Nuuskommentaar: Gaan SA oorleef? Wat van ’n dosis positiwiteit?

Geloof

Argieffoto

Die paniek wat Covid-19 tot gevolg het hou volgens verskeie kenners meer gevaar in as die siekte self. Maar hoe behoort ’n Christen te reageer?

Die wêreld het nie Covid-19 nodig gehad om pessimisme in ’n land soos Suid-Afrika te stimuleer nie, maar dit het nietemin emosies van bekommerd wees, tot ’n gees van mismoedigheid en tot paniek nog meer in die kollig geplaas. Die koopoffensief op winkels, en veral die veldslae op toiletpapier, verklap hoe die dam onder die eend uitgeruk is.

Op die oog af is positiwiteit en optimisme na die agtergrond geskuif. Iemand wat R15 000 op ’n enkele inkopietog vir kruideniersware spandeer het, het die oë laat rol. ’n Arm vrou wat ’n brood wou koop vir haar gesin, moes bedroë die aftog blaas toe ’n ander vrou die winkel se hele broodvoorraad opgekoop het, en nie eens een aan die arm vrou wou afstaan nie.

Of dit nou goed of sleg is, dat daar ook optimisme skuil in wat algemeen as siek grappe deurgaan, is ook so. Die veldslae op die winkels se voorrade toiletpapier word byvoorbeeld humoristies deur spotprente “belig”. Dat die land boonop ’n beurtkragkrisis beleef, is goed benut deur die spotprent waar iemand ’n baie netjiese skets gemaak het van ’n vol toiletrol wat in ’n kersblaker omskep is. Tydens ’n troonbestyging is daar nou nie net toiletpapier beskikbaar nie, maar met die kers kan die onderwerp boonop belig word.

Verskeie Belgiese wetenskaplikes wat genader is, het voorsien dat die lewe in dié klein landjie op die gouste teen Meimaand na normaal kan terugkeer. Is hierdie relatief kort tydjie wat voorsien word nie baie optimisties nie as hul Covid-19 besmettings in twee dae van meer as 190 tot byna 250 per dag toegeneem het? Boonop word gewaarsku dat België nou maar eers die babaskoene-fase beleef.

Dit moet in gedagte gehou word dat dit nou eers geleidelik in Europa somer word, en “Covid-19-seisoen” na die Suidelike Halfrond aan die oorbeweeg is.  Boonop word verwag die siekte sal maai onder mense wie se gestel deur tuberkulose en ondervoeding geteister word. Dat die moontlike impak van MIV min of meer deur regeringsgesinde media verswyg word, is eenvoudig politieke korrektheid, en gaan nie die potensieel hiperboliserende impak van die Covid-19-siekte op die land afwaarts help nie.

’n Baie bekende internis het in antwoord op ’n vraag hoe dit met haar man gaan wat eers kanker gekry het en daarna ’n hartaanval, geantwoord: “Dit gaan nou beter met hom. Hy is positief en soek die heel tyd na uitkomkans. As iemand se kop eers danksy positiwiteit deur is, volg die liggaam gewoonlik.”

Om meer positief te wees is nie genoeg om Covid-19 die nekslag toe te dien nie; dit sal baie opofferings en ongemak verg. Baie kankerlyers in Suid-Afrika is rokers. In die VSA het nuwe kankergevalle afgeneem, en word aan die sukses van die anti-rookveldtog toegeskryf. In Suid-Afrika het dit nog nie gebeur nie, en kanker neem toe. Boonop, tydens chemo-toediening sal ’n groot getal van die pasiënte ’n “treintjie” vorm om buite ’n dampie te gaan maak. In die geval van Covid-19, waarsku kenners, word die histerie ’n groter gevaar as om aan die siekte self te ly.

Positiwiteit en optimisme moet egter nie ’n verantwoordelikheidsin wegdreineer nie.

Ds. Attie Beetge skryf onverbeterlik soos volg in ’n onlangse dagstukkie:

“Vir die eerste keer in die moderne tyd het die hele wêreld tot stilstand gekom. Kerke het toegemaak, skole en universiteite het gesluit, treine en vliegtuie staan stil…. Ons word opgeroep om ons in self-isolasie te plaas….

Wat gaan ons maak terwyl ons “wag dat die plaag verbygaan”?

Ek dink aan die woorde van Jesaja 26:20: “Gaan in julle binnekamer in, my volk, sluit die deure agter julle toe…” (vgl. Matteus 6:6).

Ons wag dus nie vir die dood nie, ons soek die lewe. Dis die grootste geleentheid vir ons om na die HERE te soek, om ons voor Hom te verootmoedig en ons lewe aan Hom te gee. Ons word tot stilstand geroep….

Elke burger van ons land moet op ons knieë gaan. Ons land is verwoes, tot op die grond afgebreek deur korrupsie, magsmisbruik, haat en verdeeldheid. Nou is die tyd om voor die HERE te buig, om stil te word voor Hom.

Kom ons bely elkeen met berou die skuld wat aan ons eie hande kleef.

Kom ons bid tot die HERE en soek sy wil.

Die HERE sal luister na ons hulpgeroep!

Hy sal ons sonde vergewe!

Hy sal ons land herstel en genees!

Die HERE wil en sal ons genadig wees….”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rika ·

Amen Ds. Attie!!Ons moet net bid sonder ophou…ons mag nie Satan sy sin gee nie!!

Johan Venter ·

Herman, hopelik besin die mensdom in hierdie tyd ernstig oor hoe ons dit waarmee die Vader ons toevertrou handel.

Jehovah het vir Moses gesê: ‘Kom teen die berg op na my toe. Ek sal my wette op kliptafels skryf en dit vir jou gee.’ Moses het teen die berg opgeklim en 40 dae en 40 nagte daar gebly. Terwyl hy daar was, het Jehovah die Tien Gebooie op twee kliptafels geskryf en dit vir Moses gegee.

Ná ’n rukkie het die Israeliete begin dink dat Moses nie gaan terugkom nie. Hulle het vir Aäron gesê: ‘Ons wil iemand hê om ons te lei. Maak vir ons ’n god!’ Toe het Aäron gesê: ‘Gee julle goud vir my.’ Hy het die goud gesmelt en ’n beeld van ’n kalf daarmee gemaak. Die volk het gesê: ‘Hierdie kalf is ons God wat ons uit Egipte gelei het!’ Hulle het die goue kalf begin aanbid en ‘n fees gehou.

Anel ·

Net jammer dat in ons land vra die regering sy mense om te bid, maar gaan sien self ‘n sangoma! Hoe red ‘n mens so ‘n nasie?

Nell ·

Amen. Die beste raad ooit! Dis nou tyd om te besin oor ons eie handel en wandel.

Vriendelike Frikkie ·

Dit maak my bekommerd dat ons ALTYD eers die Here aanroep wanneer dinge verkeerd loop. Ons mense gebruik Hom soos ‘n kruk. Wanneer dit goed gaan sien jy die meeste mense nie in die Kerk nie. Kom daar ‘n droogte, vloede, virusse ens. ens. DAN onthou ons daar is ‘n Hoër Hand wat kan help. Nou word die Bybels afgestof en gebede opgestuur om die volk in nood te help.
Ons moet bid sonder ophou. Wanneer daar niks is om oor te kla nie bid jy om dankie te sê. Genade, selfs al voel jy of die wêreld op jou skouers rus, sê jy nog steeds dankie vir die Lewe wat jy in jou het. Dankie vir alles, selfs die swaarkry. Alles wat ons het is net Genade. Gaan ons biddae vir dankbaarheid hê wanneer die krisis verby is?

madels ·

Dis waar wat jy sê maar dis beter om na God te hardloop wanneer dinge skeefloop as om in verbittering of verharding van hart te verval. Daar is baie sulke mense ook, ongelukkig

TO ·

Ai dis darm skandelik dat ‘n vrou ‘n brood gryp voor ‘n arm mens en dan nie eens een van haar baie afstaan. Leer ons nie uit die woord wat liefde is nie, ook omgee en mededeelsaamheid. Dis so hartseer dat sulke omstandighede ons ware kleure uitbring. Ek kan maar net my hoop op ons Almagtige Vader sit, geen mens of aankope.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.