Nuuskommentaar: Gaan die DA Afrikaners se guns terugwen?

Opposisiepartye het die plakkate as rassisties bestempel. (Foto: Eusebius McKaiser/Twitter)

Die DA se verkiesingsplakkate in KwaZulu-Natal het verlede week vir ʼn herrie gesorg. Die plakkate lui “The ANC called you racists. The DA calls you heroes”. Dít natuurlik met verwysing na die gebeure in Phoenix te midde van die onluste en plundery van vroeër vanjaar.

Die DA se plakkate is regtig sleg ontvang met van die grootste kritiek wat vanuit eie geledere gekom het. Hierdie plakkate wyk af van die DA se sterk diensleweringsboodskap van “Die DA kry dinge gedoen”. Hierdie plakkate neig na die einste rassepolitiek wat die party in 2019 met die Schweizer-Reneke-storie so seergemaak het by die stembus.

Vanjaar is ʼn verkiesingsjaar. As jy ʼn vis in die water sit en hy begin swem, moet jy ook nie verbaas wees nie. Politieke partye wat aan partypolitiek deelneem, moet politiekery beoefen in verkiesingsjare – dit is wat hulle doen. Die groot vraag in elke verkiesingsjaar gaan dan nie wees óf politieke partye met die mense gaan praat nie, maar eerder met wie presies hulle gaan praat.

Die vorige keer dat die DA in dieselfde soort rasse-omstredenheid vasgevang was, was inderdaad die Schweizer-Reneke-sage – presies dit wat hulle wou vermy. Interessant genoeg, en waarskynlik ook nie toevallig nie, het hierdie sage hom in 2019 afgespeel – die jaar van die vorige nasionale verkiesing.

Mmusi Maimane was in daardie stadium die partyleier met die DA wat toenemend in die rigting van swart nasionalisme van die ANC begin neig het. Hulle het onder Maimane hulself toenemend gedefinieer as party vir alle Suid-Afrikaners met talle beleidsondertone van die ANC. Die DA wou nie te sterk vir of teen enigiemand staan nie – hulle wou iets vir almal wees.

In die Schweizer-Reneke-sage het die DA-lede uiteindelik ook via hul federale jeugleier van daardie tyd, Luyolo Mpithi, hul kant in die rassegeveg gekies. Mpithi het Elana Barkhuizen sonder enige feite of bewyse as ʼn rassis bestempel met die DA wat die gevolge hiervan moes dra. ʼn Groot deel van die DA se kieserskorps – meer spesifiek Afrikaners – het die party in die 2019-verkiesing gestraf.

Ná die 2019-verkiesing is Maimane regtens laat gaan as leier van die DA met die DA wat die enigste groot opposisieparty is wat in setels gekrimp het. Die DA het die vertroue en lojaliteit van sy kiesers verloor en die party het dit ook geweet. Met John Steenhuisen as nuutverkose leier en Helen Zille terug as federale voorsitter het hulle in ʼn politieke herlewing teruggekeer na die sogenaamde ou DA. Die klassiek liberale DA wat aanvanklik die guns van kiesers gewen het.

Hierdie kwessie het die DA egter nie minder populisties of politiekerig gemaak nie – sy gehoor het bloot verander. Die DA is deeglik bewus van die groep wie se stemme hy in 2019 verloor het en vry kliphard na Afrikaners om dit terug te kry.

Die handhawing van wet, orde, reg en geregtigheid is een van die kwessies wat vir sommige Afrikaners die belangrikste is. Selfs al het Afrikaners nie soveel met die Phoenix-gebeure te doen as die Indiërgemeenskap nie, het die DA die geleentheid raakgesien om politieke speelveld terug te wen.

Hierdie keer het die DA tegnies gesproke die regte kwessie geïdentifiseer en ook tegnies gesproke die regte kant daarvan gekies. Dít natuurlik ongeag wat ʼn mens van die inhoud van die plakkate dink. Die DA probeer diegene terugwen wat wet en orde ongelooflik belangrik ag – dít is hoe hulle gedink het dat hulle dit gaan regkry. Eerder as om die moontlike rassisme van Phoenix goed te praat, was die bedoeling om die desperate optrede van Phoenix-inwoners te verdedig.

Nou is die DA weer in rasse-omstredenheid vasgevang – hierdie keer aan die ander kant van die geveg. Die DA erken dat sy bedoeling goed was, maar die bewoording sleg. Hulle wou nie rassisme voorstaan nie, maar eerder wetteloosheid teenstaan.

Die politiek handel egter ten minste net soveel oor beeld as oor beleid. Vir diegene wat nie van die plakkate gehou het nie of net apaties daarteenoor gestaan het, voel hierdie stap nou net soos goedkoop politiek om hul stemme terug te wen. Dit is nou net nog ʼn foefie van ʼn party wat nog net met die vorige verkiesing ʼn ander karakter gehad het – goedkoop rassepolitiek van korttermyngeheue-politici. Diegene wat wel van die plakkate gehou het, is nou doodeenvoudig teleurgestel deur die DA. Hoewel die DA volstaan met die bedoeling van die plakkate, het hulle dit wel afgehaal – ʼn bietjie druk het die partylede laat vou.

Sodoende is die relevante vraag dan nou of die DA die stemme gaan terugwen waarna hy op soek is – was dit werklik ʼn wenstrategie? ʼn Mens kan die DA nie blameer omdat die party politiekery pleeg in ʼn verkiesingsjaar nie – elke liewe ander party doen presies dieselfde op hul eie manier. ʼn Mens kan egter die vraag vra oor wat die langdurendheid was van die verlies wat die DA in die vorige verkiesing gely het. Het ʼn groot klomp Afrikaners die DA net gelos totdat die party beter beleid en ʼn ander karakter gekry het? Het ʼn klomp Afrikaners die DA nie eintlik maar finaal afgeskryf nie?

Munisipale verkiesings in Suid-Afrika begin al hoe meer die aard aanneem van nasionale verkiesings. Dit beteken dat dit al hoe minder oor dienslewering op grondvlak begin gaan en al hoe meer oor nasionale party of politieke identiteit. ʼn Mens sien dit ook in die feit dat feitlik geen party in die munisipale verkiesing nié hul nasionale partyleier lewensgroot die wêreld vol adverteer nie. Daar is nie noodwendig iets fout daarmee nie – dit is bloot ʼn werklikheid.

Indien hierdie tendens enige noemenswaardige invloed op die werklikheid het, sal die vraag dan nou wees watter invloed dit op die DA het. Die party se sterkste boodskap bly dié van dienslewering en skoon regering – dit maak ook sin veral in ʼn munisipale verkiesing. Indien munisipale verkiesings al hoe meer op beleid gegrond gaan wees, is die vraag dan of die DA daarin kan slaag om die stemme terug te wen wat hy in die eerste plek met identiteitspolitiek verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Gaan ek stem vir die ANC…..NEE, NEE en 50 NEE. Gaan ek stem vir EFF….. NEE, NEE en 75 NEE. Gaan ek stem vir GOOD….NEE ASSEBLIEF TOG. Gaan ek stem vir IFP, UDM of een van die kleiner party wat eintlik niks vir jou kan doen in parlement of in ‘n munispaliteit nie. Dit los net VFPlus of die DA wat darem die nommers het om die ANC stop te sit.

Anel

Gelukkug het hulle nog nooit my stem gehad om te verloor nie. Ek, as Afrikaner beteken maar eintlik niks vir hulle nie.

Bart-Man

Die DA bied ons, Dienslewering en skoon audits, niks ekstras nie, net die absoluut minimum. In vergelyking met die ander twee groot partye, klink absoluut minimum heel aanvaarbaar vir my.

Werner

Politiek is nie meer die antwoord nie.Ons Sal maar die stukke na die anargie optel.Nie een van die partye Sal dit kan keer nie.Demokrasie kan nie in n reenboog werk nie.Die FV+ is te min om iets reg te kry en die DA te vals om nie van die ander te praat nie.So daar is nie werklik n party wat vir jou iets beteken nie.

Elinette

Ek is seker maar dom, maar ek sukkel nog om die “rassisme” agter die plakkate te sien. Is dit dan rassisties as jy sê iets of iemand anders was rassisties? Help my asseblief reg as ek verkeerd is!