Nuuskommentaar: Gaan die Samora-spook ooit verdwyn?

Adj.pres. Cyril Ramaphosa tydens een van die vieringsgeleenthede. Foto: Flickr/GovernmentZA

Adj.pres. Cyril Ramaphosa tydens een van die vieringsgeleenthede. Foto: Flickr/GovernmentZA

Is dit gepas dat die dood van ʼn Marxisties-Leninistiese eenpartyheerser van ʼn buurland jaarliks hier met groot fanfare gevier word te midde van volgehoue bewerings dat die destydse Suid-Afrikaanse regering deur vuilspel vir sy dood verantwoordelik was? Hoewel die Valke saam met Mosambiek se owerhede weer ondersoek instel na Samora Machel se dood, lyk dit asof die getuienis oorweldigend is dat die ongeluk die gevolg was van ʼn vlieëniersfout.

Die dertigste herdenking van oud-president Samora Machel van Mosambiek se dood in ʼn vliegongeluk, in die hedendaagse Mpumalanga naby die grens, is pas twee dae lank gevier. Verskeie sprekers het opnuut gevra dat spesifiek ondersoek ingestel word na die “waarskynlikheid” dat die ongeluk in die Lebomboberge die gevolg van ʼn vuilspel-operasie deur die destydse Suid-Afrikaanse regering was.

Trouens, oor die jare het verskeie opeenvolgende presidente van Suid-Afrika al beloftes aan onder andere sy weduwee, Graça Machel, gemaak dat sodanige ondersoeke gedoen sal word. Minister Nathi Mthetwa het tydens die herdenking gesê ʼn ondersoek deur die Valke en die Mosambiekse regering duur voort.

In die boek, Ons was daar – Wenners van die oorlog om Suider-Afrika, wat in 2012 deur Kraal Uitgewers uitgegee is, bevestig genl. Jannie Geldenhuys in effek die bevindings van die Margo-kommissie van Ondersoek. Die kommissie, wat ook verteenwoordigers van Rusland en Mosambiek ingesluit het, het bevind die ongeluk was die gevolg van ʼn vlieëniersfout deur die Russiese bemanning. Rusland en Mosambiek het hulle egter aan die kommissie onttrek toe die stemopname van die vlugopnemer se inhoud bekend gemaak is. Die bevindings is egter deur die Internasionale Burgerlugvaartowerheid, wat ook op die kommissie verteenwoordig was, aanvaar.

SABC3 het in 2008 ʼn dokumentêr uitgesaai waarin swaar geleun is op ʼn brief, wat uit Portugees in Engels vertaal is, van ʼn ervare Mosambiekse vlieënier, Luís Brito Dias, in die Mosambiekse weekblad, Zambeze. Dias was in 2008 die kaptein en vlieënier van 747-400 vliegtuie in die Ooste.

'n Standbeeld van Samora Machel in Mosambiek. Foto: Flickr/GovernmentZA

‘n Standbeeld van Samora Machel in Mosambiek. Foto: Flickr/GovernmentZA

Dias skets in groot detail hoe die onervare Russiese vlieënier en navigator ernstige foute begaan het (volgens Dias was die ander Russiese bemanningslede aangeklam) en die twee in beheer het, weens te min vliegervaring, hul lisensies verloor. Die Mosambiekse regering sou na die ongeluk vervalste vlieglisensies by die kommissie ingedien het. Dias meen Mosambiekse ministers is in werklikheid vir die ongeluk verantwoordelik deur onervare Russiese bemanningslede in te span om die president rond te vlieg.

Hy wys ook daarop dat daar geen voorsiening vir reserwebrandstof gemaak is nie.

Uit Dias se skrywe is dit duidelik hoe gefrustreerd bekwame Mosambiekse vlieëniers was met die Mosambiekse regering se dwepery met Russiese vlieëniers, ten koste van Mosambiekers.

Dit lyk dus na ʼn klinkklare bewys dat die Suid-Afrikaanse regering geen aandeel in die ongeluk gehad het nie. Dit laat egter nie die verdagmakery vanuit die ANC en Mosambiek bedaar nie.

Ten tyde van die oorlog was Suid-Afrikaanse magte in gereelde operasies in Mosambiek betrokke om die ANC hok te slaan. Die ANC en Frelimo het dikwels militêr saamgewerk, terwyl die Suid-Afrikaanse magte weer dikwels steun aan Renamo verleen het. Die twee lande was dus tegnies in ʼn oorlog gewikkel en om die Mosambiekse president se vliegtuig met ʼn vals sein na die Lebomboberge te “kaap”, klink, in die lig van die omstandighede, nie te vergesog nie.

Die ander interessante aspek was pogings om regter Margo, wat die ondersoek gelei het, se geloofwaardigheid aan te tas. Margo was onder meer deel van die span wat die verdwyning van die Rietbok, in 1967 aan die kus van Oos-Londen, ondersoek het. Die ondersoekspan het bevind die waarskynlikste van twee moontlike oorsake was dat die kaptein ʼn hartaanval gekry het (die vliegtuig is amptelik nooit gevind nie). Later, in sy memoirs, het Margo egter geskryf hy glo, aan die hand van soortgelyke ongelukke destyds wêreldwyd deur Viscount-vliegtuie, dat die een vlerk losgekom het.

In 1998 het ʼn vlootduiker, Malcolm Viviers, egter beweer die Rietbok is wel gou na die ongeluk gevind, maar dit is toegesmeer. Hy het beweer hy het aan boord van die SAS Johannesburg beeldmateriaal gesien van passasiers wat in hul sitplekke vasgegespe was. Naasbestaandes het toe die minister van vervoer gevra om die ondersoek te heropen.

Die vliegtuigwrakstukke. Foto: Peter A Levey/Wikipedia

Die vliegtuigwrakstukke. Foto: Peter A Levey/Wikipedia

Deur die jare was daar ook verskeie bewerings van regeringsvuilspel. Aan boord was twee skerp kritici van die regering, naamlik JP Bruwer, waarnemende voorsitter van die destydse Broederbond en Aubrey Rosenthal, van die Defence Aid Fund. Dié fonds het veral die ANC en PAC ondersteun. Bruwer het destyds tot ʼn baie skerp kritikus teen die destydse regering ontwikkel.

Margo was ook die voorsitter van die kommissie wat ondersoek ingestel het na die lugramp waarin die Helderberg in 1987 by Mauritius in die see gestort het. Hieroor was daar later ook baie kontroversie oor bewerings dat die Helderberg, ʼn 747-kombi, uiters gevaarlike en onstabiele vrag vervoer het om die sanksies teen die land te omseil.

In die tyd wat ernstige bewerings teen Margo opgestapel is, was hy reeds baie siek en verstandelik baie deurmekaar. Hy self kon dus nie ʼn bydrae lewer om die bewerings van ʼn gekonkel met vorige ondersoeke te beantwoord nie. Hy is in 2000 oorlede.

Maar daar is ʼn ander hoek om te vra of die jaarlikse herdenking van Machel, as ʼn groot held, nie misplaas is nie. Machel was ʼn stoere Marxis, wat Mosambiek se ekonomie baie vinnig deur kommunistiese sosialisme oor die afgrond gesleep het. Hy het ook geen politieke opposisie geduld nie en Renamo moes hom dus tot na Machel se dood tot ʼn bosoorlog wend.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Ekke ·

Geen skade aangerig nie – “all is fair in love and war” sê hulle ….

Gerhard ·

Dit sal interessant wees om te sien indien die huidige ondersoek bloot bevestig wat die Margo ondersoek bevind het hulle dit sal aanvaar en hoe hulle dit sal hanteer.

Gerhard ·

Dit lyk my dit is maar volgehoue pogings van die Suid-Afrikaanse regering en Mosambiekse regering om die Machel soos ‘n martelaar te laat lyk en nou gryp hulle bloot na grashalms.

Piet ·

Bravo, Herman dat jy dinge weer so mooi terug in perspektief bring. Ek het al baie skrywes probeer plaas wat my misnoe duidelik maak, wanneer Samora Machel in die media so verheerlik word. Dit word egter nooit geplaas nie – Maroela Media het my egter nou al n paar keer verkeerd bewys. Samora het Karl Marx se kommunistiese manifes op die woord gevolg en toegepas. Konsentrasiekampe is reg deur die land opgerig waar mense gemartel is om te “reform”. Stamhoofde, skoolhoofde, gemeenskaps leiers, enige persoon wat “verdag” gelyk het is sonder verhoor na hierdie kampe gestuur. Idi Amin kon gaan leer het by Machel hoe om n diktator te wees. Tog in Afrika word hy verafgod en die meeste mense in SA dink hy is n held. Die wereld het egter n beter plek geword toe hy aanstaltes gemaak het na die warm plek wat op hom wag.

Philip ·

Was al verskeie kere op besigheidsbesoek en ek is deur burgers van Mosambiek meëgedeel dat dit politieke teenstanders van Samora was wat hom uit die weggeruim het en nie die ou SA-regering nie. Die rede wat gegee word is dat hy juis saam met die destydes SA-regering gewerk het.

fritz breitenbach ·

Hi HERMAN kan daar n artiekel geskryf word waar Samora die naweek was en saam met watter afrika leiers en wat is op die byeenkom ooreen gekom

jakes ·

Interrissant die standbeeld met sy wysvinger . Dis n Vrymesselaar teken wat van die pousdom afkom kyk maar na die regerings leiers wat toesprake maak en die fotograwe wat die wysvingers fotografeer . almal vrymesselaars.

Bruno Stef ·

Een van ons vorige politieke kommentators wat ook n paar jaar al oorlede is het met sy eie skerpsinnige toesprake van destyds gese “Marchel het Suid Afrika letterlik binnegeval”

John ·

As ek reg onthou was die teenwoordigheid van baie drank ook as ‘n oorsakende faktor in persverslae vermeld, maar dit is afgeskiet as snert. Mens is verbaas dat iemand nog nie aangevoer het dat Samora steeds lewe en in ‘n kerker toegesluit leef waarvan die ligging net aan onbekende rassiste bekend is nie… maar dit sal seker nog kom as sy weduwee dalk net eendag uit ‘n lang middagslapie met ‘n kwaai hoofpyn opskrik.

Jean ·

Hang net af watter kleur hy is . dan kan jy hom gedenk, monumente en standbeelde oprig .. parties hou .. Moenie dink in SA het ons nie ook sulke kalante nie ..

Basson ·

Ek is redelik ‘verbysterd’ oor wat die NP regering alles gedoen het, en al hulle leuens. (Grensoorlog propoganda, Kodesa ens ens.)
So ek sal nie verbaas wees oor baie dinge wat mens aanvanklik nie kon/wou glo.

kat ·

who ceares hy was n kominus en n disgrase vir die mensdom hy moes dood en kla sy ant susters het gese hy moet val en hulle het hom dood gemaak want hy was n groot onding vir sy eie land se mense n groot no no vir human kind.en ons regering soek net drink en eet plek verniet en steel geld wat oorbly

Johann Marx ·

Ek was die eerste TV Nuuskameraman op die toneel van die ongeluk….saam met Chris Olckers, misdaadverslaggewer. Voorblad van The Star gehaal….21 Oktober 1986. Die oorsaak van die ongeluk was as gevolg van brandstof verbruik op die aanloopbaan terwyl die vliegtuig gewag het vir Samora Machel om te vertrek. ‘n Derde enjin in die stert word aangekskakel om die vliegtuig se stelsels en lugversorging aan die gang te hou in afwagting op die passasiers. Dit het die reserwe brandstof opgebruik….want die Prez se vergadering het langer aangehou as verwag. Die vliegtuig het sonder brandstof uit die lug geval….en op my video kasette kan duidelik gesien word dat daar GEEN brand was nadat die vliegtuig die grond getref het nie….want die brandstof tenks was blink leeg.

Wim Kotze ·

Basson en ander twyfelaars kan gerus die transkripsie van die kajuitopnemer lees voordat hulle ‘n mening uitspreek. Dit is aanvanklik in Moskou gelees en spreek duidelik van swak disipline onder die vlugbemanning. Maar na Minister Pik Botha se ongegronde bewerings oor dronk vlieëniers was dit maklik vir die Russe en Mosambiekers om Regter Margo se verslag verdag te maak. En om die kroon te span gaan stop die Minister se Ambassadeur in Moskou die oorlewende navigator ‘n klomp geld in die hand.

Manie ·

Jy kan maar weet as die anc iemand aanhang dit n uitvaagsels in die wêreld sal wees. Dit kon jou presies vertel het wie die man werklik is

Ben Prinsloo ·

Dankie Johan. Ek weet nie of dit jou video of die destydse SAP video wat ek gesien het nie maar die video was nogal grafies en ongesensor. Daaruit kon duidelik gesien word hoe die vliegtuig neergedaal het en nie sommer uit die lug uit geval het nie. Soos jy tereg sê daar was geen brand te sien nie net die “geagte” president se gesig vol grond. Ek sal hierby volstaan.

Pieter ·

Baie goeie artikel. Enigiemand wat die Margo verslag gelees het sou weet dat die SA regering van destyds geen aandeel in die ongeluk gehad het nie veral die opnemers en gesprekke tussen die bemanning en die Maputo lughawe bevestig dat hulle gedisoriënteerd was. Interessant dat die Russe , verskaffers van die vliegtuig en bemanning doodstil bly oor die hele insident.

Rupert Ashford ·

Hy het sy lewensideaal verwesenlik: Om Suid Afrika binne te val.

Pieter Ellis ·

Die ou wit SA is nou soos die Duiwel. Dit kry die skuld vir alles. Wel, soms was die ou wit SA skuldig, maar laat ons ook die ou wit SA die voordeel van die twyfel gee in gevalle waar daar werklik geen skuld was nie.

Alle bewyse, verslae en kommissies, (nie rumours nie) dui baie duidelik daarop dat die Russiese bemanning nie baie ervare was nie, redelik onder die invloed was, en soos Johann Marx dit in n vroeere komentaar genoem het, was daar geen teken van brandskade nie wat aandui dat daar geen brandstof in die tenks was nie.

Samora Machell was n Russies geindoktrineerde Sosialis-Marksistiese-Lenistiese volgeling. Dit alleen diskwalifiseer hom van enige held-status.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.