Nuuskommentaar: Gewond, maar onoorwonne

Gisteraand is nog ʼn boer vermoor.

Ons gemeenskap het vanoggend met afgryse verneem van nog ʼn plaasmoord wat gisteraand naby Paul Roux in die Vrystaat gepleeg is. Die 21-jarige plaasbestuurder se liggaam is vanoggend sowat 100 m van die plaashek gekry waar dit met ʼn tou om sy nek aan ʼn ysterpaal vasgemaak is – soos ʼn geslagte dier.

Herkie Viljoen, ʼn veiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL), het gesê dat die jong man nie vyande gehad het nie en dat die moord byna soos ʼn boodskap gevoel het. Van die jong man se medewerkers het genoem dat die moordenaar die kleinste en jongste ou op die plaas gekies het om te vermoor.

ʼn Mens kan nie anders as om met ongebreidelde woede op iets so afskuwelik te reageer nie. Eksistensiële woede wat spruit uit die absolute verbasing dat een mens so iets aan ʼn ander kan doen. Persoonlike woede wat spruit uit die onreg dat iemand so iets aan jou eie mense kan doen.

Hoewel die meerderheid Afrikaners nie op plase bly nie, is ons almal in ons harte steeds boere. Die onblusbare hunkering na vryheid van die Afrikaner vlam daarom elke keer op wanneer ons boere leed aangedoen word. Elke keer wanneer só iets gebeur, kan ons nie anders as om te treur asof dit ʼn persoonlike verlies is nie – want dit is. Elke plaasaanval en plaasmoord is nie bloot moreel afkeurenswaardig nie. Elke plaasaanval en plaasmoord is vir élke Afrikaner élke keer ʼn persoonlike trauma.

Plaasaanvalle en -moorde is ʼn probleem wat selfs die Afrikaner na die strate in desperate protes dryf. Ons voel magteloos en uitgelewer oor die probleem wat ons gemeenskap teister. Suid-Afrika se misdaadstatistieke verduidelik waarskynlik die voorkoms van plaasaanvalle – misdaad is oral in ons land in elke moontlik vorm teenwoordig.

Dit is egter onmoontlik om die wreedaardigheid waarmee boere op plase vermoor word aan blote misdadigheid toe te skryf. Dit is moeilik om te glo dat dit nódig is om kookwater in mense se ore te gooi ten einde hul fone te steel. Dit is moeilik om te glo dat iemand wat aan ʼn boom opgehang en doodgeslaan word die normale gang van ʼn huisrooftog is. Dit is moeilik om te glo dat dit “normale misdaad” is wanneer mense sonder rede met strykysters doodgemartel word. Dit is moeilik om na ʼn jong man se liggaam, vasgebind aan ʼn paal met ʼn tou om sy nek, te kyk en nié ʼn boodskap daarin te lees nie.

Dit is hierdie onverklaarbare wreedheid wat swaar in die Afrikaner-hart gaan lê. Dit is hierdie wreedheid wat plase van pleine van vryheid na tronke van vrees verander. Dit is hierdie werklikheid van weerloosheid en die gepaardgaande vrees wat aan die hart lê van die Afrikaner se bestaansprobleem.

Boere is so ongelooflik kwesbaar juis vanweë hulle yl verspreiding. Thomas Sowell, ʼn bekende Amerikaanse ekonoom, het tereg opgemerk dat die ligging van volke hul lot kan bepaal. Hierdie is egter ʼn uitdagende krisis.

Boere kán nie trek nie, wíl nie trek nie en móét nie trek nie. Boere voed nie net ons nasie nie, maar ook ons vryheidsdrang. Hulle preserveer die stukkies vryheid waarna ons kan ontsnap wanneer ons wil. Hulle koester die geharde siel van die Afrikaner wat ons nog altyd gehad het. Hulle bewaar ons gees van selfdoen en onafhanklikheid. Hulle bewerk die grond waarvandaan ons kom en waarop ons gaan voortbou.

Hierdie werklikheid bemoeilik egter ook die probleem wat ons in die gesig staar. Ons kan nie ons boere máklik beveilig nie, juis omdat hulle nie kan skuif nie. Die somtotaal van ons antwoord op hierdie probleem kan egter nié die regering wees nie.

Bheki Cele het onlangs in roekeloos emosionele uitsprake genoem dat boere nie moet kla wanneer hulle seerkry nie. In dwase onsensitiwiteit het Cele ook dit bevraagteken dat boere so swaar gewapen is – waarvoor is hulle dan so bang? Minister Cele verstaan dalk nie boere se wapenbesit nie, omdat hy nie nódig het om dit te verstaan nie. Minister Cele verstaan waarskynlik nie die vrees van plaashonde wat beangs die donker nag in blaf vir dit wat moontlik ʼn lewensbedreigende gevaar is nie. Minister Cele verstaan ook nie hoe dit voel wanneer dit wat veronderstel is om jou vryheid te wees jou in vrees verwurg nie.

Selfs al wou die regering graag die saak ernstig opneem, kan hulle bloot nie. Ons regering het wet en orde só in onbevoegdheid laat verval dat ernstige beroepe om regeringsingryping buitendien nutteloos is.

Óns moet hierdie probleem self oplos. Dit is óns boere wat in vrees leef, in weerloosheid verkeer, aangeval en vermoor word. Hierdie is die veiligheidsprobleem wat ons gemeenskap teister – dit is ons plig om dit op te los. Nie deur ʼn beroep op die regering te doen nie, maar eerder deur onsself met weerbaarheid teen misdaad te pantser. Boere kan dit nie meer bekostig om te dink dat so iets nie met hulle gaan gebeur nie. Ons kan dit ook nie meer bekostig om ons veiligheid aan die regering uit te kontrakteer nie.

Ons moet eerder gemeenskapstrukture, vermoëndheid en betrokkenheid verskerp. Goed georganiseerde, doeltreffende en weerbare gemeenskapstrukture gaan ons enigste heil wees.  Sodoende sal ons sterk gemeenskapsbande diegene wat deur yl verspreiding bedreig word staande kan hou. Deur ʼn goeie veiligheidstrategie te ontwikkel sal ons ʼn nodige vryheid-strategie kan laat verwesenlik.

ʼn Plaasmoord is nie net ʼn plaasmoord nie. Elke vermoorde boer is ʼn stukkie Afrikaner-siel wat vermoor word. Elke gemartelde boer se pyn deurboor die Afrikaner se wese met pyn. Nou is die tyd vir saamstaan en mekaar beskerm – die harde werklikheid is dat niemand anders dit gaan doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Monica die moord is een te veel, afskuwelik, walglik en onaanvaarbaar. Die kind was iemand se seun. Sy lewe het voor hom gelê!. Die wreedaards het genot daaruit geput. Wanneer gaan die realiteit tot ons deurdring dat ons in ‘n lae intensiteitoorlog verkeer? Wanneer gaan ons ophou sê ons sal, ons moet en ons gaan iets omtrent die situasie doen? Wanneer gaan ons ophou verskoning vra, mooi woordjies uiter net altyd vergewe en te bang wees om op tone te trap? As die boeregemeenskap en Afrikaners nie nou pro-aktief gaan begin optree om hul eie heil en veiligheid te verseker… Lees meer »

FM

Ongebreidelde woede

En dit verander NIKS aan die jong lewe wat wég is nie. Vir ewig weg.

Androclus

Onaanvaarbaar iets moet gedoen word en gou ook asb.

Moppie

Rus in vrede seun, maar ons wat agter bly sal nie rus nie……..Sterkte aan die familie en ouers……
Ja en so sal ons een vir een vermoor word, want aan hulle word niks gedoen nie, Cele waar is jy nou…….is dit vir jou lekker om so iets te sien en Ramaposa wat het julle te se nou……..maar julle gee niks om nie, ons kry ons kos van die boere af ………. doodstraf is al wat moet terugkom.
So teleurgestel in ons land, ek is te skaam om te se ek bly in hierdie korrupte gemors van ‘n land…

JohanR

Ek kom uit die ou Rhodesie 25 jaar daar gebly, en 20 maande in die mag 1975 tot 1977. ‘n Paar jong mense het een naweek uit gery na een van die meisies Pa se plaas, en ek was verbaas hoe gereed hulle was vir terroriste. Die huis was heelemal beveilig van buite om, tot die venster, en selfs binne in die plaffon want teroriste het daarvan gehou om mortiere deur die dak te stuur. Almal en alles was aan mekaar gekoppel met radio soe dit was sommer gou gou dat buur plase, die magte en die polisie geweet is… Lees meer »