Nuuskommentaar: Gaan SA se vrot Fifa-eiers nou begin uitbroei?

Argieffoto

Die aankeer van ’n belangrike Europese sokkerbaas in Frankryk plaas ook die soeklig op Suid-Afrika waar lanklaas gehoor is van die beweerde korrupsie waarby Suid-Afrikaners met die aanbied van die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi geïmpliseer is. As die verdagtes gedink het dit is onder die mat ingevee kan hulle dalk “namens” Suid-Afrika praat, maar duidelik nie namens internasionale en gevestigde buitelandse wetstoepassingsagentskappe nie. En die poppe kan steeds dans.

Terwyl die gordyne oor vermoedens (en ’n ietsie meer) oor Suid-Afrika se aanbieding van die Fifa-wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 skynbaar in ’n moeras van smerige vergetelheid begin wegsink het, begin die stof weer uitslaan – al is Katar nou die gasheerland vir 2022.

Suid-Afrika was wel die katalisator dat Fifa se vere wêreldwyd sleg gepluk geraak het, en talle koppe, onder andere dié van die berugte Sep Blatter gerol het. Talle internasionale en groot internasionale wetstoepassingsinstansies het begin om die skynbaar onoorwinbare berg van korrupsie aan te pak.

Ook hier te lande is die kas hard geskud – van die destydse president, Thabo Mbeki, tot Danny Jordaan, se name is genoem. Heftige ontkennings het gevolg. En die meevallertjie wat die Karibiese sokkerbaas, Jack Warner, gekry het, was glo vir die bevordering van sokker in die Karibiese eilande. Dat daar geen bewyse hiervoor was nie, het ’n paar wenkbroue laat lig, maar nie vreeslik baie het gebeur nie. Na bewering is die geld in Warner, ook ’n politikus, se eie kiesafdeling in Trinidad en Tobago aangewend.

Toe die bod van Katar vir die aanbied van die 2022-toernooi aanvaar is, was daar dadelik harde bewerings van korrupsie. Hoewel daar in die verlede arrestasies was, was die aangekeerdes nie in die konteks van Fifa se fenomenale invloed en gesag, nie besonder invloedryk nie. Maar nou is die voormalige hoof van die Europese beheerliggaam, en Blatter se eertydse regter- en linkerhand Michel Platini, aangekeer. Afgesien van Platini se magtige statuur as sokkerbaas, is hy ook ’n legende as sokkerster. Dié eertydse Franse sokkerheld het verskeie kere die titel as beste sokkerspeler ter wêreld syne gemaak.

Die soeklig het dadelik opgeval toe hy in 2015 ’n meevallertjie van $2 miljoen van Blatter ontvang het. Dit was nadat Plantini sy onderneming om vir Frankryk te stem, geminag het, en sy stem vir Katar uitgebring het. Dit het op sy beurt plaasgevind twee weke nadat Platini ’n gas by ’n geleentheid was wat deur Blatter aangebied is, en waar ’n prins van Katar ook teenwoordig was. Platini is vir agt jaar uit sokkeradministrasie geskors, wat later tot vier jaar verminder is. Die skorsingstydperk sou vanjaar verstryk.

Maar die Franse se spesiale eenheid teen ernstige en ingewikkelde korrupsie het ’n stokkie gesteek voor die planne om hom in ere te herstel. Daar heers in die media meningsverskille of hy gearresteer is, of bloot aangehou word.

Wat seker is, is dat baie wat by vorige toernooie betrokke was waar dinge nie so perfek volgens morele kodes en regsreëls opgetree is nie, maar begin glo het dit het oorgewaai, nou weer in angssweet sal uitbars. Daar gaan nie sommer iemand wat oneerlik opgetree het, lig daarvan afkom nie.

Daar was ook van die begin af groot besware oor Katar se bod. Eerstens het lande ’n bod ingesit wat om verskeie redes sterker aanspraakmakers as die kleine Katar was. Boonop vind die toernooi in die Noordelike Halfrond se somer plaas, en dan is dit uitsonderlik warm in Katar. Benewens die hitte waaraan die spelers blootgestel sal wees, geld dit ook die toeskouers. Katar het doodeenvoudig verklaar daar is nie rede tot kommer nie, hulle maak dit winter in hul land. Die hiper-moderne stadions sal met lugverkoeling ingerig word. So ook busse en ander geriewe.

Maar sulke stadions kos baie geld en moet gebou word, onder meer dwarsdeur ’n paar somers wanneer die koeligheid nie teenwoordig is nie. Hiervoor moet die olie-dollars in oorvloed sorg, behalwe vir die arbeiders, onder andere uit Nepal, gewoonlik ’n koel tot koue land. Katar is nie besonder bekend vir die beskerming van die menseregte van werkers nie, en gou het berigte oor sterftes en ernstige beserings begin instroom.

Aanvanklik is berig dat daar in 2014 ’n Nepalese sterfte elke twee dae voorgekom het. Aan die begin van vanjaar was die syfer na berig word ’n totaal van 1 400 wat dood is terwyl hulle aan die sokkerstadions gewerk het. Volgens familie van die oorledenes is ook geen vergoeding van die regering van Katar ontvang nie. Maar uiteindelik was die boodskap dat dollars wat stom is, alles afkoel wat warm is.

Maar wat nou? Wie in Suid-Afrika het almal lang vingers in dié “paai” gehad? Gaan van pres. Ramaphosa se voorste vertrouelinge ook onder die valbyl beland?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JeanB ·

Korrupsie is standaard is die meeste internasionale sportbeheerliggame. Nepotisme en politiekery op ‘n vlak, dat dit selfs die Suid-Afrikaanse politici soos eneltjies laat vertoon.

chrisjan ·

Fikile Mbalula wat Minister van Sport was daai tyd sweet verseker ook nou.

Andreas ·

Herman, bring jou nou al daai in herinnering terug, maar die volgende het my oog gevang, want ons kort ook so ‘n eenheid wat verkieslik nie onder die polisie of die OB val nie, nl: “spesiale eenheid teen ernstige en ingewikkelde korrupsie”.

Gert van Wierdapark ·

Die Korrupsie-appels val nie ver van Fifa-boompies in sekere lande nie! Wat van die lyers-figure hier betref, sal daar op hul “Nagmerrie July” gewed kan word!? He-he-he!

Ben ·

Wonner nou wat het van al die duur sokkerstadions in S.A. geword wat gebou is vir 2010 soccer? Is hulle nog in gebruik? Ja, ek onthou Loftus in Pretoria, dit is pas nog gebruik vir die inhuldiging van ou Cyril.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.