Nuuskommentaar: Geweld is apartheid se skuld – staatsrede

Foto: GCIS

Foto: GCISerki

Die swakste staatsrede in Suid-Afrika se geskiedenis. Dit is min of meer die konsensus onder gerekende analiste, opposisiepolitici en die internetkommentare.

“Zuma het ‘n rooskleurige land geskets, maar dit is nie wat ons sien nie.”

So het genl. Bantu Holomisa, leier van die UDM ‘n hele paar opposisieleiers se kommentaar raak saamgevat. Mnr. Mosiuoa Lekota, leier van Cope, meen die president het die publiek ‘n rat voor die oë probeer draai. Lekota het Zuma se toespraak 1 uit 10 punte gegee.

‘n Paar van Zuma se stellings het in die besonder kritiek ontlok. AfriForum het dit baie vreemd gevind dat Zuma die diensleweringsgeweld in die land juis aan die regering se suksesse daarmee koppel. Dit is die “paar” wat nog uitgesluit is wat nou so onrus stook, aldus die president.

Die CDP vind dit onaanvaarbaar dat die neiging tot geweld weer op apartheid se brood gesmeer word, twintig jaar na die ANC aan bewind gekom het.

Die DA  en ander politieke partye het Zuma voor stok gekry oor beloofde 5 miljoen werksgeleenthede deur openbare werke-programme, en daarop gewys dat hy daardeur die publiek mislei omdat dit tydelike werk behels. Die land het permanente werksgeleenthede nodig. AriSake sê die land kan stewige belastingskoerse te wagte wees om die infrastruktuurverwante werksgeleenthede te finansier. Die Vryheidsfront Plus raak aan die verlammende uitwerking van bestaande arbeidswetgewing en dat daar in Gauteng alleen ses stakings elke dag is.

Ten spyte van die wye verdoemende oordele oor die staatsrede, is daar ook diegene wat meen dat dit ‘n goeie inspirerende staatsrede was. SAPA gebruik die woord “upbeat” om Zuma se rede te beskryf. Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het net lof daarvoor gehad wat dalk verklap wie ‘n belangrike mede-outeur van die toespraak was. Van die ANC-LP’s het na die toespraak soos katte gelyk wat melk in ‘n piering gekry het – as ANC-spanpraatjie het dit minstens die soustreinryers ingebind.

Maar buite daardie kring, so lyk dit uit die algemene reaksie, is dit leeuwêreld.

– Korrupsie: Zuma herbevestig die regering se verbintenis tot die stryd teen korrupsie, en wys op sekere suksesse. Maar Suid-Afrika het minder as twee maande gelede nog verder agteruitgeboer op die korrupsiepersepsie-indeks. ‘n Paar maande daarvoor is Suid-Afrika in die omkoopindeks erg verniel, met van Afrika se mees berugte korrupte lande wat beter as Suid-Afrika vaar. Die meeste opposisiepartye maak dit egter duidelik dat hulle nie oortuig gaan word as Zuma nie self sy dag in die hof gaan bly ontduik nie (en dan is daar nog Nkandla ook).

– Kort na oud-minister Tokyo Sexwale daarop gewys het dat dit bykans onmoontlik is om weens die vinnige aanwas die agterstand in huisvesting in te haal, is hy afgedank. Sexwale se afdanking het waarskynlik nie daarmee verband gehou nie, maar met ‘n president wat self meer as twintig kinders binne en buite die eg het, is aanwas nie een van die meer politiek-korrekte uitwysings nie.

– Die CDP wys daarop dat die president twintig jaar se prestasies bymekaar gehark en kwantitatief vermeld het, maar die kwalitatiewe aspekte verswyg het. Soos een internetkommentator geskryf het, die president noem die baie kilometers paaie wat gebou is, maar verswyg hoe die bestaandes daaruit sien.

Dit lyk werklik of dit wat Zuma verswyg het, net so hard, indien nie harder nie, deur die sosiale media praat as dit wat Zuma se voor-verkiesingspoggery opgelewer het. 

Zuma het ook skerp van die internasionale konvensie van staatsredes afgewyk deur dit duidelik te maak dat die aanspreek van die probleme die taak van die “inkomende regering” sal wees, en dat daar na die verkiesing ‘n tweede staatsrede sal wees. In beginsel beteken dit dat van die kiesers verwag word om nou ‘n blanko sosiale kontrak te sluit, en die regering sal na die verkiesing self die inhoud invul.

Selfs die verbintenis tot die nasionale ontwikkelingsplan is vol gate gelaat, waarskynlik om nie ‘n te regstreekse konfrontasie met opponente daarvan in Cosatu op die spits te dryf nie.

Die president was al ‘n hele ruk voor die staatsrede grootliks uit sirkulasie “om vir die staatsrede voor te berei.” Die skryf van ‘n staatsrede is egter veronderstel om die werk van die president se knapste adviseurs te wees, met die president wat belangrike direktiewe gee, en uiteindelik ook vir die produk pa staan.

In Suid-Afrika loop die proses egter soos taks iewers verkeerd, en dié keer is ‘n nuwe standaard aan die onderpunt gestel.

Dis soos ‘n kind wat oor sy baie speelgoed spog, sonder om in ag te neem dat hy baie daarvan gebreek het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Ek kry die idee Zuma het net die datum op verlede jaar se openingsrede verander want daar is beslis niks nuuts in sy toespraak gewees nie. As dit wat op die oomblik op die gebied van regeringsbedrog en diefstal aangaan wat ons ekonomie in die diep donker waters ingesluk het, dan het Zuma nie ‘n benul wat die woord korrupsie en bedrog beteken nie. Die regering het volgens die nuutste bronne in die afgelope boekjaar R30 miljard net eenvoudig vermors op niks en net gisteraand se R6 miljoen aan die dinee na die opening is ‘n duidelike teken dat Zoom nie ‘n benul het waaroor hy praat as hy praat oor die regering se wil om korrupsie, vermorsing van belastingbetaling en diefstal uit te roei, want is R6 miljoen vir ‘n dinee anders as diefstal

Demokraat ·

Zuma is ongetwyfeld die swakste staatspresident wat Suid-Afrika nog gehad het en kom hy weg by die oorheersende onvolwasse en oningeligte ANC-ondersteuners met die gebruiklike cliché dat apartheid slegs die okorsaak is waarom dit nog sleg gaan met baie in die land. Hy kon maar eintlik in dieselfde asem gesê het dit gaan slegs vanweë die blankes in die land wie steeds alle rykdom besit.

Leon ·

As ek nog eenkeer weer moet hoor dat alles wat in hierdie land verkeerd gaan apartheid se skuld is dan kraam ek – wanneer gaan hierdie regering ooit leer na amper twintig jaar in die regeringstoel het hulle die geleentheid gehad het om dinge te verander en die verlede te begrawe – maar nee! waar dan ooit gesien gehasie! as hulle korrup is is dit apartheid se skuld as die dienste en ons paaie inmekaar stort is dit apartheid se skuld as die verdomde hond op die strand bollie is dit ook apartheid se skuld

Zuma hou asb op om die blame game te speel en doen iets konkreets waar dit n verskil gaan maak as die afrikaner na die engelse opresie in die agtienhonderds opgestaan het uit die stof en hierdie land saam met opresie opgebou het as n ekonomiese eenheid in Afrika en ons nie in sak en as gaan sit het en die verlede gedurig deur as n verskoning te gebruik nie, het die ANC mooi netjies indie twintig jaar misrabelik gefaal in alles wat ons aangewerk en aan gebou het, hierdie die twintig jaar sal in die anale bekend staan as die regeerder wat alles afgebreek het en apartheid daarvoor geblameer het.

Nee Zuma hierdie rondte het jy ook verloor soos in al jou vorige staatsredes, jy het jou party en jou lede net in groter onguns gebring want die ANC kan hoegenaamd niks wys in wat hulle goed gedoen het nie behalwe om te blameer…..O daarin is julle baie goed ja!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.