Nuuskommentaar: Geweld en doodslag voor verkiesing

AK47-aanvalsgewere (argieffoto)

AK47-aanvalsgewere (argieffoto)

Die politiek en staatkunde is vol siniese gesegdes. So verklaar ‘n waarnemer dat die demokrasie ‘n euwel is, maar dit is die beste euwel wat ons het. ‘n Ander vra hoe ‘n mens weet dat ‘n politikus lieg, met die antwoord dat dit is wanneer hy sy mond oopmaak. Nog ‘n “gesegde” lui dat die kiesers die regering kry wat hulle verdien.

Die manifestasie van politiek is egter dat dit die regering oplewer wat elkeen se lewe daagliks raak. Agt mense is die afgelope twee weke in Gauteng, Noordwes en Limpopo in politiek-verwante geweldpleging dood, onder meer twee toe ‘n groep mense ‘n polisiestasie bestorm het.

Die kieser is die regering se werkgewer, en daarom dra die kieser met sy stemreg ‘n baie groot verantwoordelikheid. Om uit blinde lojaliteit vir ‘n party te stem kan bitter gevolge oplewer, en net so kan apatie ook diegene wat “reg” gaan stem het met ‘n swak regering straf.

Apatie en sinisme oor die politiek is nie nuut nie. Pres. Barak Obama het pas sy staatsrede gelewer, wat in die eerste plek ‘n Amerikaanse uitvindsel is, en intussen wêreldwyd tot ‘n baie belangrike gebruik ontwikkel het waarop talle besluitnemers, waaronder ekonome, baie van hul besluite neem. Tog toon ‘n peiling van Rasmussen vanoggend aan dat 62% van die Amerikaanse kiesers die staatsrede as net ‘n vertoning beskou. Tog het 72% beoog om die toespraak op TV te volg, of minstens koerantberigte daaroor te lees. Die besef oor die belangrikheid is dus tog aanwesig.

Obama het drastiese voornemens, soos om so veel as wat die grondwet toelaat, op eie houtjie doen en so die Kongres se invloed verminder. Die hoofpunte van die toespraak kan hier gelees word.

Terwyl mense in politieke onrus doodgeskiet word, betogings en stakings plaasvind en selfs ‘n polisiestasie bestorm word, dui peilings daarop dat die ANC steeds die komende verkiesing gaan wen.

Die ANC gaan wel, volgens die aanduiding, ‘n verkleinde meerderheid hê, en moontlik die Noord-Kaap ook, soos voorheen die Wes-Kaap, aan die opposisie afstaan. Die DA het ook sy oog daarop om saam met ander opposisiepartye Gauteng by die ANC af te neem.

Maar tog blyk dit uit baie aanduiders dat baie mense wyd hou as dit by nuus met ‘n politieke strekking kom. Baie van dieselfde lesers kla oor die baie misdaadnuus en ander onaangename nuus, maar die elektroniese tellers en opnames toon dat dit tog op groot skaal gelees word. Daar is volop kuberkommentaar (dikwels om te kla oor die baie misdaadnuus).

Met die nuus dat Rapport se My Tyd gesluit word, en dat Media 24 se By dalk gaan volg, is daar ‘n stroom kritiek. Talle dui aan dat die bestaan van hierdie tydskrifte die hoofrede is waarom hulle naweekkoerante aanskaf, en ‘n paar dui aan dat die “res van die koerante net vol vervelige politiek” is.

Waarmee kan verkiesingsapatie vergelyk word?

‘n Koerant, sowel as die plaaslike radiostasies, berig weke lank oor die baie geweldsmisdaad in ‘n deel van die stad. Daar is stringe briewe van lesers in die koerante. En te midde hiervan gaan draf ‘n drawwer na sononder deur die einste gebied, en word aangeval. Die slagoffer kla dat “niemand” ooit vir hom / haar gesê het dis gevaarlik daar nie.

Het iemand wat volstruispolitiek bedryf enigsins die reg om te kla as die regering wat deur sy apatie aan bewind kom, verbrou? Kan die een wat nie in die munisipale verkiesing gaan stem het nie, nou enigsins sy mond rek oor sy kraan in Bloemfontein nou al dae lank net gorgeluide maak?

As stemgeregtigde is die kieser in werklikheid ‘n direksielid van die regering. Enige direksie wat sy sout werd is, sorg dat die beste mense die onderneming bestuur, en personeel – ook die bestuurslede – wat verbrou word weggewerk. ‘n Slap direksie kan nie kla as die jaarstate uiteindelik ‘n droewige verhaal vertel nie.

Daar is tekens dat die ANC besef hy kan nie meer die kiesers so maklik ‘n rat voor die oë kan draai nie. ‘n Interessante verwikkeling is dat die ANC nou voormalige kabinetslede en premiers in munisipaliteite wil ontplooi. Die rasionaal is dat hierdie mense veronderstel is om die mees kundiges en die knapstes te wees, en so die probleme op munisipale vlak wat die ANC nou so op nasionale vlak aan die hakskeen hap, die doeltreffendste wil aanspreek.

Dat dit onder opposisiekiesers met ‘n groot dosis skeptisisme begroet gaan word is gewis. Min van die voormalige, soos die huidige kabinetslede, word in daardie geledere as knap beskou. Die enkeles wat nie te sleg gevaar het nie, is hopeloos te min om enige beduidende impak op munisipaliteite te kan uitoefen. En watter ontplooibare oud-premier het nou eintlik vertroue ingeboesem?

Of moet afgelei word dat heelwat van die huidige ministers en premiers na die verkiesing “beskikbaar” gaan wees vir herontplooiing?

Die hersirkulasie van gediskrediteerde kaders het in die verlede nog selde goeie gevolge gehad. Die een na die ander het ‘n verwoestende herontplooiingspoor gelaat soos die probleem saam met die kader ‘n domino-effek gehad het om munisipaliteite te laat tuimel.

Die demokrasie is egter veel omvangryker as net stemreg. Persvryheid is ‘n baie belangrike deel daarvan, maar die handhawing hiervan hang uiteindelik weer van die stemreg af. Die afgelope aantal jare het Suid-Afrika van die 21ste mees persvrye land tot die 52ste teruggesak. Die nuutste indeks word voor die einde van die week verwag, en die algemene verwagting is dat Suid-Afrika nog verder sou terugsak.

‘n Tweede aspek is deelname aan burgerlike strukture wat die grondwet inspan om ‘n diktatuur van die meerderheid te voorkom. Dit sluit instellings soos AfriForum, Solidariteit en Outa in. Maar dit beteken die meerderheidsparty moet van ‘n tweederde meerderheid weerhou word, wat reeds aangedui het, by monde van pres. Jacob Zuma, dat hy ongenoemde veranderinge aan die grondwet wil aanbring as die party ‘n tweederde meerderheid kry. Weer eens is dit van stemreg afhanklik.

In Europa word demokrasie wat nie ruim vir minderheidsregte voorsiening maak nie as gebrekkig beskou, en dat dit dan ook menseregte baie beperk. Die grondwet in Suid-Afrika maak betreklik ruim voorsiening hiervoor, maar beteken eintlik min as niemand stem vir die aktivering daarvan nie.

‘n Ingeligte kieser is ‘n toegeruste kieser.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.