Nuuskommentaar: Gaan Zuma deur Moody’s-swaard beteuel word?

jacob-zumaMoody’s se jongste gradering van Suid-Afrika het die land ’n waardevolle blaaskans gebied – moontlik net tot die middel van die jaar wanneer nog twee graderingsagentskappe wat minder simpatiek teenoor Suid-Afrika is met hul beoordeling kom. Die vraag is of pres. Zuma sy onverantwoordelike vrysprakighede in die aanloop van ’n belangrike verkiesing in toom kan hou om die herstelprogram onder leiding van min. Gordhan nie in die voet te skiet nie.

’n Landswye munisipale verkiesing is net enkele maande weg, en die geveg gaan nog baie leliker word as nou. Politici is dié keer baie meer as voorheen onder druk om nie die land te saboteer ter wille van stemme nie.

Die eerste hekkie is “onverwags” oorkom toe Moody’s Suid-Afrika se kredietgradering onveranderd op Baa2 gehou het. Die goeie nuus word getemper in die wete dat dit steeds net twee kerfies bo rommelstatus is.

Die onheilspellende fynskrif is dat Suid-Afrika se vooruitsigte van stabiel na negatief aangepas is, iets wat van die groot media verswyg.

Trouens, Cees Bruggemans van Bruggemans & Vennote skryf dat Moody’s se bevinding baie Suid-Afrikaners buite weste geskok het, maar dat dit ’n aangename skok was.

Boonop gaan nog twee graderingsagentskappe later vanjaar hul bevindings bekend maak, en met Suid-Afrika wat op Moody’s so gevaarlik op Avbob se stoep speel, is ’n rommelstatus-bevinding of twee nie heeltemal uitgesluit nie. Trouens, Moody’s word as meer simpatiek teenoor Suid-Afrika beskou, en die ander twee het Suid-Afrika ook in die vorige ronde ’n kerf laer gegradeer – dit wil sê een kerf bo rommelstatus.

Die graderingsagentskappe gebruik nie almal heeltemal dieselfde kriteria by beoordeling nie, met veral sosio-politieke faktore wat by sommiges swaarder weeg as by ander.

Moody’s het ook die streep in die sand getrek oor waar Suid-Afrika sy sokkies moet optrek, en in veral een opsig gaan die ekonome se rol ingeperk wees, en die politici se rol groter wees, naamlik om beleggersvertroue te versterk.

Ed Stoddard skryf in Moneyweb dat min. Pravin Gordhan al die politieke steun moontlik moet kry om staatsuitgawes hok te slaan en ander moeilike fiskale besluite deur te voer.

En hierin lê waarskynlik die vlieg in die salf. Gordhan is skynbaar ná die Nenegate-debakel op ’n dikbek pres. Jacob Zuma afgedwing nadat die Des van Rooyen-flater die land se ekonomie byna oornag verongeluk het. Sedertdien is daar op die oog af ’n ongemaklike armdrukkery tussen Zuma en die ANC se ringkoppe. Reg of verkeerd, die persepsie het ontwikkel dat dit ’n magstryd is waar Zuma en sy volgelinge die destruktiewe verteenwoordig, en die Ramaphosa-geleide ringkoppe die ekonomie beskou as in die intensiewesorgeenheid te wees, waar daar geen ruimte vir simpel, opportunistiese of sektorale politieke flaters is nie.

Maar … Zuma se vlerke is nie geknip nie, en waar Zuma sy mond oopmaak, of soms swyg waar hy die leiding moes gee, is politieke flaters ’n bykans alledaagse verskynsel. ’n Mens kan maar net dink wat uitlatings soos dat die ANC ’n sosialisties-kommunistiese staat voorstaan, of dat die president sy lojaliteit aan die ANC bo sy lojaliteit aan die land stel, aan beleggersvertroue doen.

Zuma se oorlewingstrategie binne die ANC sluit in dat hy sy ondersteuners moet oortuig dat hy die hef in die hand het. Ongelukkig sluit dit nie onverantwoordelike uitsprake uit nie, waaronder uitsprake wat hom klagtes by die Menseregtekommissie op die lyf laat loop het. Ná elke hofbevinding teen hom, moet hy soos ’n “superbal” weer kan opspring om aan sy ondersteuners te toon hy het oorleef – en ongelukkig gebeur dit juis wanneer dit in die land se belang sou wees om ’n lae profiel te handhaaf.

Intussen moet Gordhan genoeg versekering hê dat sy aankondigings oor “die regte ding doen” die nodige gesag dra om geloofwaardig te wees – met ’n sterk fokus op besparing en die hokslaan van ongemagtigde uitgawes, en die sigbare oprol van korrupsie.

Maar dis nie die beeld wat Zuma uitstraal nie. Boonop brand skole en is daar diensleweringsbetogings, en radikale vakbonde het die kuns vervolmaak om die land se ekonomie op die kwesbaarste oomblikke met stakings te tref om die “gunstigste” voordele af te pers. Heel dikwels ten koste van werksgeleenthede.

En reeds het die beloftes begin instroom oor wat alles “reggestel” gaan word. Boonop boemerang die ANC se pogings om sy “goeie storie” te verkwansel – om te spog oor sy prestasies met huise en dienslewering, iets wat net vir almal wat nog verbygegaan is of agteruit geboer het hul lot onderstreep.

Instinktief wil ’n mens voel dis ’n geval van boontjie kry sy loontjie, en dat die kiesers nou hul stemreg sal moet gebruik om die ANC vir sy foute, met Zuma seker die grootste, te straf.

Die ongelukkige waarheid is dat ons almal in die land bly en saam die gevolge dra as sake ontspoor. ’n Afvaardiging na die buiteland deur die Solidariteit Beweging het nie net ten doel om steun vir Afrikaanse projekte te kry nie, maar om beleggers oor te haal om nie beleggings op te skort of af te skaal nie, maar eerder die regering te help om sy huis in orde te kry. “Ons uitgangspunt is dat ons positief oor die land is, al is ons negatief oor die regering,” aldus mnr. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Ons is self in die bootjie – dit is selfmoord om die bootjie se boom vol gate te moker (al doen Zuma en kie dit). Ons moet herstel en verbeter daarop.

In ons almal, en ons kinders se belang.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lance ·

Hallooo !!! Dis net n kwesie van tyd voor ons junk is met al die uitlatings en korrupsie wat die mense maak ….hulle leer ook nie want hulle het net n std 3 en probeer n land run …not gona work !!!! SA word n carbon copy van die res van Afrika ….tragies

Rynhardt ·

Help nie Moody’ s gee Zuma en sy trawante n kans nie, hy en sy makkers het geen regruk-plan vir SA nie! AVBOB se kiste wag vir Zuma en Anc! Zuma kan soveel propaganda verkondig soos hy wil, maar SA het by kruispad gekom -n Rommelparadys le voor!! Hou rand se waarde voortaan teenoor dollar dop.Iets waarvan Zuma en kie. niks weet nie.Zuma glo ekonomie gaan vanself regkom.

alida ·

Watter deel verstaan julle nie? Die ongeletterdes verstaan hierdie goed nie. Hoor daarvan maar weet nie regtig wat dit beteken nie.

Armando ·

Ek kry die indruk dat Afriforum se pleidooi (die woord “pleit” steek in die keel vas) aan die buiteland, en veral Europa, om in SA te investeer dra meer gewig by hulle as afvaardigings van vliegtuievol andere vir dieselfde doel. As ons sink, sink ons almal, en daarom wil ek vra of dit nie raadsaam sou wees dat Afriforum baie meer hierop konsentreer nie.

John ·

Dit laat mens wonder: Wie sou daarby baat as SA op die rommelhoop beland? Is daar mense wat dan kan kry wat hulle wil he teen ‘n appel en ‘n ei? ‘n Myntjie en ‘n lugdiens, ‘n bank of eiendom … Daar is groepe en lande waaraan ek kan dink. Wie is die base van Moody’s en die ander groepe met die monetere-guillotine’s?

Andre K ·

Zuma het geen idee waaroor dit gaan nie, solank hy en sy trawante hulle eie koffers kan vul het hulle vrede……..”they do it the Africa way “

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.