Nuuskommentaar: Gly SA uit internasionale arena?

suid afrikaIs daar ’n internasionale beraad van die wêreld se groottes, is Suid-Afrika daar. Gewoonlik.

Maar met die beraad van die G7 in die Beierse Alpe wat pas plaasgevind het, was Suid-Afrika nie onder die Afrikalande wat wel teenwoordig was nie. Hulle was Nigerië, Algerië, Senegal en Tunisië. Veral oor die vlugtelingkwessie is met die Afrikaleiers koppe bymekaargesit. Doeltreffender maatreëls om epidemies die hoof te bied is teen die agtergrond van die ebola-krisis bespreek, terwyl Mers die sewende slagoffer in Suid-Korea geëis het.

Gewoonlik staan hierdie beraad as die G8 bekend, maar Rusland is weens sy rol in die Oekraïne “tydelik” uitgesluit. Die Groot 7 wat nou byeen was, is die Verenigde State, Japan, Kanada, Duitsland, Italië, die Verenigde Koninkryk en Frankryk. Die samesprekings het in ’n slot (kasteel) plaasgevind, en die wêreldmedia se aandag was vir die duur van die samesprekings dikwels gerig op die lede se prosit aan lang glase Beierse bier, en die (stillerige) gebruiklike betogings ’n ent daarvandaan.

Groot sake het egter onder die loep gekom. Dit was die “tradisionele kwessies” soos die internasionale stryd teen terreur, ekonomiese ontwikkeling en die rol van die vrou. Dié keer het Rusland se rol in die Oekraïne en omgewing en die klimaatskwessie ook baie aandag gekry.

Wat die ekonomie betref, lyk die prentjie vir baie lande redelik goed. Ná die “sewe maer jare” sedert die wêreld se finansiële krisis in 2008 uitgebreek het, lyk dit of verskeie lande, waaronder Nederland, teen die einde van die jaar weer op dieselfde vlak sal wees as voor die ineenstorting. Griekeland bly egter ’n erge kopsorg.

Trouens, dis oor die klimaatskwessie waaroor die meeste in die media berig word, en die ander kwessies word dikwels bloot as bysake genoem.

Die klimaatskwessie het die naam gekry van die “dekarbonisasie van die globale industrie”. Die eerste groot doelwit is dat die aarde nie met meer as nog twee grade warmer word nie, omdat groot ontwrigting en veranderings verwag word sou dit wél gebeur. Sonder brieke word verwag dat die aarde teen die einde van die eeu met nog sewe grade warmer sal word. Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het haar dit ten doel gestel om hierdie eeu nog die uitstoot van kweekhuisgasse tot nul te beperk.

Niemand ontken dat natuurlike verskynsels soos vulkaanuitbarstings, groot hemelliggame wat op die aarde kan val, die natuurlike sikliese tilting in die aarde se as, kosmiese storms en ander die klimaat op ’n enorme skaal kan verander nie, maar die besef dat die mens met sy eie handelinge nou ’n bykomende, konstante, groeiende en wydverspreide rol speel, dring tot meer en meer mense deur. Dit kan byvoorbeeld mooi gesien word in die verandering in Amerikaners se siening hieroor. Die erge droogte in Kalifornië en die oorstromings in Texas het klaarblyklik ’n impak op hoe Amerikaners oor klimaatsverwarming voel. Veral konserwatiewe Amerikaners is vir hul skeptisisme oor klimaatsverandering, en veral die mens se rol daarin, bekend.

Volgens die jongste peiling van Rasmussen glo 65% van die Amerikaners dat aardverwarming “minstens in ’n mate” ’n ernstige probleem is. Dit is 6% meer as in Desember verlede jaar. Altesaam 38% meen aardverwarming is ’n baie ernstige probleem.

Hierteenoor meen 31% aardverwarming is nie ’n probleem nie, terwyl net 15% sê die probleem is glad nie ernstig nie.

Oor die mens se rol in aardverwarming is Amerikaners nog meer verdeeld. Tot in 2012 het peilings nog oor die algemeen getoon dat meer Amerikaners geglo het die mens het geen impak op aardverwarming nie as wat gemeen het dat die mens wel so ’n impak het. Sedertdien het diegene wat die mens as die vernaamste oorsaak vir aardverwarming beskou geleidelik die oorhand gekry. Volgens die jongste Rasmussen

peiling meen 45% van die Amerikaners die mens is die vernaamste oorsaak, terwyl 35% meen die klimaatsverwarming is aan gewone planetêre siklusse te wyte, met 8% wat dit aan ander oorsake toeskryf.

Daar moet met groot haas gemeld word dat die wêreld snel meer en meer in kosmoklimatologie belê. ’n Groot deel van die belangstelling is tans gefokus op ruimteweer – die impak wat allerlei sonsuitbarstings op die aarde het soos die ontwrigting van kortgolfkommunikasie, die deurmekaarkrap van GPS’e en die ontwrigting van internet-kommunikasie. In ernstige gevalle, soos wat reeds in Kanada en die VSA gebeur het, kan dit tot reuse-domino-kragonderbrekings lei. Ruimteweer maak ook ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap se bedrywighede uit, hoewel die instelling se planne om Afrikaans ten koste van Engels, Zoeloe en Pedi te begrawe nou meer in die nuus is. Met kosmoklimatologie word egter ook gekyk na die impak van sonsiklusse op die klimaat op aarde. Selfs kosmiese gebeure baie ligjare van die aarde af kan ’n impak op weer op die aarde hê.

Suid-Afrika bly nou egter taamlik afwesig in die internasionale media. Selfs die bysleep van Suid-Afrika by die Fifa-kwessie neem buite Suid-Afrika ’n klein rol in, in die ontvouing in die media.

Die WEF-beraad wat in Suid-Afrika plaasgevind het (die beraad waar die aanwesiges vir ’n stelling van pres. Jacob Zuma oor die land se erns om korrupsie hok te slaan gegiggel het), was in die buitelandse media skaars nuuswaardig.

Wat ’n wêreldrolspeler betref, so lyk dit, het Suid-Afrika ’n dwergie geword. Zuma se talle oorsese reise om presidensieel voor die SAUK-kameras te poseer, dra min by tot ’n verandering in die wêreldpersepsie waar die inhoudelike, en die konstruktiewe hou by sinvolle planne, saak maak. Daardie persepsie is dat Suid-Afrika tans soos ’n dronk tor rondsteier. Pragmatiese maatreëls, soos die “hoender-ooreenkoms” met die VSA om Suid-Afrika se voortgesette insluiting in die Agoa-ooreenkoms te beredder, is net hopeloos te yl versprei.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Ons is besig om teen n spoed te gly. Ek stem saammet RE Brown wat vanoggend n donker prentjie vir SA geskilder het , en die moeilikheid kan ons binne twee jaar tref. Indien ons kredietstatus verder afgegradeer word , kan ons baie gouer by die IMF n reddingsboei moet gaan soek as wat ons dink en ons geldeenheid kan gedevalueer word en besef julle watse moeilikheid het ons dan . Zimbabwe kan ons voorland wees onder die vrotsige ANC bestuur wie nie eers die kapasiteit het om n gemiddelde munisipaliteit te bestuur nie , wat van n land.

Louisa ·

Gerhard, hoewel ek met jou heelhartig saamstem, kan dit dalk op die ou end SA se behoud wees. Die begin van die end van die ANC regering. Ja, grootskaalse opbouing gaan weer moet plaasvind om op te bou wat die ANC afgebreek het, maar ons volkie het dit van te vore gedoen en ek glo ons sal dit weer kan doen.

Grassie ·

‘n Bekende ekonoom het onlangs gesê die regering baat by die baie publisiteit wat die nuusmedia oorheers oor gebeure soos Nkandla, Marikana, die sokker se bedrogspul en die EFF se petaljes. Dit is eintlik redelike kleinighede wat ‘n rookskerm vorm waaragter die werklik enorme probleme, nl die kreeftegang van die Rand en die onhanteerbare toename in werkloosheid, verberg word.
Die wêreld se sakelui is nie bobbejane nie. Hulle is goed ingelig en weet waarheen Suid-Afrika op pad is. Ek glo ons gaan nog baie laer op hul prioriteitslys daal.

Cathy Kotze ·

Ek stem saam, Herman. Wikipedia het skielik van almal ‘n “kundige” gemaak. Party van die wolhaarstories verskyn klokslag elke jaar.

Wat Suid-Afrika betref; ek woon in Kanada en kan getuig dat min nuus vanuit Suid-Afrika die koerante en televisie kanale haal. Selfs die xenofobies aanvalle is selde genoem.

Die sokker fiasko is die uitsondering. Dis die eerste keer ooit wat ek sien dat die ANC uit alle oorde veroordeel word en dat selfs oud pres. Mandela se magiese openbare beeld onder die loep kom.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.