Nuuskommentaar: Gaan grondgryp-inhaligheid die ‘projek’ sink?

Nou lê ’n stywe pad voor oor grondgryp – in landsbelang. Gelukkig het die EFF en die ANC haaks geraak oor die finale bestemming, en sonder die EFF se stemme kan die ANC nie ’n tweederde-meerderheid behaal nie.

Die parlement se goedkeuring van die planne om grondgryp sonder vergoeding in Suid-Afrika goed te keur, het kort ná die aanvaarding van die projek in diep vaarwaters beland toe die EFF gedreig het om sy steun te onttrek omdat onversoenbare standpunte geld.

Eintlik maak die verskille in uitgangspunte nie veel saak nie. Terwyl die ANC desperaat probeer om ’n vyeblaar van fatsoenlikheid oor die proses te trek, pla so iets die EFF, en Julius Malema in besonder, hoegenaamd nie. Solank hy leier is van die EFF, sal daar geen onderhandelinge met die ANC wees om ’n kompromis te bereik nie.

Maar dan – ons het ervaring van Malema se neiging om een ding te sê en dan iets heel anders te doen. Mag hy dié keer meer beginselvas wees.

Diegene wat meen die ANC se planne is meer fatsoenlik en nou minder van ’n risiko vir die ekonomie, is salig onbewus van die skade wat die planne reeds aan die ekonomie aangerig het (met hef aan wat voorlê), onder meer skade aan die internasionale beeld deur ’n groot verskeidenheid internasionale verdrae te onderteken waarin eiendomsreg beskerm word en dan die teenoorgestelde te doen, en oplaas die skade aan tussengroepverhoudinge en die aanblaas van rassehaat.

Die EFF én die ANC se planne gaan op ’n verwoeste Suid-Afrika uitloop – die EFF s’n net effe vinniger.

Boonop gaan ’n verskeidenheid regsprosesse nou volg. Min oor die uitkoms hiervan kan gelees word in die uitspraak teen AfriForum se poging om die kwessie deur ’n dringende aansoek in dryfsand te laat vasval.

Die hof het beslis AfriForum se aansoek was voortydig en dus nie dringend nie. Ongelukkig was daar voorbeelde in Suid-Afrika se regsgeskiedenis oor soortgelyke uitsprake waar dit agterna geblyk het dat dit inderdaad dringend moes gewees het, en dat die langebaanweg die saak onherroeplik geskaad het. Mag dit nie nou die geval wees nie, want dan het die Wes-Kaapse volbank ’n yslike lat vir die howe gepluk wat die skade moet regstel.

Hoe word die skade aan rasseverhoudinge wat nou behoorlik geaktiveer is byvoorbeeld omgekeer? Met Suid-Afrika se ekonomie (en ander gemeenskapsaspekte) wat op die rand van die afgrond beweeg (aldus Johann Rupert) – hoe word daardie skade ontdaan as die afgrond se randjie verkrummel en die land daarin afstort?

Die ANC se stiksienigheid om ernstige prosedurele foute te begaan, gaan die belastingbetalers weer ’n enorme bedrag aan verkwiste regskoste op die hals haal. Dis nie iets wat ’n land op die randjie van die afgrond kan bekostig nie.

Seker een van die mees kwellende aspekte is dat die ANC steeds die redes vir vorige mislukkings misplaas, met die blaam wat gewoonlik op die skouers van “inhalige boere” geplaas is. Enigeen wat net naastenby by die proses betrokke was, selfs net as verslaggewer, sal weet dat die departement van grondsake die proses deur onbevoegdheid en korrupsie wesenlik tot stilstand geruk het. Vragte en vragte korrespondensie is nooit beantwoord nie. Projek ná projek wat deur landbou-organisasies voorgestel is om grondhervorming op ’n werkbare maar wel verantwoordbare wyse te laat vlot, is eenvoudig geïgnoreer omdat geleenthede vir tjotjo (omkoopgeld) ontbreek het of afwesig was.

So erg het dit gegaan dat die destydse adjunkminister, die omstrede Dirk du Toit (intussen oorlede), boere by ’n drie-in-een-vergadering in Bloemfontein gevra het om te vra vir ’n klagtedirektoraat. Hy was duidelik daaroor dat sy eie kantoor nie oor genoeg mannekrag beskik het om die vloed van korrupsie en wanpraktyke in sy departement hok te slaan nie.

Intussen het minister ná minister die een onwerkbare en selfs verspotte plan ná die ander ter sprake gebring. Die gemene deler was dat almal die landbou se verantwoordelike benadering in die tande geskop en die boere vir die mislukkings bly verkwalik het. Die werklikheid is steeds geïgnoreer.

Die grondgryp sonder vergoeding oortref egter alle vorige stiksienigheid, veral omdat die werklike oorsake van mislukkings steeds misplaas word.

Die huidige planne, ongeag of na die EFF of die ANC se weergawe gekyk word, is nie onverwags nie. Reeds voor die huidige bedeling het kenners daarop gewys dat die regerende bevrydingsbeweging in soortgelyke situasies aan bewind bly deur alle mislukkings op die skouers van die opposisie te plaas. Ná twee verkiesings “val” die publiek nie meer daarvoor nie, en word ander populistiese planne gemaak, soos die onteiening van grond. Zimbabwe het hierna soos ’n meester die “witskrif” gevolg, en, presies soos voorspel is, platgeval.

Nou, half teen aanvanklike verwagtinge by baie, volg die ANC presies dieselfde meesterplan, met mislukking reeds in die bestemmingsblokkie ingevul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

legens ·

mense , se wat wil , dit gaan gebeur . klaar . die meerderheid sal besluit .
as legens mag raad gee ……. verkoop jou grassnyer , hark en weedeater voordat die mark versadig is .

Spike ·

anc en eff doen dit net vir stemme. In werklikheid voel hulle vêre vir hul mense as jy kyk na hoe hulle hulself verryk en die patetiese dienste gelewer.

Anoniem ·

Kyk na Zimbabwe – Mugabe het getjaila en voel nou ‘n veer, hy is net bekommerd oor Sy pensioen Donkerdae dis ons voorland op dié TRANT ??????

Johan ·

En die groot teleurstelling in my opinie is Ramaphosa (CR).

Hy laat my dink aan die feit dat die spoed van lig vinniger is as die spoed van klank. Hoekom? Hy lyk intelligent tot hy sy mond oopmaak en praat.

CR is ‘n bitter groot gevaar, want baie mense het hom na Zuma gesien as die “redder” van die land. Wel, enige iets is seker beter as Zuma – en dit is juis die gevaar. CR is inderdaad beter as Zuma, maar of hy die “redder” is – ek betwyfel dit baie sterk. Ons het al begin gewoond raak aan swak standaarde en na Zuma was CR – al is hy uiters gemiddeld – vir ons aanvaarbaar. Dit is eintlik hartseer.

legens ·

Redder vir wie? Hy tree op in belang van sy meerderheid ondersteuners aan wie hy verantwoordbaar is , nie `n groepie dwarstrekkers wat minder as 3% van die bevolking uitmaak nie . Verstaan tog net die beginsel van demokrasie en die konstitusie .

Aster ·

Ek wil weg hardloop as ek net dink hoe hulle gaan op sweep na plase toe, hulle is mos inhalig en elkeen sal sy sukkie grond wil hê. Niks kan op ‘n ordenlike menslike manier gedoen word nie.

Realiteit ·

Die grond behoort aan God en Hy sal besluit aan wie Hy dit kan toevertrou om ten goede mee te werk. EN ja, ek het drie plasies en glo nie God sou my dit laat gebruik, en voor betaal, as dit net verlore sal gan nie. Ons moet egter ons verantwoordelikheid nakom en die grond to eer van Sy Koningkryk aanwend en nie net onsself daaruit verryk nie.

Johannes ·

Realiteit, as rentmeester van God se eiendom (grond ingesluit) het ons ook ‘n bitter groot verantwoordelikheid om dit te beskerm (teen bv. diefstal) met al ons vermoë.

En terloops, God het nooit gesê sy dienaars mag nie ryk word nie. Dink byvoorbeeld hoe ryk in aardse besittings Salomo was. Wat God ons wel teen baie ernstig waarsku is dat dit vir rykes moeiliker sal wees om Sy Koninkryk binne te gaan as wat dit vir ‘n kameel sal wees om deur die oog van ‘n naald te klim.

Foxi ·

Ag tog…kom vat tog my grond en my verband daarby. Is moeg om te betaal en om gras te sny. Vat sommer die huis ook….moeg om skoon te maak, moeg om sonder krag te sit, moeg vir vuil water en riool wat by die straat afloop. Moeg en sat gesmeek om my vuilisdrom te kom leegmaak. Moeg om in rommel vas te kyk en moeg vir lang gras wat die sypaaitjies toe gegroei het en so kan ek aangaan…….
En as julle my huis gevat het, moet tog nie die vensters en deure uitkap en n huisie langs die groot huis oprig nie asb tog nie.

humor ·

Dit was skokwoorde toe z gese het die anc is belangriker as die land. Nog niks het verander nie. Om lewe en dood handhaaf hulle hierdie benadering want volgens hul denke is Afrika vir die swartes, Al wat in hul weg staan is die Boer as die “onwettige” besitter van die grond.

Jerry ·

Die meesterplan van die ANC is om dmv die demokratiese prosesse die wil van die meerderheid af te dwing en nie ek of u of die buiteland sal dit keer nie, omrede daar ooreengekom is tussen CR en ander wereldleiers dat dit wettiglik gaan geskied en volgens n reeds ooreengekome aanvaarbare kombinasie van kapitalisme en sosialisme en gedeeltelike nasionalisering. Eiendomsreg gaan dus net geaffekteer word daar waar dit in landsbelang is en waar dit nie investering negatief raak nie. Dat so n kombinasie beslag gaan vind in SA is nie net voor die hand liggend, maar ook onafwendbaar.

JohanII ·

Dit raak ons klaar negatief, Jerry…jy klink bietjie naief, is jy ooit nog in SA? Was jy al in Zim na 2001?

Hendrik ·

Beteken mislukking dat die OSV nie gaan plaasvind nie of dat a.g.v swak bestuur van die OSV die hele land se ekonomie in sy maai is?

Paul ·

Eskom, en en en en en ……. vir jare al vertel vir ons wat ons nie wou weet nie. Ons was stadigaan deur die al swakker diens en onkapabile rigeerders ingesuig om ander pad te kyk, nou dat die waarheid ombeskroomd vertel word en ons rug styfmaak soos Johann Rupert, word ons oudergewoonte vertel ons is rassiste, en net daar val die gesprek plat, want hulle kan nie rasioneel dinge beredineer nie. Laat ons dit nou maar sê.

Blaarman ·

Herman,

Bly om te sien jy skryf onder die onstandighede… dis goed so.

Die EFF sal saam met die ANC stem. Hy is op die oomblik net besig om te onderhandel vir amnestie.

Antjie ·

Hulle moet maar my plasie kom vat. Voor hulle by die hek kom sal als afgebrand wees…my bietjie meubels en implemente sal verwyder wees…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.