Nuuskommentaar: Gaan ’n Afrikaanse SAUK-TV-kanaal werklikheid word?

Lesersfoto

Lesersfoto

Die SAUK het almal verras deur aan te kondig dat dit ’n volwaardige Afrikaanse kanaal beplan. Daar moet nog baie water in die see loop, maar intussen woed die stryd om Afrikaans op ander vlakke voort met dikwels Afrikaanssprekendes wat deel is van die stryd om Afrikaans se rol en ruimte te verskraal. Die toetrede van Breyten Breytenbach aan die kant van Afrikaans by die US het ’n nuwe dimensie verleen.

Groot onsekerhede omring steeds die SAUK se aankondiging dat verskeie nuwe taalgerigte TV-kanale, waaronder een in Afrikaans, beplan word. Omtrent al wat in terme van ’n tydsraamwerk bekend is, is dat dit met die migrasie na digitale uitsendings beoog word, en dat die aankondiging taamlik kort voor ’n belangrike verkiesing gedoen word.

Dit is ook bekend gemaak dat die Afrikaanse kanaal gerig sal wees om ook te voldoen aan die taalbehoeftes van gemeenskappe van die Khoi en die San.

Hoeveel die werklikheid met die saak te make het, sal nog bepaal moet word. Hoe meer probeer is om Afrikaans vanuit owerheidswese te marginaliseer en selfs te verdring, hoe meer het Afrikaanse gemeenskapsradiostasies begin floreer. Veral in die aanvangsjare het die uitsaaiowerhede alles in hul vermoë gedoen om stasies wat op Afrikaans gefokus het, se uitsaairadius en inkomstepotensiaal te beperk. Dat dit intussen deels oorkom is, hou ook meer met die ontwikkeling van tegnologie, soos die internet, verband, as ’n ander gesindheid terwyl die SMS-stelsel in sommige gevalle heelwat tot die inkomstebronne bydra.

Waar bloed nie kan loop nie, daar kruip dit.

Intussen het die SAUK die een eksperiment ná die ander probeer, soos om die gewilde Afrikaanse nuusbulletins rond te skuif, en gevind dat die kykers nie in die proses na die “vlagskip” Engelse nuusbulletins migreer nie, maar die Afrikaans volg. En dis dikwels nie-Afrikaanssprekendes wat die Afrikaanse bulletins volg.

Staar kommersiële werklikhede nou ook die SAUK in die oë?

Het die bestaan van onafhanklike betaalkanale te veel lesers begin oes?

Soos dit nou is, het Afrikaanse kykers wat nie betaal-TV kan bekostig nie, en wat nie ’n affiniteit vir Gita se skelmstreke in 7de Laan het nie, darem bloedweining om in die skoonste taal te volg.

En dit is nou sonder om die gehalte van Afrikaans wat soms opgedis word onder die loep te neem, maar elke keer dat na die Algeriese, in plaas van Algerynse verwys word, is hierdie kommentator nog ’n tand of twee wat stukkend gekners word kwyt.

Die ironie is dat daar min, indien enige, Afrikaanse insette was wat tot die SAUK se planne bygedra het.

Op ander fronte is daar wel Afrikaanssprekendes teenwoordig in die stryd om Afrikaans ’n plekkie onder die son te gun, selfs “net” dit waarvoor die Grondwet voorsiening maak. Met die stryd op kampusse is dit dikwels Afrikaanssprekende wat teen Afrikaanssprekende te staan kom, en waar bitter woorde val, en ja, veral een gerekende hoogleraar so bitterbek is oor sy idees wat wetlike teenspoed kry, dat hy die waarheid erg in die koerante verdraai om sy teenstanders se motiewe verdag te maak.

Verskille in styl word ook dikwels teen mekaar afgespeel. Ja, dit is so dat heethoofde wat eers sê en doen voor hulle dink, die saak van Afrikaans enorme skade aandoen. Maar presies waar sou Afrikaans vandag gewees het as diegene wat die hakskene inskop en selfs die howe inspan nie ook in die spel betrokke was nie?

By die Universiteit van Stellenbosch het ’n interessante dinamika ontwikkel toe die bekende Afrikaanse skrywer en digter, Breyten Breytenbach, tot die stryd toegetree het, en wel vir die saak van Afrikaans. Breyten, wat tronkstraf vir sy aandeel in die stryd teen apartheid uitgedien het, is geen ideologiese liggewig nie. En onder die topskrywers was hy een van die weiniges wat nie ’n kleur of party aan die onreg gekoppel het nie, en onreg volg en beveg ongeag wie daarvoor verantwoordelik is.

Dit is nou ’n formidabele “span” wat die US-bestuur se planne aandurf om Afrikaans se rol te verskraal. Daar was pogings uit “die ander dampkring” om Breyten en sy invloed “uit te haal”, maar presies hoe ’n swaargewig Breyten is, is hopeloos onderskat.

Die stryd om Afrikaans moet fatsoenlik geskied. Of dit nou is met oupagrootjie se benadering van “met die hoed in die hand kom men deur die ganse land” en of ’n meer aktivistiese benadering gevolg word, dit moet fatsoenlik wees. Vir elkeen is daar ’n ruimte solank hy of sy nie in styl die ernstige pogings van ander in die wiele ry nie.

Die volgende paar maande gaan interessant wees. Hoe nader die verkiesing kom, hoe meer ministers ontdek hulle kan eintlik Afrikaans praat, al is dit nou nie baie goed nie. Dikwels word die geelwortel uitgehou. Die belangrikste is om te onthou dat daar ook ’n era ná die verkiesing is, en dat geelwortels dan bitter skaars word. Dit beteken nie dat elke blykie van goedgesindheid nie op die regte manier beantwoord moet word nie (wat nou nie die wegdobbel van stemme insluit nie).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

Dit gaan nooit gebeur nie.

Tiger

Ons het in 2008 7de Laan en SAUK tv ophou kyk agv die subtiele breinspoeling wat stilletjies ingesypel het in die program.Dit sal nou MEER AS BAIE verg van die SAUK om ons terug te lok en ‘n Afrikaanse kanaal sal nie sommer oornag vir ons werk nie .Daar is faktore wat ons terugkeer beslis sal bepaal.Een daarvan is ras vermenging .Jammer maar ons staan nie daarvoor nie!

JC

Oulike artikel!

Sarie

Ek sien darem die Dept Afr/Ndl het ook bygekom. Wag nog vir Leon De Stadler en die Zopvoedkunde Dept. ‘n Interessante betoog wat Dan Roodt op Praag geplaas het. Sal seker nie die konvensionele media bereik nie, maar nogtans die moeite werd om te lees. As die SABC Afrikaners aanstel om die nuwe kanaal van die grond af te kry sal dit werk. Hulle kan sommer ‘n resep vir die ander tale ook probeer uitwerk. By ons ander Afrikatale is nog baie werk nodig. Dit is krities dat daar meer aandag gegee word om moedertaalonderrig te bevorder en ook die… Lees meer »

Burger

Gehou van die woord fatsoenlik in die konteks . Die gesindheid waarmee ons die taal lewendig wil hou gaan belangriker wees as enige van die ander platforms wat geskep word hiervoor. Die pragtige taal gebruik deur die meeste mense in die land , het ongelukkig n stigma . Dalk nie so onverdiend nie . ‘n Oorlog vir Afrikaans sal nooit tot afhandeling kom nie. n Oorlog sal dit bly . Ons kan nie n taal red as ons nie hart het en wys vir die res van die land se inwoners nie. Dit is al platform wat sal werk ,… Lees meer »