Nuuskommentaar: Geloftedag en Versoeningsdag

Sonstraal op die senotaaf in die Voortrekkermonument Foto: http://commons.wikimedia.org/

Sonstraal op die senotaaf in die Voortrekkermonument Foto: http://commons.wikimedia.org/

Vanjaar sal dit presies 175 jaar wees sedert ‘n strafkommando eers ‘n gelofte afgelê, en op 16 Desember 1838 ‘n groot Zoeloemag by Bloedrivier verslaan het. Vanjaar, op dieselfde dag, is dit die eerste Versoeningsdag na die afsterwe van oud-president Nelson Mandela.

Oor beide geleenthede kan gevra word of die oorspronklike betekenisse van dié dag nog behoue gebly het.

Is Geloftedag nie dalk al erg van sy geestelike inhoud en betekenis beroof, en vir die politiek gekaap nie? Is die huidige regering van pres. Jacob Zuma nie een van die grootste ondermyners van versoening nie? Is daar in die Suid-Afrika met sy sekulêre grondwet nog werklik ruimte vir dae met ‘n spesifieke godsdienstige herkoms? Is sulke praktyke nie outyds nie?

In die VSA het ‘n tradisie ontstaan waar godsdiensvryheid binne die owerheidskonteks in wese op geen godsdiens nie neerkom. Dit het selfs so ver gegaan dat dit politiek inkorrek geword het om iemand ‘n “merry Christmas” toe te wens en dis vervang met “happy holidays,” – ‘n gogga wat ook na Suid-Afrika begin oorwaai het. Algaande het die besef posgevat dat dit juis nié op die gelyke behandeling van godsdienste neerkom nie, omdat dit die “godsdiens” van ateïste voortrek.

Dié persepsie word juis versterk deur die feit dat dit gewoonlik ateïstiese organisasies is wat die felste en onverdraagsaam reageer en die howe nader wanneer onder meer deelstate en skole iets van Christelike tradisies probeer vasvang.

In Suid-Afrika is ook al iets hiervan gesien in die optrede van die Vrydenkers.

Maar as dit modern is, is die Amerikaners in hul harte baie outyds. Volgens ‘n nuwe Rasmussenpeiling is 75 persent van die Amerikaners ten gunste daarvan dat Kersfees in openbare skole gevier moet word. Net 15 persent is daarteen gekant.

‘n Onlangse peiling het getoon 52 persent meen daar moet meer ruimte vir godsdiens in openbare skole gemaak word, terwyl nog ‘n peiling toon 53 persent respondente meen die regters is meer vyandig teenoor godsdiens as wat die oorspronklike opstellers van die grondwet beoog het.

Teen dié agtergrond dan die vraag: Is dit “outyds” om godsdiens die anker te maak van ‘n volk se spesiale dag, veral as daardie volk ‘n diep Christelike tradisie het?

Wat wel verkeerd is, is om dit vir politieke doeleindes te kaap en bloot ‘n godsdienstige kleed, of nog erger, ‘n skyn-godsdienstige kleed daaroor te trek. Hoe dikwels word die kernboodskap van die Christelike leer – liefde vir God en liefde vir die naaste – nie tydens hierdie geleenthede ondergeploeg nie?

Pas is ‘n baie groot ophef van Mandela as ikon van versoening gemaak.

Hy is gister finaal ter ruste gelê, maar as die stryd om straat- en plekname, uitsluitings uit werkgeleenthede, hitsige uitsprake van verhoë en walglike internetkommentare losstaande van die groot poel van welwillendheid onder gewone mense beoordeel word, lyk dit of versoening in dié land reeds lank begrawe is.

En eintlik behoort elke dag in hierdie land ‘n versoenigsdag te wees. Dit handel nie oor hierdie of daardie politieke model nie – geen staatkundige model, van volkome unitêr tot sterk gegrondves op minderheidsregte en selfs selfbeskikking, is moontlik as die mense mekaar nie vertrou en verstaan nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

jan ackerman ·

So heerlik om die waarhede vanoggend saam met julle te kan waardeer. Daar is soveel ondeurdagte afgelope tyd oor ” Versoening en Geloftedag” gese.

By dit wat hierbo geskryf is kan ek my hoof buig en bid : ” Here seen hierdie waarhede , in die gedagtes van ons mense. Laat ons tog tot EER Van U NAAM in hierdie land leef. Met U versoening in ons harte teenoor almal. Ons Geloftes teenoor U Here hou.”

Barend van der Merwe ·

Baie goeie stuk Herman!

Onthou net dat die internet en die kommentare nie ‘n goeie maatstaf is vir versoening nie. Daar is baie versoening tussen gewone mense.

Dit is die cowboys wat die internet gebruik omdat hulle nerens elders meer hulle haat voor ‘n gehoor kan versprei nie.

Demokraat ·

Stem volkome saam Barend – ‘n uitmuntende stuk deur Herman Toerien met ‘n goeie inhoudelike. Stem verder ook saam dat ons internet “besoedel” is met, soos jy hulle noem, die Cowboys en wat nie huiwer om sub-standaard argumente en beweringe die wêreld in te stuur nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.