Nuuskommentaar: Gaan resessie politieke gevolge hê?

Politieke gevolge vir die ekonomiese gemors wat die Zuptanomie aanrig, gaan daar beslis wees, maar dit lyk of die pogings om die regte persone as deel van die regruk-aksie aan die pen te laat ry, veel komplekser gaan wees as om bloot die ANC by die stembus te straf. Die media en burgerlike instellings se onderskeie rolle word net al hoe belangriker.

Eintlik behoort dit ’n hoogs oorbodige vraag te wees om te vra of die tegniese resessie waarin Suid-Afrika hom die eerste keer sedert 2009 bevind, enige politieke nasleep gaan hê. Staatskaping word immers wyd as een van die (populistiese) oorsake aangegee. ’n Politieke nasleep gaan daar wel wees, maar of die argitekte en drywers van ekonomiese plundering, bekend as Zuptanomie, die spit gaan afbyt, lyk nog baie onseker.

Die oorsake van ’n resessie is komplekser as om bloot ’n klomp politieke modder rond te slinger, maar dit is nie onbelangrik nie omdat dit die persepsie van onstabiliteit skep. Akademici stel dit al lank as feit dat korrupsie in die land endemies is, al is dit tegnies nie heeltemal korrek nie.

Resessie gaan die meeste huishoudings minstens effens armer maak. Dit is nie goeie nuus vir die ANC nie, omdat daar ’n soort kollektiewe konsensus by ’n groot en groeiende deel van die kieserskorps bestaan dat pres. Jacob Zuma grootliks tot die agteruitgang van die land se ekonomie bydra. Deesdae kry dié weergawe wiele met die Guptagate-e-possage.

Dit plaas die ANC voor ’n krisis – om te moet kies tussen kiesers en Zuma. Tot dusver is Zuma soos taks verkies, wat die druk net verder verhoog om van Zuma ontslae te raak, of uiteindelik (weer) ’n prys by die stembus te betaal. Zuma self klou, want ’n trekpas is dalk/waarskynlik sommer ’n vrypas tronk toe. Tog los hy ook nie die onhebbelikhede wat hom in die eerste plek in die warm water laat beland het nie. Nenegate en gevolge is opgevolg deur Gordhangate, met afgradering en nou resessie op die koop toe.

Die Vryheidsfront Plus noem dit Zuma en die Guptas se verraad.

Die bekende ekonoom Mike Schüssler het aan Netwerk 24 gesê die resessie is ’n selftoegediende wond – die uitvloeisel van ’n politieke chaos wat in Desember 2015 met die afdanking van Nhlanhla Nene as die minister van finansies begin het. Hy sê die droogte en die impak daarvan op voedselpryse is omtrent al waarvoor die regering nie die skuld kan kry nie.

In plaas van om water op die vuur te gooi, voed Zuma die vlamme met terme soos “radikale”, sodat Suid-Afrika in die rigting van ’n “kommunisties-sosialistiese staat” gestuur word en “onteiening sonder vergoeding”, en hy blaas rassehaat aan met uitlatings wat kon gebly het.

Die e-possage raak ’n al groter klip in die maag. Een na die ander word iemand geïmpliseer – hetsy ’n minister of ’n premier. Dit werk wel versagtend in dat dit lank reeds, hetsy in betreklik geslote kringe of algemene kennis, duidelik is dat hierdie mense nie reguit paadjies loop nie. Daar was selfs omvattende koerantberigte – ’n pluimpie vir die koerante se waghond-rol – oor verdagte optredes. Van die sake sloer al lank by die openbare beskermer of elders, maar nou ruk die e-posse die sake so oop dat geloofwaardigheid in die Zuma-administrasie teen omtrent ’n minister per dag val.

En hef aan lê nog voor namate ondersoekende joernaliste deur bykans 200 000 e-posse moet werk.

Dit is nie maklik om enige spoor te vind van die Nasionale Ontwikkelingsplan wat met sy bekendstelling wyd aangeprys is nie. Dus is regruk nie so maklik nie, want hoe skakel jy nou ook by ’n grootliks onopspoorbare plan in? Hoe entoesiasties is die entrepreneur om ’n mikro-onderneming te begin as hy weet hy gaan met regulasies doodgesmoor word en daar niks van die beloofde deregulering kom nie – inteendeel?

Die regering se verslonsing van die land beklemtoon opnuut die belangrikheid dat die Solidariteit Beweging se Plan B steun moet geniet en dat dit uiteindelik slaag.

Daar is volop wat in die ekonomie reggestel kan word, en gesanksioneerde projekte met integriteit verdien almal se ondersteuning, soos om die hoogste werkloosheidskoers in 13 jaar terug te werk.

Verskeie ekonome vra ’n ekonomiese Kodesa moet gehou word, met ook ten doel om die sakewêreld se beeld (by sommige) as die vyand te verander.

Maar uiteindelik sal die see te sout wees vir vislewe om in te gedy solank die politieke klimaat nie ’n (regs)-ommekeer maak nie. Tot die verkiesing in 2019 rus daar ’n groot verantwoordelikheid op die media en burgerlike strukture om enersyds korrupsie aan die groot klok te hang, en andersyds die howe en instellings soos die openbare beskermer warm te hou. Privaat vervolgings gaan volgens alle aanduidings al hoe belangriker word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

John ·

En by die media-kongres gaan ons president op die fopnuustreinwaentjie spring om alle kritiek en hofuitsprake te verduidelik teen hom, die driemanskap + boetman + + +. Die’ waentjie is agteraan die laaang soustrein ipv die kondukteurswa omdat laasgenoemde ‘human wrongs’ bekamp.

Andile ·

Solank dit nie rugby of krieket uitsendings raak nie is als OK. Behoort nie te pla nie want ons het wigte en teenwigte wat die uiters belangrikke reg beskerm.

Johann ·

Wigte was die Springbokke, teenwigte was die Proteas, maar waarom dan nou vir veldblomme en karkasse skree, waarom vernuwe ons nie, wat van die nasionale vis? Kom ons noem hulle die Galjoene.

al ·

Die halsstarrigheid van die NUK van die ANC kan werklik waar net die burgers in ongeloof laat. Hul gaan egter ñ duur prys vir dit betaal.
Ons sal meer as ooit nie kan verslap in ons pogings om korrupsie en wanbesteding in regering tot verantwoordbaar te roep nie – want dan gaan ons net ñ mislukte staat word soos ander state wat lamgelê word oor dinge wat te lank passief gelos was.

Leendert ·

Jy’s reg Herman, en dan is sy volgende pion, Gigaba, nou al klaar weer in plek. Hy sê mos dis ‘n mite dat die staat nie by die privaat sektor mag inmeng nie. As net Zuma sou gaan, mag ons duime hou dat dit ‘n rimpel effek sal hê en heelwat ander sal volg, sommer heelwat, anders is daar maar net ‘n pleister op geplak.

Daan Erasmus ·

Ek gaan geen mening waag nie. Logika verduidelik nie meer wat hier gebeur nie. Dit wat reg en logies is werk net nie meer nie.

Jaco ·

Die regering het verseker n groot impak op die resessie, MAAR as sakeman het ek die persoonlike ervaring van hoe lui meeste Suid Afrikaners is (LW daar is wel mense wat hul deel bydrae en ook baie hard werk) en hoe dit ook ons ekonomie stuit. Mense wil nie meer werk nie. Vrae kwotasies aan en net die helfde reageer selfs al staan jy met sakke vol geld by hul deur, lyk mense nie meer lus om jou te help nie en is als te veel moeite. Almal het ook n Moses in die tuin en n Miriam in die huis om verder als vir hul te doen, want SA’ners is tog so moeg gewerk…En dis juis hierdie lui spul wat die meeste kla oor hoe sleg dit met hul en die land gaan! Ek love SA en is is die geleenthede hier VOLOP as jy net bereid is om hard te werk, wel dan kan jy soos n koning leef! Skei net negatiewieteit en luimense uit jou sake en lewe uit! As almal ook meer produktief was sou dit dalk kon gegelp het!!

Jan ·

Hierdie is baie, baie simplisties gestel. Dit is nou soos om te Tweet, waar daar nie genoeg karakters beskikbaar is nie en sonder dat mens sekere omstandighede in ag neem. Ek kan my lysie begin deur te kyk na die bedryf of sektor waarin ek wil meeding/kan meeding met my talente. Ek kan dag en nag werk. Is daar ‘n aanvraag daarvoor? En as daar nie ‘n aanvraag is nie, wat ander kan ek doen? Ens ens ens En dan slaap jy vir weke en maande nie, wroeg, probeer weer, net nog harder, en intussen het dit geld gekos, maar niks kom in nie, nou prbeer jy nog harder ens ens.

En ons is almal een groot gelukkige familie, o’ja en die ekonomie is 100, rentekoers is 100, ens ens. Nie dat mens in sak en as moet verval nie, geensins, maar daar is ook realiteite, en nie net feeverhale nie.

Jaco ·

Beste Jan, daar is mense wat miljoeners geword het uit ysverkope….waar daar n wil is, is daar n weg, miljoeners glo nie aan toeval , “luck” of aan n externe lokus van kontrole nie maar wel aan n interne lokus van kontrole. As ek misluk is dit grotendeels agv van my eie toedoen en nie ander mense, die ekonomie of zuma nie, as ek nie slaag nie, leer ek daaruit en vra myself hoe ek dit anders kon benader het en probeer ek weer. n Mens moet leer om geleenthede raak te sien, in Suid Afrika is daar nie baie kompetisie in besigheid nie weens swak dienslewering van meeste firmas en skep dit geleenthede met massiewe potensiaal! Ek wens ek kan aan mense wat regtig wil, en wat sukkel help met besigheidsplanne met idiees wat ek weet sal werk, en wat jou vooruitsrewend sal maak. Maar tyd is nie altyd aan my kant vir konsulteer nie. Iets is slegs onmoontlik as jy dit GLO.

vermeende ·

Die grootste kontrakte en projekte word onderhandel en geteken in tye van oorvloed en welvaard maar moet ook onderhou kan word in tye van armoede en tekort.

Ek glo nie resessie gaan politieke gevolge he nie want Zuma en die ANC sit nog met een troef kaart.
Vir so lank as hy n noodtoestand kan skep en kan afkondig vir so lank sal hy kan regeer want dit maak ook deel uit vam ons grondwet.

pieter ·

IS DIE PLAN NIE OM DIE LAND HEELTEMAAL TE VERARM EN TE VERWOES,DAN VERKOOP JY HOM NIE JY GEE HOM WEG.

Jan ·

Jaco, net so ten slotte, ek is baie bly vir jou en dat daar soveel mense is met wie dit goed gaan in ‘n abnormale Suid Afrika ekonomie, RA, jy noem dit, baie wit mense het klomp dinge probeer, veral waar hulle na 50 uit die ekonomie gevat is. Vir oor die 15 jaar probeer het, ‘n Klomp jaar het dit gewerk. Jaarliks kon mens aan die rentekoerse en die indekse sien waarheen die land gaan. Nou is SA ‘n paar maal al afgradeer, baie mense het hul bedrywe afgeskaal, mense verminder, soos die boere ook maar nou maak. Alleen eienaars van besighede huur nie meer kantore nie, hulle moes elke nou en dan afskaal, baie werk nou van die huis af, intussen het die aanvraag na hul diens en produk opgedroog, Nou is ons vir ‘n tweede maal in agt jaar in ‘n resessie. Jy lees dieselfde berigte as ek, ook vandag op Maroela, maar jy leef daar verby, dis wonderlik so dat jy die ingesteldheid het, maar dan is daar ander wat ook daardie ingesteldheid het maar wat dit nou anders het. Moed opgee, nee, juis omdat ek glo, al vir meer as 15 jaar.

Jan ·

Dan wil ek net vir Jaco sê, ek kom uit die korporatiewe wêreld, waar ek baie suksesvol was in die instansie vir wie ek gewerk het, was een van hul top presteerders, maar hulle het sekere personeel ouer as 50 geteiken om te RA. Ek weet van planne en en en, dit was deel van my werk om vooruit te beplan, tot 3 jaar en langer. Het ook met finasies gewerk, statistiek.

John ·

Is bogenoemde Jaco ‘n predikant, of is hierdie ons ander Jaco. Ons wil graag weet omdat die een werk en die ander nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.