Nuuskommentaar: Gaan Numsa se werkersparty SA-politiek herskik?

Irvin Jim, uitvoerende hoof van Numsa Foto: marxist.com

Irvin Jim, uitvoerende hoof van Numsa Foto: marxist.com

United Front

Kommentators is geleidelik besig om hul penne in ink te doop nadat Numsa Maandag aangekondig het dat hy voortgaan om ’n nuwe politieke party, die United Front, te stig. Uit vorige aankondigings blyk dit ’n linkse werkersparty te wees. Die rede waarom nie oorhaastig tot gevolgtrekkings gespring word nie, is omdat algemeen verwag is dat so ʼn stap eers sou volg na Numsa uit Cosatu geskop is, of self sou uitstap. Met ’n duidelike breuk sou ʼn ontleding veel makliker wees.

Zuma die opmors-rol

Die gebeure speel teen ʼn bepaalde agtergrond af, waarin die omstredenheid van pres. Jacob Zuma geen geringe rol speel nie. Die Zoeloefikasie en Zumafikasie speel moontlik ’n groter rol as ideologie of ontevredenheid met die tipe “bestuurstyl” wat Suid-Afrika op omtrent al wat saakmakende indeks laat agteruitboer, en verhinder dat die land werksgeleenthede skep.

Op die oomblik, so lyk dit, word die ANC deur twee kragte gerig. Die hoofkrag, onder leiding van pres. Jacob Zuma, kan as die groep wat dinge opmors getipeer word.

Die tweede groep, onder die leiding van mnr. Cyril Ramaphosa, kan as die “herstellers” beskou word.

Of anders gestel, wanneer dinge uitmekaar spat oor Mr. Mess Up se dinge, moet Mr. Fix It ingestuur word om dinge reg te ruk.

Dink maar aan Lesotho, waar SADEC eers van Zuma verwag het om sake te gaan regruk, maar toe dinge net nog meer dreig om om te kantel, is Ramaphosa ingestuur, en die saak (voorlopig altans) bestendig is.

Toe Ramaphosa “ingestuur” is om die beroeringe binne Cosatu aan te spreek, was sake al baie ver heen. Voorlopig altans, sal Numsa nou nie, soos algemeen verwag is, uit Cosatu stap nie. Die kommentator, Henry Jeffreys, meen op Netwerk24 Numsa se Irvin Jim wil eers probeer om Cosatu oor te neem.

Zuma se rol om Cosatu in die warboel te dompel, kan kwalik onderskat word. Met die aanvang van die proses was die NUM al jare Cosatu se grootste vakbond, en eintlik die ruggraat van die vakbondfederasie. As sodanig was dit ’n belangrike instrument om Zuma se herverkiesing as ANC-president in Bloemfontein te verskans, en om dit te doen moes die pro-Zuma president van Cosatu, Sidumo Dlamini, se magsbasis gebou word. Dit sou terselfdertyd die Zoeloefikasieproses bevorder. Die probleem was dat die sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, ’n Xhosa en al ʼn ruk lank nie meer baie opgetrek met Zuma nie, uit die pad gewerk moet word. Vavi se lakenkaskenades bied toe die geleentheid – erg pikant teen die agtergrond van Zuma wat owerspel as verweer teen ’n verkragtingsaanklag aangevoer het, en ’n vriend se dogter in die ander tyd gesit het.

Was dit die einde van Vavi, het sake dalk heeltemal anders verloop. Vavi het egter deur ʼn kombinasie van regsaksies, en steun van Numsa, ’n gedugte faktor gebly.

Die SAKP as faktor

As daar een faktor is wat Zuma rugsteun, en oor die etniese grense heen strek, is dit die SAKP. ’n Duidelike teken hiervan is Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC en ʼn Xhosa, se galbrakery oor Numsa. Nie baie lank gelede nie, was Mantashe en Zuma half onlekker met mekaar, en het Zuma selfs die KwaZulu-Natalse LUR vir finansies, dr. Zwelihle Mkhize, na Lethuli-huis ontplooi in ’n duidelike skuif om nie net Mantashe se vlerke te knip nie, maar om ook te verseker dat Cyril Ramaphosa nie te sterk word nie. Toe die SAKP hul blindelingse steun aan Zuma toesê, het Mantashe, ook ’n lid van die SAKP, gedienstig ingeval. In sy verbale diarree teenoor Numsa sê hy dit dui op ’n chroniese siekte weens ’n immorele lewenswyse, en in plaas van om ʼn gesonde lewenstyl te volg, word na ’n toordokter gehardloop om gesond te probeer word.

Die Numsa-vuurvreter, Irvin Jim, sal so ’n lae hou nie sommer onbeantwoord laat nie.

Zuma se voorliefde vir kommuniste uit die SAKP, het hom wel dié relatiewe klein partytjie se beskerming besorg, maar hom vervreemd gelaat van ’n veel groter, en radikaler revolusionêre werkersmag, of dan ’n karikatuur daarvan onder andere in die vorm van die EFF. Amcu, wat grootliks uit die NUM ontstaan het, verkeer ook min of meer in hierdie dampkring.

Hoe groot kan die United Front wees?

Maar sou die beloofde werkersparty uit Numsa-geledere tot stand kom, hoe groot sou dit wees?

Die sinvolste bydrae hieroor kom van Andries Bezuidenhout, ’n arbeidsosioloog van Tukkies wat ’n wandelende ensiklopedie is oor strominge binne die vakbondwese (Netwerk24). Hy wys hoe opnames binne Cosatu sedert 1994 op ’n verskuiwing dui weg van waar die ANC as alliansievennoot die beste manier is om werkersbelange te dien. In 1994 het 82% nog geglo die ANC-alliansie is die beste manier. In 2014 net 45%. Terselfdertyd het die idee van ’n eie werkersparty gegroei van geen in 1994 tot 8% in 2014. Steun vir die SAKP as “rytuig” was nooit hoër as 4% nie, en staan nou op 2%.

Die persentasie wat meen Cosatu moet hom by geen politieke party skaar nie, het in die 20 jaar tot 30% verdubbel.

Dit is belangrik om te let dat dit ʼn opname onder Cosatu, en nie net Numsa is nie, en dat die uittog van NUM-lede na Amcu ook ’n impak sou hê.

Dit sou riskant wees om die bestaande vakbond se getalle, aangesuiwer met ander kleineres wat ook uit Cosatu sal dros, en ontevrede lede van vakbonde binne Cosatu, soos uit Sadtu, bloot numeries bymekaar te tel.  Sou al Numsa se sowat 340 000 lede vir die werkersparty stem, sou dit hom net sowat 7 setels in die Nasionale Vergadering besorg. Besorg die ander vakbonde en ontevredenes in Cosatu-lojale vakbonde hom nog soveel steun, sal dit met so 14 tot 15 setels tevrede moet wees – bitter ver van die enige noemenswaardige verwagting om beduidend te wees.

Verder is ʼn mens op raaiwerk aangewese. Hoeveel Numsa-lede gaan steeds onder die ANC se verkiesingspropaganda swig, en vir die ANC stem? ’n Mens moet onthou dat met die volgende algemene verkiesing tree Zuma uit die politiek (indien sy kop nie vooraf rol nie) en een van die vernaamste dryfvere vir die wegbreek verdwyn.

Aan die ander kant, kan hierdie werkersparty dalk baie stemme trek uit die geledere van mense wat nié bande met Numsa het nie. Daar is immers ’n kollektiewe versugting vir ’n swaai na links – hetsy binne of buite die ANC. Suid-Afrikaanse kiesers het juis nie ’n baie goeie rekord dat hulle (bewustelik of onbewustelik) vir partye stem wie se beleid en beginsels met hul eie oortuigings ooreenstem nie.

En dan lê die munisipale verkiesings nog eers voor. Sou die EFF en hierdie nuwe werkersparty nie die een of ander samewerkingsooreenkoms bereik kry nie, kan dit vuurwerke op sy eie afgee, want hulle gaan grootliks vir dieselfde kieserskorps mik.

ʼn Paar wêreldneigings

Die ontstaan van ʼn werkersparty is moontlik nie al gevolg nie, en kan ʼn aanvullende burgerlike beweging tot stand kom (lees onder slothofie). Wêreldwyd is daar ’n probleem in die geloofwaardigheid van politici, wat soms krisisvlakke kan aanneem. Volgens die jongste Rasmussen-peiling meen net 8% van die Amerikaanse kiesers ’n week voor die belangrike midtermyn-verkiesings dat kongreslede ’n goeie werk doen. Wantroue in beide partye is hoog, en die rol van belangegroepe wat die kandidate tot hul oortuigings probeer oortuig neem toe. Pres. Barack Obama is, verdiend of onverdiend, nou vir beide partye ’n verleentheid.

Maar gaan so ’n werkersparty die politiek genoegsaam skik dat Suid-Afrika uit sy tweeparty-groef kan breek?  Veral een waar een party so absoluut domineer?

Twee interessante gehalte-artikels, een oor China, en die ander oor Oekraïne, werp lig oor hoe arm Suid-Afrika eintlik binne die huidige politieke landskap verval het.

In die artikel oor China wy die China-kenner, Chen Zhimin, uit oor die hersentralisasie van China. Onder die vorige leierskap is baie magte na die streke en stede afgewentel, maar dit het onder meer daartoe gelei dat daar te veel magsentrums vir die ontwikkeling van korrupsie ontwikkel het. Om dit te bekamp is besluit om van China ’n “regstaat” te maak, wat nie met ons begrip van die regstaat – of dan die oppergesag van die grondwet (rule of law) verwar moet word nie, maar ’n staat waar elkeen onder die streng gesag van die reg staan. Skeeftrap, en dis koebaai met Kees.

Dit maak, in daardie konteks, sin as die enkele magsentrum self nie korrup is nie. Dit lyk egter of die hele program daarop gerig is om werklik korte mette met korrupsie te maak – ook uit ander bronne. Dit is egter ook, wat eiesoortige karakter betref, slegte nuus vir Hongkong en ander gebiede wat weens heterogeniteit groter outonomie (en demokrasie) verlang.

Maar in die fynskrif is daar nog ʼn rede – deur sentralisering kan die regering ook die ekonomie vryer maak, omdat versnelde groei benodig word, en die regering nie nog met dissidente radikale magte na links opgesaal kan sit nie.

Numsa en die EFF moet mooi kennis neem hiervan.

Hierteenoor het die inwoners van Oekraïne met die pas-afgelope verkiesing die keuse gekry om ooswaarts, of weswaarts te kyk. Die drie partye wat die sterkste uit die stryd getree het, is almal pro-Wes-Europese partye. Maar dit beteken nog nie ’n outomatiese instap in die Europese Unie nie. Oekraïne het reeds die boodskap gekry dat om “in te pas” moet dit meer ruimte laat vir “eenheid in verskeidenheid”. Hierdie sinspeel nie net op die diversiteit van die bevolking nie, maar dit word ook ingesluit. Europa het nie aptyt vir lidlande waar etniese minderhede knaend die wapen opneem omdat hulle voel hul minderheidsregte word vertrap nie.

Hiervan moet ’n hele boel links-liberale kommentators wat onlangs emosioneel onder Solidariteit en AfriForum ingeseil het, kennis neem.

In die konteks van moderne politieke en staatkundige denke, is Suid-Afrika glad nie eens op die wa nie. Byna al die partye is almal in ’n beleidsraamwerk van hibride-ideologieë, of nog erger, kwasi-ideologieë vasgeweef. En in die proses uit pas met die wêreld.

Hoe lyk die moderne wêreld? In België is daarin geslaag om ’n nuwe koalisieregering te vorm wat die sosialiste heeltemal uitsluit. Min mense het verwag dat so iets moontlik sou wees, omdat die sosialiste die politieke toneel in Franssprekende Wallonië oorheers. Dit is weer moontlik gemaak deurdat die vlytige Vlaminge, waar die sosialistiese partye maar noustrop trek, Wallonië jaarliks met miljarde euro’s subsidieer. Nou is daar beduidende kragte in die Duitse deelstaat, Beiere, wat selfs praat van wegbreek uit die Duitse federasie. Een van die hoofoorwegings is dat Beiere ander deelstate jaarliks moet subsidieer, wat dan luukshede aan hul burgers, soos kospakkies by skole, bied wat Beiere nie eens sy eie burgers gun nie.

Kortom, sosialisme is nie meer die towerwoord wat dit eens in Europa was nie. In Suid-Afrika moet die lig nog aangeskakel word.

Maar nog ʼn politieke mag wat uitgedun raak, is die liberale. Die nuwe Europese Kommissie (kabinet van die Europese Unie) is byna volkome deur Christen-demokrate en – sosiaal-demokrate – opgeneem. Voorlopig is liberalisme in Europa selfs meer uitgedien as die sosialisme. Dalk verklaar dit die gereelde oproepe om liberalisme te “red” wat nou voortdurend in Suid-Afrikaanse koerante verskyn – en iets van die geniepsigheid teenoor Solidariteit en AfriForum.

Maar hoe lyk die politieke dam van Suid-Afrika? Daar waar waardegedrewe partye sou voorkom, is die dam maar yl bevolk. Die deel van die dam wat die radikaal linkse-sosialiste trek, word al hoe swaarder bevolk. Dit wat ons as sentrum sou beskou, sou in Europa as taamlik liberaal beskou word (en dus onder druk wees).

En dan is daar nog die manifestasie van rasbehepte transformasie, wat tog glad nie as liberaal beskou kan word nie, en ook elders moeilik inpas.

Moontlik ʼn nuwe burgerlike instelling

Dit is wêreldwyd in demokrasieë nie meer ongewoon nie, en dui trouens op ’n volwasse grondwetlike demokrasie, dat burgerlike belangegroepe ’n al hoe belangriker rol speel. Om bepaalde redes ontwikkel hulle dikwels uit vakbonde. Dit is moeilik om te voorsien dat Numsa se United Front iets anders as ’n erg skadelike kuiken sal uitbroei.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Drieks ·

Vir 5 jaar gaan ons nou sien hoe ons” nuwe partye en ou partye” mekaar uithaal. So sien die jeug, dis hoe mens dit doen. Vermoor die ou wat in jou pad kom.
En so leer hul, skiet die sokker kaptein vir ‘n selfoon.
Gaan vuil politiek wees die….

Henkst ·

Afrika sosialisme is ons voorland.
Afrika sosialisme is in teenstelling met die wetenskaplike sosialisme (marxisme) ondogmaties en is positief teenoor die Afrika tradisies. Die meeste Afrika sosialiste streef na ʼn Verenigde Afrika op ʼn sosiaal-demokratiese grondslag. Belangrike kenmerke van die Afrika sosialisme is: die vorming van koöperasies (meestal in die vorm van tradisionele dorpsgemeenskappe), nasionalisme, geleide demokrasie, en die afkeur van stamskap en rasisme.

Nico ·

Die probleem in SA is dat daar nog steeds miljoene armes is. En die ANC het sover nog net daarin geslaag om ‘n swart elite te skep. Dit het niks gedoen om die meerderheid se lewensstandaard op te hef nie. Die meerderheid swartes is nog net so arm as voor 1994. Dit moet logies lui dat daar ontevredenheid sal wees wat mense na Malema en ander “werkers partye” sal dryf. Ek sien dus dat die druk na sosialisme in SA net sterker gaan word. In Europa, wat reeds redelik sosialisties is, is sosialisme nie meer so groot behoefte as na die Tweede Wêreld oorlog nie, toe daar groot armoede was nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.