Nuuskommentaar: Geen staatskaping? Werklik, Jacob Zuma?

Voormalige pres. Jacob Zuma (Foto: ANA)

Jacob Zuma het waarskynlik menige Suid-Afrikaner kop laat skud, en selfs glimlagte ontlok met sy stelling dat staatskaping (in Suid-Afrika) nie bestaan nie.

Die ondersoek na staatskaping is ’n mors van tyd, want die staat is nie gekaap nie. Aan die woord is oudpresident Zuma en hy gaan haal sy argument diep, byna op ’n akademiese vlak. Hy is nogal half reg as hy aanvoer dat ’n staat uit drie dele bestaan, naamlik die wetgewende, regterlike en uitvoerende gesag. En was enigeen van hulle gekaap?

As daar meriete in Zuma se stelling is, is dit seker nodig om te besin of die woord “staatskaping” die regte een is, want iets belangriks is immers gekaap. En dit wat gekaap is, verhinder dat die staat in die beste belang van die land kan optree. (Kyk beskrywing van die term “staatskaping” hier.) In kort kom dit daarop neer dat korrupte, private belange so aangewend word dat die staat se besluitnemingsbevoegdhede so ondergrawe word dat die staat nie meer behoorlik staatsbelange dien nie. Zuma se invalshoek ontbreek heeltemal.

Sou die term “regering” nie beter as “staat” gewees het in hierdie verband nie? ’n Staat moet immers grondgebied hê, of korporatief baie goed gevestig wees om ’n staat genoem te word. Hy moet oor burgers beskik, die swaardmag verantwoordelik kan aanwend en vele meer.

Benewens die amptelike boustene as ’n mens van ’n demokrasie praat, is daar nog die nie-amptelike, soos die media, wat naas die formele trias politica ’n vierde, nie-amptelike been verskaf. Voorts vul burgerlike instellings die regering aan en sorg dat daar nie ’n diktatuur van die meerderheid, of ’n diktatuur van politieke korrektheid ontstaan nie.

Sodra daar sprake is dat die burger se demokratiese regte ingeperk word deur byvoorbeeld die erodering van die skeiding van magte, korrupsie, onbevoegdheid, nepotisme, viktimisasie en vele meer, word dele van die staat/regering gekaap. Dit geld ook die wegkalwing van minderheidsregte, en kan selfs gebeur deurdat dit deur die regbank self in die voet geskiet word.

Hoeveel elemente van staatskaping moet daar dan teenwoordig wees voor staatskaping erken word? Of moet dit eers volledig afgehandel wees voor dit erken sal word? Dit is problematies, want dit is ’n grootliks kriminele proses, en beteken misdaad word “oorgesien” tot die staatskaping volledig genoeg uitgekristalliseer het.

Staatskaping is nie heeltemal nuut nie. Wyle prof. OJO Ferreira beskryf in sy boek Broederskap (wat oor die Afrikanerbond se eeufeesherdenking handel) hoe premier Jan Smuts senior amptenare en onderwysers verbied het om lid van die AB te wees – in wese om te voorkom dat ’n staat binne die staat tot stand kom en die gewone demokrasie ondermyn.

Dit is soms nie maklik nie om te onderskei tussen die onwenslike praktyke van staat binne die staat, en waar ’n (onwillekeurige) strewe na tegnokratiese invloed en ingrepe ontwikkel om leemtes wat in die demokrasie ontwikkel, kundig aan te spreek. Sekere dele van Broederskap is inderdaad deurspek met die stel van tegnokratiese ideale, sonder om dit by die naam te noem. Om een voorbeeld te noem: In 2015, na aanleiding van die druk wat die Afrikaner in die nuwe Suid-Afrika ervaar, is sy visie onder meer soos volg gestel: “Dit is ons visie vir Suid-Afrikaners wat hulself nie kan of wil isoleer van Suid-Afrika nie. Hierdie is nie kritiek op iemand wat anders dink of doen nie, inteendeel, daar is nou ’n desperaatheid te bespeur wat verstaanbaar is en waarin oplossings gesoek word” (p161).

Ooreenkomste tussen staatskaping en die vul van krake deur die tegnokrasie is bloot baie oppervlakkig en staan as teenpole by motief.

Met die bekendstelling van Solidariteit se Plan B onder omstandighede met heelwat raakvlakke van dit wat die AB ervaar en ervaar het, het Max du Preez in weerwil van die kloof tussen die begrippe geskryf dat Solidariteit ’n staatskaping op die Afrikaners uitgevoer het.

Die edel motief van tegnokrasie mag nie verwar of gemeng word met die kriminele motiewe wat staatskaping onderlê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

christa ·

hy is so glad soos ‘n paling. Die staat kom in elk geval nie sover om hom te vervolg nie, hy hoort lankal agter tralies.

Spike ·

Jy kan hierdie mense op heterdaad betrap, dan stry hulle nog dis nie hulle nie.

Rasper ·

Staatskaping. Dit het my laat dink aan die lyne op ‘n kaart. En a.g.v daardie lyne, het iemand met ‘n heel ander kultuur, seggenskap oor my. Maak wette, soos bv. dat hy my eiendom mag vat. Net oor daardie lyne op ‘n kaart. A.g.v daardie lyne mag die persoon met die meeste kinders, binne daardie lyne, besluit wat met my kinders se skool gebeur. Hoe my belasting geld aangewend word. Klink nie reg nie. Al is Zuma weg, word hy net vervang deur iemand anders. Ongelukkig is sy plaasvervanger net bietjie slimmer, en meer slinks. Want, Ramaphosa verstaan lyn politiek baie goed. Eerstens, kry die meeste stemme binne daardie lyne, want dan het jy mag oor almal binne daardie lyne se inkomste, bates en later lewens. Lyn politiek het die staat gekaap, lank voor Zuma gekom het.

Eish ·

Ek was 41jaar gelede in matriek. Tog, die idiome wat ek geleer het, kry nou eers werklik betekenis.
Wat my te binne skiet is :
” Hy het die klok hoor lui, maar weet nie waar die bel hang nie.”

zoom zoom ·

Zuma is ‘n eerlike en opregte burger van SA. Ons kan alles gli wat hy sê want hy is ‘n man wat weet wat hy wik hê en is ook nog daartoeby onaantasbaar. Zuma vir president.

He He He

Paul ·

Dan is die probleem dat daar in die regering net kaders is, dis maar toevallig as iemand ook kundig is. As daar ‘n aanstelling in ‘n pos gedoen word, stel die een kader (broeder?) maar net weer ‘n volgende een aan.

koos1 ·

Nou hoekom is die Guptas land uit en weier om terug te kom? As staatskaping nie bestaan nie, het hulle mos niks om te vrees nie.
Kan iemand vir hom asb verduidelik dat dit ‘n term is om ‘n klomp kriminele oorteredings te beskryf. Goed soos korupsie, geld wassery, omkopery, bedrog, belasting ontduiking ens.

Jerry ·

Max du Preez se aanname dat Afri-Forum en Solidariteit die Afrikaner gekaap het soos per staatskaping met n kriminele motief is nie so vergesog as wat die skrywer reken nie. Eerstens grens dit aan die kriminele om die Afrikaner te mislei deur jou voor te doen as voorstanders vir die behoud van Afrikaans by universiteite net om met opset hofsake te verloor en Afrikaans by universiteite te laat sneuwel. Dit gebeur terwyl Solidariteit reeds n akademia op die been gebring het en nog beplan wat kwansuis dan nou die leemte wat by universiteite ontstaan vir Afrikaanssprekende studente by akademias, te vul. Die motief is dus om n sakeryk te bou deur Afrikaners en Afrikaans uit te sluit uit die breer Suid Afrikaanse gemeenskap en in isolasie in te sluit by Solidariteitsbelange wat kwansuis en toevallig ook Afrikanerbelange is. Met die Afrikaner op stal om laer te trek word geen onreg geduld nie en word sodanige onregte as verskoning gebruik om die naiwe Afrikaner te gebruik om ander instansies en maatskappye soos versekeringsmaatskappye te boikot en eerder te bele en versekering te he by Solidariteit goedgesinde versekering soos Virseker wat dan ook reeds 35 miljoen rand aan Solidariteitsinisiatiewe geskenk het. Die strategie was dus van die begin af om deur onversoenende en ondermynende optrede die Afrikanerbelange n teiken te maak sodat die belange onder dekmantel van selfbeskikking na Solidariteit skuif. Kriminele motief met misleiding en gemenespel vir selfverryking is dus nie so vergesog nie, mnr die skrywer!

Willem ·

Dis hoekom ek Solidariteit en Afriforum se onverskrokkenheid ondersteun.

Willem ·

Voor ek my deur mense soos Max en Liezel de Lange aan die neus laat lei, lees ek eerder die realiteite soos Flip Buys dit vanoggend hier op Maroela in sy artikel “Amerikaanse Burgeroorlog” verwoord.

PLP ·

Dit is heel verstaanbaar dat die man niks weet nie. As jy skaars op skool was dan kan jy nie hierdie soort ingewikkelde sake verstaan nie. Nog minder hoe om n land te regeer, so ander skelms help jou om landsake te doen soos Zuma se geliefde Guptas. Die man is ongeletter, n meulsteen om almal in SA se nek. Hy moet tronk toe. Daar kan hy probeer om sy standerd 3 te kry. Maar hy sal moet lelik krip om daai eksamen te slaag

Marie ·

Ken julle die grappie: Wanneer was die eerste en laaste keer waartydens Afrikaners saam gestaan het? Dit was op die Engelse boot St.Helena toe.Almal moes aan die reling langs mekaar vashou terwyl hulle opgooi.

Robert ·

Kyk hy is so deurmekaar ek wonder of hy weet dat hy as president moes bedank het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.