Nuuskommentaar: Gehok deur pandemie – gaan reis landwyd, wêreldwyd vanaf die sitkamerbank

Foto: Denis Degioanni/Unsplash

Met die huidige inperking kan Suid-Afrikaners soos miljoene mense wat elders in die wêreld nou gehok is, hulle besig hou deur aktiwiteite soos ’n boek of wat te lees, legkaarte te bou, die tuin ’n slag reg te ruk, herstelwerkies in en om die huis te doen, te skilder of u kan op ’n landwye of selfs wêreldwye reis gaan – virtueel van u sitkamerbank af. Tegnologie maak dit selfs moontlik om virtueel besoek aan verre sterrestelsels te bring.

’n Groot deel van die wêreldbevolking het nou al ervaring van inperkingsmaatreëls. Oor die noodsaak daarvan kan net mense wat mislei word deur die horde fopnuus wat nou in omloop is, fout vind. En ja, die fopnuus vang bitter baie mense – selfs die mees absurde brokkies fopnuus word vir soetkoek opgeslurp. Joernaliste wat erns maak met hul werk om objektief te berig oor hierdie bedreiging vir die mensdom word genadeloos in die kommentaargeriewe geslag en vir gekke uitgemaak, maar meer nog, wetenskaplikes wat die onderwerp bestudeer, insluitend genetici wat in hierdie veld spesialiseer, word ewe beterweterig deur ongepoetse slagoffers van die fopnuus onder vitrioel begrawe.

Terwyl ’n gemuteerde virus baie mense werklikheidsku maak, verdwyn die werklikheid nie. Tot dusver lyk dit of die strategie om bevolkings te hok, die doeltreffendste is. Om gehok te word, het die konnotasie dat dit ’n vorm van straf is, en al is die bedoeling daarvan nou om deur opoffering ’n pandemie waarvoor daar nog nie ’n teenmiddel onmiddellik beskikbaar sal wees nie, so goed as moontlik onder beheer te bring.

Heelwat navorsing word gedoen oor hoe om die tyd tydens die inperkingsperiode so nuttig en aangenaam as moontlik deur te bring. Al hoe meer inligting kom in omloop oor hoe die nare werklikheid “ontsnap” kan word, en die mens in sy gedagtes na die verre verlede en ook na die toekoms in die verste hoeke van die heelal kan ontsnap.

Die tydskrif Astronomy gee in ’n artikel getiteld “How to explore the universe while you’re stuck at home” verskeie wenke oor waar ’n mens leersame beeldmateriaal kan raakloop om meer van die ruimte te wete te kom.

Die eerste wat aanbeveel word, is NASA TV wat via YouTube en Nasa se webwerf gevolg kan word.

Die tweede is ESA videos and images. Talle interessante items oor die bedrywighede van die Europese Ruimte-agentskap kan hier gevolg word. ESA se eie kanaal, ESA WEB-TV, kan ook gevolg word.

Derdens word Hubble se tuiswebwerf aanbeveel.

Om die spesifieke besonderhede te kry oor waar om in te skakel, soek die volgende webwerf op: https://astronomy.com/news, en dan die artikel,  How to explore the universe while you’re stuck at home. Met al die verwysings sal u die inperkingstyd genotvol en bitter ver van ons tranedal kan deurbring.

In vanoggend se argeologiese nuus op Archaeologica is ’n artikel “What To Do: Stuck inside? Visit great museums virtually”, en skryf Denney Dryroff, vermaaklikheidsredakteur van die Times onder andere soos volg:Last week, I presented options for touring museums locally and throughout the state via virtual tours. But why just limit your options to the local and state level. Many of the world’s most esteemed museums are offering interesting and impressive virtual tours.”

Sy eerste keuse is ’n virtuele toer deur die Rijksmuseum is Amsterdam hier. Nie net bevat dit meesterstukke soos Vermeer se Melkvrou en Rembrandt se Nagwag nie, maar die museum self is ’n meesterstuk. Daar is 80 galerye, met 8 000 items uitgestal wat lig op 800 jaar se geskiedenis werp.

Ander museums wat die skrywer aan die hand doen, is die Van Gogh-museum (hier), die Louvre in Parys (hier) en die Musée d’Orsay in Parys (hier).

Inligting oor die twaalf beste museums wat virtueel besoek kan word, word op hierdie webwerf verskaf.

As u ander bekende plekke soos China se Groot Muur, die Colosseum, Hawaii se vulkane en Nasionale Park, Stonehenge, die piramides en ander bekende bakens wil besoek, is hierdie webwerf net die besoekpunt waar u tuis op die rekenaar sal wil aandoen.

Of u kan “places to visit virtually” op Google intik en meer as 120 miljoen webwerwe se besonderhede kry. Wanneer die inperkingstyd oor ongeveer 15 dae (hopelik) verstryk, kan u al pootuit gereis wees. Met apologie aan ’n bekende skopdop se advertensie vir ’n bekende padaflos tussen Port Elizabeth en Uitenhage en terug Baai toe wat destyds gelui het: “You can stay as you are, or you van change to Travel Far Away.”

As u ook “South Africa” by “places to visit virtually” op Google voeg, kan u rusbank u ook na baie plaaslike bestemmings neem – ook driedimensioneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JC Venter ·

Herman, om aan te sluit by jou rubriek, dalk kan jy help. Waar kry joernaliste en nuuswebwerwe in hierdie dae hul nuus vandaan om oor die situasie in die land te berig? Dit nou hier by ons in die land. Mag verslaggewers en veldwerkers uitgaan om die situasie op die grond te beloer, in stede, dorpe, die platteland? Mag hulle rond beweeg? Waar kry hulle die nuus vandaan, dit nou buiten wat die regering vir hulle voer (lyk my meestal die president en Bheki Cele) en wat hulle van die Korona webwerf af trek?

Therese ·

Geen probleem met joernaliste wat objektief oor die bedreiging inlig en verslag doen nie.
Die feit dat sommige staatshoofde genadeloos deur bevooroordeelde joernaliste en opposisie-politici beoordeel en veroordeel word op grond van hul “covid-19 response” asof dit ‘n kompetisie is, is kenmerkend van die Westerse samelewing se totale ‘politisering’ van elke aspek van die daaglikse bestaan. Dis ‘n virus op sigself!
Skuldige joernaliste kan die skoen aantrek as dit pas. Maroela nie skuldig hieraan.

JC Venter ·

Herman, nader aan die waarheid kan jy verseker nie kom nie, mens moet nie ingehok wees nie, dit is eintlik ‘n noodsaaklikheid om wyd te lees, dit verryk nie net mens met kennis en insig oor ‘n magdom onderwerpe, ander se menings en nuus nie, maar mens neem kennis van wat in die wêreld aangaan, veral ook in hierdie tye van beproewing.

JC Venter ·

Ek is maar een van daardie persone wie se vlerke mens nie moet probeer knip nie, moet my nie inhok nie, ek sal nou nie soos ‘n laaitie my speelgoed uit die kot gooi nie, maar ek sal ‘n weg daarom vind … Op Vlerke die wêreld in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.