Nuuskommentaar: Gaan VF+ sy sukses van 2019-verkiesing herhaal?

(Foto: VF Plus/Facebook)

DA-leier John Steenhuisen en dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het Woensdag vir oulaas in ʼn verkiesingsdebat op Pretoria FM in gesprek getree. Die debat was uiteindelik ʼn vurige een wat ʼn mens baie gegee het om oor na te dink vir Maandag se stemmery – veral in die konteks van die 2019- nasionale verkiesing.

Een van die partye wat werklik goed presteer het in die 2019- nasionale verkiesing is die VF Plus. Dié party het groot groei in steun ondervind en ook ontwikkel tot die vyfde grootste party in die parlement. Hierdie verkiesing was ook een waarin die VF Plus aansienlik steun van die DA weggerokkel het met die VF Plus wat noemenswaardig gegroei het. Die verkiesingsmite van die DA as die amptelike opposisie en alle ander opposisiepartye wat stemverdelende “klein partye” is, is tot groot mate weerlê – veral in die lig van die feit dat die DA die enigste groot opposisieparty is wat gekrimp het.

Die VF Plus het eintlik enorme groot momentum gehad ná die 2019-verkiesing waarop lede doodeenvoudig moes voortbou. Dit wat in die 2019- nasionale verkiesing gebeur het, moes ideaal die grondslag vorm vir hierdie munisipale verkiesing. ʼn Grondslag wat voorkomend die nodige verkiesingsmites aanraak en noemenswaardige tendense van politieke verandering uitwys – strategiese verkiesingspropaganda tot voordeel van die VF Plus se opgeboude momentum. Hier is dit ook deurslaggewend om voorkomend te wees – indien jy nie die agenda daarstel nie, gaan jy voortdurend vasgevang wees in iemand anders se gesprekspunte.

ʼn Baie belangrike deel van hierdie suksesvolle verkiesingspropaganda is om die verkiesingsmites wat oor jou party bestaan, suksesvol aan te pak. ʼn Party is net so suksesvol soos dit waarvan hy mense kan oortuig. Dit moet egter op so ʼn wyse gedoen word dat jy nie heeltyd op die agtervoet blyk te wees nie. Die waarheid maak uiteraard saak, maar die suksesvolle oordrag daarvan is ten minste nét so deurslaggewend. Indien ʼn oneerlike verkiesingsmite beter gepropageer word as die waarheid, is dit die verkiesingsmite wat uiteindelik gaan seëvier.

Die voormalige Amerikaanse president Ronald Reagan het eens gesê dat linksgesindes aaklige idees wonderlik laat klink en konserwatiewe mense goeie idees aaklig laat klink. Veral in die politiek maak die aanbieding van jou idees ten minste net soveel saak as die inhoud daarvan. Die VF+ bevind hom egter hierdie verkiesing in die situasie waar hy sukkel om die objektiewe waarheid aan mense te verkoop. Hoewel die feit en waarheid in hierdie opsig aan die party se kant is, kry hy dit nie regtig suksesvol aangeraak nie.

Een van ons grootste verkiesingsmites is dat klein partye die stem verdeel en sodoende bydra tot die versterking van die ANC. Ons proporsionele kiesstelsel is egter so opgestel dat elke liewe stem op die een of ander manier tel. ʼn Stem vir enige ander party as die ANC neem mag weg by die ANC – ongeag vir watter opposisieparty die stem uitgebring word. In hierdie opsig bestaan daar nie so iets soos ʼn “klein party” wat die stem verdeel nie. Dit is een van die goed wat die VF Plus tot dusver die meeste moes probeer verduidelik. Einste Reagan het ook in groot wysheid opgemerk oor die politiek: “If you’re explaining, you’re losing.”

So is die VF Plus ook ongetwyfeld besig om in hierdie opsig te verloor. Lede is heeltyd besig om te probeer verduidelik waarom die DA se verkiesingsmite wel ʼn mite is. Hierdeur is hulle ten eerste heeltyd vasgevang in die debatsagenda van die DA – hoe oneerlik daardie party ook al mag wees. Sodoende is die VF Plus deurlopend besig met die DA se verkiesingsveldtog, eerder as sy eie. Die party moet voortdurend verduidelik waarom die DA verkeerd is, eerder as om mense te oortuig waarom die VF Plus reg is.

Dit is egter ʼn moeilike situasie vir die VF Plus. Indien lede nie die mites aanpak nie, wen die DA se narratief. Indien hulle dit wel aanpak, is hulle steeds besig met die DA se agenda.

Tweedens moet hulle deurlopend na die tegniese aspekte van die kiesstelsel verwys om te verduidelik waarom hierdie argument van die DA so oneerlik is. Die DA gebruik juis die kompleksiteit van die kiesstelsel en mense se relatiewe onkunde hieroor om ʼn eenvoudig verkiesingsmite te vorm. Sodoende maak die VF Plus heeltyd verkiesingsomme in verkiesingsdebatte om die kiesstelsel te verduidelik. Hierdie somme kan tegnies korrek en volkome waar wees – indien dit nie in die regte, verteerbare, eenvoudige kommunikasiepakkie gesit word nie, gaan mense doodeenvoudig nie luister nie. Dit is uiteindelik juis suksesvolle verkiesingsveldtogte en -propaganda wat mense oortuig en oorwen.

Dr. Groenewald het ook sy doktorsgraad oor die Suid-Afrikaanse kiesstelsel gedoen – hy is baie letterlik ʼn kenner op die gebied. Hy wéét dat hierdie verkiesingsmite van die DA ʼn oneerlike mite is. Indien die VF Plus die waarheid nie aan mense verkoop kry nie, is dit uitsluitlik weens swak verkoopstegnieke.

In hierdie opsig is daar ʼn groot vraag te vra oor die VF Plus se verkiesingstrategie vanjaar. Eerder as om hul eie agenda en 2019-momentum tot hul voordeel te gebruik, is hulle nou heeltyd besig om die DA se mites aan te raak. Die VF Plus het ná die 2019-verkiesing ʼn enorme geleentheid gehad om Suid-Afrika vorentoe te sleep, nader aan ʼn normale veelpartydemokrasie. ʼn Demokrasie waarin koalisieregering die norm is, eerder as ʼn de facto-eenpartyregering soos dié van die ANC. Verder ook ʼn demokrasie waarin daar nie iets is soos ʼn mitiese amptelike opposisie en verdelende klein partye nie. ʼn Demokrasie waarin enige party net so sterk is soos die koalisieregering waartoe hy homself verbind kan kry.

Die VF Plus staan egter nou voor die risiko om slegter te vaar as verwag, bloot omdat die party strategies ʼn slegter verkiesingsveldtog as die DA gevoer het. Die DA het hulle heeltyd op die agtervoet gehad en dit blyk ook duidelik uit die mediadekking van die afgelope verkiesingseisoen. Nie noodwendig omdat die VF Plus verkeerd of verlore was nie, maar eerder omdat lede nie daarin kon slaag om die agenda vir die gesprek te bepaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

CarlaO ·

As daar nie soveel leuens oor die kiesstelsel versprei is nie, sou dit vir niemand nodig gewees het om enigiets te verduidelik nie. Kiesers is gebreinspoel oor ‘stemme wat gemors word’ en ‘klein-partye’.

piet ·

Ek sou nie die mite as oneerlik beskou nie maar ek sou nie die redes aanvoer wat die DA aanvoer nie. Dit gaan hier vir my oor effektiewe regering. Te veel vingers in die pastei kan uitvoering van pligte bemoeilik omdat dit moeiliker is om saam te stem oor iets en dit deurgevoer te kry. Ons het dit ooral gesien met koalisieregerings wat nie een suksesvol was nie. Daar waar die DA alleen regeer is hulle effektief en baie funksioneel. Die ander punt is dat DA wel tans by verre die grootste opposisieparty is, omtrent 10-keer groter as die VF+ en die VF+ is ‘n klein rolspeler, dis ‘n feit soos ‘n koei.

Pieter ·

En dit help slegs die ANC indien die opposisie probeer om stemme bymekaar te vat. Ek is teleurgesteld dat die DA steeds loop met die storie dat ‘n stem vir ‘n ander party ‘n vermorste stem is. Ek het gehoop hulle het na 2016 geleer. Daardie klein partye is jou koalisies vennite

VaalDonkie ·

Jy weet, in die EU is dit algemeen dat lande se parlemente uit 10 partye bestaan wat elk so 10% +- setels het. Sommiges het net 1%, ander het nader aan 20%. Maar dit gaan oraait daar want behalwe vir die groenes werk almal redelik goed saam.

Harley Davidson ·

Die VF+ doen te min ,Philip van Staden doen reuse werk in Pretoria en die DA raadslede kan leer by hom as die VF+ net 10 Philip van Stadens gehad het sou hulle die DA in Pretoria slae gegee het.

Cherokee ·

Omdat hulle nie meer blanke onderwyseress aanval nie? Hulle het geleer en ons lag.

Piet ·

VF plus is nét vir ryk wittes.Arm witmense tel nie vir hulle nie net hul stemme!!!So ek stem beslis vir DA wat n beter kans staan ad VF plus wat niks doen vir wittes nie!!!!

Baardman ·

Waar kry jy jou inligting, jy is uiters oningelig. Jy laat my eintlig lag.

Keelvol ·

Die da kry niks gedoen nie. Hulle is n belediging vir die wittes. Jy mors jou stem vir hulle.

wim ·

Daai skenking van die Oppenheimer antie is aanloklik né? Maar ek dink nie jy sal ietsie daarvan kry nie.

Dirk Mostert ·

Die DA het ontstaan toe die NP en PFP saamgesmelt het (stem Ja). Ons het die piesangrepubliek aan hulle te danke. Die VF+ is die afstammeling van die KP wat kiesers gewaarsku het teen swart oorname (stem Nee).

JohanR ·

Ek dink hulle gaan beter vaar as in 2019. Hier is die hope dat partye stemme wegneem van die ANC en die EFF.

Dirk Mostert ·

Boetie, jy is seker jonger as 50 en weet niks van die verkiesings van 1987 en 1989 en die referendum van 1992 nie.

Shakespeare ·

Die VF+ is dinamies maar in totaliteit te klein om die onbevoegde rassistiese ANC/EFF die hoof te bied. Stem DA, die enigste voertuig om die gemors te stop.

wim ·

Ai oom Wikkelspies, ek was altyd onder die indruk dat Shakespeare ‘n geletterde man was. En daar ontgogel jy my nou!

Baardman ·

Alreeds gebreinspoel deur die DA . Dink bietjie vir jouself Shakespeare.

Leana ·

Ek persoonlik dink dat die VF+ baie goed gaan doen in die verkiesing.

piet ·

Ek dink hulle sal hulle tradisionele, konserwatiewe kiesers (oud KP,HNP, AWB) behou wat vorige verkiesing weer terug is na hul ou tuiste waar hulle hoort. Ek twyfel egter of hulle enigsins buite die genoemde groepe kiesers sal trek. Daar is ook ‘n mate van terleurstelling selfs tussen hul stoere, konserwatiewe lede oor hul “onbetrokke, swygbeleid”. Kiesers het meer verwag van hulle soos om hul doelstellings (selfbeskikking) daadwerklik te dryf.

Dirk Mostert ·

Jy klink soos Zuma: “what did the other parties do to S.A.? They did nothing”. ‘n Party kan net iets doen as hy in beheer is.

Jannie van Niekerk ·

Die DA moet eerder met die VF+ en die ACDP saamwerk in plaas daarvan om hulle af te kraak. Schweiser Reneke het bewys dat mens die DA nie kan vertrou nie net soos mens die ANC , EFF, SAKP en COSATU nie kan vertrou nie. Ek wag nou nog vir antwoorde op vrae wat ek in die vorige verkiesing aan hulle agent hier gestel het. Ongelukkig moet ek in hierdie verkiesing teen my beginsels vir die DA stem.

VaalDonkie ·

Daar is mense wat dink jy moet vir die grootste party stem. Maar hulle wonder nooit waarom die party so groot is nie (dis oorlat jy vir hulle stem, nie andersom nie). Die ergste is dat hierdie mense se stem net soveel tel as myne en joune.

Hendrik ·

Die beste strategie vir beide die DA en VF+ is om alles in die stryd te werp om mense te oortuig om te gaan stem. Met die verwagte lae stempersentasie, sal die partye wat hulle mense kan oortuig om te gaan stem, die beste doen. Ongelukkig is daar BAIE ondersteuners van beide vir wie dit te veel moeite is om te gaan stem – hulle sal dood tevrede wees om net in die toekoms te kan aanhou kla.

AW ·

Tyd sal Leer!!

Met verloop van tyd is daar nie minder “,Wit” nie?

Nick ·

Maandag gaan ek stilweg in my hart stem vir die Vryheids Front, maar met my kop stem vir die DA. Sonder ‘n sterk opposisie kan demokrasie nie werk nie.

Nick ·

Ek hoop net tannie Pat se aanhangers besef hulle stem eintlik vir die ANC. Sy is een van hul kaders. Pay daar by hulle en as leier van n party. Lekker bokkie! En om te dink ek het jare gelede haar bewonder.

annie ·

Woke-Woke-VF Plus gaan die Kaap weer vir ons annekseer en ons minderheidspartye groot laat blom teen die Tafelberg se hange. Kan ons nie dalk nog mense invoer uit die Ooste nie van waar Afrikaans sy oorsprong het… Dan bou Oom Max en sy onderdane vir ons ‘n ware burgery van egte Afrikaners soos Oom Jan destyds wou… So jammer van die paar eeue wat sake so verkeerd geloop het sedert Harry sy eerste wynstok op Stellenbosch geplant het presies daar waar die US nou setel. Weet prof Wim dit?

Elmarie ·

Die DA Is soos ‘n lee blik wat baie geraas maak. Hulle het nog absoluut niks verander of gedoen in Pretoria wat my beindruk het nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.