Nuuskommentaar: Gaan Israel-verkiesing Midde-Oosterse vrede verongeluk?

Benjamin Netanyahu. (Foto: Abir Sultan, AP)

Israel gaan weer stembus toe nadat die wenner van die party wat die meeste setels verower het, met net een stem nie daarin kon slaag om ’n koalisieregering saam te stel nie. Dit beteken ’n nuwe inisiatief van die VSA vir ’n omvattende Midde-Oosterse vredesplan sal nou eers op die ys moet bly.

Ná die verkiesing wat op 9 April gehou is, kon die premier, Benjamin Netanyahu, nie daarin slaag om binne die voorgeskrewe tydsbeperking ’n koalisie saam te stel nie. Netanyahu se party, die konserwatiewe Likud, het 35 van die 120 setels in die Knesset (Israelse parlement) verower. Hy het hom en sy party toe triomfantlik as die wenner van die verkiesing verklaar, maar anders as in die verlede kon hy nie daarin slaag om genoeg koalisievennote se arm gedraai te kry nie. Na intensiewe onderhandelings het hy net een stem in die Knesset kortgekom om aan bewind te bly, terwyl vooraf verwag is hy sou “gemaklik” op die steun van vyf meer verkose LP’s kon reken. Vir die eerste keer het die Knesset kort ná ’n verkiesing gestem om homself te ontbind.

Volgens die grondwet moet daar nou op 17 September weer verkiesing gehou word, sodat ’n nuwe regering teen November sy pligte kan opneem.

Hoewel ’n soort oorgangsregering intussen die vernaamste regeerfunksies sal behartig, sluit dit nie in dat Israel kan onderhandel oor ’n nuwe, omvattende Midde-Oosterse vredesplan wat die VSA amper gereed was om met lande wat geraak word te begin onderhandel nie. Met Israel wat beslis die sentrale plek in die vredesproses inneem sal die plan nou noodwendig op die ys moet bly.

Die proporsionele kiesstelsel, soos ook in Suid-Afrika geld, word as een van die beste moontlike stelsels beskou. Dit lei, anders as (nog) in Suid-Afrika, gereeld tot koalisieregerings, en is nie altyd so maklik om gereed te kry nie. België het byvoorbeeld ná die verkiesing van 2010 die rekord opgestel vir die Westerse demokrasie wat die langste sonder ʼn regering was – 589 dae lank. ’n Oorgangsregering moes intussen die land aan die gang hou. Dié rekord is later deur Noord-Ierland oortref.

Teoreties kan daar intussen ’n nuwe koalisie in Israel tot stand kom, maar dit word as onwaarskynlik beskou, al is vooraf verwag dat Netanyahu die koalisiesteun van vyf meer LP’s sou kry as wat die geval toe was.

Die rede hoekom ’n koalisie-ooreenkoms nie bereik kon word nie, is die bestaan van ’n argaïese wet wat bepaal dat lede van godsdienstige ortodokse partye nie vir verpligte militêre diens opgeroep kan word nie. Dit gaan teen al hoe meer Israeli’s wat gereeld opgeroep word wanneer daar ’n probleem is. Dikwels is dit juis eise van die ortodokse Jode wat tot die konflikte lei wat veroorsaak dat ander Jode vir militêre diens opgeroep word – en die ortodokse Jode ongehinderd met hul lewens kan aangaan.

Een van die partye wat hierteen in opstand gekom het, is die gematigde Yisrael Beiteinu van Avigdor Lieberman. Die Likud van Netanyahu het Lieberman se steun nodig, tesame met juis die ortodokse partye. Die ander partye sluit 17 setels in wat die Palestyne na die verkiesing opneem, en wat hoegenaamd nie by ’n regs-neigende regering sal inpas nie. ’n Koalisie van Palestyne en ortodokse Jode is eenvoudig nie denkbaar nie. ’n Alternatiewe koalisieregering is, benewens die tradisionele rol wat die grootste party speel, dus ondenkbaar.

Dié wending skep vir Netanyahu ’n bitter pil. Hy word vir korrupsie en bedrog ondersoek, en die aanklagte om voor die hof te verskyn, kan amper enige oomblik nou volg. Dit sal sy planne om wetgewing so verander te kry dat hy vrywaring van vervolging aan homself kan toeken solank hy premier is, in die wiele ry.

En die Israeli’s het reeds gewys dat hulle nie korrupsie duld nie, deur oud-premier Ehud Olmert vir 27 maande tronk toe te stuur. Hy is wel na net 16 maande vrygelaat.

Netanyahu, wat Israel al die afgelope dekade regeer, het so ’n groot rol in Israel se politiek begin speel dat dit byna ondenkbaar lyk om hom daarvan los te maak. Hierdie sou sy vyfde verkiesingsoorwinning wees, wat ’n rekord sou wees. Sou hy tronk toe gestuur word terwyl hy nog as premier dien, word grootskaalse onstabiliteit en herskikking in die Israelse politiek verwag – iets wat die land nou kwalik kan bekostig.

Israel se formele anneksasie van die Golan-hoogland het nie baie goed by van Israel se vernaamste vyande afgegaan nie, en pres. Donald Trump se besluit om sy land se ambassade van Tel Aviv na Jerusalem te verskuif, het ’n ongemaklike situasie onder Israel se goedgesinde lande veroorsaak. Die vestiging van Joodse nedersettings in verowerde Palestynse gebiede, en die voortgesette subversie en aggressie vanuit die Hamas-beheerde Gasa-strook hou Israel militêr op sy tone, en ondermyn ’n wil om sake vreedsaam op te los.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grassie ·

Israel is die enigste land in die wêreld wie se grense haarfyn in die Bybel beskryf word. Dit is baie groter as die grondgebied waaroor hulle tans beskik. Ek glo dat hulle probeer om die grondgebied wat deur die Skepper aan hulle toegewys is terug te kry daarom beset hulle grond in die Palestynse gebied so stukkie vir stukkie. Oud premier Golda Meir en haar eenoog-generaal het geleentheid gehad om die gebied tussen Jerusalem en die Jordaan skoon te maak maar het voor Westerse druk geswig. Ek hoop die Israeliete besef dat daar vir hulle ‘n moeilike tyd voorlê en dat hulle nie nou kan bekostig om ‘n onstabiele regering te hê nie. Maar hulle was maar nog altyd ‘n wederstrewige nasie.

Marthinus Willemse ·

Die vestiging van Joodse nedersettings in Palestynse gebied is `n oorlogsmisdaad – daarom het Netanyahu Israel aan die Internasionale Strafhof onttrek. Om die Palestyne van subwersie en aggressie te beskuldig is om Israel se misdade toe te smeer. Op 25 Desember 2018, terwyl die Christene in Sirië en Gasa Kersfees gevier het, het Israel `n lugaanval op hulle geloods. Israel soek nie vrede nie.

John ·

Dit maak nie saak hoe slim ons almal is en hoe kundig ons, ons ag om die kloutjie by die oor te kry nie, Israel en Jerusalem se toekoms lè net in die hande van die Skepper van Hemel en aarde. Al die plakkers op aarde kan op die stukkie aarde langs Israel saamkoek en alle gode en aardse profete kan huil en skree en voorspel. Alles is reeds besluit en wat ons moet weet, in die Bybel uitgestippel. Die handleiding is geskryf, maar lees ons dit? Nee.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.