Nuuskommentaar: Gaan Suid-Afrika nog sy groot kernkragsentrales kry?

Argieffoto: GCIS

Argieffoto: GCIS

Ons moet maar katvoet loop vir die skynbare toegewing van regeringskant oor wanneer ons met peperduur kernkrag bedien gaan word. Klaarblyklik het individue groot belang hierby.

Die departement van energie het bekend gemaak Suid-Afrika gaan eers teen 2037 ʼn behoefte aan bykomende kernkrag hê en nie reeds teen 2022 nie. In die media word selfs geskryf dit is ʼn groot terugslag vir pres. Jacob Zuma.

Tina Joemat-Pettersson, minister van energie, het die regering se konsep energie- en hulpbronplanne vir openbare kommentaar gepubliseer. Die plan is om teen 2037 1 359 MW se kernkrag aan die kragnetwerk te verskaf en 20 385 MW teen 2050.

Die VF Plus het die aankondiging verwelkom dat die bou van ʼn verdere kernkragsentrale lank uitgestel is. Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê die besluit getuig van die werklikheid dat Suid-Afrika eenvoudig nie die fondse het om so ʼn luukse te bekostig nie en daar sal selfs in die toekoms steeds oorweeg word of ons wel die geld het om kernaanlegte te bou.

Hy het gesê die VF Plus verwelkom ook die voorstel dat ʼn bykomende 37 400 MW verkry sal word van windplase, 17 600 MW van sonaanlegte en 35 292 MW van gas.

Gordon Mackay, DA-LP, het ook die minister se aankondiging verwelkom. “Die minister se aankondiging is dapper en niks minder as transformerend nie, aangesien dit ʼn ernstige slag is vir pres. Jacob Zuma se pogings om ʼn korrupte en onnodige kernkragtransaksie te finaliseer.”

Kyk mens egter na Eskom se eie reaksie, wil dit voorkom asof min gaan verander. Die land gaan iets kry wat hy nie kan bekostig nie.

“Eskom ondersteun die ontwikkeling van ʼn langtermyn-energie en elektrisiteitsplan vir Suid-Afrika. Ons sal registreer as ʼn belanghebbende en geraakte party en kommentaar lewer op die planne deur middel van die amptelike proses,” het Matshela Koko, hoof van kragopwekking by Eskom, gesê.

Volgens Koko is die eerste kernkragaanleg volgens hul vooruitskattings reeds teen 2026 nodig. “Vir hierdie doel het Eskom aangedui hy sal teen die einde van Desember voortgaan om versoeke vir voorstelle te kry, aangesien alle aanduidings toon dat 2026 haalbaar is om die eerste eenheid te lewer. Indien hierdie aannames verander en ʼn ander scenario word van toepassing teen Maart 2017, sal ons dienooreenkomstig verander,” het Koko.gesê.

Minstens is die finale woord nou uitgestel tot na die vyf-jaar raamwerke waarmee kredietagentskappe werk.

Eskom se beheptheid met kernkrag, terwyl die land oor enorme potensiaal vir son- en windenergie beskik, maak moeilik sin. Eskom duiwel aan en hy is bereid om krag te koop by enigeen wat dit teen 62c per kWh kan lewer, maar dit sloer soms. Daar word hardop gevra of Eskom nie hernubare krag afskeep om die behoefte aan kernkrag te motiveer nie.

Daar is gereeld artikels oor hoe sonkragpanele beter word en elektrisiteit goedkoper kan opwek.

Ongelukkig sal die publiek waarskynlik nooit weet wat agter die skerms gebeur het nie. Daar is net te veel tentakels en bontpratery (ook uit Rusland).

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ou Vlakvark ·

Ag, ons kan nie eens van ons nasionale basiese onderwyssstelsel ‘n sukses maak nie. Wie gaan die kernkragsentrale bou en wie gaan dit onderhou? Welke lande in die wêreld kan kwaliteit roesvrye staal vervaardig?

Hier kom groot risiko’s en probleme. Suid-Afrikaners, word wakker!

Frikkie ·

Wat het geword van die hydro stasies wat behou sou word in die Kongo rivier? Dit was escom se langs termyn be planning dat daai hydro’s die suidpunt so voorsien sou die kool reserwes uitgeput raak Hierdie langs termyn beplannings was al onder besprekings in Augustus 1971 As escom by dit behou het so daar nie so n krisis gewees het soos nou nie!!!!

RINA ·

Het hulle ‘n idee waarvan hulle praat. Kerkrag is BAIE gevaarlik. Dit kan die land se mense se lewe kos asook siektes as daar ‘n lek kom. Hierdie land het in elk geval nie die geld om dit te doen nie so ook nie die kennis. Hier is in elk geval teveel wat die staat se geld laat verdwyn.

Rupert Ashford ·

Herman, wind en sonkrag kan NIE “base load” krag voorsien vir industrie nie, en RSA het baie en goedkoop industrie nodig om die massas werk te gee. Wind en son is onvoorspelbaar en duur as jy die subsidies wegneem, maar ja ons moet soek na iets wat onafhanklik is van fossielbrandstowwe omdat dit uitgeput gaan raak. Waar gaan die gaskragstasies gebou word? Tans le dit tussen steenkool, gas en kernkrag om “base load” te voorsien waarvan kernkrag die “skoonste” is as dit goed bestuur word – en hopelik kan die slim ouens die groot droom van kernfusie binnekort bemeester wat aan ons die antwoord op alle energieprobleme sal gee en nie pleistertjies sal oorplak nie.

Theuns ·

Zuma wil die kernkragstasies he nie omdat dit noodsaaklik is nie maar vir die Rosatrom “Bribe”. Hy het glo al ‘n gedeelte van laasgenoemde ontvang en dit le in die Nkandla bunker!

lisa ·

Die voorstanders van kernkrag wat vir elektrisiteitsopwekking gebruik word, moet asb die volgende in gedagte hou: ‘n Kernkragsentrale produseer afvalstowwe wat vir dekades dodelik is vir alle vorms van lewe as dit bv. in die natuur (watertafel, atmosfeer) sou beland. Uiters hoogsopgeleide bedryfspersoneel (Ph. D. in Kernfisika is die vereiste kwalifikasie) moet voltyds aan diens wees en konstante monitering van selfs die modernste stelsels is noodsaaklik. Die uiterse onbetroubaarheid van die teenswoordige werksmag (stakings, verwoesting van toerusting, brandstiging, ens.) sal sekerlik vir dekades in die toekoms voortduur en beslis oorwaai na die kernkrag werksmag. Hierdie mense sal ongekende mag in hulle (swakopgeleide?) hande hê, want selfs net die dreigement van ‘n staking deur hulle sal sidderings tot vêr oor die landsgrense veroorsaak. Indien selfs net ‘n dreigement van staking ge-opper sou word, sal dit uiters effektief wees, want geen versoek van hulle sal nie ge-ignoreer MAG word. nie. Dit sal die grootste aanmoediging moontlik wees om vir enige belaglike rede met ‘n staking te dreig wat baie maklik tot ‘n tweede, maar Suid Afrikaanse Chernobyl kernkragkatastrofe kan lei en nie net die kontinent sal bedreig nie, maar die hele wêreld!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.