Nuuskommentaar: Geseënde Christusfees

kersfees creative commons wikimedia

Argieffoto “Nativity tree 2011” deur Jeff Weese, Flickr via Wikimedia Commons

’n Geseënde Christusfees aan al Maroela Media se nuuskommentaarlesers. Kersfees is die Christen se tweede belangrikste gedenkdag, maar oorheers weens verskeie faktore die belangrikste – die Paasfees.

Op 18 Desember het Maroela Media ’n nuuskommentaar gepupbliseer, Geseënde Kersfees of ‘Happy Holidays’? Dit het in hoofsaak gehandel oor pres. Donald Trump wat die eerste Amerikaanse president in ’n geruime tyd was, wat amptelik “Merry Christmas” in plaas van “Happy Holidays” gebruik het.

’n Aantal ander aanslae op die korrekte viering van Kersfees soos die kommersialisering daarvan en die hou van dronknespartytjies is ook onder die loep geneem.

Heelwat lesers het egter groot gewag gemaak oor die feit dat Kersfees nie werklik Christus se geboortedag is nie, en dat dit by heidene en paganiste oorgeneem is wat midwinterfeeste gehou het. Van hulle het die vier van Kersfees, en daarby die gebruik van die Kersboom, sterk afgekeur.

Die skrywer het dus ’n klein opname los van Maroela Media gedoen om ’n idee te vorm van hoe die gewone mense voel. Onder die wat reageer het tel ’n parlementslid van ’n party wat sy Christelike grondslag sterk stel, en ’n paar ander bekendes.

Wat die gebruik van die Kersboom betref, stel iemand van die Boland voor dat mense wat ’n probleem daarmee het, gerus ’n kruis kan gebruik.

Die algemene basis is dat dit irrelevant is dat Kersdag (wat nie oral op dieselfde dag gevier word nie) eers ’n spesiale heidense dag was. God is werklik, terwyl die heidense gode mites is. Die gebruik van die ou heidense dae kan as ’n oorwinning van die Christendom oor die heidendom beskou word. (Terwyl baie van die heidene die midwinterfees op 25 Desember gevier het, moes dit dus eintlik 21 Desember gewees het).

’n Leser meen die duiwel kan net in Kersfees wees as Christene hom daar toelaat.

Een persoon meld dat daar verskillende gebruike is oor die inspan van die dae van die week (meestal na heidense gode vernoem). (Die gebruik van ’n sewe dae week strek baie ver terug in die geskiedenis en was oorspronklik bereken deur die 28 dae van die maan se omwenteling om die aarde met vier te deel.)

Nog ʼn Bolander voel Kersfees moet as Christusfees saam met die familie behou word. Dat ons nie weet op watter dag Jesus gebore is nie, en ook nie watter jaar nie, is ook geen belemmering om dit te vier nie. Jesus is ’n ewigheidswese en het lank voor Sy geboorte bestaan, en so ook na Sy dood en opstanding.

Nog ’n leser voel die wyse waarop Kersfees gevier word ’n persoonlike saak is. Hy voel dit bly ’n tyd van liefde, vrede en hand uitsteek na ’n ander…

’n Bekende voel ook Kersfees moet gevier word omdat dit aan Christene die geleentheid bied om die Boodskap tuis te bring.

Baie belangrik is dat almal, ook die kinders, saam met die vreugde steeds die werklike Boodskap onthou.

Soos die ongebore Johannes die Doper van vreugde gebons het toe die swanger Maria kom besoek aflê het, so kan ons stellig ongeveer 2 000 jaar later ook die vreugde gedenk. Ons kan dit ter harte neem dat dit saliger is om te gee as om te ontvang – en daar is baie mense wat op Kersdag in die een of ander nood verkeer.

ʼn Geseënde Christusfees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Arie ·

Herman Toerien,
Baie geluk met jou uitstekend genuanseerde rubriek. Dit was nodig om dit onder die aandag te bring by n baie groot komponent van ten minste onse Afrikaner samelewing.
Jy mag dit nie skryf in jou rubriek nie, maar ek mag dit dink dat ek n gly vang in kommentare wat in hierdie verband probeer om die dam onder die eend uit te ruk.
Shakespear het tog gesê “a Rose by another name still.remains a Rose”.
Waaroor gaan dit tog met die vieringe op 25 Desember ? Tog sekerlik nie daaroor of die benaming of die datum of enigiets anders soos dat dit oorgeneem is van heidense gebruike, belangriker is as juis die gedagte dat ons die geboorte van ons hemelse verlosser gedenk nie.
So terloops, wie van ons WEET verseker dat die dag wat ons as ons eie verjaardag gedenk die werklike dag van ons geboorte is. Ek is dan persoonlik bewus daarvan dat n persoon nie op die dag wat hy gedenk as sy geboortedag gebore is nie, maar op n ander dag.
As daar EEN is, dan KAN daar baie meer ander dieselfdes wees.
Ek vra mooi. Mense moet tog nie die dam inder die eend uit ruk nie. Dit doen afbreuk aan die heerlike gedagte dat ons Jesus se geboorte op 25 Desember gedenk.

Grassie ·

Herman – dankie vir jou seënwense aan al die lesers, waarvan ek een is. Jou bydraes op Maroela is van baie groot waarde, omdat dit altyd oor wesenlike sake handel, onpartydig, sonder bymotiewe en insiggewend is. Jy is ook nie bang om ‘n bietjie sweep in te lê wanneer dit nodig is nie. Ook jou keurige Afrikaans is ‘n plesier om te lees. Ek hoop dat jou gesondheid sal hou en jy nog lank bydraes op MM sal lewer. Ek wens jou en jou familie ‘n baie geseënde Christusfees toe. Ek wil ook vir al Maroela se personeel ‘n geseënde Christusfees toewens. Baie dankie vir ‘n geloofwaardige nuusblad wat ‘n mens op hoogte hou van al die tersaaklike nuusgebeure.

Eish ·

Dankie dat die ruimte vir die waarheid gelaat word in die artikel.
Dit gaan nie oor wat dit vir ons as mens beteken nie, maar wat ons gehoorsaamheid vir ons Skepper beteken. Ons eer Hom deur gehoorsaamheid.
Die feesdae wat Skriftuurlik van ons verwag word is opgeteken in Levitikus 23.
Luther het gesê genade alleen, maar as Noag nie gehoorsaam was en die ark gebou het nie, was hy nie gered van die vloed nie.
Indien die Israeliete nie gehoorsaam was en die opdrag tot op die letter uitgevoer het nie, sou Jerigo se mure nie geval het nie.
Ons verstaan niks en is verblind deur die god van hierdie wêreld. Hoeveel christelike denominasies is daar wat nie net verskil in taal nie, maar inhoud?
Openbaring 12:9
Yeshua het juis gekom om die dam onder die eend uit te ruk.

A Mac ·

Ek is al soveel keer verguis oor my siening van kersfees maar ek wil tog ook graag my eiertjie hier lê. Kersfees het niks anders as ‘n wereldse ding geword. Dis net blinkerkies en geskenke, hoe groter hoe beter, en van die eet praat ek nie eers nie. Maar om werklik eer aan die dag te doen, en dis my persoonlike gevoel, word nie so gedoen nie. Vir baie mense gaan dit net oor persente, kersbome en blinkers, en die oorvol tafels kos. Hoeveel van hierdie mense het kerk toe gegaan vandag? Om te sê ek is ‘n christen maar vier dit op my eie manier is net ‘n ander manier van gemaksugtigheid om nie al die riglyne vir ‘n christen te volg nie, net die wat vir my lekker is. Staan dit nie in die Bybel dat mens ook na die diens moet gaan om saam met mede-christene te verkeer om jou geloof te versterk? Ek laat my nie verlei deur al die goed soos kersfees vandag gevier word nie. En ek weet ook dat daar mense is wat nou net argumente soek om my verkeer te bewys. Maar net soos julle my nie kan verander nie, so gaan ek nie probeer om julle te verander. Maar ek mag ook my gevoel weergee soos elkeen van julle.

Susan ·

Ek stem 100% saam met jou. Ek dink ook ons kan kersdag saam familie vier, maar sonder die blinkers en geskenke, ons is genoeg geskenk vir mekaar as ons Christus wil dien, dit is tog wat hy vra, wees lief vir mekaar, nie oor watter geskenk die beste was nie of nog erger as almal huis toe is te sê ag regtig die of daai persoon kon eerder sy geld gespaar het om vir my n geskenk te koop wat volgens jou minderwaardig is nie. As ons soos die dogtertjie in die video clip nog kan opgewonde raak oor net n paperclip, sal ek kan sê nou gaan dit oor Christus en nie oor geskenke nie

Piet ·

Ai Herman, party mense sal verewig hardkoppig bly. Die mens kon nog nooit onse Vader behaag met eie instelings en ritueele nie. Daarom het Hy vir ons feeste en sabatte gegee om te onderhou ter wille van Sy naam. Ons weier egter om dit te doen en sal eerder n menslike instelling wat gekoppel is aan vele heidense gebruike aanvaar en listig fier. Die paasfees is ook n heidense fees wat met die ware Pasga verdoesel word. Wanneer gaan julle oe oopgaan?

snoefie ·

as koninklikes n ware verjaardag en n openbareverjaar mag hê, hiekom nie Jesus Christus ook nie? die boom presente, kersvader, elwe is so nie relevant nie. Jesus was gebore of dit 25/12 of 14/2 was, maak nie saak nie. die kommersialisering sal altyd daar wees. Christus was vir ons gebore. God se geskenk aan ons. hoekom kan ons dan nie aan mekaar geskenke uitdeel tot lof en eer van sy geboorte nie? iemand vra hierbo of mense in die kerk was? ja. ons was kerk toe en die kerk was stampvol.almal sit nie by die huis en klippe soek nie. ons reik uit. ook met n bederfie vir mense wat andersins niks sou hê nie. moenie due duiwel in alles soek nie. ons vier Jesus, ons verlosser, se geboorte.

madels ·

Kersfees, of soos ons dit graag in ons familie noem, CHRISTUS FEES, is vir ons van uiters belang. Vir ons om Kersfees te vier, is om die Bybel oop te maak en die storie van Jesus se geboorte te lees en ons weer te herinner aan hoe groot wonderwerk daardie dag plaasgeving het. Ons vertel van die jaar se wonderwerkte wat ons beleef het en ons neem die Nagmaal saam. Ons kinders weet Kersfees is nie oor geskenke en die oorgewig kersvader nie, maar Kersfees is om saam hande te vat, die Here te loof en te prys oor wat Hy die jaar vir ons as gesin gedoen het.
Die engele het n GROOT DING daarvan gemaak toe Jesus gebore is! Hulle was n skare wat gesing het en was vol blydskap. Natuurlik is dit nie die 25ste Des wat Jesus gebore is nie, maar selfs die heidene sien Kersfees as die Christus fees! Hulle WEET waaroor Kersfees gaan. Soveel mense het al tot bekering gekom weens Kersfees. Miskien al die mense wat so kla en kerm oor Kersfees dat dit n heidense fees is, is JUIS omdat hulle dalk nie Kersfees vier vir wat dit regtig is nie.. vir hulle het Kersfees dalk geen betekenis nie.. maar ek sal Kersfees vier vir altyd. En ons as gesin maak n GROOT ding van Paasfees. Jesus is so n werklikheid vir ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.