Nuuskommentaar: Gevolge van moord op buitelander in SA – nuusmanipulasie nie die antwoord

Eerw. Joseph (Jeff) Hollanders (83) is die naweek vermoor.

’n Belgiese sendeling (83) is Sondagaand nadat hy ’n kerkdiens gelei het by sy huis oorval en skynbaar vermoor. Volgens Google het nog net Maroela tot dusver enige aandag aan die nuus geskenk, anders as in die verlede wanneer buitelanders in Suid-Afrika vermoor is. Dit mag wees dat die media wat deur die Nederlandse nuusagentskap NOS, en die Belgiese Belga, asook eie korrespondente in Suid-Afrika van nuus gevoed word, nog sal wakker skrik, maar die nuuswyse is moeilik om te verstaan. Eerwaarde Jeff Hollander verdien beter.

Maroela het gister die skokkende nuus gebring oor ’n 83-jarige Belgiese priester-sendeling wat by tuiskoms na ’n kerkdiens by sy huis oorval en vermoor is. Lees hier.

Dit is nie die eerste keer dat ’n Belg of ʼn Nederlander in Suid-Afrika vermoor word nie. Gewoonlik is die gevolg daarvan ’n klomp baie slegte publisiteit in die Nederlandse en Belgiese pers. Albei lande het knap nuusdienste soos NOS (Nederland) en Belga (België) wat soortgelyke funksies het as wat SAPA in SA gehad het. Sou een iets nuuswaardigs oorslaan, sou die ander sorg dat dit in sowel België as Nederland die nuus haal, en daarvandaan dikwels ook lande soos Duitsland en die Engelssprekende wêreld. Sommige koerante in die Dietssprekende lande het ook nog korrespondente in SA. Einde verlede jaar was dit ook so toe twee mense, ’n Nederlander en ’n Belg (wat al lank in Mosambiek gevestig was), in die Suid-Afrikaanse oord Marlothpark vermoor is. Lees hier.

Die Nederlanders en Belge is, volgens die media-aandag, besonder begaan oor die lot van hul burgers in die buiteland, soos ski-ongelukke in die Switserse Alpe, motorongelukke of misdaad soos in die berge in Marokko. Selfs Nederlanders wat al jare lank in Suid-Afrika boer, kry baie media-aandag as hulle hier vermoor word – veral as die moorde grusaam was.

Hoekom die moord Sondagaand op die 83-jarige eerw. Joseph (Jeff) Hollanders van Lichtenburg tot dusver aldus Google en ander elektroniese argiewe, benewens Maroela min of selfs dalk geen mediadekking geniet het nie, is een van daardie vrae oor die media wat moeilik verstaanbaar is.  As dit nie so laf was nie, sou dit amper kon lyk of van die belangrikste media nou probeer om die beeld van pres. Cyril Ramaphosa te bevorder nadat dit erg onder kritiek ’n knou begin kry het. Basies kom dit daarop neer dat dit in die land se beste belang is dat Ramaphosa polities moet oorleef, sy foute en blapse ten spyt, omdat die alternatiewe te erg is om selfs net aan te dink. Lees byvoorbeeld hier en hier.  Om juis nou media-aandag aan Hollanders se lot te skenk, help nie juis pogings om Ramaphosa se waardige presidensiële toekoms te beveilig nie.

Uit die leserskommentare van Maroela se lesers op die artikel is dit egter duidelik dat die voorval diegene wat die storie lees (wat ook deur besonder knap joernalistiek saamgestel en geskryf is) erg ontstel het en onder andere tot gevolg het dat minstens sommige lesers erg op Moedverloor se Vlakte beland het. Raspersepsies is volgens van die inskrywings negatief gestimuleer.

Die reaksies is presies die teenoorgestelde as op gister se nuuskommentaar waarin die hoop uitgespreek is dat die negatiewe rasseverhoudings in die land, wat onder andere deur die regering aangeblaas word, nie die poel van goedgesindheid wat (nog) op grondvlak bestaan, verder verongeluk nie. Gister se nuuskommentaar was stellig een van die moeilikste wat die uwe nog geskryf het, juis omdat die aandurf van die staatskaping so lank neem, en bewyse wat bo redelike twyfel in die howe kan staan, amper so skaars soos hoendertande is. Die leserskommentare was egter baie bemoedigend. Op die oog af is die positiwiteit grootliks gebaseer op ’n gepoogde prima facie-aanbieding, wat kort daarna deur ’n puik, feitelike berig erg geknou is. Om Hollanders se lot te verswyg ter wille van Ramaphosa se potensiële positiewe vermoë om waardigheid te herstel, sou onverantwoordelik wees en herinner aan ’n diktator se pogings om sy droogmakery deur sensuur as die Utopia voor te stel.

Nuusmanipulasie is nie die antwoord nie. Vir verantwoordelike aanbieding is daar wel ’n saak uit te maak. Jare gelede het ’n man wat alleen in sy huis op ’n plattelandse dorpie was, die aand goed onder die invloed gaan slaap (hy is kort tevore geskei en erg getraumatiseer). Die nag word hy wakker van ’n reuk, en trek ’n vuurhoutjie om te kyk wat aangaan. Die fout was ’n gaslekkasie. Die huis is opgeblaas en die man daarmee saam. Daar was uiteraard besondere grutonele wat woema aan die berig kon verleen, en dit was ook so in die verslaggewer se berig opgeneem. Die koerant self het dit uitgesny omdat die plasing daarvan niks kon bydra nie, en net lesers kon afsit.

Maar om Hollanders se lot ter wille van iemand met voete van klei polities te probeer beredder is kwalik sinvol, en die ou eerwaarde wat 50 jaar van sy lewe weg van sy vaderland en familie vir wie hy baie lief was, opgeoffer het, se nalatenskap verdien dit nie. Hy het vlot Afrikaans gepraat, en volgens sy kerk se streeksleierskap, Setswana beter as die Tswanas leer praat. Hy het selfs as bejaarde groot bydraes gelewer met handewerk waarvoor hy ’n passie gehad het, soos om kerke te help bou.

In baie opsigte herinner sy lewe aan ’n ander Vlaamse priester, wyle Frans Claerhout wat as skilder faam in Suid-Afrika verwerf het. Onder kunstenaars sal hy veral onthou word vir die tyd wat hy deurgebring het om selfs swart kunstenaars redelik ver van sy Tweespruit-Thaba Nchu-omgewing vaardig en bekend te maak, waaronder Dasheka, Thlali, Marafu en ander.  Dit is soms onder ongelooflike moeilike omstandighede gedoen. Heelwat van sy leerlinge het houtsneekuns beoefen in ’n streek waar geskikte hout daarvoor so skaars soos hoendertande is. So het een ’n pragtige Christusbeeld uit ’n spoordwarslêer gemaak – waarskynlik van die hardste hout bekend.

Die bydrae van buitelandse sendelinge, insluitend die Vlaamse, om armoede in die land te beveg, verdien eerder medaljes as vergetelheid. ’n President wat op twee agtereenvolgende Versoeningsdae die slagoffers van Bloukrans en Wenen as indringers en die impi’s wat die bloed laat vloei het as vryheidsvegters uitgebeeld het, en oor wie Melanie Verwoerd, wat hom as held beskou, pas onder andere die volgende geskryf  het: “The speech was boring. He said what was necessary, but it was monotone and it felt like he was going through the motions. There was no sign of the charismatic, powerful man that I had come to know over the years. He looked stressed and only cracked a forced smile when they cut the birthday cake.”

Is die eerste prioriteit nie om Ramaphosa se kop en gesindheid reg aangeskroef te probeer kry nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JV ·

Kan dit onder Afriforum se aandag gebring word, hopelik kan hulle beide gevalle soos in die berig genoem onder Nerderland en Belgie se aandag bring. Dit is belangrik dat die buiteland weet wat met hulle burgers hier gebeur.

Herman Toerien ·

Dankie Max. Ek het vanoggend so by vyfuur laas ge-Google, en in verskeie tale. Toe het nog net Maroala se berig gewys. Ek het ook op Netwerk 24 se argief gaan kyk, en ook dié van RSG. Nou is News 24, The South African, en IOL op. Ek is baie bly om te sien dit kom aan. As ‘n mens in gedagte hou dat die moord al Sondagaand gepleeg is, is die tydsverloop in terme v vandag se kommunikasiemiddele nogtans stadig.

aj ·

SKOKKEND!

Nie net die wrede moord op ‘n ou omie nie … maar nog meer as dit ….die meedoënlose manipulasie van die nuus om sekere agendas te bevorder.

Daar is GEEN BEGINSELS (moraliteit) in media beriggewing nie … SLEGS BELANGE (geld?)

Vra net ·

Baie hartseer. Hy het kom goed doen net om vermoor te word. My vraag; hoekom moet sendelinge altyd teen grrot kostes in die wêreld ingestuur word? Ons stuur mense Europa toe en hulle stuur mense hiernatoe. Kan ‘n sendeling maar sommer net in sy eie land meer goed doen as om in die vreemde in te gaan en te probeer aanpas voor hy kan goed doen nie? Van kleintyd af het dit altyd vir my gevoel dis mense wat op ‘n kerkrekening oorsee toer.

Patat ·

?Spelfout – “Dietssprekende lande” (duitssprekende lande)

Interresante artikel!!

Megan Swart ·

Dagsê Patat
Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die flater, die berig is gewysig.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Herman Toerien ·

Hallo Megan
Radio Rosestad het tot ‘n paar jaar gelede ‘n musiekprogram, Diets en Duits gehad en so het ek geleer dat Diets die erkende versamelnaam vir Nederlands en Vlaams (die ou Platteduits) of Nederduits (oorsprong vd woord Nederduits in die NG Kerk en Nederduitsch in die Hervormde Kerk). Ek meen daar is ook ‘n opvatting dat Afrikaans ook ‘n Dietse taal is, asook ‘n vorm van Nederlands wat in die voormalige Nederlandse kolonies en steeds afhanklike eilandstaatjies in die Karibiese Seee gepraat word, en soos ek verstaan, saam met Fries ‘n soort amptelike status in Nederland geniet. Ek is nie seker of Brabants (wat veel nader aan Nederlands is as Fries), ook as Diets gereken word nie. Die amptelike Nederlands (voorheen bekend as Algenmeen Beskaafd Nederlands) is dikwels net die spreektaal van die inwoners van die nuwe stede, soos in polders), Elders is die ou dialekte nog vry in gebruik.

Johan Venter ·

Ramaphosa se kop is kláár aangeskroef, mens kan dit nie weer óór doen nie, mens kan dit wel net probeer reg draai, die probleem is egter dit ís al probeer, maar dan spring dit weer terug in die ANC se ideologiese posisie!

JohanR ·

Ek bly in die Kaap en was verlede jaar verbaas hoe leeg die winkels was in die week voor Kersfees. Gewoonlik is daar nie beweeg ruimte vir ‘n muis in ‘n mall nie, maar in 2019 kon jy lekker inkopies doen. Die Waterfront op ou Kers aand vemel nie net van “locals” nie, maar van toeriste. Ook maar leeg in 2019. Lyk maar of toeriste nou gaan vaar dit veiliger is, en jou keel word nie somer vir ‘n vors broodjie af gesny nie!

bokka ·

Benewens News24 ook op IOL net na 18h00 gisteraand berig so ek neem aan daai storie sal ook in van die plaaslike koerante wat onder die IOL stal val, verskyn.

bokka ·

Sy liggaam is eers Maandag gevind en al die groot media huise het Dinsdag daaroor berig. Lyk normaal vir my.

John ·

Waarom laat sy kerk in die huidige toestand in die land ‘n bejaarde aan sy eie lot oor.
Of was dit sy eie keuse. Kerke val in Europa uitmekaar en word selfs aan beeldaanbidders verkwansel of in winkels omskep. Groot behoefte aan sendingwerk onder eie mense is nodig.

Harry ·

Hierdie moord word nie graag/gou gepubliseer deur media wat ‘n opregte kind van God geensins kan verdra nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.