Nuuskommentaar: Gaan ‘teen-DA-betogings’ die ANC (en die land) byt?

Skade wat deur betogers by die Hervormde Kerk Wesmoot in Pretoria aangerig [11 April 2019]. (Foto: Verskaf)

“Die Bybel leer ons: Jy moet die Here jou God liefhê … en jou naaste. Ons sing die lied: Waar daar liefde is, daar is God. 

“Om jou naaste lief te hê: Dit vra nie net ’n gelowige mens in Jesus nie, maar dit vra juis ook ’n gehoorsame mens aan Jesus. Dit word die lied in jou hart … “Waar wys die kerk haar liefde vir haar naaste? In die uitleef van haar barmhartigheidstaak?

“Is dit nog die lied in die hart van die kerk?”

Die ink van hierdie woorde van ds. Ferdie Nortje van die Nederduits Hervormde Kerk Swellendam in die kerk se e-nuusbrief, Blitspos, was moontlik nog nat toe betogers die Wesmoot-gemeente van hierdie kerk in Pretoria bestorm het, enorme skade aangerig het en die gebou aan die brand probeer steek het.

Dit sou inderdaad ’n besonder begenadigde Christen verg om dieselfde woorde ná die aanval te uiter.

Hierdie gemeente is juis, volgens ’n woordvoerder, bekend vir goeie verhoudinge met ander gemeenskappe.

Hierdie voorval was bloot deel van ’n rits gewelddadige betogings wat, volgens die DA, gemik is teen DA-beheerde munisipaliteite (die twee, Tshwane en Johannesburg, is in werklikheid DA-geleide koalisieregerings, wat met die gedoogde hulp van die EFF aan bewind bly).

Die betogings word volgens die DA deur die ANC gemik. Die ANC verweer hom deur daarop te wys dat daar ook oproer voorkom in ANC-beheerde gebiede, soos Durban en Kroonstad (waar probeer is om ’n poskantoor aan die brand te steek).

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus stel dit in ’n verklaring oor die aanval op die kerk soos volg: “Die beskadiging van die kerk moet gesien word teen die agtergrond van die polarisering wat die ANC in die land geskep het en in besonder deur die president wat gefaal het om nasiebou te bevorder en eerder die polarisering vererger.

“Die VF Plus beskou hierdie voorval nie as ʼn aanval op ʼn gebou van klip en sand nie, maar as ʼn simboliese aanval op die kerk as ʼn heilige instelling vir die Afrikaner waaraan die Afrikanervolk deur die geskiedenis groot waarde geheg het. Pres. Cyril Ramaphosa moet daarvan kennis neem aangesien dié aanval hoegenaamd niks te doen het met dienslewering nie en die oproeriges dus niks daardeur kan bereik nie.”

Waarnemers is dit min of meer eens dat die algemene voorkoms van gewelddadige optogte verband hou met die naderende verkiesing, en dat die geleentheid nou benut word om griewe duidelik onder die aandag van politici te bring. Soos dit gestel word, dan is politici geneig om te luister.

Dit lyk egter nie of die betogings teen DA-beheerde rade bloot toevallig is nie. Dit handel minstens ten dele oor die ANC se pogings om die Wes-Kaap en munisipaliteite wat uit hul magsgreep gewring is, te herower. Of soos die ANC dit meer as een keer gestel het, te bevry.

Die toneel naby die Hervormde Kerk Wesmoot in Pretoria [11 April 2019]. (Foto: Verskaf)

Die leier van die EFF, Julius Malema, het juis gewaarsku dat die ANC se pogings om die DA in die spervuur te plaas, kan boemerang deurdat die gewelddadige betogings na ANC-beheerde gebiede kan oorspoel.

Daar is pas weer gewaarsku dat die opruiende retoriek (waaraan die EFF ook mildelik aandadig is) oor die grondkwessie juis tot ’n toename in onwettige besetting van private grond lei.

Die mate waartoe minstens sommige polisiestasies doof is vir klagtes hieroor (wat al tot minstens een hofbevel teen die polisie gelei het) en die Rooimiere ingespan het, wat tot erge onluste gelei het, sal tyd neem om behoorlik te ontleed. Op die oog af lyk dit of die onwettige besetters teen die agtergrond van ongetemperde verwagtinge voel dat hulle ’n “reg” het tot die besetting, en bereid is om dit gewelddadig op te eis.

Soms wil dit voorkom of die DA sake nie goed hanteer het nie. In Hermanus is die swart nedersetting volgens aanduidings sowat 200% of meer oorbeset. Boonop is dit die gebied in die Wes-Kaap waarvan die bevolking die vinnigste in die provinsie toeneem, en die sewende vinnigste in die land. Die naaste geskikte uitbreidingsareas is 20 tot 30 kilometer buite die dorp.

Die bevolking wat gereeld gewelddadige protesaksies uitvoer, glo ’n aangrensende gebied teen die see is aan die gemeenskap beloof vir uitbreiding. Die gebied is egter aan ’n ontwikkelaar verkoop. Dit word nou beset, en daagliks hang die reuk skerp in die lug soos afgesaagde melkhoutbome, wat streng beskerm word, verbrand word.

Dit help ook nie dat die onlangs gestigte Land Party sake orkestreer nie, en onder meer deur ’n bekende wit vrou aangestig word nie. (Die Land Party moet nie met die BLF verwar word, wat landswyd aanstig en uiters rassisties optree – en selfs wit lidmaatskap verbied – nie. Trouens, geoordeel aan die hand van TV-onderhoude, kom die Land Party baie “mak” teen die BLF voor.)

Betogings in Khayelitsha (11 April 2019). (Foto: Twitter)

Die Alexandra- “shut down”-protesaksie het vir veral die ANC ’n erge tameletjie geword. Die herontwikkelingsprojek vir dié gebied is 18 jaar gelede tydens die bewind van pres. Thabo Mbeki goedgekeur. R1,8 miljard is vir die projek bewillig, maar is nou skoonveld terwyl toestande in die gebied vererger het.

Die DA glo die geld het in die sakke van korrupte politici beland. Die premier, David Makhura, het dit na berig word aanvanklik erken, en dat ’n omvattende oudit uitgevoer sou word oor wat van die geld geword het. Later het hy ontken dat die geld ooit bewillig was, en dat die projek gesamentlik deur Johannesburg en Gauteng gefinansier sou word.

’n Vloeibare paar weke bly oor voordat kiesers finaal die oordeel sal moet fel.

Intussen neem gemeenskapspolarisasie vinnig toe, met ironies die Menseregtekommissie wat onhandig die brieke hiervan losgemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Judge Dredd ·

Geweld mag dalk in DA gebied wees – maar ons moet nie die Christen Kerke/Afrikaner belange met DA belange verwar nie.

Stuiwer ·

Die mense is NOOIT tevrede nie. Hul houding voor apartheid het nie na apartheid verander nie. Hulle bly bitter en twisted en demand net meer en meer. Hulle sal net NOOIT tevrede wees nie!

Gerrie ·

Wie is die wit vrou wat die aanhitser is in die party? Wys haar uit dat almal weet. Is daar ‘n pronbleem dat haar naam geheim gehou word?

Andreas ·

Kyk, daar is mos mens wat nie ANC is nie, wat teen die ANC betoog, en dan is daar mense van die ANC wat teen hulself betoog.

So maklik soos dit!

Tanya ·

Ramaposa jy is die oorsaak van al die probleme. Jy hits hulle aan. Geen goeie diens sal ooit weer in sa wees nie.

Jean van der Riet ·

Kyk , as jy met my kerk en geloof begin speel gaan ek jou uithaal ……………… Dit is n getuig dat hulle nie net geen respek vir hulle mede burgers of die gereg het nie , maar eerder geen respek vir GOD nie !

Hulle speel n gevaarlike speletjie !!!

TN ·

Jy en jou god kan julself nie uithaal nie ! Tandelose dreigemente is eie aan gelowiges .

LK ·

Wat het ‘n gebou met die hele wat ookal dit is uit te waai. So dis nou ‘n doeie gebou se skuld dat hulle ontevrede is. Hoe redeneer ‘n mens so. More soek hulle weer ‘n plek om te bid of ‘n bus om mee rond te ry en dan is als gebrand of beskadig. Ek gee nie ‘n blou flenter om oor wat mense doen nie, maar wat gaan van als oorbly as dit aanhou so gaan. Wat ek weet vir ‘n feit is dat dinge nooit so was nie, strate was skoon, jy mag nie op die sypaadjie gestaan en pee het want dit was ongehoord. Nou gebeur sulke goed om elke hoek en draai. Mense het nie selfrespek nie. Ek bid dat die Here soos in die Bybel sal ingryp en die aarde van al hierdie dinge sal skoonvee.

John ·

… en lol net met ‘n Moslem-gebou dan is die VN in sitting. En CR se doringdraadserpie om sy nek… glo teen die koue…

Frik Lotz ·

Stem 100% saam met Dr. Pieter Groenewald van die VF Plus. Dis ook tyd dat ons saamstaan en terugslaan op 8 Mei met ons stemme deur VF Plus te stem.

Piet ·

Hoe op aarde gaan pieter groenewald en sy 2 of 3 kolleges terugslaan, moet my nie laat lag nie. Hulle net daar vir die geld, wat ons moet betaal

Cherokee ·

Jy kon ook daar gewees het, as jy dit net in jou gehad het. Jy hèt dit nie. Jy kan nie. Jy weet nie hoe nie. Al wat oorbly is jaloesie op die wat weet hoe. As jy geleer het, kon jy dàlk ook.

Adam ·

Ek stem saam Piet en boonop is die VF+ net so polariserend as die ANC.

Toffieappel ·

Cherokee, die VF+ ry maar net op die golwe van die ou KP en Constant Viljoen. . Die huidige geslag VF+ LPs het niks van die grond af opgebou nie.

Alida ·

My oe het oopgegaan vandag toe ek hoor wat Dennis Goldberg se. Hy se CR is op die oomblik in baie slegte posisie en speel vir tyd. Die rede hiervoor is dat hy nie eintlik enige mag het nie want hy het nie n mandaat om te doen wat ons wil he hy moet doen nie. Hy skoei sy toesprake volgens sy gehoor en se wat die mense wil hoor. Mnr Goldberg se die oomblik as hy n mandaat het as President sal die groot inhegtenisnemings begin en die skoonmaakwerk begin. Ek is nogal geneig om die ou oom te glo want dit maak sin. Hopenlik verander alles dan.

Dries du Toit ·

Ag Alida jou goedgelowigheid gaan jou vreeslik in die steek laat. Sy padda kokery werk goed met jou

Alida ·

En onthou CR laat doen nie al hierdie ondersoeke sonder rede nie. Alles begin nou sin maak.

Europeër ·

Dis te verstane dat die Afrikanerbond en hulle filiale ontstig is omdat hulle “naastes” een van hulle susterkerke so getakel het.

Oom Gawie ·

Die borrelende haat van swart jeens wit is besig om tot uitbarsting te kom en die onluste binne oorwegend blanke woongebiede met die plundering van die kerk is die sigbare bevestiging daarvan. Niemand gaan dit keer nie.

Cornelia ·

U laat ons regop dink oor al die eerlike vrae rondom die “nuwe geskiedenismakers” se sinlose en leë skande dade. Ekself glo dat elke ware Christen, individueel of by wyse van ‘n groepering soos Helpende Hand en “onbekendes”, as gelowiges, die Kerk se Liefde ook na nie lidmate en hulpsmekende buiteposte neem. Die Kerk van God se liefde vloei uit die gemeentes se helpende harte, hande en voete met medelye na mense se nood. Elke dag deel duisende “onbekende” individue wat lede is van Christus se liggaam, hulle broodjie met ‘n hongersmekende, gee ‘n kombers of drie uit die kas, skenk ‘n Bybel. Bybels is baie duur. Die Kerk is al die gelowiges in aksie sonder vermelding of media dekking. Elke gemeente het dan ook sy eie familie waarna hy moet omsien in dieselfde liefde. Dat die Liggaam van Jesus Christus die aanslag van satan se demonstratiewe aanval op die Kerkgeboue in Suid-Afrika, gelukkig nie die WERK van God se Blye Tyding sal kan stuit nie, is ‘n Rotsvaste getuienis. Die Kerk wat deur die Gees van God lewe sal onoorwinlik en sterker in die “oorlog” teen die wêreldsgees uitstaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.