Nuuskommentaar: Gesprek oor konfederasies nog lank nie klaar

Met die term “konfederalisme” wat onlangs weer in die Suid-Afrikaanse politieke spektrum ter sprake gekom het, is dit miskien net nodig om die Belgiese voorbeeld onder die vergrootglas te plaas – is daar ruimte om konfederalisme in die Suid-Afrikaanse politieke spektrum te verreken?

Die woorde konfederasie het pas weer deel van die Suid-Afrikaanse politieke diskoers geword. Volgens die berigte beplan ’n groep wit en bruin mense om deur ’n konfederale bestel onafhanklikheid vir wit en bruin te beding. Volgens die organiseerders word internasionale regsbeginsels streng gevolg om te verseker dat die proses hom nie teen internasionale sanksie vasloop nie.

Berigte hieroor kon vanoggend nie op een van die soekterme op die elektroniese argiewe opgespoor word nie, en lesers wat wel oor meer inligting beskik, soos waar geskrewe inligting hieroor gevind kan word, word genooi om die inligting in die lesers se kommentaar-gerief hieronder te verskaf, sodat ’n volledige rubriek hieraan gewy kan word.

Suid-Afrika is egter nie die enigste land waar die term binne staatkundige verband gereeld ingespan word nie. Trouens, met die afgelope verkiesing in België was dit formeel deel van die N-VA se beleid. Die debat hieroor word ook al lank in die Belgiese (veral Vlaamse) media gevoer, asook in akademiese kringe. Onlangs is die stelling in die media gemaak dat die begrip konfederalisme nie in Vlaamse akademiese en mediakringe gewild is nie. Nie almal sal daarmee saamstem nie.

In Suid-Afrika word die term konfederalisme veel meer in sport-organisasieverband en selfs landboukringe gebruik. Waar dit wel in staatkundige en politieke kringe ingespan word, is daar ’n ontstellende onkunde, selfs by gerekende politici, oor wat die term konfederasie eintlik beteken. Die Switsers moet hiervoor die “skuld” kry. Wanneer na voorbeelde van hedendaagse konfederasies gesoek word, word Switserland dikwels as voorbeeld geopper. Trouens, dit het met die jongste planne ook gebeur. Maar Switserland is geen konfederasie nie, maar al sedert 1848 ’n federasie. Die verwarring kom daarby dat die amptelike naam van Switserland steeds die Switserse Konfederasie is.

Wikipedia beskryf die verskil tussen ’n konfederasie en ’n federasie soos volg: “’n Konfederasie (Latyn: confoederatio = con + federare van foedus verbond) is ’n verbond tussen state soos die Switserse Konfederasie van vroeër. By ’n federasie staan deelstate onder gesag van ’n federale regering en ’n federale grondwet. By ’n konfederasie word soewereine state saamgebind deur ’n verdrag (en nie ’n grondwet nie). By ’n konfederale staatsvorm kan die saambindende verdrag ook maklik opgesê word. Switserland was voorheen ’n konfederasie, maar is tans ’n federasie. Die huidige Europese Unie is ’n voorbeeld van ’n konfederale staatsvorm.”

Hierby kan gevoeg word dat die onderlinge regsverband tussen konfederale deelstate eerder deur die volkereg as deur nasionale wetgewing gereël word.

Die volgende is voorbeelde van konfederasies:

Die idee van ’n konfederasie waarin België die kernrolspeler is, handel oor twee scenario’s. Die eerste is ’n konfederasie tussen Vlaandere en Nederland, en die tweede tussen Vlaandere en die Franssprekende Wallonië.

Die geleidelike omskepping van België van ’n eenheidstaat na ’n etniese federasie het klaarblyklik nie al die middelpuntvliedende kragte ondervang nie.

In 2014 skryf die Brusselse akademikus Stefan Somers ’n wydlopende artikel oor België en konfederalisme in die vaktydskrif SAMPOL. “Over het confederalisme is al ontzettend veel inkt gevloeid.’ Met deze woorden wilde ik mijn bijdrage beginnen. Maar nu ik ze voor mij zie staan, nu de spreekwoordelijke inkt nog niet gedroogd is, betreur ik deze woorden al. Want over het confederalisme is in dit land nog veel te weinig geschreven als je beseft dat het de inzet van de verkiezingen is en een blauwdruk vormt voor de toekomst van ons land. Het lijkt dus nuttig om het confederalisme eens onder de loep te nemen.”

(Daar is al baie oor konfederalisme geskryf, maar in werklikheid in België nog heeltemal te min. Dit maak deel van ’n bloudruk uit oor die politieke toekoms van ons land, en daarom is dit nuttig om die konsep konfederalisme ’n slaggie goed onder die loep te neem.)

Een van die kernelemente wat hy noem, is dat daar ’n opvatting is dat as artikel 35 van die Grondwet ten uitvoer gebring word, België ’n konfederale staat sou wees. Somers verskil hiervan.

Net so verskil Somers daarvan dat die verskil tussen die begrippe konfederalisme en federalisme bloot semanties is.

Die gebruik van die term konfederasie in die naam van ’n land skep meer kere as net Switserland verwarring. ’n Versigtige bestudering van die grondwet van die suidelike Amerikaanse state wat as ʼn konfederasie bekend gestaan het, toon inderdaad dat heelwat verbeeldingskrag nodig is om die suide werklik as ʼn konfederasie te beskou.

Op die oomblik lyk dit of die moontlikheid dat Nederland en Vlaandere ’n konfederasie kan vorm, bitter skraal is en word net terloops daarna verwys. In 2017 skryf Evert van Wijk soos volg: “Een Vlaams-Nederlandse confederatie is niet alleen onzinnig maar ook onwenselijk. Het zal veel mensen in Vlaanderen en Nederland diep ongelukkig maken. Samen in een confederatie is bovendien tegennatuurlijk. Er zijn immers geen twee staten in Europa die zo van elkaar verschillen als Nederland en de deelstaat Vlaanderen.”

Maroela het heelwat Nederlandse en Vlaamse lesers wat veel beter as die uwe toegerus is om oor die geldigheid van hierdie stellings van Van Wijk te oordeel, en hul menings sal waardeer word.

Die algemene indruk wat Suid-Afrikaners kan kry, is dat die Nederlands-Vlaamse verhoudinge en beskouings betreklik vinnig verander. Waar in ’n stadium gemeen is dat die feit dat die N-VA se leier, Bart de Wever, ’n gebore Nederlander is, sal planne vir vereniging vergemaklik. Dit lyk al lank nie meer so nie. Na die eens trotse en magtige Nederlandse sokkerspan met die afgelope Wêreldbekertoernooi vroeg uitgeval het, het baie Nederlanders skielik Belgiese ondersteuners geword. Die Vlaminge het egter, minstens in ’n stadium, so negatief daarop gereageer dat dié situasie deeglik deur media-analiste ontleed is.

So het die beginsel van irredentisme in ’n stadium ook op ’n pro-samesmeltingsteun gedui. Met die verdeling van Nederland en België is ’n aantal provinsies in die middel deur verdeel. In die media is destyds verskeie kere berig dat iemand van Suid-Brabant (Belgies) veel meer met ’n Brabander van die noorde (Nederlander) in gemeen het as met ’n Franssprekende Belg. Brabants is in wese ’n taal op sy eie, met Nederlandse en Duitse eienskappe, en die opbloei van taaltrots het daartoe gelei dat die eerste Brabantse Bybel (Bibel) eers betreklik onlangs die lig gesien het.

Een van die groot oorwegings vir die skeiding van Nederland en België was dat die Vlaminge feitlik uitsluitlik Rooms-Katoliek was, en die Nederlanders Protestants. Met ontkerkliking in beide lande speel dit nie juis meer ’n rol nie. Boonop het die Protestante in Nederland so afgeneem dat daar nou in Nederland veel meer Rooms-Katolieke as Protestante is. “Van de Nederlanders van 15 jaar en ouder die zichzelf nog wel religieus noemen, identificeert 24% zichzelf als rooms-katholiek, 6% als Nederlands hervormd, 6% als ‘PKN’, 5% als moslim, 3% als gereformeerd en 6% als ‘anders’ (bijvoorbeeld joods, boeddhistisch of hindoestaans).” Lees hier.

Met die aanvaarding van Standaardnederlands (voorheen ABN) as formele amptelike taal in Nederland en Vlaandere kan ook ’n taalvernouing plaasvind, waarin die Nederlandse Taalunie ’n saambindende faktor is.

Ter afsluiting is daar die impak van sambreelliggame, soos die Europese Unie, veral in state met minderhede. Minderhede kan baie maklik begin voel die bestaan van die huige staat is sinneloos en oorbodig. Die minderheid kan net sowel byvoorbeeld ’n minderheid binne die Europese Unie wees as onder die Britse kroon (eintlik Engeland). Op die organogram van die Skotse parlement word die EU-parlement en die Britse parlement as vennote op dieselfde vlak aangedui. Die Skotte, sowel as die Walliesers en die Noord-Iere het anders as die Engelse, teen Brexit gestem.

Terwyl beide die Iere en die Noord-Iere (via Brittanje) deel van die EU uitgemaak het, het die verhoudinge baie verbeter. Die “sagte grens” wat ontstaan het, is nou ’n probleem.

Dieselfde soort kragte beïnvloed die persepsie van die onnodigheid van state soos Spanje vir die Kataloniërs, en België as staat vir die Vlaminge.

Is dit verregaande dat Suid-Afrikaners kan verwag dat die politieke klimaat in België enige oomblik so kan draai dat die staat België enige oomblik kan verdwyn?

Hoe lewensvatbaar ’n konfederasie in Suid-Afrika kan wees, sluit ’n erge politiek-inkorrekte vraag in. Terwyl groepe soos volkstaters neig om te aanvaar dat bewegings wat ras vir identiteitsdoeleindes inspan doodgebore is, en op die kulturele eienskappe begin fokus, is dit juis die ANC en verwante partye wat met hul rasbenepenheid elke gesprek tot dusver in die dryfsand laat vasval.  Die klassieke voorbeeld van Beeld wat in ’n onderhoud met Gwede Mantashe, toe nog sekretaris-generaal van die ANC, gevra het na die moontlikheid van minderheidsregte vir die Afrikaner. Mantashe het dadelik die ou slenter gebruik om die term Afrikaner met blanke om te ruil en het die moontlikheid vir minderheidsregte vir die blanke afgeskiet. Hierdie taktiek hou ook verband met die ANC se formele afkeer aan “tribalism” asof dit ’n vreeslike vloekwoord is.

So asof die land nog benewens sy “gewone” probleme nog ruimte ook het vir slenterpolitiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kobus ·

Die kans is goed dat SA sal opbreek. Die Zoeloes sal eerste afstig om ‘n onafhanklike koningryk te skep, gevolg deur die Xhosas se drie koningshuise wat ‘n konfederasie kan stig en funksioneer soos die Emirate. Daarna sal wit en bruin geneenskappe in die westelike deel van die land afstig om hul konfederasie te vorm. Die streke wat oorbly sal dan moet besin oor die pad vorentoe, waarskynlik deur referendums. Noordwes kan dalk deel word van Botswana, en Suid Vrystaat deel van Lesotho. Feit is, SA is ‘n historiese gedrog wat nooit moes bestaan het nie. Ons baklei nou teen swaartekrag en die druk bou op om alles kunsmatig aan die lewe te hou.

Deon ·

Ek stem saam Kobus. Ons is ‘n deurmekaar konkoksie in ‘n drukkoker wat gaan besig is om te ontplof.

Deirdré ·

Stuur my Herman se epos dan kan al die info aan hom gestuur word wat hy verlang

Stephan de S ·

Dankie vir die verligtende artikel oor federalisme en konfederalisme en ook die interessante nuus uit ons ou stamlande……dis maar min wat ons iets uit hul leefwêreld hoor.
dis

John ·

Die Vlaminge is al sedert toeka aan’t sukkel om erkenning ook tov taal. Kyk ook na die datums wat Herman aandui. Feitlik almal het doodgeloop en die AU probeer, soos alewig in Afrika, om ‘n dooie perd op te saal. Indien die VF Plus dink die Moslems en Kleurlinge, lg wat reeds in getalle die wit Afrikaanssprekendes verbygesteek het, onder ‘n sy wit leierskap gaan dien en dit nogal in hul woongebied… Hanoverstraat en elders… wag ‘n groot verrassing. Een ratse ou Peter-swaeltjie is nie ‘n konfederasie se enigste bestanddeel nie: Die Peter Principle verwys. Vir Groenewald om namens alle Afrikaners rasse-integrasie te beding: Ons het dit reeds. Die Big Six se eweknie by die VF Plussers is die Peter Threesome Plus met motto: Ons Sè: ‘n Vroeè dood wag.

Hendrik ·

my voorspelling is dat die kans van konfedersievorming in S.A uiters skraal in die nabye toekoms (10-20 jaar) en beter mkans miskien daarna . Alles hang natuurlik af hoe suksesvol die huidge bestel is.

Petrus ·

Nee wat Hendrik, die huidige bestel het gruwelik misluk. Afstig, konfederasie, wat ook al is die enigste pad vorentoe.

Deon ·

Een ding wat ek nie verstaan nie. Afrikaners kla oor die NGV, Afrikaanse skole en universiteite wat onder druk is, SEB, RA, korrupsie, diefstal, kwotas, swak openbare diens, Eskom, die SABC, staatskuld, misdaad en wat nog alles. Afrikaners voer hogere debatte oor konserwatisme en liberalisme. Maar wanneer dit kom by praktiese voorstelle soos planne om afstigting te bewekstellig dan is Afrikaners maar louerig. Daar word dan aangevoer dat die ANC dit “nooit” sal toelaat nie en ons moet maar net saamwerk. Ons voorouers draai in hul grafte om. Heng, dink net wat is moontlik indien 2.8 miljoen mense die ANC begin druk.

Jerry ·

Dit is belangrik dat mense die magshebbers se motiewe verstaan dat die land en alles daarop aan die magshebbers gaan behoort (all or nothing) sodat gesprekvoering gevoer word oor die realistiese lewensvatbare opsies. Dit is alles goed en wel om ideale te koester soos vir n konfederasie of vir n volkstaat, maar wanneer dit nie haalbaar is agv die motiewe van die magshebbers, dan mors jy jou tyd en skep jy onrealistiese verwagtinge by mense. Inderwaarheid skiet jy jouself in die voet wanneer jy n volkstaat nastrewe en as geelwortel uithang, maar dan terugkrabbel na selfbeskikking as enigste opsie. Dit dui aan dat behoorlike huiswerk nie gedoen word nie of dat mense doelbewus mislei was. Wanneer jy jouself in n “all or nothing” situasie in Afrika bevind dan is daar nie ruimte vir westerse semantiek of om strewes wat nie lewensvatbaar is, na te jaag nie. Mense moes van die begin af gekyk het na opsies wat lewensvatbaar binne die “worst case scenario” sal kan uitspeel, want dit is waar alles in gaan opeindig! Om van plan A na B na C ens moet terugval, terwyl jy by plan F moes begin het en gestop het, dui daarop dat jy jouself totaal en al oorskat het. Dit verklaar hoekom jy loop en skoor soek in plaas daarvan om met die hoed in die hand rond te loop en die drempel van die magshebbers deur te trap vir n plekkie in die son vir jou mense!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.