Nuuskommentaar: Geen onafhanklikheid vir Nieu-Caledonië

ʼn Vrou berei haar stembrief voor by ʼn kiesstasie in Noumea, Nieu-Caledonië as deel van ʼn onafhanklikheidsreferendum (4 November 2018). Foto: AP Photo/Mathurin Derel

Die inwoners van Nieu-Caledonië het pas teen onafhanklikheid van Frankryk gestem. Dis egter kwalik so eenvoudig met die oorspronklike inwoners, die Kanake wat meestal onafhanklikheid voorstaan, maar nou ’n minderheid in hul eie land uitmaak. 

Die feit dat byna 57% van die stemgeregtigdes van hierdie Franse gebied in die Stille Oseaan teen onafhanklikheid gestem het, kan nie sonder meer as ’n klap vir die opkomende nasionalisme wêreldwyd beskou word nie. Kolonialisme het ongetwyfeld ’n stewige klap weg.

Maar is dit nie ’n weersprekende stelling nie?

Die feit is dat die meerderheid Kanake, die oorspronklike bewoners van dié eilandgroep, onafhanklikheid voorstaan, vertel die ander verhaal. Hulle maak egter net 39% van die bevolking uit.

Nieu-Caledonië het in 1853 ’n Franse besitting (kollektiwiteit) geword toe Keiser Napoleon opdrag daartoe gegee het. Dit het formeel as Nouvelle-Calédonie bekend gestaan. Verskeie lande het egter al ’n geruime tyd voor 1853 belange in die eilande gehad, waaronder die VSA en Brittanje, wat onder meer by walvisjag betrokke was.

By geleentheid is die bemanning van die Amerikaanse skip, die Cutter, deur die inboorlinge doodgemaak en opgeëet. Kannibalisme was algemeen op die eilande.

Heelwat mense het in die sogenaamde Blackbirding betrokke geraak, ’n skuilnaam vir die wegvoer van Kanake om onder meer op suikerplantasies in Fidji en Queensland te gaan werk.

Roch Wamytan, voormalige leier van die onafhanklikheidsparty, Union Caledonienne, maak gereed om sy stem uit te bring by ʼn kiesstasie in Le Mont-Dore, Nieu-Caledonië tydens die onafhanklikheidsreferendum (4 November 2018). Foto: AP Photo/Mathurin Derel

Intussen het heelwat mense van Europese herkoms hulle op die eilande kom vestig, en ook mense van die Polinisiese Eilande, mense van Suidoos Asië en selfs mense uit Noord-Afrika. Die Kanake het ’n minderheid in hul eie land geword.

Dit word dikwels gesê dat Frankryk mettertyd beter verhoudinge met sy oorsese besittings onderhou het as byvoorbeeld Brittanje. Belowende mense van die kolonies het byvoorbeeld in Frankryk universiteitsopleiding gekry asof hulle Franse was, en van hulle het na hul lande van herkoms teruggekeer om leidende rolle op te neem. Die stelling van beter verhoudinge word egter onder ander skynbaar weerspreek deur die Algerynse oorlog, wat minstens een massaslagting van wit koloniste opgelewer het.

Aan die ander kant verkies verskeie oorsese gebiede om nie onafhanklik te word nie, onder andere Reunion, Mayotte en Frans Guyana. Frans Guyana maak staatkundig ’n direktoraat (provinsie) van Frankryk uit en word in die Franse parlement verteenwoordig asof dit deel van Frankryk self is. Die lanseergeriewe van die Europese Ruimteagentskap is ook hier gesetel.

Mayotte het oorspronklik as deel van die Maldives onafhanklik geword, maar kort voor lank weggebreek en weer deel van Frankryk geword.

Nieu-Caledonië verkeer staatkundig in ’n soortgelyke posisie, en die plaaslike administrasie ontvang jaarliks ’n aansienlike finansiële bydrae van Frankryk en verskeie hulpprogramme word aangepak.

ʼn Man maak gereed om te stem by die kiesstasie in Noumea, Nieu-Caledonië (4 November 2018). Foto: AP Photo/Mathurin Derel

Die ander kant van die munt is deel van ’n wêreldwye werklikheid, waar die oorspronklike inwoners ’n minderheid in hul eie land uitmaak. Een eiesoortige voorbeeld is die Afrikaner, wat sekere staatkundige uitdagings bied. Onder die bekende voorbeelde is die Rooihuide in die VSA, die Aborigines in Australië en die Maori’s in Nieu-Seeland. Minder bekend is dalk dat die pre-Indiese bevolking in Indië ’n klein minderheid in die land uitmaak. Ook die Anoe, Japan se oorspronklike inwoners van Kaukasiese herkoms, is nou ’n klein minderheid en hoofsaaklik tot die noordelike eiland beperk. Die betrokke lande tref gewoonlik staatkundige maatreëls, soos gereserveerde setels in die Indiese en Nieu-Seelandse parlemente, en ’n Maori-kongres (parlement) in Nieu-Seeland.

’n Interessante variasie is die Joodse staat in Siberië, Joodse Outonome Oblast (Евре́йская автоно́мная о́бласть,) maar waar die Jode ’n minderheid uitmaak. Volgens die jongste sensussyfers is slegs 1% van die bevolking deesdae Joods, en 93% etniese Russe. Tog staan dit as een van twee Joodse state bekend, die ander een Israel. Dié nie-onafhanklike staat leen hom egter tot ’n bespreking op sy eie.

Vroue staan agter gordyne in die kieshokkies van ‘n kiesstasie in Noumea, Nieu-Caledonië (4 November 2018). Foto: AP Photo/Mathurin Derel

In Suid-Afrika kan by terugskoue na onder meer die aanslag teen Afrikaans, min twyfel bestaan dat die meerderheid onderhandelaars by Kodesa staatkundig skeefgetrap het. ’n Grondwetlike aanpassing deur die destydse Vryheidsfront geïnisieer maak nou in beginsel vir korporatiewe en geografiese selfbeskikking as deel van Suid-Afrika voorsiening.

Hoewel die stempersentasie in Nieu-Caledonië hoog was, 80%, het verskeie insidente tog op ’n mate van ongelukkigheid gedui. Sewe motors is beskadig, en twee voorvalle van klipgooiery het voorgekom.

Frankryk wil harmonie op dié eiland handhaaf op ’n soortgelyke wyse as wat die Kodesa-onderhandelaars op die proef gestel het.

Pres. Emmanuel Macron het dit soos volg uitgedruk: “Die Nieu-Caledoniërs het gestem om Frans te bly. Dit is ’n blyk van vertroue in die Franse Republiek, sy toekoms en waardes.”

Macron het voorts gesê hy het begrip vir die teleurstelling van die Kanake, maar daarop gewys dat Frankryk die vryheid, gelykheid en broederskap van elkeen waarborg. Dit klink baie soos die Suid-Afrikaanse grondwet en veral die Handves van Menseregte. Met ’n aantal hofsake in die Konstitusionele Hof is boonop agteruit geboer wat internasionaal-erkende minderheidsregte betref.

Die laaste stem oor die Nieu-Caledoniese kwessie is nog nie uitgebring nie. Volgens ooreenkoms kan die inwoners tot 2024 nog twee keer die stemburo’s oor moontlike onafhanklikheid nader.

Sal die Afrikaner en ander minderhede ooit die geleentheid kry om te stem oor ’n vorm van selfbeskikking? Of moet ander modifikasies gesoek word?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Hendrik ·

Om jou laaste 2 vrae te beantwoord. Nee en ja ander modifikasie sal moet gesoeg word. Gebiede sal maar self ontwikkel word met eie koste soos die twee gebiede tans ‘n voorbeeld is van selfontwikkeling. Met die basis gele die afgelope 24 jaar kan hierdie gebiede snel ontwikkel met investering van goedgesinde filantrope, buitelandse fondse, entrepeneurs en burgeregte organisasies. Die wettige strukture is reeds daar om met al die stads-en streeks beplande SLUMA wetgewing en akte geregistreerde aandeleblokskema maatskappye as basis om hierdie gebiede te ontwikkel. Nou soek ons meer befondsing en meer mense wat in hierdie gebiede kom woon. Julle kan natuurlik naby julle huidige dorpe en stede sulke gebiede ontwikkel.

Rasper ·

Eendag is eendag…. Ek is nie blind vir die moeilikheid wat die Afrikaner gaan hê om selfbeskikking te kry nie. Ons is wyd verspreid, en hardkoppig. Sit die twee saam, en Afrikaner onafhanklikheid sal net bly by forums soos hierdie. Orania wys hoe dit sal werk as ons dit anders wil doen. M.a.w, selfbeskikking = klippe kou. Maar daarvoor is ons te gemaklik nog. Die Kaap is natuurlik heelwat anders. Daar is ‘n groot groep mense wat baie dieselfde dink en dinge doen. Hulle praat dieselfde taal, en is in alle opsigte dieselfde. Hulle het nou ‘n laaste kans om alles te gebruik om die Wes Kaap en Noord Kaap onafhanklik te kry. As hulle dit nie nou gaan doen nie, gaan hulle ook in die toekoms ‘n minderheid wees. Dit is nou soos daar duisende emmigrante van die Vrystaat, en Oos-Kaap hulle daar gaan vestig. Ongelukkig het die DA hier ‘n rol om te speel, en hulle sal NOOIT vir so iets gaan nie. Dit is hier waar die burgers van die Kaap hulle stemme sal moet dik maak, en op elke forum onafhanklikheid eis. As julle wil sien hoe die Kaap gaan lyk oor 10 jaar, klim in ‘n bus en kom kuier hier bo…

Jerry ·

Die Afrikaner hoef niemand se toestemming te vra of modifikasies vir selfbeskikking aan te bring nie. Doen dit net soos wat die ANC deur NDR programme selfbeskikking en afsonderlike ontwikkelling implementeer vir swart, Indier en bruinmense en wat witmense uitsluit. As die ANC dit ten doel het en doen om afsonderlik te ontwikkel, is daar wettiglik niks wat die Afrikaner verhoed wat dit ook ten doel het om afsonderlik te ontwikkel om swart, Indier en bruinmense uit te sluit. As die VF die ANC hof toe vat vir diskriminasie omrede hulle witmense uitsluit, dan skiet die VF hulself in die voet, want die ANC afsonderlike ontwikkelling wat witmense uitsluit regverdig Afrikaner afsonderlike ontwikkelling en selfbeskikking!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.