Nuuskommentaar: Gedrag by sokker prut ook rassisme-debat in Europa

Die sokkerspeler Taison (regs) huil terwyl hy die veld verlaat nadat hy ‘n rooikaart gekry het vir sy reaksie tot ‘n beweerde voorval van rasissme. Foto: (AP Photo/Oleksandr Osipov)

Sport word dikwels, ook in Suid-Afrika, as brugbouer tussen gemeenskappe beskou, maar dit kan ook ontspoor soos dit nou in Europa periodiek doen.

Van toeskouers wat swart sokkerspelers tydens wedstryde in Europa ’n piesang aanbied en die een rasseherrie na die ander veroorsaak, tot toeskouers wat met aapgeluide saamspan om swart spelers te tart, is besig om ’n “debat” oor rassisme in Europa te voed. Sokkerbeheerliggame het hul hande vol en in een van die vroeë strafmaatreëls is ’n Moskouse sokkerklub aangesê om ’n aantal van sy tuiswedstryde sonder toeskouers te speel, wat ’n aardige verlies aan inkomste beteken het.

’n Italiaanse sokkerafrigter het die storm tot bedaring probeer bring deur aan te voer dat die aapgeluide nie altyd rassisme as oorsprong het nie, in elk geval nie in Italië nie. En nou is Duitsland in ’n erg emosionele en omstrede voorval by die debat ingesleep nadat ’n swart speler met ’n rooikaart gestraf is na hy vroeër in die wedstryd deur toeskouers met aapgeluide en ander rassistiese uitlatings getart is.

Die speler, Jordan Torunarigha van die klub Hertha BSC, is in die wedstryd teen Schalke deur ’n teenstander met ’n onwettige skouerloop uit die veld uit “getorpedeer”. Torunarigha, van Nigeriese afkoms, het hierna ’n mandjie langs die veld van frustrasie omgeskop, en die skeidsregter het sy tweede geelkaart vir die speler gewys, wat ’n outomatiese rooikaart beteken het.

Sy ontstoke spanmaats en afrigter het vertel hoe die emosionele Torunarigha op die veld gestaan en huil het na hy gedurende die wedstryd telkemale aapgeluide en rassistiese aanmerkings deur toeskouers moes verduur. So erg dat die afrigter die skeidsregter gevra het om Torunarigha onder sy beskerming te neem. ’n Spanmaat het dit wat Torunarigha oorgekom het, as “afgryslik” beskryf, terwyl die afrigter gesê het dat sou dit hom oorgekom het, het hy waarskynlik gek sou geword.

Maar hoe omvangryk is die probleem? Hoewel dit geen akkurate aanduiding kan gee nie, dui Google-trefslae wel deeglik dat daar ’n omvattende probleem is. Die soekterme “ape noises soccer Europe”, lewer net minder as ’n miljoen trefslae op. “Monkey noises soccer Europe” lewer byna drie miljoen trefslae, “ape sounds soccer Europe” ook meer as twee miljoen (en as soccer met football vervang word, byna vier miljoen), “monkey sounds soccer Europe” meer as ses miljoen, en so kan die verskillende moontlike variasies van soekterme enorme syfers oplewer.

Word die Nederlandse soekterme apengeluiden voetbal Europa” ingevoer, is daar 7 800 trefslae, en as Europa met Nederland vervang word, is daar meer as 20 000 trefslae. Die Duitse “Affengeräusche Fussball” lewer bykans 8 000 trefslae op, wat aandui dat die probleem in Duitssprekende Europa, naamlik Duitsland, Oostenryk, Switserland en kleiner gemeenskappe soos onder andere in België en Italië, moontlik (nog) nie so groot is nie. Boonop handel die Duitse berigte tot ’n groot mate oor die jongste voorval, of oor rassistiese voorvalle in veral Engelse en Nederlandse sokker.

Van die reaksies om die warm gemoedere te kalmeer is ongelooflik lomp, soos om te sê dat vir bepaalde mense gekleurde mense wel ape is, of dat alle mense ape is. Die voorkoms van rassisme word in al hoe meer lande onder die loep geneem, onder andere omdat al hoe meer lande in Europa gekleurde immigrante ontvang. In ’n onlangse Afrika-uitgawe van The Conversation is gefokus op die vraag hoekom so baie Nigeriërs na Europa wil verhuis. Die antwoord is dat sake tuis redelik erg geskets word, met Boko Haram wat geen geringe rol nie hierin speel. Daarteenoor word Europese lande as lande van melk en heuning voorgehou. Hoe misleidend hierdie boodskappe van melk en heuning kan wees, blyk uit die ontnugtering wat vlugtelinge in Suid-Afrika ervaar weens werklikhede soos werkloosheid, ’n ingeduikte ekonomie en xenofobie. Nie alle “vlugtelinge” kom ook hierheen met edel motiewe nie, en baie Suid-Afrikaners het persepsies soos dat Nigeriërs by dwelmhandel, prostitusie, swendelary (selfs via die stigting van kerkgenootskappe) en ander misdade betrokke is.

Die voorkoms van rassisme in Suid-Afrika het baie oorsake, terwyl daar ook verbasend baie goedgesindheid ook nog oorbly. Dit is egter tragies dat juis die persone en instansies wat die toon teen rassepolarisasie moet aangee, insluitend die Menseregtekommissie (deur ras-onewehandigheid), die regering deur onder meer sy grondgryp sonder vergoedingsplanne en selfs die president met uitsprake soos dié in sy versoeningsdagredes die afgelope twee jaar, ’n ambassadeur met erg kwetsende rassistiese uitlatings, en opposisieleiers soos Julius Malema, die pot vol drek bly stook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Werner ·

Ja en ons moet heel dag hoor kill a farmer kill a boer wat baie erger is want hulle doen dit so aan die spelers bou maar n brug en kom daar oor

Luister ·

Nou wat nou? Is dit nie die einste nasies wat sanksies opgestel het teen die destydse Suid Afrika oor menseregte nie? Het hulle dan nou van opinie verander noudat hulle met die ware Jakob te doen het in hulle eie agterplaas?

Chris ·

Die wiel draai stadig maar seker. Die “holier that thou” Ingelse het ook na die BAFTA toekennings begin klappe kry. Natuurlik sal hulle dit nie rassisme noem nie, maar DIVERSITEIT. Die meriete en uitnemendheid van ‘n goeie draaiboek, akteur en wat daarmee saamgaan is nou ook onder die vergrootglas by die land van die Rassiste Polisie. Die man in die straat in Europa omarm/liefkoos die agtergeblewene solank hy is Afrika oorleef en nie in sy land kom plak en kripeer nie. Dubbele standaarde. Kry vir julle.

Leon ·

‘n Feit soos ‘n koei is, die VSA, Kanada en Australië is die Wereld se mees rassistiese lande. Hulle het dit net nie op die wetboek nie. ‘n Indiër vriend van my was in die VSA met vakansie. Toe hy terugkom, toe soen hy die aanloopbaan, so bly was hy om terug te wees. Sy woorde was. Suid Afrika is nie rassisties nie. Nou wat moet ek daarop sê.

Niklaas ·

As daar opgetree word teen rassisme moet stappe geld t.o.v. alle bevolkingsgroepe . Ongelukkig word nie almal oor dieselfde kam geskeer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.