Nuuskommentaar: Gifpenne uit oor ‘Tainted Heroes’

AfriForum/Facebook

AfriForum/Facebook

AfriForum se film, Tainted Heroes, is nog nie eens wyd uitgereik nie, of kritiek vloei uit die linkerkant van die politieke spektrum. Was die maak van die film noodsaaklik, of ʼn groot fout? Herman Toerien neem die kwessie in oënskou.

AfriForum se film, Tainted Heroes, wat ten doel het om groter balans te bring in persepsies oor wie nou eintlik engeltjies was en wie nou nie heeltemal as engeltjies gedeug het nie, se primière is skaars gehou, of die penne is in gal gedoop. Een van die kritici, Max du Preez, het die film nog nie self gesien nie.

Maar laat dit duidelik gestel word, in Max se geval maak die sydelingse kritiek deel uit van ʼn andersins (ongewoon, sal sy kritici sê) goeie stuk, Verlede verdien groter nuanse.

Die angels is werklik uit in die bydrae op Netwerk 24 waar Pieter du Toit, nuushoof van Netwerk24, skryf AfriForum speel met vuur.

Nie AfriForum of Solidariteit het (nog) formeel op die skrywes gereageer nie, maar ʼn Twitteroorlog woed waaraan van die vernaamste rolspelers deelneem.

Die bedoeling met hierdie rubriek is nié om die kwessie ryp te probeer druk nie. Op Netwerk 24 word die skrywers reeds goed deur die lesers voor stok gekry, terwyl Max erkenning kry vir sy “andersins puik artikel,” met die implikasie dat hy “oplaas” ook nou die lig begin sien het oor wat werklik aangaan.

Voorts het Du Toit, wat die film gesien het, se bydrae grootliks die vorm van ʼn resensie aangeneem. Dis gewoonlik nie baie sinvol om ʼn resensie oor ʼn resensie te skryf nie, veral omdat die film nog nie wyd vertoon word nie en net ʼn handjievol mense dit gesien het en dus sinvol kan meedoen. Die uwe het dus ook nog nie die film gesien nie.

Soos sake nou staan, is daar reeds te veel teenstrydige persepsies oor die land se geskiedenis. Dit is nou pas weer gesien in die verbale diarree oor die karakter en rol van pres. Paul Kruger, nadat ʼn DA-LP so “ongevoelig” was om saam met ʼn afbeelding van hom afgeneem te word. Pres Jacob Zuma se skokkende onkunde oor die geskiedenis (wat waarskynlik net deur sy onkunde oor aardrykskunde en die ekonomie oortref word), het woeste stellings oor Jan van Riebeeck ingesluit wat nie net die historiese konteks kwyt was nie, maar sommer die feite ook.

En elke volk het helde nodig.

Die Bybel leer ʼn mens moet nie op prinse vertrou nie en die held sonder voete van klei moet stellig nog gebore word. Zuma se helde, soos Shaka, was geen engeltjies nie. Net so vertel die geskiedenisboeke dat Andries Pretorius self nooit die Geloftedag onderhou het nie.

Elkeen se persepsie van die geskiedenis word gedurig aan politieke invloede blootgestel en “aangepas” en helde se statuur groei terwyl die kennis oor die voete van klei vervaag. Soms is daar twyfel by geskiedkundiges of sekere helde ooit regtig bestaan het, soos die geval is met Racheltjie de Beer.

Soos wyer kennis versamel word, word byvoorbeeld gemerk dat bykans identiese verhale elders ter wêreld afgespeel het, waarvan die geldigheid dikwels ook nie bevestig kan word nie. Geskiedskrywers vind ook dat sulke verhale soms lank nadat dit sou gebeur het, skynbaar uit die bloute in omloop kom.

Dit lyk ook nie of hoofman Tshwane ʼn werklike historiese figuur was nie, standbeeld ten spyt.

Kortom, heldeverering het dikwels ʼn baie subjektiewe aanloop. Dis egter selde skadelik en dien eerder ʼn baie positiewe doel.

Behalwe soms, wanneer verskillende persepsies oor dieselfde figuur of figure in ʼn heterogene land gehandhaaf word. Dink maar aan die naarheid toe die nuwe sokkerstadion in Polokwane na Peter Mokaba van “Kill the Boer, Kill the farmer”-faam vernoem is. Dit kan as belangrike katalisator vir die ontwikkeling van tussengroepspanning dien. Soms kan dit binne dieselfde volk gebeur, soos wanneer ideologie of godsdiens binne die volk ʼn swaartepuntverskuiwing ondergaan en manifesteer juis dikwels in wat die Nederlanders “beeldenstorm” noem. Kort-kort lees ons van ʼn eertydse held wie se standbeeld iewers op hierdie aardbol omgetrek word.

Binne ʼn bepaalde gemeenskap is die letterlike en figuurlike “beeldenstorm” ʼn manifestasie van konflik. Wanneer een groep hom aan kulturele imperialisme en “beeldenstorm” van ʼn ander groep skuldig maak, is dit ʼn aanstigting tot konflik.

Die Nasionale Vredesakkoord was veronderstel om hierdie kwessie te ondervang.

Oor waar dit ontspoor het (en peilings toon dat dit grootliks die geval is) verskil menings (en dikwels weer juis langs die groepgrense). Die feit is egter dat versoening al hoe meer dikwels nie deel van die woordeskat van die ideologiese drywers is nie, soos diegene wat Afrikaans nie ʼn plek onder die son by universiteite gun nie.

Met die verwagte teenreaksie.

Tainted Heroes probeer balans bring in ʼn omgewing waar een deel van die bevolking se geskiedenis gekriminaliseer word en die ander deel, met hul voete in die bloed, se geskiedenis opgehemel word.

Oor of daar onnodig gekrap word (want niemand kan stry dat dit jeuk nie) sal die menings verskil.

Dit bly egter belangrik hoe elkeen (wat dit gesien het) daarop reageer. Is die reaksie in eie geledere verantwoordelik, slaag dit in sy doel.

Om te gaan stook en onbedoelde en ongewenste uitkomste te skep, hou die eintlike gevaar in.

** Lees gerus Susan Lombaard van Maroela Media se resensie oor Tainted Heroes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Bennie ·

Dit is n goeie weergawe van wat gebeur het en waardeur ek as 18 jarige blootgestel was wat onbekend is aan my kinders. Ons jonger geslag moet dit sien. Geen blanke kind wat nou benadeel word hoef skaam te wees vir ons geskiedenis nie.

Jean ·

Ja nee perfekte tydsberekening die “Tainted heroes ” gebaseer op feite ne.
Laat hul maar gal braak ag lekker man..
Hul die anc en kie strooi ongevoelige gif oor Afrikaner helde al vir n geruime tyd .
Die Afrikaner volkshelde wat niks te doene gehad het met wat hul van beskuldig word nie..

Dit is wel gevaarlikke propaganda in n land waar rasse verhoudinge alreeds aan die verkrummel is en plaas moorde n groot groot probleem juis oor die propaganda, ” blankes is diewe en het die grond gesteel, Oom paul was n rassis, Jan van Riebeeck dus al sy skuld” ….ens ens ens.
Maar gee hul die anc om ? Nee inteendeel hul stook maar net nog meer ” kill the boer kill the farmer”.

Laat daai liberale regoor die wereld maar sien wat hul ” heroes ” regtig. Is !
Onthou die isis vegters veg ok maar vir hul eie doel om hulself te bevry en in hul mense se oe is hul helde as hul onskuldige mense opblaas, is dit nie maar wat die anc ook maar gedoen het nie?? Hoe kan ons dan die Isis groep as boos beskou waar die anc dieselfde gedoen het maar word geag as helde??
Wat n grap…

SkarrelKind ·

Herman, ek het jou skrywe baie geniet alhoewel ek nog nie “Tainted Heroes” gesien het nie.

Dis maar weer eens ‘n geval van “one man’s freedom fighter is another man’s terrorist”. Hang maar net af aan watter kant van die draad mens staan.

Johannes ·

SkarrelKind, jammer maar ‘n geval van “one man’s freedom fighter is another man’s terrorist” is dit beslis nie. Daar bestaan iets soos “reg” en “verkeerd”. Terrorisme sal ALTYD verkeerd bly. Die kommunistiese ANC het terreur gebruik om sy ideologie te bevorder en af te dwing en dit sal altyd verkeerd bly. Met so ‘n redenasie kan ons net sowel begin om Al Qaeda of ISIS se dade te probeer regverdig in die naam van “vryheid”…

Grotman ·

Ek het die film nog nie gesien nie maar sal dit eers onder twee ooge wil kry voor ek my mening gee. Maar ek moet se dat enige iets wat die ANC, EFF en Cosatu ens ontstel sal ek ondersteun. ONS VIR OU SUID AFRIKA!!

Henry ·

Ek het nog nie die produksie gesien nie, maar ge-oordeel aan die gewone vyande van die Afrikaner se ge-temery, verteenwoordig “Tainted Heroes” talle waarhede wat strykdeur onder die mat gevee word.

Laat waai intussen met ‘Tainted Heroes No 2″ terwyl die gewone prul kommintatorre hul speelgoed uit die kot smyt oor die eerste weergawe se waarhede!!!

Boeremeisie ·

Ek was genooi na die premiere en het die film gesien. Ek kan getuig dat daar geen moeite ontsien is om n feitelik korrekte weergawe van gebeure uit verskillende rolspelers en oorde voortehou nie. Die film is aangrypend en ek moet erken dat daar vele kante tot hierdie saak is wat ek nooit oorweeg het nie. Baie dinge wat ek sleg verstaan het, is nou vir my duidelik. Dis duidelik vir my dat die doel NIE was om te krap waar dit nie jeuk nie,maar mense te bemagtig met die regte begrip van hul geskiedenis. Ek kan dit aanbeveel vir ENIGE SuidAfrikaner. Het verneem van die draaiboekskrywer dat die film moontlik op Box Office gaan wys of selfs History Channel. Kyk uit daarvoor en doen die moeite om dit te kyk. Besluit vir jouself voor jy die gifpenne glo!

Zirk ·

SA se grootste probleem is onkunde van die massas. Sedert die Soweto opstande in 1976, is die vak Geskiedenis uit alle swart skole verban. Met die gevolg dat die die oorgrote meerderheid van die publiek nie die waarheid van ons verlede ken nie. Dit pas dus die regerende party perfek, want nou kan hulle enige tjol van politieke verhoë as uitbraak en dit word geglo. “Tainted heroes” fliek is tydig, en ek hoop daar is ‘n opvolg.

Johannes Meintjes ·

Net goeie of treffende werk kan sulke voortydige en groot reaksies uitlok. My beskeie maar vermoede uit ondervinding vanuit SAW na SANW integrasie is dat Tainted Heroes steeds nie die volle prentjie deurgee nie.

Attie Snyman ·

Nou wanneer kan die publiek Tainted Heroes sien? Almal het nie toegang tot Box Office nie. History Channel sal ook nooit die film uitsaai nie. Ek praat van ondervinding. ‘n Paar jaar gelede het ek ‘n dokumentere film oor die slag van Bloedrivier vervaardig en aan History Channel voorgele vir uitsending. Hulle mening was dat dit ‘n uitstekende dokkie is, maar dat die onderwerp te sensitief is vir uitsending oor Afrika waar hulle kanaal te siene is. Enige film moet tog deur mense gesien word. Dit is mos die hoofdoel. Op die oomblik hoor ons net van Tainted Heroes, maar sien niks nie. Plaas dit dan op YouTube sodat die hele wereld dit in die duisende kan sien. So word die doel van die film bereik…om die waarheid oor die ANC se gewelddadige en rewolusionere geskiedenis te sien, al word daar geen inkomste of wins uit die film gemaak nie.

Tinus ·

Hi. Waar kan ons jou dokumentêr oor bloedrivier sien of in die hande kry?

sarie van heerden ·

Die voorstel dat Tainted Heroes op You Tube beplaas word is moeilik vir ons wat nie toegang daartoe het nie. Gee ‘n voorstel van iets anders asseblief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.