Nuuskommentaar: Gaan korrupsie ANC nou laat struikel?

Argieffoto

Dit is nou reeds ses jaar sedert die destydse president Jacob Zuma met een van sy mees klassieke kluitjies vorendag gekom het, naamlik dat korrupsie ’n Westerse konsep is. Ja, korrupsie is geen histories onbekende begrip in die Weste nie, veral nie as ingewikkelde navorsing gedoen word oor woorde soos “graaien” met uiteenlopende betekenisse, en boonop stamverwantskap met ander tale soos in Fries tot Frans nie. Die een betekenis, om te gryp, dui duidelik daarop dat dit met onregmatige verryking verband hou, en bykans so ver in die geskiedenis teruggevoer kan word as wat die geskiedenis self teruggespoor kan word.

Volgens die NetBible se vertaling en uitleg is korrupsie ’n woord wat van Genesis regdeur die Bybel voorkom, maar meer dikwels in die uitleg van betekenis. Daar is op die oog af skynbaar ook nie veel meer verwysings in die Nuwe Testament (met meer Westerse kontak) na korrupsie as in die Ou Testament (met meer Oosterse kontak) nie.

Om dit met Afrikakulture suid van die ewenaar te vergelyk is moeilik, aangesien daar tot groot mate ’n verweefdheid van die tradisionele regte van stamkapteins en dít wat vandag as korrupsie beskou word, is. Stamkapteins het dikwels ’n tsjôtsjô ontvang in ruil vir grond wat vir gebruik toegestaan is. Die praktyk het heeltemal ontaard, en derhalwe is dit in groot mate “aanvaarbaar” dat iemand wat in die posisie is om tsjôtsjô te vat, “geregtig” is om dit te vat. Seker die bekendste voorbeeld is dat ondanks die weersin in die paswette, die tsjôtsjô-praktyke met die uitreiking daarvan nie meer dikwels in die soort geweld ontaard het as wat verwag sou word nie.

Die Westerse persepsie van Afrika was in ieder geval een van ’n korrupte kontinent, dermate dat Westerse firmas wat sake met Afrikalande doen openlik toegelaat is om omkoopgeld te betaal om kontrakte te kry. Daar is selfs voorsiening gemaak dat maatskappye die omkoopbedrae vir belastingdoeleindes kon aftrek. Die gety hierteen het te midde van die wapenskandaal gedraai, maar verskeie Europese lande het reeds die wiele vir omkopery aan die rol gesit. Dit was trouens reeds in sommige lande se amptelike state en notules opgeneem.

Uit die jongste verwikkelinge is dit duidelik dat omkopery spesifiek binne die ANC nuwe dimensies bereik het. Prof. Erwin Schwella het ’n netjiese uitleg daarvan tydens die afgelope Sondagaand se RSG-program, Kommentaar, gelewer. Dit kom daarop neer dat die kandidatuur van aspirerende verkose partyleiers grootliks geskoei word op die “koop” van stemme. Met verkiesingskongresse was dit al ou nuus van die tasse vol geld wat vanuit motors se kattebakke in ruil vir stemme van hande verwissel.

Dié verskynsel hou moontlik verband met die verdagte vervoer van groot bedrae geld in tasse wat soms op lughawens onderskep is. In 2017 is twee mans byvoorbeeld met vier tasse vol rande en dollars op die lughawe in Bloemfontein betrap. Dit het die polisie ’n hele dag geneem om die geld ter waarde van bykans R22 miljoen te tel. Volgens Google was daar ná 2017 geen verdere nuusdekking oor hierdie saak nie.

Dit lyk asof die ANC, of dan ’n deel van die ANC, nou vir die eerste keer werklik standpunt teen korrupsie inneem, en dat dit breedweg handel om ’n skeiding tussen pres. Cyril Ramaphosa en sy ondersteuners aan die een kant, en oudpres. Zuma met sy bondgenoot, Ace Magashule, aan die ander kant. Daar is egter ’n duidelike grys gebied. Lindiwe Sisulu was byvoorbeeld een van die optogleiers wat Tony Yengeni na Pollsmoor vergesel het om steun te toon toe Yengeni tronkstraf vir sy aandeel aan korrupsie weens die wapenskandaal moes gaan uitdien het. Heelwat mediabronne stel dit as feit dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma ook ruim moes geskep het ter bevordering van haar kandidatuur om haar gewese man as president op te volg. Ramaphosa se verduidelikings oor die Bosasa-geld wat hy (of dan sy veldtogspan) ontvang het, is ook nog nie bo verdenking uitgelig nie.

In hierdie stadium is dit ook nog nie seker of die ANC se integriteitskomitee werklik ten doel het om vermeende korruptes aan die pen te laat ry nie, en of hulle as instrument moet dien om sover moontlik aangeklaagdes skoon te was nie.

Wat baie duidelik is, is dat die magstryd in die ANC so ontwikkel het dat daar slagordes opgestel word sodat geraamtes uit die kas geskud gaan word, en gedwing word om self fisiek aan hul eie gevegte mee te doen, of om die hasepad te kies. Die kanse lyk bitter skraal dat die ANC nie groot skade op die lyf gaan loop nie.

Die skynbare groot ommekeer in die publiek, veral die arm mense, se gesindheid teenoor korrupsie het nou met die veronderstelde geldelike en ander bystand weens die Covid-19-pandemie lyf gekry. Veral danksy mediaberigte kon geld wat nie die regte noodbestemming bereik het nie, duidelik verbind word met Covidpreneurs en ander wat gaan skep het. Dit was klinkklaar die sondaars wat die kos uit die behoeftiges én hul gesinne se monde gesteel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Adam Adriaan ·

Die kanse dat daar enige regverdigbare uitslag, wat ‘n in hooggeregshof hofsaak, die toets van geregtigheid sal deurstaan, waar korupsie, korupsie moet ondersoek sal moeilik bereik kan word, in die ANC strukture en werks wyses. Dit is van die begin af gedoem. Die ANC se inherente samestelling en kultuur is so verrot en deurspek met korrupsie dat geen sulke waardighede na vore sal kom nie.

Persheks Adri ·

Die regering is dan verslaaf aan omkopery en korrupsie! Hoekom sien ons nog nie 1 van hulle in oranje pakkies nie? Kopdoek en haar kinders het soveel geld op swart mark gemaak en word steeds nie vervolg nie! Hierdie gemors moet ent kry. Hulle het ons al klaar diep in die skuld oor hul gierigheid… Hoop hulle mense besef dit as hulle ‘n X trek met verkiesing!

JohanR ·

#VoertsakANC die gouer die beter….is julle al weg? Sal julle GLAD nie mis nie!

marius ·

Al ooit gesien hoe vinnig klim ‘n bosluis van ‘n dooie dier af , net om weer onmiddelik op ‘n ander te spring ?

Werner ·

As ou CR nie ook voor stok gekry word nie saam met die top ses is hierdie hele oefening oeverblindery

annie ·

Die ANC probeer te hard maak of dit sedert sy ontstaan edele oogmerke/doelstellings, gehad het. Is dit omdat ‘n paar Lesotho-kerklikes betrokke was? Wat het van die baie geld geword wat in die jare toe die ANC in die buiteland in martelaarskap saamgekoek het deur ryk Westerse lande aan hulle geskenk is; en dit was baie. Wie het dit ontvang en waarvoor is dit aangewend? Klink soos dieselfde ou storie.

Hercules ·

dit is nie korrupsie nie, dit is plein diefstal, lieg & bedrieg! :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.