Nuuskommentaar: Gaan jy dié jaar anders stem?

Argieffoto: Phillip Bruwer

Volgens verskeie opnames gaan moontlik ’n ongewoon groot groep mense vanjaar hul kruisies by ander partye trek as wat hulle voorheen gedoen het. Dit is ook die indruk wat ’n mens kry as na die leserskommentare in verskeie publikasies gekyk word.

Dit laat twee vrae: Is dit so? En indien wel, hoekom?

As die aanname gebruik word dat daar wel aansienlik kiesersmigrasie gaan wees, sou die volgende oorwegings vir die kiesersmigrasie oorweeg kon word: 

In die globale konteks 

  1. Talle instellings beleef ’n verskynsel van mobiliteit, waaronder kerke. Heelwat is al byvoorbeeld geskryf oor die NG Kerk wat lidmate om ’n wye verskeidenheid redes verloor. Dit geld ook ander, gewoonlik “tradisionele” kerke. Ander, dikwels splinternuwe denominasies, skiet op, en sommiges vorm kort voor lank mega-gemeentes. Baie mense is klaarblyklik nie meer so tradisiegebonde soos vorige geslagte nie, en beweeg na kerke of ander organisasies waar hulle tuis voel. Dit sal eintlik vreemd voel as dit nié politieke partye ook raak nie.
  1. Baie van die nuwe kerke het nie dieselfde sensitiwiteit vir die beginsel van soewereiniteit in eie kring nie. Predikante en kerkleiers van hierdie “nuwe” kerke het minder beperkings waar eie voorkeure uitgedruk kan word, uiteraard waar daardie voorkeure regstreeks ooreenstem met dit wat die kerk glo. Soms kom dit baie na daaraan dat gemeentelede van die kansel af aangesê kan word om nie vir partye (soms by die naam genoem) wat ten gunste van aborsies op aanvraag, of ’n keusevryheid aan lede gee, te stem nie.
  1. Die opkoms van die sosiale media se rol is nou so enorm groot dat dit goed vergelyk met die beïnvloedingsrol van die tradisionele media. Koerante wat openlik sekere partye ondersteun, of dié wat formeel onverbonde is, maar subtiel hul sogenaamde “bladsy 2” met ’n politieke party se nuus laai (en as dit te opsigtelik word en kritiek kry, dit so subtiel moontlik na bladsy vier verskuif), het nie meer die oorheersende invloed van vroeër nie. Soms word daar in die sosiale media so doeltreffend met “bladsy 2” die spot gedryf dat die koerant se geloofwaardigheid ook onder druk kom en ander partye juis weer bevorder word. 

In nasionale konteks onder meer gegrond op leserskommentare: 

  1. Afgesien van die ANC se tradisionele kiesers was daar ook ander mense wat hul kruisies daar getrek het, soos “andersdenkendes”, mense wat die wolhaarstorie geglo het van “ons sal jou stem wees,” idealiste, tendervryers en vele meer. Die ANC se prestasierekord is ná ’n kwarteeu al so geskaad (deur eie toedoen, en veral die afgelope dekade, dat hierdie groep kwalik nog sigbaar is. Selfs voorlopige aanduidings dat die Ramaforie dit weer sou laat opvlam, het volgens die meeste ontleders reeds weer teen die werklikheid verdamp. Pres. Ramaphosa het homself eenvoudig ook te veel in die voet geskiet, en skynbaar om die tweespalt in die ANC te oorleef ook nie genoeg aandag geskenk om minderheidsgroepe gerus te stel nie.
  1. Nie almal sal saamstem dat die DA nie meer so sterk as ANC-alternatief beskou word as voorheen nie, en dus nie meer so doeltreffend kiesers oor ’n wye spektrum van ideologieë en oortuigings trek soos voorheen nie. Ook kiesers wat op die oproep van hul stem vir die DA hul kruisies daar gaan trek het, is nou kopsku. Die mite van “stemme vermors” is oor soveel fronte ontmasker dat ander opsies oorweeg word. Die nuwe DA-leier, Mmusi Maimane, slaag volgens talle kenners nie volkome nie, en sy reaksie op onder andere Helen Zille se twiet oor kolonialisme het baie ondersteuners, veral uit minderheidsgroepe, ongemaklik laat voel. Die voorval met Patricia de Lille is nie baie doeltreffend hanteer nie. Oplaas het die konsep van ANC Light, en ’n ANC Mini-Me, ook geërodeer.
  1. Die taalkwessie, en veral die posisie van Afrikaans, het ’n groter invloed as wat diegene wat die rol van Afrikaans beperk of probeer beperk, vermoed het sou gebeur. Sekere faktore het ’n suurdeegeffek gehad, soos die opkoms van die Afrikaanse gemeenskapsmedia. Partye wat hul mediaverklarings slegs in Afrikaans uitreik, en verwag dat “die media” dit in ander tale moet vertaal, het nie kennis geneem van die eiesoortige eienskappe van die meeste gemeenskapsmedia nie. Bitter min het, ook weens institusionele beperkings, die vermoë om genoeg personeel aan te stel om nog vertalings ook te doen.
  1. Iemand het by geleentheid gesê ’n persoon het net ’n tikmasjien en ’n faksmasjien nodig gehad om ’n politieke party te kan wees, dan kan hy ’n politieke party wees. Die moderne tegnologie, soos e-posse, webwerwe, selfoontegnologie en ander vergroot die kommunikasievermoë van selfs die kleinste party om taamlik doeltreffend vir blootstelling met groot partye te kan meeding. As ’n party boonop groot kundigheid in sy media-afdeling saamtrek, kan ’n party soos die Vryheidsfront Plus ver bo sy gewigsklas meeding. Sommige partye skeep dit erg af, hoewel sommiges, selfs klein partytjies, besonder doeltreffend saamtrekke kan hou.
  1. Nadat die afgelope aantal jare aanvaar is dat die politieke situasie in Suid-Afrika stabiliseer in die sin daarvan dat die hordes miniatuurpartye, soos Kiss en Soccer, aan’t verdwyn is, is daar vanjaar weer ’n groot oplewing van hierdie partytjies – dermate dat waarskynlik ’n yslike groep kiesers ’n hele rits hiervan se name vir die eerste keer op die stembriewe gaan sien, en uiteraard geen benul gaan hê wat hul beleid is nie. Baie van hierdie partytjies se vernaamste strategie is skynbaar om hul name met ’n “A” te begin sodat hulle so na moontlik aan die bokant van die stembriewe te kry is. Hulle teer dus op oningeligte kiesers.

Of hulle kry name moeilik te onderskei van die groot partye, en teer dus weer op kiesers wat nie baie geletterd is nie. Wat egter opvallend is, is dat selfs die onbekendste partytjies met die aanwys van kandidate vol lyste kon bewerkstellig, met ander woorde 30 kandidate kon werf in die kleiner provinsies, en meer in die groter provinsies. Dikwels sou hierdie kandidate uit eie sak hul eie aandeel in die depositokoste (sowat R1 500 in die kleiner provinsies) moes opdok. In teenstelling met die vroeëre Dinky Toy-partytjies is die meeste van die nuwes, te oordeel na die kandidatelys, feitlik uitsluitlik swart. Dit kan moontlik op ’n groter mate van politieke diversiteit dui, ofte wel dat die ANC nie die enigste opsie vir swart kiesers is nie. Die SAUK se besluit om slegs die manifes-bekendstellings uit te saai van partye wat in die parlement verteenwoordig is, is egter vir die klein partytjies ’n groot terugslag. Selfs die SAUK se voormalige de facto-hoof, Hlaudi Motsoeneng, het hieroor ’n hofsaak met koste teen die SAUK verloor.

Hierdie lys faktore, of moontlike faktore, is nie naastenby volledig of selfs die belangrikste nie. Dis ook iets wat eers ná die verkiesing behoorlik ontleed sal kan word. Maar tog lyk dit of ernstige partye graag inligting sou wou hê wat die geldigheid hiervan bevestig of nie, sodat foute in die rukkie wat oor is, so goed moontlik reggestel kan word.

Wat dink jy?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

125 Kommentare

jongste oudste gewildste
MOEDELOOS

My stem is nog tussen 2 partye VF+ Want hul doen moeite
en DA want hul is maar die grootste kompetisie teen ANC

nou ja laat ek my stem gebruik
die wat nie stem nie kan ook nie kla nie

Elred Ferreira

Ek gaan nie stem nie.Die antwoord lê beslis nie binne die parlementere politiek nie.Die DA het in n grap ontaard,die VF bereik boggerol behalwe om pragtige toesprake te maak…..Afriforum en Solidariteit bereik in n 12 maande tydperk meer as wat of die DA of die VF in n 10 jaar tydperk bereik….as jy stem dan aanvaar jy die Piesang Republiek van Suid Afrika is legitiem!

willem Botha

Ek stem nog altyd DA maar dit is nou klaar van nou af stem ek VF+ en die rede is die swak DA raadslede in my wyk en die feit dat die DA nie hom uitspreek oor wat reg of verkeerd is nie terwille van polities korektheid magsbeheptheid ten koste van die minderhede

JoeS

Nee wat die jaar mors ek nie my tyd om ver te travel om te stem nie. Mors van tyd en geld.

Johan

Die meeste aspekte van die DA se beleid is ‘n gekloonde ANC beleid. Die beste voorbeeld is dat hulle ewigdurende regstellende aksie steun. Hulle is té kleur bewus.