Nuuskommentaar: Gaan Zuma dié keer oorleef?

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Opsomming

Gaan diegene in die ANC se NUK wat die land se belange bo dié van pres. Jacob Zuma stel die naweek die knoop deurgehak kry en met ’n mosie van wantroue van hom ontslae raak, of gaan Zuma se vermoë tot middernagtelike wraak (al breek dit die land) weer eens ’n stokkie hiervoor steek?

Gaan pres. Jacob Zuma ’n verwagte mosie van wantroue oorleef as die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC die naweek in Centurion byeenkom? Die kanse lyk goed dat die kwessie ten minste bespreek gaan word, al ontken Zizi Kodwa, die ANC se woordvoerder, dit.

’n Vorige probeerslag in November verlede jaar het onverwags gekom toe Derek Hanekom so ’n mosie ingestel, en onverwags baie steun ontvang het. Die mosie het uiteindelik Hanekom sy plek in die kabinet gekos.

Dié keer lyk kanse beter dat Zuma die trekpas as ANC-president kan kry, hoewel ontleders steeds meen dis onwaarskynlik. ’n Gevoel binne die ANC dat nog net die hond se stert oorgesteek moet word voor Zuma in elk geval vervang sal word, weeg op teen die ongemaklike wete dat die ANC, vir elke dag wat verbygaan met Zuma in die amp, steun verloor.

Hierdie wete word versterk deur die gevaar van ’n yslike verleentheid sou die konstitusionele hof die UDM en vennote gelyk gee, en gelas dat die komende mosie van wantroue teen Zuma in die parlement per geheime stem moet plaasvind. Verskeie senior joernaliste en ontleders sê meer as een ANC-LP het laat blyk dat hy of sy teen Zuma gaan stem, veral as dit per geheime stemming plaasvind.

Die ANC se groot alliansievennoot, Cosatu, het pas nog sout in die wonde gesmeer deur te verklaar dat Zuma nie meer toegelaat sal word om vergaderings van die vakbondfederasie toe te spreek nie. Dit volg nadat verskeie vakbonde gevra het dat Zuma nie toegelaat moet word om Cosatu se hooffunksie vir Meidag in Bloemfontein toe te spreek nie. Dit sou in pas wees met Cosatu (en die ander alliansievennoot, die SAKP) se oproepe dat Zuma as president van die land en die ANC verwyder moet word. Zuma het egter vol grappies opgedaag, maar is so uitgejou dat hy en sy kavalkade van 12 voertuie die terrein druipstert moes verlaat.

Nou is Zuma amptelik in die alliansieverband geïsoleer. Die ANC het weerbarstig reageer deur Cosatu daarvan te beskuldig dat dit die media inspan om boodskappe aan die ANC te kommunikeer, en dat geen amptelike skrywe (nog) in dié verband ontvang is nie. Die desperate vlieëvangery kan Zuma se beeld net verder skaad.

Dit is duidelik dat die ANC die skade oor die wyse waarop Zuma vir die vorige minister van finansies, Pravin Gordhan, afgedank het en veral die gevolglike rommelstatus by twee graderingsagentskappe vreeslik ter harte neem. Enorme hoeveelhede energie (en hulpbronne) word ingesit om die agentskappe te bearbei, en veral Moody’s wat nog oor die land se gradering moet beslis, word gepamperlang.

Terselfdertyd het die wete by ANC-ringkoppe posgevat dat die land nie net by graderingsagentskappe nie, maar ook by beleggers, met ’n blok aan die been wegspring solank Zuma die president is.

Voorts maak Zuma van die ANC ’n slaansak by die opposisiepartye, die binnelandse en buitelandse media.

Zuma se beeld en optrede is ook besig om sy gewese vrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, se veldtog om volgende president (eers van net die ANC) te word sleg in die wiele te ry. Dit, terwyl hy haar openlik steun.

Die interessantheid is egter nou dat die ANC met ’n duidelik groeiende stel vyfdekolonners te make het. Dit lyk of Gordhan, nou net ’n gewone LP, dalk op die voorpunt hiervan kan ontwikkel. Sy bydrae voor die parlementêre komitee wat na die Eskom-debakel kyk, het ten minste by die beste opposisiepogings kers vasgehou. Hy het statuur en enorme binnekennis, en Zuma het hom verneder deur die inhoud van ’n bedenklike “intelligensieverslag” aan hom te probeer laat kleef.

Nog een van die ANC-LP’s op wie die oog gerig kan word, is dr. Makhosi Busisiwe Khoza, wat nie net besonder knap is nie, maar tydens die SAUK-debakel sterk na vore getree het en min ontsag vir Zuma se patronate getoon het. Die ANC-jeugliga (wat Zuma ondersteun) het haar adres (waar ook haar kinders woon) op sosiale media geplaas. Dit is moeilik om enige ander motief as intimidasie daaragter te lees.

Die outomatiese beskerming en isolasie teen opposisie-aanslae waarop Zuma in die verlede in die ANC se parlementêre koukus en enkele klein surrogaatpartye kon reken, is nou erg geërodeer. Met die byna daaglikse onthullings oor hoe ver die staatskaping reeds gevorder het, is dit nie onverwags nie dat talle ANC-LP’s voel hulle is op die hoogste vlak verraai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Petro ·

Wat ek nie kan verstaan nie is dat hulle so blits vinnig van Thabo Mbeki ontslae kon raak en hulle so sukkel om van Zupta ontslae te raak ek wonder wie se sakke is nog nie vol genoeg nie

Basjan ·

Geagte Maroela Media, kan u asseblief verduidelik wat “vyfdekolonners” is waarvan gepraat word in die berig?

pieter ·

EK VOORSPEL N MAFIA STAAT AS ZUMA HIERDIE EEN OORLEEF. EK WEET ONS IS AL DAAR IN WOORD MAAR HIERDIE IS EG.

Hendrik ·

hy sal oorleef ten bate van homself en de dinges met die land en se mense.

Andries ·

As daar gekyk word na wat Molefe en Brown nou kwytraak en daar om verskoning gevra word vir die versoek vir n paar naakfotos en jy kyk na die rede waarom Gordhan afgedank is maak dit nie sin nie.No 1 is nou nerens te sien nie en niemand word afgedank nie.Daar kan nie van die publiek verwag word om hulle verder te glo nie.Bravo Mnr Gordhan, roer hulle.

Magda ·

Korrup dit is wat hulle is – en solank daar n staatskas is waarmee hulle hulle self kan help – sal min mense vir hom stem om te bedank – as hulel deel is van die korrupsie. Ons land is in n gemors, dis al wat ek kan se

Grassie ·

Ek dink Zuma gaan hierdie aanslae teen hom oorleef. Sy vel is so ongelooflik dik – dit lyk of sy teenstanders besig is om ‘n renoster met ‘n .22 te probeer jag. Hy en sy trawante is besig om baie ANC- leiers te oortuig dat die mosie van wantroue eintlik teen die ANC gemik is en nie net teen hom nie. Baie van die LP’s is ook bang vir hom, miskien met rede. Hy aard nogal na Mugabe wat ‘n hele verkiesing oortuigend verloor het maar nogtans daarin kon slaag om aan bewind te bly.
Wat sy eks se aspirasies betref – ons kan wragtig nie nog ‘n Zuma bekostig nie.

Renier ·

Maar net weereens n bewys, van onbevoegdheid. Iemand wat in n posisie is wat arm ingestap het en met miljoene uitstap, kyk maar na Zimbabwe…en al 90% van die Afrika lande, mense wat in besit is van n staatskas vol geld, maar nog nooit geleer is om met gteld te werk, en die waarde daarvan besef nie. Kyk maar na n land soos Amerika, die presidente wat verkies word, het al klaar genoeg van hul eie geld…! Laat mens nogals wonder….

Eish ·

Gelees dat die Zulu’s 22% van die sleepsel Afrika se bevolking is. 45% parlementariers is Zulu. Die president was hoof van die ANC se veiligheidstak toe dit nog verban was. Dis onwaarskynlik dat hy die trekpas gaan kry met sy aangeleerde voetwerk. Hy sal net weer iets laat val soos dat hul Shaka en Dingaan se geeste die hel in gaan maak, dan los hul Hom. Dis Afrika die.

Basjan ·

Eish, ek stem saam. Daai “voorvadeŕgeeste”-ding gaan die knoop deurhak. Ons onderskat die potensiaal daarvan.

Willie ·

Ons staats leierskap, is n verleentheid vir die Land… Ons is seker die “laughing stock van die wereld”… Die hartseerste van als is, dat die hele wereld n blinde oog draai….

A ·

Ek vermoed ook hy gaan oorleef. Weet regtig nie meer wanneer dinge weer beter gaan lyk nie. Ek dink nie Cyril R is Zulu nie. Hy gaan vinnig die trekpas kry. Zuma bou sy eie tribe om hom. Mense, ons moet baie hard bid.

Nel ·

Hy’s blykbaar ‘n Venda, maar volgens talle berigte op internet lyk dit nie asof hy dit graag aan die groot klok wil hang nie.

Anoniem ·

Psalm 2: “Waarom is daar onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne – en dit tevergeefs?…..Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle.”

A, ek stem saam met jou. Ons moet baie hard bid.

Hendrik ·

Ek dink oor ‘n paar jaar gaan Kwa-Zulu Natal aansoek doen om ‘n federale staat te word en onderleiding van die Zulu koning en Zuma. Die geld wat in Nkandla en die Zulu paleis spandeer word is te gou ontbloot. Wie weet wat kan gebeur in Afrika, Suid-Afrika……

Ammie Herbst ·

Eintlik moet ons die swak regering stuit deur almal op te hou om enige gelde oor te betaal aan die Ontvanger van Inkomste (staatskas/regering). Dit is die enigste manier wat ons geld nie meer gemors gaan word op Zuma en die regerings amptenare nie.
Ons hou aan deur ons nekke betaal vir korrupsie en bedrog. Hou op om die staatskas vol te maak.

Andre ·

Die verhouding tussen die “linkse” en “regse” elemente in die ANC/Cosatu/SACP alliansie het eintlik reeds so versuur dat dit nie onwaarskynlik is dat Cosatu en die SACP binnekort ‘n nuwe politieke party sal stig nie. Onthou, hierdie twee bondgenote wil die armoede gelykop verdeel onder die plebs terwyl die ANC deur BBBEE hul kloue in die “white monopoly capital” koekblik gesteek het vir persoonlike gewin. Die kaders word vernaam en ryk terwyl die werkersklas afgeskeep word. Miskien sal die ANC nie meer te veel kan staatmaak op die werkersklas se ondersteuning nie. Kom ons kyk maar wat gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.