Nuuskommentaar: Geseënde Kersfees of ‘Happy Holidays’

Argieffoto

President Donald Trump het iets gedoen wat selfs sy mees konserwatiewe voorgangers nie wou doen, of gewaag het om te doen nie. Hy het naamlik in die praktyk die godsdiens-neutrale gebruik van “Happy Holidays” weer met “Merry Christmas” vervang. Dit is wyd in Christelike kringe verwelkom.

Trouens, ‘n nuwe Rasmussenpeilng toon dat 70% van die Amerikaners glo dat godsdienstige simbole in die openbare domein – ook skole – hoort.

Kort voor sy aftrede het konserwatiewe Christene groot verwagtinge gehad dat pres. George W. Bush in sy laaste presidensiële “Kerskaartjie” na “A Merry Christmas” sou terugkeer. Die hoop het egter beskaam.

Tydens die bewind van pres. Barack Obama was daar geen verwagtinge dat “Happy Holidays” plek sou maak vir “A Merry Christmas” nie – in elk geval nie in ampsweë nie – alhoewel openbare druk toegeneem het, en al hoe meer groot kettingwinkels na die ou tradisie (wat as politiek verkeerd beskou is) teruggekeer het.

Trump het egter openlik die ou gebruik bevorder, en dit inderdaad ook met sy eerste Kersfees in die amp, gebruik.

Daar sou egter kontroversie wees. Trump se dogter en personeellid in die Withuis, Ivanka, het egter in haar “Kerskaartjie” deur ‘n twiet “Happy Holidays” gebruik, en ‘n stortvloed kritiek ontlok. Sy het dit boonop gedoen ‘n dag voor die aanbreek van Hanukkah, ‘n Joodse herdenking vir die heroprigting van die Tweede Tempel tydens die bewind van die Makkabeërs.

Intussen het die gebruik van “Happy Holidays” ook na Suid-Afrika oorgewaai, waar dit ook vanuit die staanspoor onder druk gekom het. Gisteraand was dit opvallend dat met die Engelse nuus op SABC 3, die SAUK sy kykers “Happy Holidays” toegewens het, maar tydens die Afrikaanse nuus, die kykers (ook in Engels) “a Merry Christmas” toegewens het.

Die meeste Christene sal waarskynlik aanvaar dat die Here geen behae daaruit put dat die herdenking van die Seun se geboorte in so ‘n kontroversie sou verval nie. Wat nou in die VSA gebeur, het selfs na die Europese pers oorgespoel.

Dit open wel weer die veld van ‘n hele aantal kwessies, soos dat ons nie weet wat Jesus se werklike geboortedag was nie. Dat die herders in die veld was, dui sterk daarop dat dit destyds somer in die Noordelike Halfrond moes wees. Die datum blyk verband te hou met die ou midwinterfeeste in die Noordelike Halfrond, en nie alle denominasies vier dit presies op 25 Desember nie, maar wel naby daaraan.

Voeg daarby die inbring van die kersboom wat ook sy wortels in nie-Christelike gebruike het.

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

Die datum is egter nie belangrik nie, omdat Jesus in elk geval ‘n ewigheidswese is wat ‘n tydjie op aarde deurgebring het. Sy groot waarde was Sy sterwe en opstanding, asook Sy leringe. Tog het die viering van Sy geboorte die grootste item op die kalender vir baie geword, hoewel die Kerk volhou dat die Paastyd (sonder paaseiers en die paashaas) die belangrikste behoort te wees.

Die “wegdoen” met “a Merry Christmas” het egter nie sy ontstaan in enige Christelike uitleg nie, maar in ‘n liberale beskouing dat godsdiens iets is wat in huisgesinne en die kerk vasgevang moet wees. Dit is onwelkom in die openbare domein, omdat dit aan nie-Christene en ateïste aanstoot sou gee.

Vir die meeste Christene is dit belangrik om jaarliks by die engelekoor aan te sluit en met vreugde die geboorte van hul Heer en Verlosser te gedenk. (Tegnies word nêrens in die Bybel gemeld dat die engele gesing het nie, terwyl sommige teoloë sterk voel dat daar geen aanduiding in die Bybel is dat die geboorte van Jesus gevier behoort te word nie. Ander vind genoeg aansporing juis in die engelekoor se boodskap van groot blydskap, die ongebore Johannes se vreugde toe Maria by sy ma besoek kom aflê het, en die wyse manne se besoek met waardevolle geskenke aan die krip).

Juis omdat die “politiek korrekte” beskouing oor Christelike gebruike oor so ‘n wye front voorkom, en ateïstiese groepe in die VSA met valkoë dophou waar in die land iemand sou waag om Christelike gebruike na die openbare domein te neem – byvoorbeeld ‘n munisipale raad wat vergaderings met gebed open, of kerke wat Christelike simbole in die openbare oog sou plaas – en dan kruis en dwars oor die VSA beweeg om hofsake daarteen te maak, neem die stryd die vorm van onderdrukking van godsdiens, en bepaald die Christelike godsdiens aan. ‘n Belangrike hofsaak dien nou voor die VSA se hoogste hof oor die reg van ‘n bakker om op godsdienstige gronde te weier om ‘n troukoek vir ‘n gay paartjie te bak, en die gay paartjie se reg op waardigheid.

En juis omdat dit wat as vreugdesuitdrukking oor Christus se geboorte deel van ‘n stryd teen die Christelike godsdiens is, is daar stellig niks verkeerd as die wagte op die wagpoorte alarm maak, en voorsorg tref nie.

Oplaas rus die onus op Christene om Christus se geboorte op gepaste wyse te herdenk. Om daarvan ‘n dronknes-gefuif te maak is ‘n veel groter aanklag as om dit uit die openbare domein te probeer hou. Net so is die talle mense wat juis in hierdie tyd eensaamheid ervaar en hulle oplaas tot selfdood wend, ‘n aanklag teen die boodskap van die viering van ‘n ware Christusfees. Heel gepas word talle geleenthede gereël waar minderbevoorregtes, soos haweloses, kan aansit by die feesmaal wat van ‘n ware Christusfees verwag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Grassie ·

Ek sou graag wou sien dat ons die word “kersfees” met “Christusfees” vervang.

Ada ·

Vir my is dit Geseende Kersfees want dit is waaroor dit gaan. Dit gaan nie oor die vakansie nie. Dit gaan vir oor die herdengkingsdag van Jesus se geboorte. Daarom kan dit nie happy holidays vir my wees nie.”happy holiday’s” reflekteer nie genoegsame respek aan Jesus nie.

Eish ·

Ek het diepe dankbaarheid teenoor die rubriekskrywer vir sy waagmoed om Kersfees en Chrsitus se geboorte, met die waarheid te omvang. Inderdaad is Christus gedurende die Huttefees, mid September tot mid Oktober gebore. Verder ook die feit dat Desember winter is in Israel en die herders verseker nie buite sou wees nie. Daar is etlike wyses om dié waarheid te bewys. Kersfees is inderdaad n heidense gebruik wat oorgeneem is. Lees Jeremiah 10:3 – 5 insake die kersboom.
Die enigste Bybelse dae wat ons moet herdenk is in Levitikus 23 opgeteken , 7 addisionele heilige dae buiten die Sabbat, met die opdrag ” ewig”

Inderdaad gaan ons nou die dae van onverdraagsaamheid binne.
Johannes 15: 18
” As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.”

bosveldknaap ·

Die belangrikste dag is die Sabat, wat die 7 de dag is meeste mense weet nie wanneer die dag is nie. Gaan doen navorsing daar oor sodat julle nie dink ek lieg nie. Maar ongelukig is mense se trots te veel om te aanvaar hulle was misly. . .

Susan ·

Dit maak nie saak wat hulle dit noem nie, daar is nie net een dominansie nie, dit is in elk geval ‘n pagan ding, gaan doen ‘n bietjie navorsing, so ek het lank geneem voordat ek weer van die idee van kersfees meedoen. Die slotsom wat ek hieroor gekry het was, maak dit ‘n familiefees. Ek is jammer maar ek maak nie van kersfees ‘n afgod nie en dit is wat deesdae gebeur. So, as jy dit happy holidays of Christusfees wil noem is daar niks mee fout nie, solank jy dit nie as ‘n afgod gebruik nie.

Piet ·

My kommentaar sal waarskynlik nie geplaas word nie. Daar is nie so iets soos n Christus fees nie. Kersfees is n duiwelse fees met meestal heidense gebruike wat daarmee gepaard gaan. Dit is n fees om die songod te vereer met die draai van die seisoen in die noordelike halfrond. Dit is begin deur Nimrod ( toring van babel ) Yahweh se self Hy is n jaloerse God en sal beslis nie aanvaar dat Christus se geboorte saam met heidense gode vereer word nie!

T.AStrydom ·

“Blessed Chrirtmas” sou eintlik die ideale wens wees

Werner ·

Bly Trump is n man wat sy man kan staan wens ons het so n leier gehaad

Ch Nel Venter ·

Puik artikel. Alle eer aan die Vader wat waarhede openbaar. My opinie is dat hulle “merry whatyoucallit” ook kan gebruik. Die kersfees wat ons mee groot geword het en duisende nog steeds vier is n leun. Waarskeinlik die grootste leun van alle tyd. Kersvader, kersbome, geskenke, feestelike maaltye in oorvloed kos, die yule log en alles wat daarmee saam gaan is nie van die God wat ons gemaak het nie, so maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, dit is n leun. Selfs nie “nativity” wat die moderne wêreld uitbeeld is n leun. Ons as God’s kinders kan ons verlosser se lewe en Sy offer van genade aan ons eerder vier op n ander tyd, dalk nader aan Sy ware dag van geboorte. Hierdie is n ernstige saak wat ons waarlik ernstig moet op vat. Dankie vir die wat reeds in die waarheid bly.

John ·

Almal moet kies wie hulle wil dien. Diegene wat nie van Christus weet nie moet van hom hoor en die onus rus dan op hom/haar om ‘n keuse te maak. Ons het ‘n verantwoordelikheid om ons skinders te leer aangaande die Woord. Ons woorde en geloof sal ons einde der dae veroordeel. Om te slim te wees is nie vreeslik slim nie. Die Skepper is Baas of ons dit wil glo of nie.

Tom ·

Hoekom sê die skrywer nie-christene en ateïste? Ateïste is per definisie nie-christene, of mis ek iets?

Leeu ·

@Tom, nie-christene en ateiste is wel verskillend, n ateis glo nie aan God of enige ander bonuurlike wese nie, waar n “nie-christen” wel aan n ánder bonuurlike wese glo. Hoop dit help.

Cherokee ·

Jy soort van mis wel iets, Tom. Die term ateïste is die beskrywing van mense wat in geen god glo terwyl nie-christene glo in ander gode as die ware God.

Cherokee ·

Saam met die mense wat ‘Happy Holidays’ praat is die wat van xmas praat.

Tania ·

Ek is ‘n Christen en ek hou van Kersfees! Dis ‘n tyd om ‘n bietjie weg te breek van die normale dinge doen en vakansie te hou. Oukersaand is ek regtig soos ‘n kind en hou ek daarvan om ‘n geskenk of twee te kry. Die Here weet wat in my hart aangaan en ek dink nie Hy sal dit teen my hou as ek ‘n ou persentjie namens hom oopmaak nie. As Christen vier ek Kersfees as die dag waarop Christus se geboorte herdenk word. Wat die res van die wêred daarmee wil maak, is hul saak. Ek maak my kind groot in die Christelike geloof en hy weet dat persente bysaak is. Moet asb. nie die fun spoil nie. Soos ek sê, die Here weet wat in jou hart aangaan. Sit ‘n glimlag op en ‘n huppel in jou stap, want dis ‘n tyd om fees te vier!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.