Nuuskommentaar: Glo iemand nog die SA regering?

SAvlagDie Suid-Afrikaanse media (sommige in elk geval) kry gereeld klappe van regeringslui. Dit het ook nou weer met onthullings oor die Fifa-skandaal gebeur, met die minister van sport, Fikile Mbalula, wat sover gegaan het om die geloofwaardigheid van die Suid-Afrikaanse regering teen die “res” op te stel.

Nee, Suid-Afrikaners moet patrioties wees en blindelings aanvaar dat die regering silwerskoon is in sy handelinge, en onder meer g’n nooit g’n niemand sou omkoop om ’n wêreldbekersokkertoernooi los te slaan nie – laat staan nog twee keer ná mekaar, aldus die minister.

“Verskoon my!” soos Jollie van Orkney Snork Nie-faam sou sê. As die regering ’n geloofwaardigheidsoefening wou doen, kon die tydsberekening van die minister van polisie se “Nkandla-verslag” nie op ’n slegter tyd gekom het nie. Nie eintlik in ’n land waar ’n gewese provinsiale premier gesê het dis in die haak vir politici om te lieg nie. Hy kon bygevoeg het, om te swyg en toe te smeer ook.

As Mbalula ontsteld is oor wat hy in die Suid-Afrikaanse media lees, sou hy stik as hy die oorsese media lees. En nie van sensasiesoekende koerante nie. Die volgende aanhaling kom vanoggend uit die besadigde Christelik-Protestantse Nederlandse koerant, Trouw: “De secretaris-generaal (Jérôme Valcke) zou in 2008 10 miljoen dollar van de FIFA op een rekening hebben gestort die wordt beheerd door Jack Warner, een andere medewerker bij de FIFA. Warner, die sinds 2011 weg is bij FIFA, is een van de voornaamste verdachten in het omkopingsschandaal. Hij werd er vorige week officieel beschuldigd van het aannemen van smeergeld, in ruil waarvoor hij zou hebben geholpen het WK van 2010 aan Zuid-Afrika toe te wijzen.” (Trouw het op sy beurt die New York Times as bron aangedui.)

Die angel is in wat nié in die berig staan nie. Die Suid-Afrikaanse regering se amptelike verduideliking word geïgnoreer. Dit gebeur wanneer ’n land se regering sy geloofwaardigheid in die internasionale gemeenskap verbeur, en die vyeblaar te verweer raak om alles te bedek.

Wanneer laas het Mbalula na Suid-Afrika se posisie op die korrupsiepersepsie-indeks, en veral omkoopindeks (waar SA swakker as selfs die DRK vaar), gaan kyk? Indien hy nou sou gaan loer, sal hy skaam kry om Suid-Afrika se reputasie hieroor as so silwerskoon aan te bied. Dat pres. Jacob Zuma gaan verweer het dat korrupsie ’n Westerse konsep is, het ook nie juis gehelp om die land enige punte met geloofwaardigheid te laat verdien nie.

Die Christian Science Monitor het sover gegaan om in sy afdeling vir wetenskapsartikels ’n artikel te plaas onder die opskrif “The sience behind corruption”. Fifa se “24-jaar-program van ampsdraers wat hulself verryk het deur die korruptering van sokker” (soos aangehaal uit die mededelings van die Amerikaanse departement van justisie) is aan die bod. In die artikel word ’n akademikus van die Universiteit van Iowa, Marina Zaloznaya, soos volg aangehaal: “Corruption can span large groups – such as organizations or even the populations of entire nations – if the majority of the people within them find bribery and other forms of corruption to be commonplace.”

Dié artikel is die moeite werd om te lees.

Die artikel haal voorts nog ’n akademikus aan wat juis na Concacef, en die geval Chuck Blazer, verwys wat as ampsdraer van Concacef in 2013 skuldig bevind is dat hy sy hande onregmatig op $6 miljoen gelê het. Concacef is die instansie waarheen die $10 miljoen wat vir Suid-Afrika as suksesvolle bieër bedoel was om die toernooi aan te bied, oorbetaal is.

Wat dalk nie in Suid-Afrika die nuus gehaal het nie, is dat Australië nou ook wil weet hoekom ’n stadion waarvoor die Australiese regering meer as 200 miljoen Australiese dollar betaal het, nooit gebou is nie. Die Aussies dring nou aan op antwoorde oor wat van daardie geld geword het.

Die Fifa-onthullings het ʼn sweer van wantroue in Australië oopgesteek oor hoe die bod vir die aanbied van die 2022-toernooi (wat Katar in baie verdagte omstandighede losgeslaan het) verloop het. Australië het $40 miljoen aan sy bod bestee, maar is in die eerste ronde uitgeskakel nadat die land net een stem gekry het. Ander lande wat as gashere vir die aanbied van die toernooi uitgeval het, is die VSA, Japan en Suid-Korea. Alles bymekaargetel, lyk dit of omkoopgeld ’n belangrike rol moes gespeel het.

Baie Australiërs dring nou daarop aan dat die $40 miljoen bodgeld teruggeëis word.

Dit lyk inderdaad of gulsige selfhelpers die hand oorspeel het, en dat Fifa se werkswyse nou donker wolkies oor verskeie lande laat hang. Afgesien van die Amerikaanse ondersoek, kyk die Switserse polisie nou na die toestaan van die bod aan Rusland (2018) en Katar (2022).

Natuurlik is daar ook wye ontkennings. Danny Jordaan het op die nippertjie sy reis na Switserland om die Fifa-kongres te gaan bywoon, gekanselleer. Valcke het ’n reis na Kanada op kort kennisgewing gekanselleer.

En Suid-Afrika se regering wil hê Suid-Afrikaners moet patrioties agter die regering se “silwerskoon integriteit” konsolideer.

Eina! Ai, hoe mors ek nou vuurwarm koffie op my silwerskoon hemp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Herman van Deventer ·

Hahahaha !!!! Regering het die grootste grap van die eeu geword –

chris ·

Dankie Herman.
Die aanhaling dat korrupsie deur die meerderheid mense in ‘n land aanvaar kan word is van toepassing reg oor Afrika.Ek het by ‘n vorige skrywe verwys na die verskulle in verwysingsraamwerk van veral die westerling en die Afrika-mense.Hierdie omkoopery soos deur ons verstaan ,word nie deur Afrika so verstaan nie.Dit is grootliks ook die rede waarom Zuma sulke uitlatings gemaak het.Ons vind dit nie net lagwekkend nie maar ook skokkend.Die meerderheid van mense hier verstaan dit egter heel anders.Malema se geteem oor Nkandla is bloot ook net wind ,hy sou en sal presies dieselfde doen sou hy daardie skoene dra.Die meerderheid mense in die land is kwaad omdat hulle nie deel in die korrupsie geld nie en het niks te make met die daad(korrupsie)nie.
Ons sal moet begin besef om vir die mense kwaad te word is ‘n mors van energie en jaag ook net rassehaat aan.Daar is ‘n ons en hulle ,daar is onoorbrugbare verskulle,daar is egter hoop.Die begin sal wees om die verskulle te erken, sonder emosie uitkomste te soek.Maar om net aan te hou met die reenboog gaan meer haat en weersin skep waarby niemand baat gaan vind nie.Uitlatings soos onder andere hierdie maak ons kwaad,ons maak hulle kwaad deur ons uitlatings oor hulle tradisionele leiers( om net twee te noem).Zuma se baie dinge wat sin maak ook, maar ons sien dit verkeerd raak,soos bv die witmense en honde uitlating(dit is waar).Of sy agenda egter onskuldig is betwyfel ek.

Ns Hierdie smeergeld woord van die Nederlanders is erg beskrywend.HA HA.

Herman Toerien ·

Hi Chris. Dit is inderdaad so dat daar in die vorige bedeling heelwat pogings was, en selfs kursusse aangebied is om interkulturele verstaan moontlik te maaak. Ek was self op ‘n paar. Ons onthou dinge soos hoekom dit belangrik is om op te daag eerder as om betyds op te daag, hoekom die man voor die vrou by ‘n plek ingaan, hoekom die een altyd eerste moet groet, die een die ander nie in die oë mag kyk nie, ens. Dit het dikwels juis met respek te doene gehad. Hoekom dit nie nou meer geskied nie, weet ek nie – dalk politiek verkeerd. As ‘n mens ‘n reënboog wil bou, is sulke dinge juis belangrik – ook na die ander kant toe. Byvoorbeeld hoekom korrupsie as so vreeslik verkeerd beskou word, dat ‘n stwegige haddruk nie ‘n daad van agressie versinnebeeld nie, en so aan. In Kanada is nepotisme onder die Rooihuide skynbaar iets vanselfsprekened en word nie as verkeerd beskou nie.
In 1994 het ons slim skakelmense funksies aangebied en vanuit die staanspoor verwag dat die nuwe regeerders sou hou by dinge soos RSVP. Maar die verleenthede het net te veel geword waar daar bv nie ‘n tafel vir die premier en sy geselskap was nie (want hy het nie RSVP nie) dat daar maar ander planne gemaak moes word om getalle reg te kry.
Ons het selfs lesings gehad oor die regte uitspreek van woorde, omdat die verkeerde uitspraak iets heel anders kan beteken. Die woord Mangaung kan op drie maniere uitgespreek word en elke keer iets anders beteken. Die uitspraak waarvoor die SAUK so lief is beteken “plek wat stink” en ‘n mens kan maar net dink hoe beledigend dit ervaar kan word.

johan ·

Zuma en die res van die SA regering kan vir jare terug nie meer vertrou word nie. Hulle is leunaars, korrup en bedrieg die mense van SA en dan maak zuma grappe. Hulle het geen respek vir die belastingbetallers nie en ook geen respek vir hulself nie.

Hannes ·

Hoe maak mens om van sulke korrupsie ontslae te raak? Vir party is dit blykbaar normaal. Hoe gaan ons hierdie brug kruis as ons so ver uit mekaar is? Lyk maar ‘n stywe opdraende…

chris ·

Solank die westerling in die minderheid is gaan jy nie ontslae raak van korrupsie nie.Die DA vertel ons nou al lank van die groot skuif onder swartmense,elke keer wat ‘n swartman of vrou teen Afrika opstaan is dit groot nuus .Die besef het blykbaar nog nie deurgedring dat een swaeltjie nie ‘n somer maak nie.Die persoon se stem is net soveel werd soos die miljoene wat hom as ;n “coconut” sien(demokrasie op sy beste).
As ons die brug wil oorsteek in een land sal ons ‘n paar dinge kan doen.
1.Dwing mense om oor die kleurgrens te trou om ‘n nuwe volk te skep, dws ‘n bruin of gekleurde nuwe nasie Hier sal dus ‘n nuwe identiteit geskep moet word eie aan SA met sy eie waardes.
2.Aanvaar korrupsie en neem deel daaraan..
3.Word deel van Afrika se waardestelsel in totaliteit.
4.Skud jou Afrikanerskap af dws Taal en kultuur en aanvaar dat bee sal voortgaan vir baie,baie jare.

Die verskulle is onoorbrugbaar omdat die een teen die ander se normes en waardes direk staan.Die oplossing vir my le in een of ander vorm van selfstandigheid dit is al logiese oplossing anders gaan die haat net meer word en dit kan net op konflik uitloop waarby niemand gaan baat nie.

Janine ·

Nee, dankie Chris vir enige van jou 4 voorstelle. “Wat baat dit my dat ek die hele wereld wen en aan my siel skade ly”? – God van Die Bybel. En dis “verskille” Chris, nie verskulle nie.

chris ·

. Dagse Janine.
Dankie vir die spelling(ek sien jy verstaan darem).Gaan sommer ook deur onderstaande en help waar nodig.
My voorstelle is al waaraan ek kan dink vir ‘n reenboogland en is nie wat ek propageer nie,inteendeel ek dink punt een is onmoontlik.
Jy sal sien dat ek in die laaste paragraaf my oplosing gee.Ek verstaan nie jou voorstel nie.Help asb

Gielie - Namibia ·

Die ANC verwys alte graag na die apartheids regime, maar nog nooit sedert Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het, het SA onder soveel korrupsie, leuens en bedrog gebuk gegaan nie…..helaas ‘n nuwe korrupsie regime. En die massas is te oningelig om dit te besef en dus floreer die ANC kommunistiese regering op hulle stemme. Slotsom….een man een stem werk nie vir die SA bestel nie.

Gielie - Namibia ·

Dit het lankal tyd geword om weer ons Christen kerke vol te maak, ware geloof en die krag van gebed uit te leef. Dit is vandat alle soorte onheilighede en gemors toegelaat en gewettig is, dat dit gaan soos dit gaan. Kyk maar na die Isrealiese geskiedenis….daar’s nêrens ‘n beter voorbeeld nie. Presies dieselfde wat toe grbeur het gebeur nou….en die Here het Sy rug op Sy volk gedraai.

Janine ·

Ek kan nie meer saamstem nie. Kyk net wat het die ANtiChris ons nie al alles gebring nie: afskaffing van die doodstraf; reg tot aborsie; gay-huwelike; afskaf van dissipline in die skole; Sondagsport; pornografie; tans beywer die Afrikaner hul vir genadedood; daar word reeds geagiteer vir die wettiging van prostitusie. Ons hoef nie hier neer te skryf wat die ANtiChris aan ons land en sy mense doen nie. Feit is, hierdie organisasie was al lank voor 1994 tot in die kern verrot. Nogtans het die “JA”-stem tydens ons laaste referendum luid oor ons land weerklink. “Ja” vir die duiwel; “nee” vir God. Ons loop agter ons leiers aan en gooi die Woord van God eenkant toe. Van Rensburg het gese dat die Afrikaner as gevolg hiervan deur die “smeltkroes” sal gaan. Soos die siener s’n, huil my hart oor my land en my volk.

HEVW ·

Die karakters f w de klerk en pik botha maak my braak as ek net hul name hoor. As ons maar net weet wat agter die skerms gebeur het. Heeltemal onwaardig om n land te regeer.

Cathy Kotze ·

Daar is weinig ANC lede wat dit kan bekostig om Jacob Zuma teen te staan.

Niemand besef hoe gevaarlik hy werklik is nie. Hy weet van elke geraamte in die kas van alle senior ANC lede – huidiglik sowel as in die verlede. Hy sal nie huiwer om hierdie inligting te gebruik om die nalatenskap van sommige, en die toekoms van ander te vernietig nie.

Jacob Zuma was vanaf 1962 ‘n aktiewe lid van Umkhonto we Sizwe en ook op die komitee van die ANC se Politieke en Militêre Raad. Hy was deel van die Kommunistiese Party se Politburo, sowel as ‘n senior lid van die ANC se Uitvoerende Komitee sedert 1977.

Sy kennis is uitgebreid. Hy is onaantasbaar!

chris ·

Cathy.
Ek het dit geweet maar nie die kloutjie by die oor gebring soos jy nie .Dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.