Nuuskommentaar: Geheime van die Amasone-wonders as die wêreld in ’n neutedop

Foto: (AP Photo/Leo Correa)

Die talle verwoestende brande in die Amasone gaan volgens aanduidings een van die hoofonderwerpe op die G7-beraad wees wat vandag begin. Die brande in die Amasone is egter nie al brande wat op klimaatsverandering dui nie, met brande wat onder meer in Arktiese woude soos in Alaska, Kanada, Siberië en selfs Groenland woed, terwyl sterftes onder bejaardes en kwesbares in Nederland in een week alleen met 400 meer as die gewone sterftes toegeneem het. Die Amasone, wat meer as 20% van die wêreld se suurstof vervaardig, is as vernaamste long van die wêreld egter buitengewoon belangrik.

Die rekord aantal brande en die ontbossing van die Amasone bedreig nie net die klimaat van die aarde nie, dit ontbloot ook eeue oue geheime wat lank onder die groen kleed verberg was. Seker een van die mees fassinerende verhale wat ontvou, is die indrukwekkende beskawings wat eens hier ontwikkel en gefloreer het en intussen misterieus verdwyn het.

’n Verlore stad “Z” met strate en kanale, en grondpiramides, paaie van tot vyftig meter breed en met brûe langs kanale waarop kano’s geroei is en wat nedersettings verbind, geheimsinnige slote van verskillende vorme soos perfekte sirkels en vierkante, oorblyfsels van landerye en die Amasone se eie “Stonehenge” … dit maak alles deel uit van die ontdekkings die afgelope dekades wat daarop dui dat die Amasone eens ’n bevolking van tot 10 miljoen mense gedra het, en dat minstens ’n deel hiervan ’n hoë beskawingspeil gehandhaaf het.

Die beskawing het van ongeveer 2 000 jaar gelede tot ’n 1 000 jaar gelede bestaan. Die erdewerk, skerwe en ander oorblyfsels van erdewerk bevestig die inwoners se beskawingspeil.

Die Amasone-oerwoud het vinnig die spore van hierdie beskawing onsigbaar gemaak, en baie daarvan is eers na grootskaalse ontbossing om weivelde te maak, ontdek.

Die “Stonehenge” bestaan uit enorme granietblokke wat in min of meer ’n sirkel laat staan is. Dit blyk dat sommige van die rotse se plasing astronomies gesinchroniseer is. ’n Deel is ook as begraafplaas gebruik en urns met menslike reste in by die plek gevind. Een van die enorme rotse het ’n groot gat deur.

Die vorme op die grond hou nog baie geheime in. Sowat 400 van hierdie presiese vorme is reeds ontdek, en daar word vermoed dat die oerwoud nog talle verberg.

Soms bied die hoër persentasie voorkoms van bome wat eetbare vrugte oplewer die enigste leidrade dat daar eens ’n nedersetting was.

Een van die geheime van die Amasone is hoe die basies erg onvrugbare grond so ’n enorme woudgebied kan onderhou. Die antwoord daarop simboliseer eintlik hoe interafhanklik verskillende dele van die wêreld reeds lank is. Die antwoord kom uit Afrika se Sahel-gebied waar hierdie kontinent self in ’n stryd gewikkel is om kruipende woestynwerking teen te werk. Die antwoord is rondom die Tsjad-meergebied gevind. Hierdie meer was eens veel groter en dieper as teenswoordig, toe die omgewing se reënval aansienlik groter was. Destyds het die groter meer ook ’n behoorlike uitloop via die Nigerrivier na die see gehad, en het doejongs van die see af na die meer migreer en daar gevestig. Met die dalende watervlak is hulle vasgekeer.

Die opgedroogte deel van die meer word nou jaarliks deur ontsaglike stofstorms geteister, en miljoene ton van hierdie vrugbare bodem word met lugstrome na die Amasone gevoer waar die woude gereeld broodnoodsaaklike voedingstowwe ontvang.

Hoewel elke woudgebied ter wêreld belangrik is om ’n atmosferiese balans tussen suurstof en koolsuurgas te handhaaf, word veral tropiese reënwoude soos die Amasone en die Kongo as vernaamste deel daarvan beskou. Die Amasone word veral as die wêreld se longe beskou omdat meer as 20% van die wêreld se suurstof hier vervaardig word.  Woude is nie net tot die trope beperk nie, en danksy brande wat nou weens klimaatsveranderinge elders toegeneem het, sal baie mense nou eers kennis neem van hul bestaan – en dikwels hoogs bedreigde bestaan. Hieronder tel woude in Groenland se Qinngua-vallei.

Amptelik streef Brasilië daarna dat 70% van die Amasone woudgebied moet bly, en 30% vir landbou, mynbou en ander aktiwiteite benut moet word. Dié beleid word egter gereeld geïgnoreer en die oë effektief toegeknyp wanneer groot dele ontbos word vir onder meer beesboerdery, mynbou en vele meer. Daar is onder meer kommer oor grondgrypers wat onwettig grondgebied van Indiaanse stamme afneem en ontwikkel. Groot riviere bied ook groot potensiaal vir hidro-elektriese krag, en groot damme verswelg al meer gereeld kolossale gedeeltes van die woude te midde van erge kritiek en kommer.

Een van Brasilië se grootste probleme is korrupsie tot op die hoogste vlak. Wat dit betref deel Suid-Afrika en Brasilië meer as net om beide lidlande van Brics te wees. Volgens Transparency International se indeks, is Brasilië selfs nog meer korrup as Suid-Afrika. Op die jongste ranglys het Suid-Afrika die 71ste uit 180 lande geblyk te wees, en Brasilië die 96ste.

Die groot hinderlike is egter dat Brasilië en Suid-Afrika se staatshoofde nie al was wat in die onlangse verlede weens beweerde, of reeds bewese, korrupsie in tamatiestraat beland het nie. In Israel is elke eerste minister die afgelope 20 jaar vir korrupsie ondersoek. Frankryk se gewese presidente staan ook tou om beskuldigings die hoof te moet bied.

Foto: (AP Photo/Leo Correa)

Maar die Amasone is geil wêreld om korrupsie in te pleeg. Die woudgebied bevat nie net waardevolle grondstowwe nie, maar van die houtsoorte is uiters duursaam en waardevol. Tog word nie geskroom om woude blindelings af te brand om die gebied ter wille van ander skatte oop te stel nie.

Tog het die nuwe president, Jair Bolsonaro, met die huidige brande nie goed uit die blokke gekom nie, en is wêreldwyd daarvan beskuldig dat hy die ontbossing van die Amasone steun.

Bolsonaro se reaksie was lomp deur die kritici daarvan te beskuldig dat hulle Brasilië “koloniseer” deur aan te dring dat die land ter wille van die res van die wêreld, sy eie belange oorboord gooi. Nou tree hy egter sterk in die belang van die behoud van die woude op, en het byvoorbeeld 40 000 soldate ontplooi om die brande te help blus.

Brasilië het egter in eie belang ook geen ander keuse as om korrupsie ’n nekslag toe te dien nie. Normaalweg word die Wêreldbank se definisie as geldend beskou dat korrupsie nie net ’n land van sy toekoms beroof nie – in Brasilië se geval kan dit amper die hele wêreld van sy vermoë om leefbaar te wees beroof. Die afgelope somer het nie net verskeie lande soos Nederland en België rekord temperature beleef nie, maar rekordsterftes onder bejaardes en ander kwesbares beleef. In een week was daar in Nederland sowat 400 bykomende sterftes in hierdie kategorieë vergeleke met die normale.

Bolsonaro se aanvanklike reaksie het herinner aan die roof-landboumetodes van die antieke Majas van Sentraal-Amerika, waar hul eertydse stede steeds onder woude wat dit versteek, ontdek word. Die Majas het ten spyte van ’n hoë beskawingspeil wat ’n gevorderde skrifstelsel en ’n meer akkurate kalender as dié van die Weste in die ooreenstemmende tyd, uiters primitiewe landbou beoefen. ’n Stuk woud is eenvoudig afgebrand, en gewasse, soos mielies, geplant deur met skerpgemaakte bamboes gate in die grond te druk en die pitte daarin gegooi. Na sowat drie jaar was die grond onvrugbaar en is nog ’n stuk grond afgebrand. Die proses is herhaal tot die landerye naderhand te ver van die stad was, waarop die stad verlaat is, en ’n ander elders opgerig is, en waar die proses herhaal is.

Verskeie vakwetenskappe het ontwikkel wat na verskillende aspekte van klimaatsverandering in die verlede kyk. Klima-paleontologie strek veel verdere terug as die bestaan van die mensdom, terwyl klima-argeologie onder meer studeer hoe sekere gemeenskappe klimaatsveranderinge kon oorleef, en ander nie. Improvisasie blyk belangrik te wees. Paleo-weerkunde kyk byvoorbeeld na die verband van ruimteweer en siklusse op aarde, omdat nie alle klimaatsveranderinge na die aarde, en ook die mense se rol, teruggevoer kan word nie. Maar die mense se tegnologie het so ver ontwikkel, en die getal mense op aarde het soveel geword, dat die mensdom inderdaad veral kwesbare deel met “moderne” roofbou so hanteer dat die mens sou ’n wesenlike rol speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Bull ·

Hi
Baie goed geskryf Herman TOERIEN, met baie inligting.
Dankie.

Rupert Ashford ·

Goeie stuk om gesprek te begin, maar julle moet wyer lees.

Therese van Schalkwyk ·

Baie interessant, veral die onvrugbare grond van die Amasone. Wie sou dit nou kon dink?
Hoewel die Amasone-brande uiters tragies en kommerwekkend is, is die skynheiligheid van wêreldleiers werklik lagwekkend. Hand in eie boesem is nodig wat hierdie onderwerp betref, want geen woud het nog ooit in die pad van die ekonomie of ‘vooruitgang’ gestaan in énige land nie, en wegholbosbrande neem oral op groot skaal toe.
Dalk kan Macron van Frankryk en ander beswaardes bv. hul groot kommer besweer deur onmiddellik 30% landbougrond in hul onderskeie lande te konfiskeer en met woude te beplant vir die nageslagte.
Die verwoesting van die Aarde is m.i. ongelukkig verby die punt van geen omdraai.

Human ·

Tenminste probeur Macron en ander. Julle deurmekaar vriend Trump propageer, dat daar nie iets soos aardverwarming is. Weghol brande neem nie vanself toe, sommige is van donderweer, meeste is deur mense, as gevolg van gierigheid en onnoselheid.

Therese ·

Ons “deurmekaar vriend Trump” het darem dadelik hulp aangebied uit die VSA en nie skok/kritiek uitgespreek en eers saam met die ander by die G7 gekoukus oor optrede nie.
Versigtig tog om waninligting te versprei. Donald Trump ontken hoegenaamd nie klimaatsverandering nie. Hy bevraagteken die mate waarin die méns daartoe bydra en óf regerings die gang daarvan kan beïnvloed deur “carbon tax”.
Geldige vrae, as ‘n mens natuurlik vir jouself kan dink en nie soos ‘n dooie vis saam met die stroom dryf nie.
My stelling oor wegholbrande is júis gemaak om aan te toon dat ander lande net so skuldig soos Brasilië is.

Human ·

Jou idee van waninligting is net wanneer dit jou pas en wat het ander lande met die ontstaan van brande in Brasilie uit te waai. Meeste van die woud wat afgebrand is se grond is onbenut na kortstondige gebruik. Jou stelling oor geldige vrae is juis dit, ‘n mens moet vir jouself kan dink, die probleem is moet nie, dat jou denke net vir jou pas.

Rupert Ashford ·

Therese, die grond in woude is inderdaad baie arm en die woud voed homself in ‘n sirkulasie proses deur sy eie afval (blare ens) weer af te breek en te gebruik vir voedsel. Vat die woud weg en jy breek die siklus, en dan is dit binne ‘n kort tydjie onvrugbaar. Verder is vuur ook ‘n belangrike deel van die ekologiese siklus. Lae intensiteit of “koue” vuur wat onderbos uitbrand en ook na die aarde laat terugkeer, is ‘n belangrike deel van hoe die woud homself onderhou. Die mens se invloed om hierdie vuur te verhoed/onderdruk (eerder as CO2) het ‘n geweldige groot invloed op die ekologie van die woud en laat onderbos opbou totdat daar ‘n klomp brandstof wag vir wanneer ‘n vuur ontstaan en dan rig dit reuse skade aan.

Natalene Visser ·

Presies wat met die groot brand by Knysna en omgewing so 2 jaar gelede gebeur het.

Therese ·

Interessante feite, Rupert, dankie!
Moet teësinnig erken dat voorbrande seker noodsaaklik is, verkies egter in baie gevalle die outydse brandstroke. Die permanent halfgebrande woude en bosse is só lelik. ;-)

Marinda ·

Baie intresant, baie dankie Herman. En Rupert, dankie dat jy ons herinner het aan dit.

Ek wonder nogal oor waar en wat van al die goggas, insekte en verskillende diere lewe geword het en of hulle darem betyds kon weg kom? Dat alles nie heeltemal verlore sal raak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.