Nuuskommentaar: Gaan staatskaping-onthullings kantelpunt bring dat Zuma sal moet trap?

Pres. Jacob Zuma tydens sy antwoordsessie in die parlement (2 November 2017). Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die situasie met Zimbabwe verskil baie van dié in Suid-Afrika, maar kan die bekendmaking van nuus oor aspekte van die staatskaping ’n soortgelyke kantelpunt onder openbare opinie bewerkstellig dat pres. Jacob Zuma geen ander opsie het nie as om te bedank?

As iemand gemeen het Zuma gaan ná die Desember-verkiesingskongres sy hoed as staatspresident vat en op Nkandla (of in Dubai) gaan aftree, het hy dit mis. Zuma het self gesê hy bly (tot 2019) aan as president. En op die oomblik lyk dit of selfs Robert Mugabe by Zuma les kan kry oor die kuns om vas te byt.

Zuma sal egter, afhangende van wie bo eindig in die ANC se verkiesingstryd om sy eie president, minder invloed hê as wat hy nou het. Word sy gewese vrou en sy gunsteling om hom op te volg, Nkosazana Dlamini-Zuma, gekies, sal dinge voorlopig min verander. Op die oomblik lyk dit egter of adjunk-president Cyril Ramaphosa sy neus voor kry, en dat Zuma in sekere opsigte ’n staatspresident onder beleg kan word.

Zuma is egter ’n meester om die gebreke in die grondwet uit te buit om hom, in sy eie oë altans, te verskans. Of lê ’n Mugabe-tipe ondervinding vir Zuma voor waar die stedelike (hoofsaaklike) swart mense hul voordeel van onder die neuse van die media te wees gaan “benut” om Zuma se plattelandse ondersteuners doeltreffend onder die mat te hou terwyl nog ’n Zimolusie hom in Suid-Afrika afspeel?

Intussen kry Suid-Afrikaners nou insigte oor die omvang van die staatskaping in stewige dosisse in. Die beweerde onthullings in die parlement se ondersoek na Eskom word weer net so ernstig deur die geïmpliseerdes ontken, maar dit is moeilik om te glo dat minister Lynn Brown heeltemal ongeskonde uit die jongste bewerings gaan tree, veral as die bewerings deur nog getuienis, of onthullings uit die #GutpaLeaks, gestaaf word. Die FBI- en Britse ondersoeke na die Guptas se rol kan ook dodelike missiele op die staatskaping afvuur.

In dié stadium, veral ná Jacques Pauw se boek, is die prentjie van staatskaping en Zuma se sentrale rol daarin, reeds so te sê voltooi. Die inkleurwerk vorder fluks, maar pogings om dit te bederf is uiteraard sterk aan die gang.

Een van die mees kommerwekkende verwikkelinge is die bewerings dat die nuwe minister van staatsveiligheid, adv. Bongani Bongo, die getuienisleier van die parlementêre ondersoek na staatskaping by Eskom, adv. Ntuthuzelo Vanara, wou omkoop. Die DA lê al wat moontlike klag is hieroor voor.

Die kwellendste vraag is of die staatsveiligheidsagentskap hom besig hou met sy wetlike take, en of dit uitvoerende funksies geskep het om Zuma in persoon te beskerm? Die nou geheimsinnige “intelligensieverslag” wat gebruik is om oud-minister Pravin Gordhan se kabinetspos, en ’n deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie, te sink, was ’n perfekte stukkie brouwerk.

In Zimbabwe moes die situasie eers ’n kantelpunt bereik voor ’n massa van Mugabe se (mooiweers-)vriende oornag entoesiastiese teenstanders geword het. Die weermag se ingryping het dit verseker.

In Suid-Afrika is soortgelyke weermagoptrede uiters onwaarskynlik. Die #GuptaLeaks was onvoldoende om ’n soortgelyke proses hier aan die gang te sit. Die konstitusionele hof se uitspraak dat Zuma sy grondwetlike verpligtinge versaak was onvoldoende. Jacques Pauw se boek was (sover) onvoldoende. Groot optogte onder die vaandel van “#ZumaMustFall” het Zuma net tot nog kluitjies, soos beweerde rassisme in die optog na die Uniegebou, beweeg.

By watter punt gaan die kantelpunt bereik word? Zimbabwe het nou die voorbeeld gestel, en die skares vier fees op ons TV – amper tot vervelens toe. Die mense het sigbaar hoop. Maar waar bly die Suid-Afrikaanse golf van hoop?

Dit is goed en wel om te argumenteer dat Suid-Afrikaners hulle moet berus in die demokratiese proses, beginnende binne die regerende party. Berigte en gerugte oor koeverte met ’n ruim meevallertjie binne doen egter reeds die ronde wat die demokratiese proses kan bedreig. Mugabe is talle kere nadat hy die kluts kwyt geraak het herkies in verkiesings wat Suid-Afrika as “vry en regverdig” toegejuig het. Wat is die kanse dat die Desember-proses vlekkeloos volgens die ANC se grondwet en erkende demokratiese prosesse gaan verloop?

Dis ’n kwessie van benewens ’n goeie gordel vir die broek, ook nog ’n stywe rek en kruisbande aan te trek en VREEDSAME demokratiese druk uit te oefen om Zuma te forseer om te bedank, of spoedig deur die ANC as staatspresident te herroep. Dan, eers as die regte persoon aan bewind is, kan begin word om staatskaping en die stroop van die land deeglik op te rol – ’n enorme taak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Die kantelpunt, soos in Zimbabwe se geval, word bereik sodra daar nie genoeg aas in die trog is vir al die varke nie. In Zimbabwe se geval, het dit 37 jaar geduur.

Sit terug op jou oliekonka, gooi die afrikaporseleinbeker vol boeretroos en aanskou die uitgerekte, lydsame proses.

marous ·

37 jaar van etniese oorheersing van twee verskillende groepe. 370 jaar vir Suid Afrika….

Werner ·

Al verskil by ons gaan dit nie sonder bloedvergieting geskied nie

Alida ·

Dit moet so gou as moontlik geskied. Al hierdie uitgerekte en onnodige ondersoeke neem net tyd en geld op. Daar is reeds 783 aanklagtes waarvoor wag hulle.

Doubting Thomas ·

Kan ‘n man wat vir soveel jare langs Mugabe geloop het en gesien het hoe hy dinge doen, skielik oornag verander in ‘n man wat demokrasie, werkskepping en regverdigheid gaan najaag? Sal hy dit kan aanvaar as die volk vir Tsvangirai instem as leier in die volgende verkiesing?

Kom ons herevalueer oor ses maande? Sal bly wees as ek my woorde moet sluk, maar betwyfel dit sterk…

HPV ·

Kla Zuma summier aan vir hoogverraad , verhoor hom en sluit hom toe. Wat is in elk geval die verkil tussen staatskaping en hoogverraad, of is eersgenoemde nou die polities korrekte woord vir hoogverraad?!

Waarheid ·

HPV stem saam en “meineed”. As jy WEET wat die WAARHEID is en NOGTANS betwis jy als en bly ontken keer op keer!!

HPV ·

Waarheid, Zuma het seker al meer as ‘n duisend strafregtelike oortredings begaan en hy is steeds die president. Geen hof, mens of wese kan hom tot verantwoording roep nie. Hy lag vir almal. Die fout lê by ‘n Grondwet met ernstige tekortkomminge, en raai wie was die argitekte van die Grondwet? Ons almal weet!

HPV ·

Waarheid, Zuma het seker al meer as ‘n duisend strafregtelike oortredings begaan en hy is steeds die president. Geen hof, mens of wese kan hom tot verantwoording roep nie. Hy lag vir almal. Die fout lê by ‘n Grondwet met ernstige tekortkomminge, en raai wie was die argitekte van die Grondwet? Ons almal weet!

John ·

Ons kantelpunt is vasgesweis deur die sluwe jakkalse wat ons grondwet opgestel het en toe voorgele het aan ‘n spul dom Afrikaanse prokureurs wat dalk beter as Zuma kan lees en somme maak, maar nie verder kon dink of sien as wat hul neuse lank is nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.