Nuuskommentaar: Gaan Zuma die ANC skeur?

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

Koalisiepolitiek gaan die land se demokrasie vir die afsienbare toekoms rig, en die kieser moet hom by beginselpolitiek aanpas. Tog is pres. Cyril Ramaphosa en die DA-leier, Mmusi Maimane, onder geweldige druk om ideologiese oortuigings links te laat lê ter wille van kiesers wat “pragmaties” moet stem sodat die demokrasie verskraal word, en ’n soort magspolitiek manifesteer.

Berigte en gerugte dat oudpres. Jacob Zuma se ondersteuners met ’n veldtog besig is om Ramaphosa se onttroon, raak al meer oortuigend.

Volgens ’n hoofartikel vandag in Beeld en Die Burger is die proses om van Ramaphosa ontslae te raak betreklik eenvoudig. ’n Derde van die ANC-takke moet bloot oorreed word om Luthuli-huis te nader om ’n spesiale hoofraadsvergadering te hou waar met ’n gewone meerderheid besluit kan word om Ramaphosa die trekpas te gee. Die twee lede wat glo die “road show” aanpak om die proses werklikheid te maak is oudpremier Supra Mahumapelo van Noordwes en oudminister Mosebenzi Zwane.

Dié proses het luidens berigte die steun van kerkleiers (volgens analiste nie die belangrikstes nie), sakelui, tradisionele leiers en meer. Ideologie speel glo geen rol nie, en die proses is daarop afgestem om die plundering van die land te kan voortsit.

Hierteenoor het die SAKP ’n beroep op Zuma gedoen om hom duidelik en onomwonde van die breekspul te distansieer.

Ramaphosa-ondersteuners neem die Zuma-gevaar glo ernstig op.

Vir die Ramaforia-ondersteuners wat nie lid van die ANC is nie (byvoorbeeld baie wit mense) is die Zuma-gerugte meer as net ’n klippie in die skoen. Hulle plaas groot hoop op Ramaphosa om die skade van die Zuma-era ongedaan te maak, en dalk selfs vir Zuma agter tralies te kry. Soveel verwagtinge koester hulle van Ramaphosa dat daar vanuit hierdie geledere nie veel entoesiasme is dat die ANC met ’n volgende verkiesing dalk nie die 50% steun kan haal nie. Die DA se eie moeilikheid waaroor ook al hoe meer geskryf en ontleed word, speel hierin ook ’n groot rol.

Intussen kan Ramaphosa eenvoudig nie van die yslike blok aan sy been, grondonteiening sonder vergoeding, ontslae raak nie. Ramaphosa kan met die mooiste gerusstellings – selfs in Afrikaans – kom, maar die werklike angel se weerstandnaaldjies gee nie skiet nie. Hy het ander probleme ook, soos dat die polisie se plaasaanvalstatistiek (wat pas deur Agri SA gebruik is) nie klop met geverifieerde statistiek wat ander instansies hou nie, en ook ander misdaadsyfers nou baie lelik lyk.

Hoe moet die analis, meningsvormer en die publiek/kieser hierop reageer? Dat groot pragmatiese eise gestel word is so, maar die Grondwet maak van Suid-Afrika juridies ’n demokratiese staat. Hoeveel kiesers, wanneer hulle hul kruisies gaan trek, trek egter die kruisie waar hulle meen die beste pragmatiese oplossings gebied word? En word dit wat die kieser behoort te doen, soos om te stem vir sy ideologiese oortuigings, eenvoudig versaak? Dit maak nie saak hoe aantreklik die beleid van ’n party is nie, dit word as “te klein” gesien en daarom word vir ’n groter party gestem – al word baie ideale en ideologiese oortuigings, soos die handhawing van Afrikaans, daarmee eenvoudig op die altaar geplaas.

Of ’n partyleier kom met snert weg om kiesers te oortuig om hul stemme “uit te leen”. Dit terwyl die Grondwet juis voorsiening maak dat koalisies gevorm kan word. Koalisies maak dit vir ’n belangeparty soos die Vryheidsfront Plus moontlik om ver bo sy gewigsklas te boks, en koalisiesuksesse word gereeld aan die groot klok gehang. Ook die ACDP put voordele hieruit.

Koalisiepolitiek gaan al hoe belangriker word. Die ANC sal nie sonder steun van ander partye, soms bitterlik klein, die nodige tweederde meerderheid kry om die Grondwet te verander om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie. En die DA sal nie sonder koalisievennote met die volgende algemene verkiesing die 50%-kerf kan oorskry om die bewind uit die ANC se hande te wring nie.

Hiermee word nie te kenne gegee dat Suid-Afrika oor ’n ideale grondwet beskik nie, maar vir die huidige is dit waaroor die land beskik.

Of Ramaphosa polities gaan oorleef, hang af van sy vermoë om die Grondwet pragmaties aan te wend. Ja, hy het na sy verkiesing verskeie foute gemaak, maar dit lyk of hy uit sy foute leer.

En Zuma? Los Ramaphosa uit dat hy die Zuma-skade ongedaan kan maak. Die land het net te veel pap wiele as erfenis van ’n kleptokrasie wat te lank oorleef het.

Die kieser moet eenvoudig daarteen waak dat die realiteite nie die land van sy demokrasie beroof nie. Gee beginselstemme deur koalisies woema.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Nugterweet ·

Goeie artikel. Work wakker boere! AgriSA is lankal in die ANC se sakkie. Hulle praat NIE vir die meerderheid boere nie en ons distansieer onsself van hulle. Tyd dat hulle tuimel… Dankie TLU!

Elphia ·

Weereens ‘n geval waar die MENS groter as die saak geag word! Voordat Zuma nie veilig agter tralies sit nie, kan SA maar vergeet van ekonomiese herstel en groei.

Judge Dredd ·

Se nog steeds ons het ‘n party nodig wat konsentreer op minderheidsregte – alle minderhede – wittes,bruines,asies en KhoiSan.
As so party die helfte van die minderhede stem kan kry dan is dit klaar 10%+ groep wat met koalisie regering en parlement sy stem dik kan maak – kan selfs die Wes Kaap regeer waar die minderhede die meerderheid is.
Dit is ook interesant dat die meerderheid wit en bruin mense Afrikaans sprekend is so bogenoemde groepering sal min of meer 50% Afrikaans wees – wat goed sal wees vir die behoud van Afrikaans.

Sakelui of tenderpreneurs ·

Die ‘sakelui’ wat zuma ondersteun is sekerlik nie hardwerkende entrepreneurs wat werk skep nie maar eerder tenderpreneurs.

Henry ·

Goeie pitkosartikel wat heel paar vrae/argumente ontlok.

Ek wil met Judge Dredd saamstem oor ‘n party wat vir alle minderhede ‘n tuiste kan bied.
Kan die VF+ moontlik so ‘n oplossing bied?
Ene wat nie beperk word deur slegs die belange van een van die minderheidsgroepe te verteenwoordig nie?

Dink nogal dat so ‘n groepering waarskynlik meer as 50% Afrikaanssprekend mag wees.

Liberaal ·

Nee, liberale waardes wil wegdoen met minderheidsregte. Regte van misdadigers en superrykes is al wat tel, so gaan stem ANC.

Judge Dredd ·

Dis tyd om te besef al ons minderhede is in gevaar, en as elke minderheid op sy eie gaan baklei dan gaan ons minder verrig.
Ek bevind ook dat die verskillende minderhede in die algemeen beter oor die weg kom met mekaar.(Ek bly in KZN en wit/indiër gemeenskappe kom goed oor die weg)

As ons saamstaan dan kan ons wel nog ‘n beduidende groep vorm en as daar uiteindelik koalisies gevorm moet word – soos wat uiteindelik gaan gebeur – dan sal die MEERDERHEID partye met die minderhede moet begin onderhandel – dan kan ons nie meer geignoreer word.

Henry ·

Agge nee wat “Liberaal”.

Sogenaamde liberales wat by die geringste teenstand witpens-bo draai, se invloed is besig om teen die spoed van lig weg te kwyn.

Daarenteen is realisme een van ‘n aantal ‘ismes’ wat oor ‘n wye front besig is om veld te wen, ten koste van liberalisme en hul wêreldstaat drome wat deur ‘n tirannie van die ‘meerderheid’ oorheers word.

Italië, Spanje, Katelonië, Brittanje, USA First, ens…

Liberaal ·

Henry, maar wat dan van die arme superrykes? As ‘nb new age een enkele mark wat deur enkele superrykes beheer word dan gaan die arme supperrykes honger wees en die laer en middelklasse gaan weer opstaan en plaaslike besighede gaan weer oorvat by die globale konglomerate, en dit wil die liberales mos nie he nie!

Johan. H. ·

Alles sal eers tengoede verander as die hele lot bbbeee en kaminet skelms in die tronk sit,,Zuma inkluis . Dit sal n teken wees van n hernude poging van versoenning,, DIT IS DIE ENIGSTE ANDWOORD. BBBee het haat aangewakker ,,, True story

Willem ·

Dalk is dit juis goed dat Zuma ‘n verdelende faktor in die ANC sal wees, nie een van die ander partye sal met hom of die ANC in koalisie wil gaan nie, Julius dalk met die ANC. Dit sal die ander partye net nog meer na die voorgrond bring, die kanse verbeter dat die DA met ander partye in koalisie die kitaar slaan.

John ·

Die plan om minderhede saam te snoer sal die Afrikaner se laaste stuiptrekkings meebring. Om te glo dat so ‘n uitlopende groep skielik so saam sal staan en geen eiebelange sal voorstaan nie is ‘n droom. Vergeet daarvan om altyd Afrikaans, soos die ANC weer die arme armes, as rede vir al hul optredes, te wil voorhou. Daar is nie samehorigheid tussen Afrikaners of Indiers of Kleurlinge nie en dit sal gou blyk wanneer sake soos leierskapsposisies, grondeise en geldbesteding ter sprake is. Om een duiwel vir ‘n ander duiwel te verruil is nie slim nie want uiteindelik sal die ANC die koalisie opbreek mbv die twispunte. Godsdiens en kultuur speel ‘n groter rol as taal en ek sal nie vir die behoud van Afrikaans en ‘n lappie grond van my godsdiensbeginsels afsien nie… ‘n Koalisie is soos ‘n huwelik; iewers moet van iets kosbaars hetsy vryheid afgesien word.

MTSteyn ·

Raak-vat, akkurate kommentaar.

Die saamsnoer van minderhede is ‘n onding, en Dank Vader, ‘n probleem waaroor regdenkes nooit hoef te bekommer nie, want dit sal nooit werklik gebeur nie.

Planne, kommentaar en skrywes wat dit aanmoedig is bloot tekend van hoe planneloos Afrikaners is (of dalk altyd was), en waarom ons eintlik onder die hiel van die kommuniste hoort.

Die oplossings en redding van die Afrikaner en sy taal, gaan vanuit die Afrikaner self moet kom. En as jy jou voortbestaan wil uitkontrakteer met hulp van die buiteland en/of ander ‘minderhede’, verdien jy as volk die ashoop.

Henry ·

Gode sy dank vir die reg en geleentheid vir verskillende standpunte!
Om die uitgediende, onbuigbare, voorskriftelike dogma’s wat die denke gedurende die vorige eeue ge-kniehalter het, in die wakis van vergetelheid te liasseer, het terselfdertyd noodsaaklik geword in ‘n snel veranderende wêreld.

Indien minderhede soos ons Afrikaners nie bereid is om buigbaar genoeg te wees om die ‘finale antwoorde’ van ander minderheidsgroeperinge te aanvaar en daarmee saam te leef nie, sonder om van jou eie belange prys te gee, sal daar nooit sprake van samewerking met ander minderheidsgroepe wees nie. Koalisies en al die ander samewerkingsmoontlikhede sal ook nooit volhoubaar of uitvoerbaar wees nie.

Hopelik is die besef van ons benarde situasie waar minder as 3 miljoen Afrikaners in ‘n land met meer as 50 miljoen andersdenkendes met behoud van hul eie belange moet/wil oorleef, genoeg motivering om ons vrese vir samewerking met ander minderhede te oorwin.

John ·

Veranderinge beteken nie altyd verbeteringe nie. In die toekoms sal godsdiensoorloe oorheers. Probleme gedy reeds in Europa waar migrante hul wil en giere afdwing op gasheerlande en frustrasies met aanvalle op sagte teikens toon. So, hoe pas mens aan by radikale verskille tussen godsdienste en kulture. Die teiken van Jode is steeds aan die gang en die groot gekerm aan die grense van Israel handel juis oor die moskee op die berg waar die Joodse tempel gestaan het. Moet Christene vir rus en vrede hul waardes prysgee… maar die minste wees? Waar trek ons die streep? Kom ongelowige Afrikaners nou te staan teen hul gelowige naaste? Dit sal ‘n kwade dag wees… soos in Rusland toe kommunisme oorgevat het.

MTSteyn ·

Die Afrikaner se voortbestaan het nog nooit op getalle berus nie, maar op die wete dat Hy ons hier met ‘n doel geplant en gevorm het. Dis ‘n vreemde konsep vir meeste, ek gee toe, maar soms is die waarheid vreemd, en die leuen soveel meer aanvaarbaar.

Dis van ‘om jou eie belange prys te gee’ vir ‘samewerking’, dat ons nou as volk moet veg om oorlewing.

John ·

Veranderinge beteken nie altyd verbeteringe nie. In die toekoms sal godsdiensoorloe oorheers. Probleme gedy reeds in Europa waar migrante hul wil en giere afdwing op gasheerlande en frustrasies met aanvalle op sagte teikens toon. So, hoe pas mens aan by radikale verskille tussen godsdienste en kulture. Die teiken van Jode is steeds aan die gang en die groot gekerm aan die grense van Israel handel juis oor die moskee op die berg waar die Joodse tempel gestaan het. Moet Christene vir rus en vrede hul waardes prysgee… maar die minste wees? Waar trek ons die streep? Kom ongelowige Afrikaners nou te staan teen hul gelowige naaste? Dit sal ‘n kwade dag wees… soos in Rusland toe kommunisme oorgevat het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.