Nuuskommentaar: Gaan SA-burgers ook in 2017 “vergat” word?

SAvlagDit is vanjaar baie moeilik om aan die hand van gebeure in 2016 ʼn sinvolle projeksie te maak van wat in 2017 gaan gebeur. Te veel hang daarvan af of pres. Jacob Zuma hom gaan inhou, of weer iets gaan aanvang wat enorme skade aan die land aanrig.

Nederlands en Afrikaans is sustertale, maar soms span die een taal ʼn woord in wat in die ander iets heeltemal anders beteken. Die Nederlandse woord “vaak” beteken “dikwels” en as ʼn mens dit nie weet nie en ʼn stuk in Nederlands lees, kan ʼn mens “vaak” baie deurmekaar raak. ʼn “Rakket” is ook nie ʼn gesnaarde ding vir verskeie sportsoorte nie, maar iets waarmee Hamas Israel gereeld bestook. Sonder dié kennis kan die Afrikaanssprekende ʼn prentjie vorm van woedende Palestyne wat hul sporttoerusting oor die grens na die Israeli’s slinger.

ʼn Opskrif in Trouw, “De Europese droom vergat de burger”  beteken bloot die droom oor ʼn verenigde Europa het die burger (se wil) vergeet. Maar onbedoeld is ʼn Afrikaanse woord “geskep” wat die regering se houding teenoor soveel burgers netjies beskryf, soos die kiesers, die belastingbetalers, die eerlikes, die wittes en plek-plek die bruin mense, die boere en as dit by die land se beeld in die buiteland kom, is sommer al die inwoners se aansien “vergat.”

Baie mense sal sê “gat” is eufemisties en die uitdrukking dat ʼn krater van iemand gemaak is, meer toepaslik sou wees. Ons word as’t ware “verkrater”.

In die Brexit-geval is veral die (wit) blouboordjie-werkers vergeet. Min of meer dieselfde het in die VSA gebeur, waar Donald Trump tot president verkies is. Hy het wel byna 3 miljoen stemme minder as Hillary Clinton gekry – die grootste loesing in stemme wat ʼn wenkandidaat in die VSA nog op die lyf geloop het, maar volgens ʼn onlangse Rasmussenpeiling, steun 51 % van die Amerikaners nou Trump se komende presidentskap. Trouens, Amerikaanse drukgroepe het nou al stem dik gemaak teenoor Europese sentimente wat steeds Trump se komende presidentstermyn as ʼn ramp in wording beskryf en in die proses die Amerikaners “verkrater.” Die Yanks is langlippie daaroor.

Maar met “vergat” en “verkrater” kan eindelose voorbeelde ook in Suid-Afrika bymekaar gehark word. Die ANC-leierskap wat pres. Jacob Zuma nie gepos kon kry nie, “verkrater hulself”, maar “vergat” ook die land in geheel. En ʼn groot deel van die kiesers is moeg daarvoor om so knaend “vergat” te word. Hulle byt immers die spit af as die ekonomie nie korrupsievry kan groei nie, maar knaend op die randjie van rommelstatus moet huiwer.

Verlede jaar het ons al iets van ʼn kentering by die kieserspubliek gesien toe die ANC tydens die munisipale verkiesings in veral stedelike gebiede erg die kreeftegang gegaan het. Die wegblystem het omtrent net so hard gepraat soos diegene wat uiteindelik teen die ANC gestem het. ʼn Krakie het gevorm in die kolonne van diegene wat steen en been oor onder meer dienslewering (of dan die gebrek daaraan) kla en maar weer hul kruisies by die ANC gaan trek. Die ANC het aanvanklik oudergewoonte weer die kieserspubliek “verkrater” deur allerlei redes vir die verkiesingsteenspoed voor te hou, maar hulself behoorlik “vergat” deur Zuma se rol, eintlik sleutelrol, in die kreeftegang te ignoreer.

Maar daai spreekwoord van “al loop die leuen ook hoe snel (met SABC 3 en ander se hulp), die waarheid agterhaal hom wel” het soos selde opspraakwekkend waar geword. Almal, ook die ANC, weet nou klokhelder dat Zuma die ANC stemme kos.

Oor 2016 is nou al tot satwordens lykskouing gehou. Maar het die regering genoeg wysheid in die proses opgedoen om homself nie in 2017 te “vergat” en die bevolking te “verkrater” nie?

Daar is ʼn aantal belangrike dinge waarvan die regering moet afstap alvorens die land sinvol in die rigting van versoening kan beweeg. In seker die beste bydrae in hierdie verband, skryf Barnard Beukman, redakteur van Beeld, onder die opskrif, “Die T-woord – skrap dit in 2017 en begin om te bou.” Die T-woord verwys na transformasie. Dit is ʼn moet-lees artikel.

Nog ʼn onlangse moet-lees artikel is “ʼn Russiese waarheid, ʼn Westerse waarheid” deur dr. Leopold Scholtz in Maroela Media. Onder die invloed van fopnuus en die formele propaganda van lande, “vergat” ʼn groot aantal Suid-Afrikaners hulself immers opsigtelik en luidrugtig in ʼn baie komplekse wêreld. Nou nie dat die ANC-regering daarin uitblink om deur sy “buitelandse beleid” Suid-Afrika se beeld te “verkrater” deur gereeld die kant van despote en diktators te kies nie.

Die Geneefse Konvensie verbied kollektiewe straf, maar deur transformasie (ongeag die definisie wat nou uit die magdom genoemde en ongenoemde opsies gekies word), kwotas, restitusie-aandrang, om die “erfgename” van Jan van Riebeeck te straf, of bloot ʼn persoon se velkleur, word kollektiewe straf skaamteloos toegepas. Kinders wat lank na apartheid gebore is, word met keuring, beurse en velerlei “vergat.” Studente wat nie wil staak nie en met hul studies (in Afrikaans) wil voortgaan, word op verskeie maniere kollektief gestraf en “vergat.” In die geval van die Kovsie-verhoor, oor die wegdoen met Afrikaans, het die advokaat vir Kovsies selfs aangevoer die pro-Afrikaanssprekende studente beroep hulle op grondwetlike regte teen ʼn oorweldigende meerderheidswil in. En dan gaan vier die regering die 20-jarige aanvaarding van die grondwet wat hy nie wil toepas nie. Praat van “verkratering”.

Groot druk word op sekere  groepe uitgeoefen om “kollektiewe aanspreeklikheid” te aanvaar vir dinge van die verre verlede en dan ʼn soort kollektiewe straf uit te dien. (Maroela het dié begrippe reeds op 3 September 2012 hier onder die loep geneem.)

Teen alles wat tot dusver gesê is, wat is die voorwaardes dat 2017 nie vir baie dieselfde annus horribilis en die “verkratering” van die breë publiek gaan wees nie?

  • Groter morele aanspreeklikheid en ʼn beter beskerming en selfs ondersteuning van gesonde waardes. Lippediens doen nie die ding nie.
  • Om die kwessie van staatskaping so gou as moontlik oop te vlek en op te rol. Deur staatskaping onder die mat in te probeer vee, word almal “verkrater.”
  • Moenie eens daaraan dink om Hlaudi Motsoeaneng as nuwe voorsitter van die SAUK-raad aan te stel nie.
  • ʼn Beter balans van rubriekskrywers in die media. Die intelligensie van die leserspubliek word gewoon “vergat” as daar rubrieke verskyn waarin Solidariteit van ʼn staatskaping van die Afrikaner beskuldig word – nadat die betrokke skrywer in die aanloop daartoe nie leserssteun kon kry vir die persoonlike byltjie wat hy met Solidariteit en AfriForum te slype het nie. En ai, bietjie objektiwiteit saam met die dinge wat die Orakel van Stellenbosch elke nou en dan kwytraak, sal ook help om “verkratering” teen te werk.
  • Die ANC-regering moet in plaas van die “verkratering” van die burgers, begin met werklike dienslewering. Woorde oor voornemens kom maklik, maar die ANC-regering het ʼn lang rekord waar “delivery” van daardie dienste iewers tussen burokrasie, onbevoegdheid en korrupsie in die stof gebyt het. Dan is dit nie nodig om die kiesers so gereeld te “vergat” deur hulle wolle oor die oë te trek nie.
  • En die kiesers moet tog katvoet loop vir fopnuus.

Die probleem (vir die ANC) is dat 2019 te naby is om sokkies betyds voldoende op te trek. En met Zuma steeds in die stoel, weet die ANC teen hierdie tyd goed dat die ANC se beeld verskeie kere “vergat” gaan word voordat Zuma voldoende van die politieke toneel verdwyn.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Johanna Botha ·

Gaan vergat en verkrag word …die anc weet nie hoe om die land te regeer nie veral met al die onkundige mense wat hulle so graag aanstel …dit is nou BAIE duidelik na meer as 20 jaar … enige staats instelling van die Poskantoor tot Polisie is in n GROOT gemors ….dis ook nooit hulle skuld nie dis altyd iets of iemand anders !

Jaybee ·

Ja ons gaan maar weer vergat word, want ons regering weet nie hoe om te verander of om te verbeter nie.

julius ·

Trump het loshande gewen. Die 3 miljoen was onwetigge imagrante en dooies se stemme wat bygetel was om vir Clinton ‘n meerderheid te steel.

Pieter ·

Wat het Trump en dooies met die vraag oor ‘vergat 2017’ te doen?

Veritas ·

Pieter jy moet die hele berig lees om te kan verstaan. Julius maak net ‘n opmerking oor iets wat in die artikel genoem word.

Jan ·

My voorspelling vir 2017: Om middernag vannag, is die beste twee dae van 2017 verby.

LeonR ·

Jy is reg Jan,
en die beste nuus tot dusver is dat die Bokke nog nie ‘n toets in 2017 verloor het nie.

popeye ·

Vir solank die swart regering aan ‘n minderwaardigheids kompleks ly, gaan die vergatting voortduur. Hierdie kompleks is baie diep liggend. So diep dat die hoofstroom denke en optrede narssisties is, aldus die zero toleransie vir kritiek asook gepaardgaande blaam verskuiwing. As jy na 20 plus jare van kitaar slaan nog nie jou selfrespek en agting kon verwerf nie, het jy geen beweegrede om jou denkprosesse te verander nie. Jy gaan gewoon jou sienings aanhou afdwing! Meer landsgenote sal moet leer om trots te wees op wie en wat hulle is. Dit skep geborgenheid en doelgerigtheid sonder om bedreig te voel. Hoe kan 40 miljoen so bedreig voel deur die ander 20 miljoen kollektief? Veral die 6 miljoen deel van die 20. Die 40 het hul plek in die son, gun my ook net myne!

Nico ·

Ons kan met veiligheid aanneem dat Zuma niks goeds vir die land gaan doen nie.

zoom zoom ·

Zuma gaan aanbly tot sy tyd om is. Hlaudi gaan in Faith se pos aangrstel word. Die raskaart gaan net afgedwing word op blankes
Enige ander probleme wat gaan opduik sal die ou Apartheid die skuld kry. #feesmustfall gaan ons land ‘n knou toedien.

lw ·

Eerstens moet ons wittes nie wys die ANC en EFF kan op ons trap deur voort te gaan om ons as die wit bevoorregting uit te skel en rassehaat aanhits teen ons nie. Ek weetnie van een sogenaamde wit mens wat n bevoorregte lewe lei nie. Inteendeel baie wat in plakkershutte bly of inarmoedige huisies verkies om so te bly en verdien n middelklas inkomste. Daarteenoor het ons minder kinders omdat ons in ons finansiele vermoe leef. Oprah Winfrey wie n privaat swart meisieskool het in SA dat wanneer n meisie opgevoed word sal sy minder kinders he en haar kinders beter versorg. Genoeg is genoeg dat ons die blaam moet dra en uitgemoor word.

Plaatsie ·

Johann,
Pas op vir wat jy skryf.
Ander het vir minder in groot moeilik heid beland.
So veel so vir vryheid van spraak (deur Grondwet beskerm), maar dit geld net vir n groter deel van die bevolking.

Johann ·

Ek kon natuurlik ook die woord ‘verkrater’ gebruik het.

Cherokee ·

Wat ek interessant vind is die bewering dat Hillary Clinton 3 miljoen meer stemme gehad het maar dat 51% van die Amerikaanse bevolking nou Trump se komende presidentskap steun.
Daar is net een manier om dit te verstaan en dit is dat die Amerikaanse Media die mense oorspronklik mislei het deur te poog om steun vir Clinton te werf en nou dat Trump die volgende president gaan wees, het hulle hul deuntjie verander ter wille van hulself.
Dit is ook wat gebeur het tydens die aanloop tot die 1992 referendum in Suid Afrika. Verskil is net dat die Suid Afrikaanse media steeds sluimer.

Rynhardt ·

Cherokee, jy slaan die spyker op die kop met “Hitlary”Clinton wat so verafgod was deur media! CNN staan nie verniet vir Clinton News Network nie.Sekere Afrikaners(nou “New Americans) was in 2016 kwaad vir my oor Clinton, maar hul weet nie eens wat aangaan in hul aangenome land nie!

Ou Vlakvark ·

Vergeet begrippe soos vergat en verkrater. Beantwoord eerder die vraag: “Hoe vorder ons as Suid-Afrikaners met die toepassing van die Nasionale Ontwikkelingsplan (“National Development Plan”)?

Wat moet “ons” doen met “ons” beperkte tyd, energie en bronne om doelgerig en effektief die doelwitte van vrede, geluk en naasteliefde na te streef? En wie is hierdie “ons”?

Jan ·

Ons vorder nie, dis hoekom daar woorde soos vergat en verkrater bestaan, om onder andere die huidige regering te beskryf.

Leendert ·

Die spreekwoord sê, “meng jou met die semels, dan vreet die varke jou”. Nou ja, in die land moet mens maar versigtig wees om spreekwoorde met verwysing na diere in te gebruik.

zoom zoom ·

Zuma gaan vir nog n termyn aanbly want hy wil nie tronk toegaan. Hlaudi word aangestel as nuwe minister wat Faith se pos oorneem. Ons kry n nuwe minister in Gordhan se plek wat nie suinig is nie en speel die reels van die ANC. Net wittes kan skuldig bevinf word aan rassisme en haar spraak. #feesmustfall word erger en die land gaan brand. Alles word geblaim op APARTHEID.

Rynhardt ·

Ek is g**vol vir alles in SA! Vanjaar is dit 23jaar se onderdrukking van ons mense en dit gaan net meer toeneem asook uiters omstrede wetgewing.Parlement gaan weer sorg vir komiese chaos!! Terwyl Zuma almal gaan verseker dat SA nog op n wenpad is!!Ek glo dat SA vanjaar nog meer gewelddadig gaan word.

John ·

Zuma praat van ‘n sg ‘white monopoly’ tov die land se finansies. Dit vind weerklank in die New Age en Ann7. Gordhan se stoel is skynbaar te warm gesit. Die ondersoek na staatskaping is nog ‘n doring in die vlees. Volgende week gaan probleme by skole die rus en vrede uitwis en dan begin die kampus-skrikbewind weer en die parlement se rooi-brigade se kaperjolle… Gaan ‘n paar bottels kwv uit die Kaap van Goeie Hoop, ons laat vergat van sy ander ou naam…

Marius Heunis ·

Oorkant my bly ‘n swart onderwyser paar – die man gee Biologie vir matrieks en sy vrou is ‘n laerskool onderwyseres. Op geleenthede het ek en hy baie lekker gesels oor dinge en eendag vra hy vir my hoekom is AIDS net onder die swartes en nie die wit mense. My antwoord toe aan hom was kom in my huis en ons sit die internet aan en tik net “aids” as ‘n soek – toevaliig was die heel eerste item aids in Amerika en al die probleme daarmee, 17 bladsye wat ek toe vir hom druk . toe ja was. toe vir hom wat was sy afleiding en met groot verbasing het hy herken hy en baie van sy onderwysers genote het vas geglo dat aids net in Suid Afrika is en Dr Basson verantwoordelik daarvoor was. My vraag toe aan hom was as hy Biologie doseer behoort hy van beter te weet maar dit skyn toe deur dat almal van hulle word in die donker gehou want hulle propageer die negatiewe wat direk op die wit mense gerig is om doelgerig omgekeerde apartheid aan te wakker. Hy verseker my dat hy hulle christen persone is, my volgende vraag was as hy biologie doseer dan besef hy dan ‘n mens nie lewe kan skep nie en dat aids ‘n lewendige organisme is – sy antwoord was ja hy besef hoe die swart mense gebreinspoel word om sekere dinge net nie te weet nie – en raai wie sit reg agter die breinspoeling

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.