Nuuskommentaar: Gaan ons verkiesing vry en regverdig wees?

ANC-plakkaat tydens die 2011-verkiesingsveldtog

ANC-plakkaat tydens die 2011-verkiesingsveldtog

Dit sal vir niemand as ‘n skok kom dat die voorsitter van die SAUK-raad, Ellen Tshabalala, ‘n ANC-ondersteuner is nie. Die ANC het immers ‘n formele beleid van kaderontplooiing. Maar in haar hoedanigheid as voorsitter van die openbare uitsaaier se raad is sy veronderstel om n onverbonde houding in te neem omdat partydige optrede die komende verkiesing van die demokratiese vereiste, “regverdigheid” kan stroop.

Dit is juis die Zimbabwiese staatsmedia wat daartoe bygedra het dat dié land se algemene en presidentsverkiesing in die oë van onverbonde waarnemers nie die toets van regverdigheid kon slaag nie. Lande soos Australië en Botswana wou selfs dat die verkiesings oorgehou moes word. Slegs die feit dat dit in ieder geval duidelik was dat Mugabe die meerderheid se keuse was, het die geldige besware van akademiese belang gemaak.

Suid-Afrika se knie-buiging voor Mugabe was egter onheilspellend as dit op ons land se eie komende verkiesing geprojekteer sou word. Daar was ander gevaartekens soos kospakkies (nie deur die ANC nie maar die belastingbetalers voorsien) wat strategiese tydens tussenverkiesings uitgedeel word. ‘n Paar uitsprake van die verkiesingshof wat die onafhanklikheid van sommige van die OVK se personeel geskud het, die uitdeel van HOP-huise wat, onder meer met ANC-T-hemde en deur die toesprake in ANC-verkiesingsvergaderings omskep word, advertensies van staatsdepartemente, onder meer die presidensie, wat as niks anders as ANC-propaganda beskryf kan word nie, amptelike advertensieborde in ANC-kleure en nog vele meer.

‘n Regverdige verkiesing?

Tshabalala het egter tydens ‘n oorhandigingsplegtigheid van huise in KwaMashu – in haar hoedanigheid as SAUK-raadsvoorsitter, ‘n beroep op die aanwesiges gedoen om vir die ANC te stem. Volgens RSG het sy onder meer gesê daar is te veel partye vir die verkiesing geregistreer, en dat die kleiner partye geïgnoreer moet word. Hierdeur het sy boonop haar skokkende onkunde ten toon gestel oor wat die term “demokrasie” beteken, laat staan nog grondwetlike demokrasie. Haar bevooroordeeldheid en onkunde is so skokkend opvallend dat sy summier uit haar amp verwyder moes wees.

In alle billikheid, die SAUK is nie net bevooroordeeld nie. Daar is verskeie programme, veral op radiostasies soos RSG, waar die personeel toegelaat word om hul werk onverbonde te doen. Dié personeel is ook gesteld daarop dat dit bekend moet wees dat hulle sonder dwang hierdie onverbondenheid kan uitleef. RSG se Sondagaand-program, Kommentaar, is al deur ‘n panneellid en voormalige SAUK-joernalis, Max du Preez, as ‘n “eiland van onverbondenheid” beskryf.

Aan die ander kant het van die ANC se top-personeellede en raadslede ‘n biddiens bygewoon wat gehou is om Zuma se herverkiesing tot ANC-president te verseker, en dit is met vermelding van hierdie aanwesiges, oor die SABC-nuusbulletins uitgesaai. Daar is die geval van die uitjouery van Zuma in Soweto wat uitgeredigeer is.

Die SAUK word gereeld daarvan beskuldig dat dit ‘n geval is van “His master’s Voice.”

Unesco definieer ‘n openbare uitsaaier soos volg: “Public broadcasting is defined as a meeting place where all citizens are welcome and considered equals. It is an information and education tool, accessible to all and meant
for all, whatever their social or economic status. Its mandate is not restricted to information and cultural development—public broadcasting must also appeal to the imagination, and entertain. But it does so with a concern for quality that distinguishes it from commercial broadcasting. Because it is not subject to the dictates of profitability, public broadcasting must be daring and innovative, and take risks. And when it succeeds in developing outstanding genres or ideas, it can impose its high standards and set the tone for other broadcasters. For some, such as British author Anthony Smith, writing about the British Broadcasting Corporation—seen by many as the cradle of public broadcasting—it is so important that it has “probably been the greatest of the instruments of social democracy of the century
”.

Maar staan net die SAUK agter die deur?

Kom dit by koerante in privaat besit is daar geen formele rede waarom koerante nie politieke keuses van hul eie kan bevorder nie. Die probleem kom egter daarby in wanneer hierdie koerante, volgens hulself, formeel onverbonde is, maar in die praktyk ‘n sekere party rugsteun, gewoonlik “subtiel.” Dit is byvoorbeeld een ding as ‘n koerant ‘n brief dra – ongeag hoe kennisgebrekkig – oor Niekie van den Berg en ander se “oorlopery” van die DA na die Vryheidsfront Plus, maar as presies dieselfde swak brief wat een koerant gedra het, die volgende dag in ‘n susterkoerant in ‘n ander streek verskyn, lyk dit verdag.

Die persvryheidswaghond, Verslaggewers Sonder Grense, gradeer ‘n land af op die persvryheidsindeks as die media nié die politieke diversiteit van ‘n land behoorlik weergee nie, omdat volledige demokrasie alleen bestaan wanneer die speelveld vir politieke oortuigings gelyk gemaak word. Dis natuurlik nie so eenvoudig nie – sommige politieke standpunte bedreig juis die demokratiese instellings wat hulle daardie stem gee.

Ander faktore, soos onbehoorlike redaksionele druk van adverteerders speel ook ‘n rol.

In ‘n werklikheidsopset waar een party, die ANC, so oorweldigende steun geniet dat niemand twyfel dat dit weer die pyp gaan rook nie, is die beste verskansing teen magsmisbruik die grondwetlike demokrasie self. Dit is veel meer as net stemreg. Volgens konvensie is dit ook persvryheid self, en baie sterk burgerlike instellings (bv Outa, AfriForum en Solidariteit).

Elkeen hiervan moet gekoester word.

En slegs dan kan na die verkiesingsuitslae gekyk word en gesê word die uitslag is regverdig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.