Nuuskommentaar: Geduldig, gedienstig, gedwee …

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Ntswe Mokoena, GCIS

Gaan Suid-Afrikaners vandag weet wat die lot van pres. Jacob Zuma is, of gaan die spel om van hom ontslae te raak nog tot 2019 voortduur? Feit bly dat die publiek ongeduldig is, en nie bereid is om gehoor te gee aan die ANC se oproepe vir geduld nie.

Opskrif ná opskrif lui dat die land en sy mense nou by ongeduld verby trek in hul haas dat Jacob Zuma die politieke toneel verlaat. Tot dusver lyk dit of die ANC nie oor die uitklophou beskik nie, en die top-ses en laer strukture kry die beeld van ’n flou makou.

So eenvoudig is dit nie. Zuma se posisie word tot 2019 as’t ware grondwetlik verskans – solank hy hom nie te buite gaan, en die ANC besluit om deur ’n mosie van wantroue, of ’n staat van beskuldiging van hom ontslae te raak nie. Zuma het binne die ANC skynbaar nog te veel steun deur hom sy partylidmaatskap te ontsê.

Dit is die gewone publiek, binne en buite die ANC, wat nou kookpunt bereik met Zuma se manewales om te kan klou. Daar is vir Zuma uiteraard baie op die spel, soos honderde strafregtelike aanklagte waarvan talle ’n minimum gevangenisstraf van 15 jaar elk dra.

Baie Suid-Afrikaners verwag ’n soort ekonomiese wonderwerk die dag wat Zuma vertrek. Die idee is nie heeltemal vergesog nie – ekonomie is iets wat dikwels in mense se koppe afspeel, en as daar persepsies van beterskap is, volg die werklikheid sommer gou.

Die noodsaak dat Zuma moet vertrek en sy ontplooide kaders saam met hom, is pas weer gedemonstreer deur die verslag van die openbare beskermer oor die Vrede-melkprojek. Die uitkoms herinner sterk aan die afloop van die Seriti-kommissie se ondersoek na die wapenskandaal.

Berigte en gerugte oor wat in die armdrukkery met Zuma na vore kom, is volop. Een berig lui Zuma wil net genoeg tyd hê om die kernkrag-“ooreenkoms” met Rusland deur te druk. Ander lui dat Zuma amnestie teen vervolging verlang, met die stertjie dat hy genooi word om staatsgetuie te word. Nog berigte lui dat hy en sy gesin voortaan goed versorg word. Om die regsmilieu vir enige van hierdie opsies te skep sal tyd neem, en baie kwesbaar wees vir teenoptrede deur byvoorbeeld die opposisiepartye en burgerlike instellings.

’n Yslike klip in die skoen is dat Zuma self glo dat hy ’n goeie president is. Sodoende word enige vooruitsig dat hy “ter wille van die land se beswil” die amp vaarwel moet toeroep, nek omgedraai, en voel hy dat hy heel geregtig is om sy hakke in te slaan.

Vanuit akademiese kringe is die moontlikheid van vrywaring in ’n stadium sterk bepleit, maar die verset van die publiek was soos ’n betonmuur.

Die verwagtinge is groot dat Zuma vandag die handdoek gaan inwerp en bedank – hoewel enige idee van ’n tydsbestek vaag is.

Suid-Afrika is nie heeltemal uniek nie. In Brasilië is teen pres. Luiz Inácio Lula da Silva (2003 – 2011) opgetree. Ná ’n staat van beskuldiging is hy tronkstraf weens korrupsie opgelê, en toe hy appèl aanteken, is die tronkstraf verleng. Sy opvolger en die persoon wat die saak teen hom gedryf het, Dilma Rousseff (2011 – 2016), het haar in ’n staat van beskuldiging bevind, en is afgesit. Adj.pres. Michel Temer, wat die leisels oorgeneem het, is ook kort voor lank deur korrupsie-aanklagte in die gesig gestaar, maar deur ’n hof vrygespreek.

Suid-Afrika en Brasilië ry wipplank op die internasionale korrupsie-indeks.

Ook Frankryk en Israel het die afgelope klompie jare ervaar hoe hul president of gewese eerste minister weens korrupsie hom teen die reg vasloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johanna Botha ·

Hy los SA met n groot gemors ! Dit gaan JARE neem indien ooit om die skade en verroting van die anc te herstel ….nog n bewys dat jy presies kry waarvoor jy stem !

My raaiskoot ·

Ek raai Zuma gaan bly na vanmiddag, ek wed julle dat ons na vandag steeds onseker gaan wees en dat hierdie maar net nog n doellose besluitlose ruggraatlose krimineelbeskermende vergadering gaan wees. Hopelik is ek verkeerd.

dr. Sakkie van der Merwe ·

As Zuma waai sal dit soos Herman dit stel met sekere voorwaardes geskied. Die regsproses teen hom sal uitgerek word totdat daar nie meer ‘n dossier of getuie oorgebly het nie. Gaan sy vertrek dinge verander? Dit bly die ANC wat aan bewind is met grondonteiening, naamsveranderings, SEB om nie te praat van plaasmoorde, verkragtings en bedrog nie. Daar is vir die Blanke nie lig in die tonnel nie. Afskeiding, sesessie, eie gebied? Dit sal alleen kom as ons so in ‘n hoek gedruk word dat ons nie verder kan gaan nie.

L R ·

Die blote feit dat Zuma soveel eise het is stllswyend ‘n erkenning, van hom, dat hy skuldig is aan ‘n magdom van strafregtelike misdade wat hy gepleeg het. Die belastingbetaler in SA SAL NIE sy regskostes dra nie, hiervoor sal die opposisiepartye en die burgelike samelewing, soos deur Herman uitgewys, sorg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.