Nuuskommentaar: Gaan SA weer sportisolasie tegemoet weens kwotas?

Argieffoto.

Argieffoto.

Oor ‘n maand volg Suid-Afrikaners aandagtig die bekendmaking van die verkiesingsuitlae, maar intussen word die krane oopgedraai om die beste, of mees opportunistiese voet aan die kiesers voor te hou.

Met Julius Malema wat met bont- en bogpratery besig is om kiesers op sleeptou te neem, reageer die ANC daarop om die jeugdige EFF-leier met rasverhitte retoriek te oorbie. Die gevolge, te oordeel aan die kommentare wat op sosiale media verskyn, en weens die haatspraakkarakter daarvan verwyder word, is minstens vir ‘n ruk lank daar vir almal om te sien. Die nuus oor ‘n besprekingsdokument wat onder meer van boere sal verwag om die helfte van hul grond aan hul werkers te gee, het woedende reaksie ontlok. Heel duidelik – vat aan ‘n boer en jy vat aan die Boer. Kragte en gesindhede wat skynbaar lank reeds begrawe is, word weer lewe in geblaas.

Net so maak Fikile Mbalula, die minister van sport, se dreigemente aan sportkodes om te “transformeer” en oornag 60% (swart) kwotas in te sluit, of die geldkraantjies te sien toedraai en selfs deregistrasie op die lyf te loop, opslae. Hy praat ook sommer namens die privaatsektor wanneer hy oor die opdroog van fondse dreig.

Erns of verkiesingsbog?

Die oud-krieketster, Clive Rice, meen na berig word dis verkiesingspraatjies.

Die gevolge gaan egter nie veel verskil nie. Dit jaag rassepolarisasie die hoogte in, en dit behoort volgens die statute van die meeste sportkodes tot Suid-Afrika se skorsing te lei. Onder die sportliggame wat rassisme in sport en / of owerheidsinmenging in sport verbied, tel die Internasionale Olimpiese Komitee en Fifa. Fifa het reeds ‘n hele aantal lande weens owerheidsinmenging uitgeskop, waaronder Griekeland, Iran en Kenia, terwyl lande soos Frankryk, Brasilië en Nigerië net betyds die knie voor Fifa gebuig het. Suid-Afrika was reeds by die Internasionale Rugbyraad in die sop.

Die ANC regering probeer steeds teer op die kapitaal wat in die apartheidsjare by die internasionale sportliggame opgebou is om die land destyds uit internasionale sport te isoleer, en die wittebrood duur reeds twintig jaar lank – trouens, voor die wêreldbeker-sokkertoernooi het die regering dit duidelik gemaak dat hy “in” is by die sportliggame en basies volgens sy eie reëls kan speel. Maar intussen het pres. Jacob Zuma die aansien van die ANC internasionaal geknou, behalwe miskien in sy Afrika-magsblok.

Oor kwotas kan heelwat gedebatteer word.

Die frustrasie van die regering is dat veral van die sterker unies eenvoudig geld-strooptogte op kleiner unies uitvoer wat behoorlik aandag aan sportontwikkeling skenk. Of anders gestel, die groot unies in verskeie sportkodes doen te min om self spelers te ontwikkel wat op meriete kan deelneem. Of verskerpte kwotas hierdie onkantspelery gaan aanpreek is onduidelik.

As verteenwoordigende deelname (transformasie) dan so ‘n belangrike doelwit is, hoekom “speel” die openbare uitsaaier nie saam nie? Hoe moet rugby, krieket, tennis, atletiek en vele meer dan die belangstelling van die teikengemeenskappe – dikwels minder welgesteld – prikkel as dit vir alle praktiese doeleindes vir hulle nie mediagewys bestaan nie? Dit is selfs heeltemal moontlik, en gebeur wel, dat wit kinders wie se ouers nie welvarend genoeg is nie, rugby-, krieket- en tennisloos grootword. Om af en toe internasionale wedstryde (dikwels vertraagde uitsendings) te doen help min as radio-nuushooftrekke so goed soos dood swyg oor provinsiale krieket en ander sportsoorte.

Dreigemente deur die regering, en witvoetjie soek by deur sportliggame by die regering, rig meer skade as goed onder die teikengemeenskappe aan. Sokker is steeds amper swart, en fietsry steeds amper wit.

Miskien moet ook ‘n slag gekyk word wat sport eintlik is, en die rol van sportmangees daarin. As iemand op grond van sy ras, oor sy familieverbintenis met ‘n keurder, of vriendskap met die afrigter, en nie op meriete nie, ‘n span haal is dit nie meer sport nie, en word die ondersteuners beledig en beroof. Die ware sportman sal ook, en het reeds, rug styfgemaak en verklaar dat hulle weier om kwotaspelers te wees – en die gramskap van die regering op die lyf geloop.

Mbalula, ‘n manteldraaier byna sonder weerga, hoort nie by sport betrokke te wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alet ·

Hoekom praat hy nie van sokker nie laat hy die maraton gaan hardloop dan doen hy iets vir sport as jy nie kan rugBy krieket tennis ens speel nie waarom dit af druk in hulle keelgate kry krup jy is ver agter die tyd daar is mense wat belangdtel en daar is ander wat dit nie wil doen laat hy betrokke raak by alles nie kyk nie doen die ding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.