelers praat Afrikaans net so goed as wat hul rugby speel. Ek is trots op my identiteit en taal maar nie op die meerderheid mede-Afrikaners nie.

Jaco ·

Afrikaans se toekoms lê in die hande van die wat dit spreek.

Edward ·

Daar word beweer toe God die eerste keer met Adam in die paradys gepraat het, het Hy Hebreeus gepraat, maar miskien het Hy Engels gepraat. Engels is ‘n magtige taal en jy kan feitlik enige plek in die wêreld daarmee oor die weg kom. Die Jode is versprei oor die wêreld en praat honderde ander tale, maar elke Joodse kind waar ookal in die wêreld kan Hebreeus of Aramees praat. As ons as Afrikaners tegnologie praat, moet ons maar die Engels woorde gebruik, want sommige Afrikaanse woorde vir die internet of cellfone klink maar simpel. Wanneer ons egter in gesins verband met mekaar praat, oor liefde, opvoeding, Christenskap, en oor Jesus, dan moet ons goeie ordentlike Afrikaans praat. Afrikaans is ‘n yster taal wat nie kan sterf nie. Dit sal ontwikkel en verander, maar oor 50 jaar sal dit nog steeds herkenbaar wees as Afrikaans.

Tommie ·

Dis juis die Afrikaanse taalsprekers wat my bekommerd maak – soos sommige eerste taalsprekers dit praat, grawe ons self die graf vir ons mooi taal. Almal het mos nou meetings, en die issue is toe actually nie so complicated nie. Besluite word gemaak i.p.v. om dit te neem. Dan vra ek maar net mense was julle dan nie in die skool waar jy geleer het om trots te wees op jou taal nie, en meer belangrik om dit REG te praat en te skryf nie. Taalreëls blyk ook nie meer nie te geld nie, dis mos nou sommer 21 Boom Straat i.pv. Boomstraat 21. Hierdie goed grief my en ek wonder maar net as dit so aanhou of dit nie juis dan ook die rede word, waarom in amptelike korrespondensie later eerder Engels sal gebruik word i.p.v die “kombuistaal”, wat ons self skep. Sommige van die jong geslag weet nie eens meer wat die Afrikaans vir `n tumble dryer is nie. Selfs radio-omroepers begin nou al so meedoen en praat, om nie eens te praat van sommige sogenaamde Afrikaanse kunstenaars met hulle shows, wat tog dan ter wille van die taal support moet word nie. Tereg het iemand voorheen ook opgemerk: kan mense dan nie meer `n suiwer en ordentlike Afrikaans praat nie? Is dit dan te ver gesog dat opvoeding en behoorlike onderrig in ons taal baie ernstig aandag moet kry en mense ook maar moet reggehelp word?

Stefan Malan ·

Ten spyte van lofwaardige pogings deur organisasies en individue wat daagliks opstaan in die stryd om die aanslag teen Afrikaans af te weer, is die toekoms van die Afrikaanse taal gedoem. Geskiedskrywers sal, waarskynlik teen nie later nie as 50 jaar van nou af, bevestig dat die oorlewingstryd wat Afrikaans nou voer, die einde van Afrikaans as ‘n amptelike taal ingelei het.

Anders as in Europa, bestaan in Suid-Afrika twee massiewe oorhoofse en meewerkende kragte wat Engels as voorkeurtaal dryf. Hierdie kragte lui nie net die einde van Afrikaans in nie, maar dit is ook ‘n bedreiging vir die voortbestaan van die huistale van Afrikataalsprekers in Suid-Afrika. Hierdie kragte is opgesluit in die politiese oriëntering van die meerderheid van die bevolking en daarmee saam die getalle-oorwig wat logieserwys ‘n taalvoorkeur sal bepaal. In hierdie konteks is Afrikaans histories die taal van die onderdrukker vir Afrikataalsprekers en dit is te verstane dat Afrikaans afgewys sal word ten gunste van Engels wat hier reeds ‘n gevestigde kommunikasiemedium is. Hierbenewens is Engels ‘n gemeenskaplike kommunikasiemedium vir verskillende Afrikataalsprekers.

Saam met die nuwe voorkeur van vele tradisioneel Afrikaanssprekende gesinne, het Engels ook die voorkeur huistaal vir die opvoeding van kinders van Afrikataalsprekers geword. Die toenemende getalle-oorwig vir die voorkeur van Engels as opvoedings- en ook as onderrigmedium, lei reeds daartoe dat die getal Afrikaansmedium skole drasties afgeneem het. Die verengelsing van tersiêre instellings het gevolg.

Aanvaar dit, ons leef in die eindtye van die status van Afrikaans as ‘n eens trotse amptelike landstaal.

Boela ·

In ‘n Afrikaner-volkstaat sal Afrikaans as amptelike taal veilig wees. Nog ‘n rede om vir selfbeskikking te veg.

Cherokee ·

Boela, al die jare waartydens Afrikaans amptelike status geniet het, was dit net so geminag soos nou. Die gemiddelde Afrikaanssprekende het geen taaltrots. Daar is ‘n stelling wat lei: ‘Hoe meer regsgesind, hoe swakker die Afrikaans.’ Die uwe is heel konserwatief maar moet erken dat dit ook my afleiding is. En die spelling! Die mense weet nooit of dit ‘n y, ui, of ei moet wees nie, hulle weet nie of hulle ‘n d of t moet gebruik nie en in ‘n ander kommentaar ‘wyer’ iemand om te betaal. Afrikaans se grootste vyand is in die binnekring. Wat Afrikaans vir my miskien selfs meer van ‘n juweel maak is omdat ek Afrikaans net in my huis praat. Wanneer ek in die oggend by die deur uitstap na die kantoor is ek in ‘n Engelse wêreld totdat ek terug is by die huis. Dit is egter nie die enigste rede vir patriotisme nie – Afrikaans is ‘n lieflike taal met pragtige uitspraak en ewe mooi geskiedenis.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.