Nuuskommentaar: Gaan die reën stemme wegspoel en is stembrief agterop gestempel?

Foto: Maroela Media

Die verkiesing het bra wanklankig begin toe dit bekend begin word het baie kiesers wat spesiale stemme uitgebring het, se stemme gaan nie getel word nie weens die afwesigheid van ’n OVK-stempel op die agterkant van stembriewe. Hopelik word hiermee plan gemaak. Meningspeilings op die laaste nippertjie het voriges erg weerspreek.

En dan het ’n koue front met reën ook dinge kom deurmekaarkrap.

Vandag is D-dag vir Suid-Afrikaanse kiesers, oftewel die kiesers wat wel gaan opruk stembusse toe. Dié wat om welke rede ook al gaan wegbly, het ongelukkig nie meer ’n sê in die saak nie.

Die smaak vir die verkiesing het vroeg reeds ’n harde hou weg toe dit blyk dat talle kiesers wat gister en eergister gaan kruisies trek het, se stembriewe nie die OVK se stempel agterop gehad het nie, en daardie stemme nie getel gaan word nie.

Gelukkig lyk dit of daar plan gemaak kan word mits die outentiekheid van die stemme bepaal kan word. Vir daardie kiesers sal dit ’n groot verligting wees as hul stemme wel getel gaan word. Na berig word, sou meer as 700 000 kiesers spesiale stemme uitbring, wat nogal ’n groot verskil kan maak.

Gelukkig het die sosiale media die storie betreklik gou “opgetel” en rugbaar gemaak. Talle stemme kon so “gered” word.

Dít is ’n geval waar die OVK die skuldige party was, en dit sal doodeenvoudig onregverdig wees om die kiesers hiervoor te penaliseer.

Iets wat selfs ’n groter invloed kan hê as die stempels is die weer. Groot dele van die land verwag vandag reën te midde van koue en ’n sterk wind – regte siekword-weer. Veral ouer mense, en ander wie se siekteweerstandigheid laag is weens siektes soos kanker, loop die risiko om so siek te word dat hul lewe op die spel geplaas word.

Hoewel die Wes-Kaap en ’n groot deel van die binneland hierdie eendeweer te wagte kan wees, spring groot binnelandse sentra soos Johannesburg, Pretoria, Welkom, Potchefstroom en Rustenburg die reën vry. Van vyfuur vanoggend af het dit in Bloemfontein begin ysreën – en hoewel dit toe van korte duur was, was dit geen aangename vooruitsig vir diegene wat ure lank in die tou moet gaan staan nie.

Volgens verskeie opnames blyk dit verskeie partye, waaronder die ANC, kan swakker vaar as baie mense om welke rede ook al besluit om nie te gaan stem nie. Ander partye gaan weer voordeel trek.

Met ontledings wat fokus op die groter partye, soos die ANC, DA en die EFF, is dit veral die ondersteuners van partye soos die Vryheidsfront Plus, Cope en die IVP wat wonder wat die kiesers met hulle gaan maak. Die VF Plus sal waarskynlik steeds aansienlik groei, maar die jongste peilings toon dat die ACDP se steun na die vlakke van die vorige verkiesing teruggekeer het ná groot groei veral in die Wes-Kaap voorspel is.

Verskeie waarnemers het daarop gewys dat die ANC gewoonlik goed vaar met sy eindpoging. Dié keer was daar meer onsekerheid hieroor weens die tweespalt in die ANC, en die stroom onthullings oor staatskaping. Tog het die laaste Ipsos-peiling getoon dat die ANC kort voor die verkiesing sy posisie dramaties verbeter het, en selfs 65% van die steun kan kry. So ’n groot swaai in so ’n kort tydjie is egter onwaarskynlik as daar nie ’n uitstaande goeie rede voor was nie, en dit wil voorkom of van die vorige peilings die kluts kwyt moes gewees het, of dat die jongste peiling die pot mis sit. Sou die jongste peiling blyk in die kol te wees, sal dit interessant wees om vas te stel wat die oorsaak vir die uitskieter sal wees.

Die verkiesingsuitslae gaan ook aan die lig bring of daar ’n behoefte aan koalisies, veral op provinsiale vlak, gaan wees, en indien wel, watter partye betrek gaan word. Het van die partye in hul verkiesingsveldtogte nie dalk te veel op potensiële koalisievennote se tone getrap dat dit sake vir samewerking nou bykans onmoontlik maak nie? Was van die partye nie te arrogant nie?

Boonop veroorsaak omstandighede dat die kiesers se sienings oor ’n koalisie nóú oor ’n paar jaar heel anders daaruit sal sien. Dit word goed gedemonstreer deur die patroon wat Duitsland se Angela Merkel moes loop. Toe sy aanvanklik aan bewind gekom het, moes sy weens die getalle ter sprake noodwendig ’n sogenaamde groot koalisie met die sosialiste, die vorige bewindhebbers, vorm. Haar volle eerste termyn het Merkel uitgewys hoe die sosialiste soos blokke aan haar been was, en dat sy met ’n ander koalisievennoot beter sou vaar. Haar wense is met die volgende verkiesing bewaarheid, en haar prestasies het duidelik verbeter. ’n Paar jaar later was die posisie uitgebak – die koalisievennoot het so min stemme gekry dat hy sy verteenwoordiging in die Bundestag verloor het, en dit duidelik was dat die Duitsers aangedring het op ’n herstel van die groot koalisie.

Dit lyk inderdaad onwaarskynlik dat die EFF weer in koalisies met die DA sou belangstel (en omgekeerd), al is dit ook net gedoogde steun.

En in hoe ’n mate gaan die druk waaronder Afrikaans by die ANC is in kiesersgedrag manifesteer?

Teen laatnag word die eerste uitslae verwag, en ontleders gaan kort daarna hul eerste voorspellings bekend maak. Teen dié tyd môreoggend gaan die prentjie al heelwat lyf hê.

Smeer aan en kom!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

jaco ·

Die OVK is mos maar die ANC met ‘n verkiesingsbaadjie aan. Dis reeds in 2016 se munisipale verkiesing bewys, toe president Zuma op die dag van die finale uitslae, kwaad was vir die hoof van die OVK oor die uitslae. Met ander woorde die OVK moes eintlik sorg vir ‘n beter uitslag vir die ANC. Gelukkig dat daar darem nog genoeg eerlike OK-werkers was, maar vir hoe lank nog???

Cherokee ·

Om 08:45 terug by die huis. Dit na ons by twee verskillende stemlokale was. Addington Laerskool het teen 8:30 steeds nie stembokse gehad nie! Ons moes na Addington Hospitaal stap en daar het dit so vlot gegaan, ons was om 08:45 weer tuis. Pieter, jy kan twee stemme meer tel vir die VF+.

James ·

Was 06h00 daar derde in die ry , en 07h08 my kruisies getrek. Daar langs die groen blaar en oranjevlam.

Boerboel ·

Stem saam Jaco. Wat my bekommer is hoe betroubaar is die tel van stemme of die beheer oor die stembokse?

Swannie ·

Hoekom word ongestempelde stembriewe hoegenaamd uitgereik? Word dit dalk met voorbedagte rade en selektief uitgereik?

kolla ·

Wel, dus normaalweg (behoort) die laaste administratiewe funksie te wees voor hulle die stembrief vir jou gee siende dat dit ‘n stempel van outentiteit en baie belangrik is. Dis amper ondenkbaar dat dit gemis kan word deur nalatigheid. Ernstige vrae moet gevra word. Hoekom is daar nie ‘n laaste beampte in die ry wat kyk dat alles in orde is nie?

Andreas ·

Ek lees nou elders mense is toegelaat om met vals naels te stem. Julius was baie ontstoke toe hulle sy vrou gevra het om die vals nael te verwyder sodat hulle haar eie nael kon merk. Na Julius sy ontevredenheid geopper het, is sy toegelaat om met vals duimnael te stem. Dit lyk my daar is baie ander wat ook so met vals duimnael en al toegelaat is. Nou wat nou, mens haal mos nou net die vals stuk af en siedaar geen merk om te wys dat jy gestem het nie? Is so ‘n persoon se stem dan geldig?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.