Nuuskommentaar: Geen staatskaping? Werklik, Jacob Zuma?

Voormalige pres. Jacob Zuma (Foto: ANA)

Jacob Zuma het waarskynlik menige Suid-Afrikaner kop laat skud, en selfs glimlagte ontlok met sy stelling dat staatskaping (in Suid-Afrika) nie bestaan nie.

Die ondersoek na staatskaping is ’n mors van tyd, want die staat is nie gekaap nie. Aan die woord is oudpresident Zuma en hy gaan haal sy argument diep, byna op ’n akademiese vlak. Hy is nogal half reg as hy aanvoer dat ’n staat uit drie dele bestaan, naamlik die wetgewende, regterlike en uitvoerende gesag. En was enigeen van hulle gekaap?

As daar meriete in Zuma se stelling is, is dit seker nodig om te besin of die woord “staatskaping” die regte een is, want iets belangriks is immers gekaap. En dit wat gekaap is, verhinder dat die staat in die beste belang van die land kan optree. (Kyk beskrywing van die term “staatskaping” hier.) In kort kom dit daarop neer dat korrupte, private belange so aangewend word dat die staat se besluitnemingsbevoegdhede so ondergrawe word dat die staat nie meer behoorlik staatsbelange dien nie. Zuma se invalshoek ontbreek heeltemal.

Sou die term “regering” nie beter as “staat” gewees het in hierdie verband nie? ’n Staat moet immers grondgebied hê, of korporatief baie goed gevestig wees om ’n staat genoem te word. Hy moet oor burgers beskik, die swaardmag verantwoordelik kan aanwend en vele meer.

Benewens die amptelike boustene as ’n mens van ’n demokrasie praat, is daar nog die nie-amptelike, soos die media, wat naas die formele trias politica ’n vierde, nie-amptelike been verskaf. Voorts vul burgerlike instellings die regering aan en sorg dat daar nie ’n diktatuur van die meerderheid, of ’n diktatuur van politieke korrektheid ontstaan nie.

Sodra daar sprake is dat die burger se demokratiese regte ingeperk word deur byvoorbeeld die erodering van die skeiding van magte, korrupsie, onbevoegdheid, nepotisme, viktimisasie en vele meer, word dele van die staat/regering gekaap. Dit geld ook die wegkalwing van minderheidsregte, en kan selfs gebeur deurdat dit deur die regbank self in die voet geskiet word.

Hoeveel elemente van staatskaping moet daar dan teenwoordig wees voor staatskaping erken word? Of moet dit eers volledig afgehandel wees voor dit erken sal word? Dit is problematies, want dit is ’n grootliks kriminele proses, en beteken misdaad word “oorgesien” tot die staatskaping volledig genoeg uitgekristalliseer het.

Staatskaping is nie heeltemal nuut nie. Wyle prof. OJO Ferreira beskryf in sy boek Broederskap (wat oor die Afrikanerbond se eeufeesherdenking handel) hoe premier Jan Smuts senior amptenare en onderwysers verbied het om lid van die AB te wees – in wese om te voorkom dat ’n staat binne die staat tot stand kom en die gewone demokrasie ondermyn.

Dit is soms nie maklik nie om te onderskei tussen die onwenslike praktyke van staat binne die staat, en waar ’n (onwillekeurige) strewe na tegnokratiese invloed en ingrepe ontwikkel om leemtes wat in die demokrasie ontwikkel, kundig aan te spreek. Sekere dele van Broederskap is inderdaad deurspek met die stel van tegnokratiese ideale, sonder om dit by die naam te noem. Om een voorbeeld te noem: In 2015, na aanleiding van die druk wat die Afrikaner in die nuwe Suid-Afrika ervaar, is sy visie onder meer soos volg gestel: “Dit is ons visie vir Suid-Afrikaners wat hulself nie kan of wil isoleer van Suid-Afrika nie. Hierdie is nie kritiek op iemand wat anders dink of doen nie, inteendeel, daar is nou ’n desperaatheid te bespeur wat verstaanbaar is en waarin oplossings gesoek word” (p161).

Ooreenkomste tussen staatskaping en die vul van krake deur die tegnokrasie is bloot baie oppervlakkig en staan as teenpole by motief.

Met die bekendstelling van Solidariteit se Plan B onder omstandighede met heelwat raakvlakke van dit wat die AB ervaar en ervaar het, het Max du Preez in weerwil van die kloof tussen die begrippe geskryf dat Solidariteit ’n staatskaping op die Afrikaners uitgevoer het.

Die edel motief van tegnokrasie mag nie verwar of gemeng word met die kriminele motiewe wat staatskaping onderlê nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
christa

hy is so glad soos ‘n paling. Die staat kom in elk geval nie sover om hom te vervolg nie, hy hoort lankal agter tralies.

Spike

Jy kan hierdie mense op heterdaad betrap, dan stry hulle nog dis nie hulle nie.

Rasper

Staatskaping. Dit het my laat dink aan die lyne op ‘n kaart. En a.g.v daardie lyne, het iemand met ‘n heel ander kultuur, seggenskap oor my. Maak wette, soos bv. dat hy my eiendom mag vat. Net oor daardie lyne op ‘n kaart. A.g.v daardie lyne mag die persoon met die meeste kinders, binne daardie lyne, besluit wat met my kinders se skool gebeur. Hoe my belasting geld aangewend word. Klink nie reg nie. Al is Zuma weg, word hy net vervang deur iemand anders. Ongelukkig is sy plaasvervanger net bietjie slimmer, en meer slinks. Want, Ramaphosa verstaan lyn politiek… Lees meer »

Willie

Dans dit nog rassities ook…

Eish

Ek was 41jaar gelede in matriek. Tog, die idiome wat ek geleer het, kry nou eers werklik betekenis.
Wat my te binne skiet is :
” Hy het die klok hoor lui, maar weet nie waar die bel hang nie.”