Nuuskommentaar: Gaan Menseregtekommissie nou nuwe blaadjie omslaan?

Eben Etzebeth. Foto: Twitter

Verskeie faktore dui daarop dat die Menseregtekommissie (MRK) nou moet vergeet van onewehandige optrede teenoor verskillende rasse.

Een saak waaroor Maroela vanuit die staanspoor nootvas vas bly staan het, was dat die MRK deel van die rassismeprobleem in die land is, eerder as die oplossing, en dat onewehandige optrede die kern van die saak uitmaak.

So erg is die onewehandigheid dat die MRK, met die uitsondering van ’n vars briesie elke nou en dan, dit nie self kan insien nie. Trouens, die MRK het die vertroue in hom om sy eie mandaat uit te voer nog verder gesink toe ’n woordvoerder ’n smerige aanval op AfriForum gedoen het, nadat AfriForum dié onewehandigheid uitgewys het.

Hoewel nog baie vroeg om te oordeel, wil dit uit enkele gevalle blyk of ’n oud-NNP-parlementslid, adv. André Gaum, die MRK as kommissaris van binne begin regruk. Gaum het byvoorbeeld reeds die MRK se hoof van regsdienste, adv. Buang Jones, gerepudieer oor uitsprake oor die Eben Etzebeth-saak. Gaum het reeds kort na hy as kommissaris aangestel is, uitsprake gemaak wat daarop dui dat die MRK nie uit een mond praat as onewehandigheid die grondslag van besluite en optrede is nie.

Hoewel die MRK baie breedsprakig daaroor is dat dit nié swart mense voortrek nie en die versekering gee oor waarskynlike optredes teen Julius Malema en Andile Mngxitama, sal dit ons moeilik oortuig.

Die Etzebeth-saak, die sogenaamde leeukampsaak en die Reitz-vier-saak, is van die sake wat op ernstige ras-bevooroordeeldheid van die onderskeie voorsittende beamptes dui.

In die berugte doodskis-saak het die voorsittende beampte ’n stelling dat daar ’n toename in rasse-insidente is, as faktor aanvaar om verlof tot appèl te weier. Die verdediging voer aan dat daar geen bewyse vir hierdie aanname bestaan nie. Dit lyk eerder of die gebruik van ongesubstansieerde “feite” om lede van een rassegroep te knyp, tot die verslegting in rasseverhoudinge kan bydra.

Die MRK kan nie insien dat wit en swart oortreders onewehandig hanteer word nie.

Waarvan die MRK gerus ook kan kennis neem, is die persepsie dat ANC-leiers heeltemal anders hanteer word as gewone lede van die publiek.

Dit raak nou gebiedend noodsaaklik dat die MRK sy oënskynlike rassevooroordele laat vaar en sy uitlatings wat aan dié van die optrede van ’n boendoehof herinner, stop.

As Etzebeth wel skuldig bevind word, is dit ’n ernstige saak, veral aangesien hy as Springbok as ambassadeur vir sy land behoort op te tree en as rolmodel vir kinders.

Maar bepaal eers of hy skuldig is al dan nie. En indien wel, bied die kans vir uitreiking, verskoning en versoening, want dis wat die land nodig het, nie ’n gedurige opsweping van moeilikheid soos Malema maak nie. As die klaers ’n storie gefabriseer het, moet hulle ook bereid wees om die gevolge te dra.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem Grobler ·

As enigeen dink die MRK gaan skielik ewehandig begin optree dan glo hy/sy seker ook dat varke kan vlieg.

Vaalseun ·

Jy is reg, Herman.
Die MRK moet die Grondwet toepas. Daarom mag geen ras-gefundeerde besluite en optrede toegelaat word nie. En die MRK mag nie deur party-politieke beleidsrigtings, taktiek, propaganda en ideologieë gelei word nie. Terloops, die ANC skuld ons nog ‘n uiteensetting van sy morele fondament, sonder apartheid. Sy verdagte kommunistiese long john hang net te ver ongewas uit.
Die MRK mag derhalwe nie toegelaat word om enige onderskeid te maak en/of groter of minder gewig te gee aan, en tussen, die rassismes van die uitroeiing van vreemdelinge haat, die akademiese en indiensneming kwota-stelsels, kader ontplooiing, B-BBEE, grondgrype, verengelsing van publieke instellings, moedertaal onderdrukking, selektiewe haatspraak wetgewing, verskillende tipes geweldsmisdae, swart bemagtiging, ens. nie. Die ANC, EFF en andere het hierdie rassistiese rookskerm geskep vir brute politieke, kulturele en ekonomiese batestroping. Hulle is na 25 jaar steeds daarop uit om die land se produksiemiddele te kaap, want hulle het geen nuwe en selfstandige, positiewe bydrae om te maak nie. Wanneer die belasting, bates, winste en opbrengste van bekwame, hardwerkende en pligsgetroue medeburgers gestroop en uitgebuit is, loop die misdadigers dmv kommissies van ondersoek kastig saam en soek na die skuldiges. Intussen word die MRK en howe se hulpbronne misbruik om onbenullige onderonsies en woordewisselinge te ondersoek om die aandag af te trek van die ANC se mislukking om grootskaalse misdaad, korrupsie, bedrog, verkragtings en moorde effektief te bekamp.
Ons het die reg en die vryheid van spraak om hierdie selektiewe, opportunistiese moraliteit en stropingstaktiek aan die kaak te stel.

Ruiklont ·

Daar is geen maar geen vertroue in die MRK nie, weereens ‘n politiese instansie

Viss ·

Daar is ‘n totale aanslag op ons witmense, dit is so erg as wat die Nazi’s met die Jode gedoen het.

Johanna Botha ·

So baie menseregte …maar die moord en verkragting neem jaarliks net toe …..MRK is n joke !

Rupert Ashford ·

Die MRK is gefundeer op die “Universal Declaration of Human Rights” van die VN. Hulle onewehandige optrede is 100% in lyn met daardie verklaring en hulle tree op in lyn met ander soortgelyke instansies in ander lande. Laastens – moet op prinse nie vertrou nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.