Nuuskommentaar: Geweld teenoor vroue en kinders

Suid-Afrika bevind hom nou midde-in die jaarlikse veldtog van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, ‘n boodskap wat sal neig om sleg die wind van voor te kry in sy aanspraak en mededinging op mediadekking te midde van COP 17 wat vandag in Durban begin, die Menseregtekommissie se haatspraakverhoor teen Julius Malema wat vandag begin na meer as 500 klagtes ontvang is, en die storm oor die omstrede wetsontwerp op die beskerming van staatsinligting wat internasionaal die weerlig trek. In hierdie dae gaan die president se woordvoerder, mnr. Mac Mararaj, boonop die les leer dat ‘n mens nie sommer swaarde kruis met diegene wat die ink by die vat aanskaf nie. Boonop was daar die naweek nog ‘n plaasmoord, kort voor ‘n afvaardiging van Afriforum die VN se Menseregteraad oor dié ramp inlig.

Met die oë van die wêreld op COP 17, sal dit nie vreemd wees nie dat Suid-Afrika in geheel meer as gewoonlik onder die wêreld se vergrootglas gaan beland nie. Suid-Afrika word gereeld die verkragting-hoofsetel van die wêreld genoem. Volgens die jongste amptelike misdaadstatistiek is daar in die betrokke jaar 66 196 gevalle van verkragting by die SAPD aangemeld. Volgens maatskaplike werkers word slegs sowat een uit tien tot een uit dertig verkragtings by die polisie aangemeld. Amper 200 000 gevalle van aanranding is by die polisie aangemeld, waarvan ‘n groot persentasie vroue en kinders slagoffers sou wees. Daar was effens meer gevalle van aanranding met die opset om ernstig te beseer, wat ‘n aanduiding gee dat ook nie alle aanrandings by die polisie aangemeld word nie. Net minder as 16 000 mense is vermoor, en byna net soveel gevalle van poging tot moord is aangemeld, weer eens ‘n aanduiding dat alle gevalle van poging tot moord nie op klagtes by die SAPD uitloop nie. En in elk van hierdie kategorieë was daar ook vroue en kinders die slagoffers. Meer as 3 000 gevalle van kinderverwaarlosing of die mishandeling van kinders is ook aangemeld.

Vroue en kinders sou ook deel van die statistiek wees soos strafbare manslag, kapings, rooftogte en vele meer. Met die hoë voorkoms van MIV – Vigs is verkragting ‘n veel ernstiger saak. Voorts is die ouderdomme van verkragtingslagoffers tekenend van ‘n siek gemeenskap – dit wissel van babas tot oumatjies van 103 jaar oud – dit sluit invalides in, en boonop is die verkragter dikwels aan die slagoffer bekend of selfs ‘n familielid, of selfs die pa. Grootskaalse werkloosheid en armoede word dikwels as grondoorsake van die sosiale euwels gelys as faktore wat tot hierdie soort misdaadsyfers lei. Al hoe meer studies wys egter ook daarop dat die inkomstegaping ‘n soortgelyke effek op die tronkbevolkings het, en Suid-Afrika is volgens sommige bronne nie net die land met die hoogste meetbare inkomstegaping nie, maar een waar dit besonder snel toeneem.

Die berugte blouligboewery word deur sosioloë aan ‘n verskynsel bekend as anomie toegeskryf, ‘n toestand van wetteloosheid as gevolg van ‘n gebrek aan maatskaplike norme.‘n President, eens die hoof van die formele morele herlewingsaksie, wat vir veragting aangekla is en suksesvol owerspel as verweer gebruik, word as voorbeeld genoem. In die aanloop tot die wêreldbekersokkertoernooi en tot ‘n ruk daarna het Suid-Afrika ‘n taamlike windstilte van misdaad beleef, en die regering sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat dieselfde tydens COP 17 gebeur. Die plaasmoord en verskeie plaasaanvalle in die Wes-Kaap op die vooraand daarvan is egter simptomaties dat Suid-Afrika nie daarop kan staatmaak dat die land internasionaal sal baai in gunstige publisiteit nie. Die internasionale media is ook nou omge-ellie soos blyk uit Verslaggewers Sonder Grense en Freedom House se heftige reaksies op die omstrede snoerwetgewing.

Die stryd teen verkragters en kindermishandelaars moet egter nie beïnvloed word deur die feit dat die oë van die wêreld op die land gerig is nie. Elke landsburger het ‘n plig om dié euwel hok te slaan, al is dit net om verdagte gevalle aan te meld. Môre is dalk te laat vir daardie geval.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae