Nuuskommentaar: Gaan die oppergesag van die reg duik?

grondwethof

Foto: Gnatj.com

Al meer uitsprake deur ministers en adjunkministers, asook pres. Zuma, het al uitlatings gemaak asof die regering se planne om grond sonder vergoeding te vat amptelike beleid kan wees. Maar daar is oor ’n wyer front kommer aan die veranderings wat Zuma en sy meelopers mee vorendag kan kom.

In leserskommentare word gereeld groot gewag gemaak en selfs die draak gesteek met “FW se wigte en teenwigte wat nie werk nie”. Tog word breedweg toegegee dat die howe wel funksioneer soos hulle moet – uiteraard met enkele uitsonderings soos die Renate Barnard-saak.

Daar is tans weer verskeie uitsprake van binne die ANC wat die toekoms van onafhanklike howe in die gevaarsone plaas.

Die dubbelpratery oor die rol en oogmerke van die Grondwet en die regspraak in Suid-Afrika kan tot groot mate na die geskiedenis van die ANC herlei word. Verskeie van die topleiers van die ANC is bekende konstitusionaliste, terwyl ander rewolusionêre is.

Onder die konstitusionaliste was, en is, van die land se voorste regsgeleerdes. Hulle was goed toegerus om as ANC-onderhandelaars op te tree tydens die Kemptonparkse onderhandelinge. Die oorgangsgrondwet was skaars voltooi, of ’n nuwe boek, Fundamental Rights in the New Constitution, sien die lig wat ook wyd aan regstudente voorgeskryf word. Onder die skrywers tel bekendes in ANC-geledere soos Davis, Cachalia en Maduna. Hul kennis en ingesteldheid het baie daartoe bygedra dat die ANC groot aansien in die buiteland geniet het.

Maar was hulle toe al die tyd “nuttige idiote” van die rewolusionêre groep? Heelwat het hulle immers nou as leiersfigure laat geld in die #ZumaMustFall-veldtog. Onder hul bekommernisse is die wyse waarop die Grondwet afgerem en geminag word.

Die jongste grondwetlike krisis wat skaars ’n wenkbrou laat lig het, was toe eers ’n minister en adjunkminister, en toe pres. Jacob Zuma self gesê het die Grondwet moet gewysig word om artikel 25 so te wysig dat onteiening van grond sonder vergoeding kan plaasvind. Tegnies is Zuma in die sop hieroor, want hy het nuwe beleid gaan verkondig sonder dat daardie nuwe beleid eers deur die ANC se beleidskongres goedgekeur is.

Dr. Corné Mulder, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor justisie, het egter ’n nuwe kommer onder verantwoordelike burgers verwoord oor planne om die regbank “radikaal te transformeer”. Hy wys daarop dat die Sunday Times meen senior ANC-leiers meen die regters is teen-rewolusionêr.

Dr. Mulder sê die ANC moet besef die regbank behoort nie aan hom nie.

“Die voorneme van die ANC om te probeer inmeng met die proses ingevolge waarvan regters deur die Geregtelike Dienstekommissie aangestel word, moet ten sterkste veroordeel word.

“Dit is duidelik dat die ANC nie daarvan hou dat die regbank hom tot verantwoording roep soos telkemale in die onlangse verlede gebeur het nie. Dit is die taak van die regbank om die Grondwet en die reg ter wille van alle landsburgers in stand te hou.

“Dit raak duidelik dat die ANC nie glo in die oppergesag van die reg nie, maar in die oppergesag van die ANC.

“Die VF Plus sal voortgaan om die skeiding van magte tussen die regsprekende, uitvoerende en wetgewende gesag jaloers te bewaak en om die ANC se voorgenome planne op elke wyse moontlik teen te staan,” sê dr. Mulder.

Die Daily Maverick hanteer die kwessie in drie artikels op een dag. In die eerste artikel word die situasie mooi opgesom: “Last week, President Jacob Zuma decided not to suspend National Prosecuting Director Shaun Abrahams, stepped up his Oprah-ish Free Land For Everyone campaign, and watched from the wings as Sassa did everything it could to bungle the delivery of social grants flowing to increasingly desperate millions of South Africans. Under cover of this busy news week, and as Bathabile Dlamini continued to reinvent the meaning of Satan, Zuma helped undermine the state in two critical ways.”

Die tweede storie handel juis oor die pogings om “progressiewe” regters aangestel te kry. “There can be no doubt that judges and the judiciary in general are not President Zuma’s close and intimate friends. So, when there is movement in the arena around judges and the way they are appointed, it is important to sit up and take notice. On Friday, Zuma said he was nominating Constitutional Court Judge Raymond Zondo to take over as Deputy Chief Justice. The night before, he had removed three of his representatives on the Judicial Service Commission. And on Sunday came news that the ANC wanted to ensure that only ‘progressive’ judges ended up on the Bench.

In die derde storie word probeer om uit te pluis wat die ANC se beleid oor grondhervorming sonder vergoeding is.

Uit verskeie uitsprake van Zuma blyk dit sy sentimente lê by ’n beginsel bekend as parlementêre soewereiniteit. Zuma het gereeld sy frustrasie uitgespreek dat die parlement wette aanneem, maar dat dit dan deur die howe as ongrondwetlik verklaar word.

Dit is omdat Suid-Afrika nou ’n stelsel het van die oppergesag van die reg (Grondwet) (rule of law).

Oor of Suid-Afrika nou ook ’n regstaat is (wat dikwels gebruik word as sinoniem vir oppergesag van die reg), is daar nie altyd akademiese eenstemmigheid nie, en ook nie of dit goed of sleg is as dit nie so is nie. Feit is, die oorgangsgrondwet het verklaar dat Suid-Afrika ’n regstaat is, maar nie die finale Grondwet nie. Een van die tipiese eienskappe van die regstaat is dat ’n konsentrasie van mag verbied word. Dit was in ’n stadium duidelik dat die ANC die land vanuit Luthuli-huis regeer het, en dat die parlement net ’n rubberstempel was.

Al is Suid-Afrika nou tegnies nie meer ’n regstaat nie, is onder meer deur hofsake verhinder dat die ANC steeds sy parlementêre koukus van buite kon beheer. Zuma se klagtes dat die howe hom en die ANC verhinder om hul werk volgens meerderheidswil te doen, is ’n goeie voorbeeld van ’n onbegrip van die verspreiding van mag. Wat hy bepleit, is nie meer ’n demokrasie nie, maar ’n diktatuur van die meerderheid.

’n Grondwet is wel veronderstel om ’n lewende dokument te wees, en gereeld gewysig te word. Maar in die hande van die ANC, en veral met die konstitusionaliste wie se rol baie verklein het, is veranderings byna gewaarborg om rampspoedig te wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Henk ·

Nie eens die Konstitusionelehof het meer enige se in die land nie. Die NVG ignoreer ‘n bevel deur die hof dat Zuma aangekla moet word vir sy bedrog. Die ANC in die parlement ognoreer die hof en gaan steeds voort om Zuma te ondersteun. Dlamini ignoreer die hof sedert 2014 oor die SASSA saak en gaan selfs ‘n nuwe ooreenkoms aan sonder om tenders aan te vra NET om haar minagting teen die hof te openbaar. Hoeveel sake sal ek nog op noem? Hoeveel van hierdie mense is al aangekla vir minagting van die hof? Noem EEN!!

jaco ·

mooi woorde, maar onthou 2 goed:
1. die sogenaamde onafhanklike regters se salarisse word deur die Staat betaal en die Staat word deur die ANC beheer
2. Toe die regters in Zimbabwe aanmekaar gesê het plaasbesettings is onwettig en afvat van wit plase sonder vergoeding is onwettig, het Mugabe eenvoudig daardie regters afgedank en ander aangestel wat sy beleid deur die bank napraat.
DIESELFDE kan baie maklik in SA gebeur. Daar is juis nog nie behoorlike “transformasie” in ons regstelsel nie. Hoeveel regters is nog wit en sal ENIGIETS doen om hulle werk te behou???

Jordaan ·

Buiten die kaping van die regterlike aanstellings, en die dreigemente om die grondwet te verander, is ‘n groot bron tot kommer die blatante ignorering van hofbesluite. Die toelae drame en onwettige kontrak die nuutste voorbeeld hiervan (en dan natuurlik Zuma se eie Nkandla sage). Die hofuitspraak word ignoreer of blatant omseil (is R7m voldoende reparasie vir die diefstal van R250miljoen?) en daar is geen, maar geen aanspreeklikheid nie.

Jordaan ·

Ek stem saam dat die kaping van die regbank, asook dreigemente om die grondwet te verwater, geldig is. Wat egter net soo kommerwekkend is, is die blatante ignorering van hofbevele – soos nou weer met die onwettige sosiale toelaag kontrak. Ander voorbeelde is die Al Basjir geval, en dan ook Nkandla. Selfs al word kastig gehoor gegee, is dit net om die hof te omseil, bv was R7m reparasie voldoende vir die diefstal van R250m om Nkandla te bou en te beveilig? In geen van die gevalle word iemand aanspreeklik gehou nie – in elk geval nie op ‘n wyse soos wat die wet vir ‘n ander landsburger sou toegepas word nie.

Ada ·

Herman, wat ookal gebeur gaan nooit in ons guns tel nie. Ek wil weet of jy nie asb ‘n artikel oor Siener kan skryf nie want die jonger geslag mense weet niks van hom af nie.
Ek sal dit so waardeer.
Dankie

Snuffels ·

Ada

Ek stem volkome saam – ek kan ook doen om dit weer te lees….

Pietman ·

Afriforum en die afrikaner se verweer is huidiglik afhanklik van ‘n onafhanklike regbank . Wat is die plan indien die regbank nie meer onafhanklik is nie? Dit kan wel maklik gebeur.

Jean ·

IN SA geld geen land se uitsprake meer vir die ANC kaders nie. Die ministers en hoëkoppe ignoreer enige uitspraak, Hlaudi en Kie is ‘n goeie voorbeeld daarvan, so ook Malema en Zuma. As jou eie president van die land waarin jy bly geen gesag vir enige hof het nie, gaan die publiek ook mos nie hulleself daaronder submit nie. Die regstelsel tans stel teleur, en dit gaan erger word.

Oom Japie ·

Ja , Herman asb, skryf bietjie oor Seer. Ek sal dit ook waardeer. My ou vriende ook. Ons kom nie altyd by die biblioteek uit nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.