Nuuskommentaar: Gaan Eben held wees wat onewehandigheid wegveeg?

Dit lyk of daar ʼn bietjie lig vir die Menseregtekommissie begin opgaan het oor hoe om die ding reg te doen, eerder as te beduiwel. Mag die regruktekens die embrionale fase oorleef.

Die Springbokslot Eben Etzebeth is in dieselfde jaar, 1991, gebore as wat die laaste apartheidswet, die bevolkingsregistrasiewet, deur die vorige regering van die wetboek verwyder is. Dit sou dus menslik onmoontlik wees dat Eben enige herinnering sou hê van hoe dit is om onder ’n geheel ander bedeling groot te word.

Hoewel die rasseklassifikasie amptelik van die wetboek verwyder is, is die wetboek ook nie “skoon” van rassisme nie, vanweë wetgewing wat sedertdien so opgestel is dat ras nog steeds bepalend is. En wie moet hiervoor bedank word? Die ANC en sy surrogaatpartye.

Op die oomblik regeer ’n persoon se ras sy lewe van die wieg tot die graf.

En dis ’n geval van “lank lewe apartheid” onder die vaandel van die ANC. Solidariteit het onlangs ’n tegniese nederlaag in die arbeidshof gelei, nadat die vakbond apartheid as norm vir arbeidswetgewing probeer skrap het. Die vakbond het onder meer staatgemaak op ’n internasionale verdrag wat die regering tydens die bewind van Nelson Mandela onderteken en 20 jaar later geratifiseer het. Dié verdrag bepaal dat rasgebaseerde regstellende aksie (wat nie met die regstel van dinge wat verkeerd is verwar moet word nie) moet verval. Solidariteit neem die kwessie nou op appèl.

Die onderwerp van die ongelykhandige behandeling van wit en swart, ook deur die Menseregtekommissie, is al voos in Maroela se nuuskommentare behandel. Maar nou het daar ’n ligstraaltjie deurgesyfer:

Die Menseregtekommissie se waarnemende regshoof, Buang Jones, het soos ’n behoorlike laksman op die Etzebeth-saak losgetrek en hom skuldig bevind nog voor hy behoorlik verhoor is. Die parlement het hom egter Dinsdag voor stok gekry en hy mag nie meer in die openbaar uitlatings oor die saak maak nie.

Jones se handelinge het ’n stroom klagtes tot gevolg gehad, byvoorbeeld van die Afrikanerbond, die Vryheidsfront Plus en die DA. Die gemeenskaplike boodskap was dat die streep nou in die sand getrek word. Die Menseregtekommissie is tog veronderstel om instrumenteel te wees in die wegdoen van rassisme en haatspraak, nie vir die aanstigting daarvan nie.

Die son het nog nie heeltemal oor die Menseregtekommissie opgekom nie, maar die dakke se gewels het wit begin vertoon. Net ’n paar gewels maak egter nie ’n sonsopkoms nie – daarvoor sal die ander hoofstuk 9-instellings wat verdrink het of besig was om al borreltjies te blaas, uit die intensiewe sorgeenheid en die lykshuis gehaal word, en reggeruk moet word.

 

 

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Neels ·

Ons WEET tog dat Eben skuldig is a.g.v. sy velkleur, dan nie? Enige soortgelyke geval(le) sou geensins sulke kommentaar van Banggat Jones ontlok het nie …. hoeveel ander van ons reenboognasie het erger dinge gebesig en gedoen en daaroor kraai geen haan nie.

Dawie Wandrag ·

Stem 100% saam met jou, Neels. Wat die hele ding so tragies maak is die feit dat Eben veroordeel word voordat al die feite op die tafel is. ‘n Woord van advies aan daardie mense wat so vinnig is om te oordeel….wanneer jy iemand oordeel definieer dit nie die persoon wat jy veroordeel het nie, dit definieer jouself.

Riaan ·

Nee Herman jy is hopeloos te positief. Kyk maar wat se jones se gabba nissen? vandag.

Al ·

My eerlike opinie is dat Etzebeth ñ lasterlike eis aanhangig maak teen MRK, die boemelaars wat hom na bewering vals beskuldig het, en die bruin man op TV wie gal gebraak het teenoor Etzebethdat SARU hom nie vasgevat het nie.

Tinus Coetzee ·

Ek volg die saak so op ‘n afstand, dit is redelik deurspek van onwaarhede, my beskeie opinie.
Dink jy nou regtig dat ‘n man van Eben se gestuur nodig sal vind om ‘n man met ‘n pistool deur die gesig te slaan? Ek wonder of die man wat die klag gelê het nie dalk aan die hof kan demonstreer hoe hy geslaan is nie. Dan kan Eben mos op dieselfde manier die man met ‘n pistool deur sy gesig slaan. Sy hersteltyd in die hospitaal kan as sy straf dien vir sy gelieg.

JohanR ·

Hoe lekker lag ek nou hardop hier in Mugg & Bean Tinus Coetzee, op hierdie Donderdag more waar ek die vry WiFi gebruik. Die man kan miskien die eerste Suid Afrikaner word om op die maan te land……en daar lag ek al weer hardop.

Basjan ·

Moenie jul asem ophou oor die feit dat die MRK moontlik “reggeruk” kan word nie. Dit is maar net om ons mense gerus te stel. Ek is seker hulle gaan agteraf onverpoost voort met hul streke.

JohanR ·

Ek wag nog vir die stuk nuus waar Eben Etzebeth sy groot, baie groot en lelike Bowie mes, teen een van die armsaliges se keel gehou het, en dan gedreig het om hom te ontman. Kan ek verkeerd wees, want van dag een af het die storie net meer en meer vlerke gekry?

Ja van Eeden ·

Wat sou dit nie vir almal in ons land en sy mense beteken het as die “slagoffers” omdraai en sê ons vergewe Eben Etsebeth? Vir hulleself sou dit opgetekende helde beteken op die pad van versoening vir die bou van SA.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.