Nuuskommentaar: (Geweld + intimidasie + vandalisme + bloedvergieting) = SA-staking

Argieffoto (Foto geneem tydens stakings in Marikana, Noordwes)

Argieffoto (Foto geneem tydens stakings in Marikana, Noordwes)

Wanneer ‘n radikale vakbond in Suid-Afrika staak, eindig dit ongelukkig nie by dit wat ingevolge die grondwet toelaatbaar is nie; aspekte soos die weerhouding van arbeid en vreedsame optogte nie, maar dit sit byna onvermydelik om tot ‘n gewelddadige oproer waarin eiendom beskadig word en menselewens in gevaar gestel word.

Dit was ‘n jaar gelede die absolute kenmerke van die vervoerstaking.

Dit is nou weer die kenmerke van die Numsa-staking, wat onder meer daartoe gelei het dat ‘n Solidariteit-lid baie ernstig aangerand is, terwyl ‘n swanger vrou ook aangerand is.

Die vakbonde pleit gewoonlik totale bewusteloosheid oor hierdie vergrype van hul lede, of ontken dit. Soos nou ook, waar die berigte oor aanrandings, intimidasie en vandalisme heel ernstig as propagandastories afgemaak word.

In ‘n samelewing waar die inkomstegaping een van die hoogstes, en volgens sommige bronne die hoogste in die wêreld is, is dit nie onnatuurlik nie dat die breë gemeenskap se simpatie by die werkers lê. Maar na ‘n rumoerige optog waartydens al wat vullisdrom omgekeer is en geparkeerde motors langs die pad beskadig is, verdamp die simpatie baie gou.

Die “doel” van die gepaardgaande gewelddadige optrede het ook ‘n geleerde naam, dit het ‘n hiperboliserende uitwerking. Dit beteken gewoon om die impak van wat gedoen word, te vergroot. Dié tegniek kan ook heel vreedsaam toegepas word. As ‘n politieke party ‘n verklaring uitreik, maar dit in die lêer gaan bêre, het dit geen impak nie. Maar gebruik die media dit, sien en hoor duisende mense die boodskap. En juis om daardie rede word moeite gedoen om dit so verbruikersvriendelik as moontlik op te stel – word gelet op die joernalistieke taal, en word dit in die tale van die vernaamste media uitgereik. ‘n Party wat dit nie doen nie, skiet homself in die voet.

Wat stakings betref, is daar egter ‘n duidelike onderskeid tussen dit wat toelaatbare, en dit wat ontoelaatbare optredes is om die impak te vergroot. Om tydens ‘n munisipale staking honderde duisende rande se skade in die Bloemfonteinse stadsaal se toiletgeriewe te gaan aanrig, is nie toelaatbaar nie. Boonop is die herstel van die skade vir die rekening van die einste mense – die belastingbetalers, wat dié vandale se verhoogde salarisse moet betaal.

Dit gaan maar langtand opdok wees, veral omdat dit dikwels weens lakse dienslewering moeilik is om die verskil tussen stakings en nie-stakings agter te kom as daar nie gewelddadige optrede in die prentjie ingeroer word nie.

Dit is immers verspot as die personeel van ‘n disfunksionele rioolsuiweringsaanleg nog formeel staak ook, of vullisverwyderaars staak wanneer die voertuie weens lakse instandhouding in elk geval lanklaas kon loop.

Die gewelddadige effek trek egter ook op vergrote skaal die aandag van beleggers en potensiële beleggers, en so word ‘n staking wat dalk heeltemal geregverdigde looneise stel, ook ekonomiese sabotasie – word daardie verhogings juis onbekostigbaar. Moody’s het juis gewaarsku dat die staking Suid-Afrika se kredietgradering in gevaar stel. Die rand het sy laagste vlak in twee weke getref.

Volgens die jongste internasionale vredesindeks wat op 17 Junie vanjaar bekend gestel is, beklee Suid-Afrika nou die 122ste posisie uit 162 lande. Byna al die lande wat swakker as Suid-Afrika vaar het met burgeroorloë of volksopstande te kampe.

Die onderliggende probleme is so kompleks dit kan nie maar met die gereelde speel van die volkslied op TV, of ‘n ministerie van propaganda reggestel kan word nie.

Dit spreek al boekdele as die SAKP ‘n beroep om Cosatu doen om hom nie te veel aan die radikale vakbonde te steur nie.

Miskien sal dit die regering loon om ‘n slag met Solidariteit om ‘n tafel gaan sit en kers op te steek oor hoe om die land se arbeidsituasie die moderne era in te neem. En te luister.

En sommer begin by die beginpunt – dat iemand se reg om te werk minstens dieselfde regstatus kry as die reg om te staak.

Want só kan dit nie aangaan nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Erna van Dyk ·

Ek waardeer die inhoud van die berig. Veral die slot. Ons hoor, ons lees, sien en ervaar hierdie brutale optrede. Wat kan ons doen, om die onskuldige mens te beskerm en die rampokkers verantwoordelik te hou vir materiele,liggaamlike en emsionele skade.
Hoe is dit moontlik vir die stakers en hul belhammels om vir so lank steeds weg te kom met spreekwoordelik…moord?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.