Nuuskommentaar: Geseënde Christusfees

“Vrede op aarde en in die mens ‘n welbehae.”

Vandag is Kersfees een van die belangrikste Christelike dae op die kalender, al weet niemand of Christus inderdaad op 25 Desember gebore is nie. Trouens, omdat Herodus reeds in die jaar 4 voor Christus oorlede is, weet ons nie eens in watter jaar Christus gebore is nie. Die vroegste Christene het ook hul fokus op ander Christelike dae, soos Christus se kruisiging, Sy opstanding en Hemelvaart geplaas.

Die gebruik om Kersfees op die 25ste Desember te plaas dateer uit die vierde eeu na Christus toe dié datum bereken is toe Jesus se komende geboorte in die 6de maand van Elisabeth se swangerskap met Johannes die Doper aangekondig is. Verskeie heidense nasies, waaronder die Vikings, is gekersten deur Kersfees aan van die ou tradisionele datums te koppel. Vir die Vikings was 25 Desember Thor se dag, wat effektief die Mid-winter was, en wanneer Thor begin het om die winterreuse te verslaan. Na ‘n slaaf daarin geslaag het om die Noormanne effektief te kersten, het die Thor-aanbidding nog bly steek, en het hy dié probleem oorkom deur Thor se dag vir Christus se geboorte te gebruik.

Met die oorskakeling van die Juliaanse kalender na die Gregoriaanse, het alle nasies nie dadelik ingeval nie, met die gevolg dat sommiges vir tye voortgegaan het om die ou 25 Desember te gebruik, met die gevolg dat sommige volke Kersfees tussen 7 Januarie en 11 Januarie vier. Kersfees-tradisies het deur die jare toegeneem, en vandag vier miljoene nie-Christene ook Kersfees nie net as vakansiedag nie, maar met die insluiting van sekere tipiese Kersfeestradisies soos die uitruiling van geskenke. ‘n Kersboom het tradisie geword, en Kersvader het vanuit twee tradisies sy toetrede gemaak. Die meer Christelike weergawe is St. Nicolas, ‘n geestelike, wat op Kersfees geskenke vir die armes geneem het.

Die vredesboodskap het onder meer daartoe gelei dat oorloë tussen Christenvolke soms vir die dag onderbreek is. Gevalle het selfs voorgekom dat vegtende vyande op dié dag hul loopgrawe verlaat het, by mekaar gekuier het en saam Kersfees gevier het, bloot om die volgende dag weer op mekaar te skiet. Talle misbruike het ook ontstaan, soos oormatige drink. Dit is ook grootliks gekommersialiseer waartydens mense hulself in die moeilikheid in koop.

Dit is ook ‘n tyd waartydens padslagtings piek, en wanneer daar ‘n toename in selfmoorde is wanneer die vreugde om hulle vir eensames te veel word. Die dag word ook dikwels vir politiek misbruik wanneer regeringshoofde sogenaamde Kersboodskappe uitsaai, maar daarvan ‘n soort politieke spogpratery bykans identies met die Nuwejaarstoespraak maak, en dié praatjie bloot afsluit met: “And a merry Christmas to you all.”

In lande soos die VSA met baie fokus op sekularisme, is die gebruik van “a merry Christmas” as politiek inkorrek beskou, en vervang met “happy Holidays” om nie nie-Christene aanstoot te gee nie. Sekere groot winkelgroepe het egter die rug begin styf maak, terwyl dié gebruik nou ironies grootliks na Suid-Afrika oorgewaai het. Van die Christen word verwag om Kersfees as ‘n ware Christusfees te vier. Dit is ‘n ideale geleentheid om kinders se jong gemoedere te vorm dat Christenskap nie lang gesigte beteken nie, maar vreugde in Christus. In die wêreld waar die dag kommersieel uitgebuit word, rus daar egter ook die verantwoordelikheid op ouers om die regte voorbeeld te stel – dat dit ‘n dag van uitreiking is, waar dit saliger is om te gee as te ontvang, al is dit bloot liefde om die hartseer van die vereensaamde te verdryf…

Die groter uitdaging is egter om ook hierdie gesindheid na ander dae van die jaar voort te sit. Die arme en sy kinders is nie net op Kersdag honger nie, die eensame is nie net dan eensaam nie. Van vanaand af het Christene keuses oor welke geleenthede hulle gaan bywoon – Kersliedere by kerslig, of Krismispaarties waar die drank vloei, Kersdienste of wegbreek na dobbelhole…‘n Geseënde Christusfees aan almal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.