Nuuskommentaar: Gaan ‘korona-e-kerk’ die kerk ’n hupstoot gee?

Foto: Pixabay

Daar word nou wêreldwyd besin oor die moontlikheid of die inspan van die e-kerk se instrumente en tegnologie teen die agtergrond van die Covid-19-afsonderingstydperk blywende voordele vir die kerk gaan inhou.

Daar is onbetwiste voordele, maar in die geheel lyk dit of die woorde van 1 Tessalonisense 5:21 wel deeglik geldig is: “Beproef alle dinge; behou die goeie.” Die NG gemeente Pellissier in Bloemfontein waarsku in sy nuusbrief soos volg: “Daar is twee moontlike reaksies waarteen ons moet waak – ’n oordrewe paniek wat maak dat ons emosionele besluite neem en in vrees begin lewe. As gelowiges is ons geloof en hoop mos in God Drie-enig geanker! Die ander reaksie is een van ontkenning wat ’n onverantwoordelike reaksie is.”

Die afsondering van lidmate weens die Covid-19-pandemie het tot gevolg gehad dat byna alle kerke en gemeentes groot aanpassings moes maak om hul dienste aan lidmate digitaal beskikbaar te maak. By baie was die stelsel weens individuele omstandighede reeds deels gereed en kon dit net aangepas en uitgebrei word. Soms pas dit die leraar, en soms die lidmate en soms albei.

Maar die kerkgebou is vir baie lidmate ’n plek van gewydheid – daar waar ’n mens jou alledaagse bestaan na die rusbank kan verskuif en saam met die preek rustig kan ondersoek, en pleisters op wonde kan plak. Dit is die saamkomplek van die gemeenskap van gelowiges, waar in veronderstelde goeie geselskap saam verkeer kan word – in rustige gewydheid of gemeenskaplike vrolike gebondenheid – elk wat die Here volgens die lidmate se persoonlike voorkeure aanbid.

Gebondenheid aan kerkverbande het baie geërodeer geraak, en lidmate verskuif na waar hulle gemaklik en gelukkig is.

Maar hoe ervaar predikante, die kerklike owerhede en die lidmate die elektroniese kerkbedienings?

Dit hang grootliks van die gesin/lidmaat tot gesin/lidmaat af. Baie lidmate is bejaard of chronies siek, en vind dit besonder moeilik om ’n formele kerkdiens by te woon. Hulle wend hulle tradisioneel tot veral radiodienste, en dit wissel van uitstekend tot uitsonderlik swak. Dwaalleringe (soms bloot vanuit die konteks van die luisteraar se eie kerkverband) is hinderlik, en soms selfs ontstellend.

Hierdie skrywer, wat die afgelope vyf jaar weens kanker en die newe-affekte van chemo baie moeilik kerkdienste kon bywoon, geniet die daaglikse boodskappe en Sondae se preke wat sy leraar na lidmate kommunikeer geweldig baie. Ander gevalle waar e-kerkdienste van waarde kan wees, is plattelandse gebiede waar lidmate van sekere kerke wydverspreid woon. Dit gebeur soms dat so ’n predikant van ’n ligte vliegtuig gebruik maak om die verste punte van sy gemeente te bereik. Met die viering van die Namakwalandse gemeente Nieuwoudtville se vyftigste bestaansjaar is ’n verhaaltjie oor ʼn vorige leraar, ds. O’Kulis, in die gedenkbundeltjie opgeneem. Die dominee het ’n beroep na die Suid-Kaap ontvang en aangeneem. In sy afskeidspreek bedank hy ’n ouderling wat saam gaan huisbesoek doen het. Op een van die uithoeke was daar sandduine, en dan het die broeder vir mev. Dominee so mooi gehelp om die kar deur die duine te stoot!

Die Hervormde Kerk se gemeente Orania het in ’n stadium weekliks ’n bandopname van die NHKA se gemeente Bloemfontein se preek ontvang, en die volgende Sondag in Orania gespeel. En dit is maar enkele voorbeelde.

Daar is ook probleme, soos wat nuwe Amerikaanse navorsing tydens die huidige pandemie bevind het. Volgens ’n studie waarvan die uitslae aan die einde van Maart bekend gemaak is, het 41% van die 1 500 leraars wat deelgeneem het aan die ondersoek noustrop getrek met die benutting van die tegnologie. Volgens dieselfde studie het omtrent die helfte van die leraars gesukkel om interaksie deur aanlyn dienste met die gemeentes te bewerkstellig.

Uit voorlopige terugvoer van Suid-Afrikaanse predikante, soos gemeld in die media en nuusbriewe, word die geleentheid om bykans daagliks deur aanlyngeriewe met die gemeente te kommunikeer goed ontvang en gemeentelede reageer positief daarop. Oor kwessies soos die nagmaal is die houding van kerkleiers blykbaar dat dit nog uitgepluis moet word. Die noodsaak om dit uit te pluis hang af van die duur van die afsondering. Wat hiermee saamhang is hoe om met kategese te maak.

Gaan daar weer na die tradisionele boerematriek gekyk moet word waar gemeentelede en hul gesinne ’n week voor die laaste nagmaal van die jaar langs die rivier saamtrek en heerlik kamp, terwyl die kategesegroep die week deur die predikant en ’n paar ouderlinge gedril word? Saterdagaand word hulle ondervra en die volgende oggend tydens die nagmaaldiens doen hulle belydenis van hulle geloof en gebruik daarna saam nagmaal. Terwyl die kampeerders se honde in ’n kring om die kerk sit en wag.

Wat duidelik is, is dat die situasie wat die huidige maatreëls genoodsaak het nou deeglik bespreek en geweeg word, en na meganismes gesoek word om dit te verbeter. Wanneer die pandemie iets van die verlede is, sal van die aanpassings in alle waarskynlikheid behoue bly. Baie aanddienste kan waarskynlik in die slag bly weens onder meer die gevare waaraan veral plaasbewoners weens plaasaanvalle blootgestel kan word as hulle na donker tuis kom. In die VSA is heelwat van die e-dienste juis só ingerig dat die leraar en ’n paar ander kerkleiers snoesig om die vuurherd met die gemeente “kuier”. (Dit sluit weer aan by ’n eietydse gebruik van Suid-Afrikaanse leraars om oor byvoorbeeld radiodienste na die eredienste as “kuiers” te verwys.)

Ter afsluiting in die woorde van ’n dagstukkie van die Afrikaanse Baptistekerk in Bloemfontein: “…maar ek het nogal gedink hoe vinnig die Evangelie destyds, ná Jesus se hemelvaart, ook versprei het. Daar was geen televisie nie, geen media nie, geen koerante, Facebook, Twitter nie, niks anders nie. Ek verstaan hoe maklik die inligting (selfs vals inligting) oor hierdie virus versprei, want ons kan wêreldwyd met mekaar kommunikeer in ’n oogwink. Tog verstom die verspreiding van die Evangelie my selfs meer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Ek is bevrees dat na die lockdown gaan die kerke nog meer lidmate verloor. Hulle gaan nou aandring op you tube dienste want dan kan broer mos nou rustig agteroor sit in sy stoel met n brandewyn en die diens volg sonder dat enige. Iemand hom sien. My een vriend het my die storie vertel waar die ma en pa verskriklik baklei het elke dag van hul lewe tot hulle by die kerk se deure instap dan is dit die mees beskaafde man en vrou dit is net tande en more broer en more suster van voor tot agter en een aand toe hoor hulle die seuntjie bid en vra vir Jesus of Jesus nie vir hulle ook so deur soos die kerk sin vir hul huis wil gee nie.

Sarel ·

Maar Godce Stem en Boodskap word steeds gehoor. Die Kerk =:lidmate moet net luister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.