Nuuskommentaar: Godsdiens al weer vir ‘n politieke ses geslaan

kruisVoor grondpaaie het Suid-Afrika teerpaaie gehad. Voor kerse het Suid-Afrika elektrisiteit gehad.

Wat Suid-Afrika gehad het voor die ANC by herhaling godsdiens as politieke werktuig begin inspan het, en sodoende weerskante van die grens van godslastering speel, is ‘n debatspunt. Aborsies op aanvraag is nie toegelaat nie, en selfs die verdedigingsobligasies moes onder druk van die kerke gestaak word omdat dit veel na dobbel gelyk het.

Dit is lank reeds bekend dat die ANC besluit het om godsdiens as deel van sy verkiesingstrategie in te span. Kerke oor byna die hele spektrum het dit al veroordeel, of minstens ernstig vermaan daaroor. Pres. Jacob Zuma is al by herhaling hieroor oor die vingers getik, en so ook van sy vernaamste kornuite.

In die ywer van hierdie politici, waarvan sommiges kommuniste is, om godsdiens in te span word die vreemdste onkunde oor wat in die Bybels staan soms aan die kaak gestel. So het die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, onlangs gemeen Moses het die Israeliete deur die Jordaan die Beloofde Land ingelei. Eintlik was dit Moses se opvolger, Josua, wat daarmee toevertrou is.

Maar veel erger was sy vergelyking van die ANC se drieparty-alliansie met God-drie-eenheid. Hieroor is hy goed oor die kole gehaal.

Maar, so lyk dit, hy het niks wyser van hierdie Sondagskoolles daarvan afgekom nie. Nou het hy in ‘n kerk in Thumahole, Parys, onder meer gevra: “Ons vra vir gebede. Moenie net vir die regering bid nie, bid vir die ANC. Die ANC is ʼn instrument in die hande van God om mense se lewens te verander.”

Hy het ook ‘n beroep op die gemeentelede gedoen om almal vir die ANC te stem.

En dan bak hy nog ‘n liederlike kluitjie deur te sê dit is ‘n reël in die ANC dat almal wat deel is van die party Sondae moet kerk toe gaan. Daar is heelwat Moslems en mense van ander godsdienste, en mense van geen godsdiens nie, lid van die ANC en hulle word beslis nie opgekommandeer om Sondae kerk toe te gaan nie. En hoe moet die mense nou in ieder geval kerk toe gaan as die ANC van sy belangrikste politieke funksies op Sondae laat plaasvind?

Staatsgeld word amptelik ingespan om mense oorsee te stuur om voorvadergeeste van mense wat in ballingskap gesterf het te gaan haal en by Vryheidspark of die Vrouemonument vry te laat, en in die staat se amptelike nuusdiens, Bua, daaroor verslag te doen. Toordokters word gereeld ingespan vir allerlei reinigingsdienste, en beeste word ritueel geslag.

Hoe sober anders klink die verklaring van die 16de Konvent van die Reformasie in Suidelike Afrika nie? “Ons doen ‘n beroep op alle inwoners van Suid-Afrika – en veral die lidmate van ons kerke – om aan die demokratiese proses in ons land deel te neem en die komende verkiesing ernstig op te neem. Elke Christen wat kan stem, moet stem… Dit is onvanpas vir ‘n kerk om sy lede te versoek om vir ‘n bepaalde politieke party te stem. In plaas daarvan moet die kerk die waardes van geregtigheid, deernis en integriteit verkondig en ‘n beroep op sy lede doen om te stem volgens hierdie waardes.”

Maar dan skemer tog iets van die vermaning deur: “Ons versoek ons lidmate om die rol van ‘n politieke party te sien vir wat dit behoort te wees: nie ‘n organisasie om die hele burgerlike samelewing in ‘n land te dikteer nie, maar ‘n doeltreffende instrument vir effektiewe regering tot die voordeel van al die burgers van ‘n land… Ons doen ‘n beroep op die verteenwoordigers van alle politieke partye om hulle te alle tye te weerhou van enige retoriek wat haat of vooroordeel tussen die burgers van die land kan aanblaas en om hulle by die waarheid te hou. Hierdie waarheid sluit in dat hulle hulself sal weerhou van die maak van onrealistiese beloftes wat net sal lei tot frustrasie en aggressie tussen mense. Ons doen ook ‘n beroep op die leiers van politieke partye om hulle te weerhou van enige aanspraak om die enigste Godgegewe instelling in Suid-Afrika te wees wat sal regeer tot die wederkoms.”

Die kerke wat hierby betrokke is, is meer bekend binne Afrikanerkringe as die kerke wat onlangs ‘n striemende aanval op die Openbare Beskermer geloods het. Die lidkerke wat die verklaring onderteken het is die Calvyn Protestantse Kerk van Suid-Afrika, Die Rynse Kerk, Evangelies Lutherse Kerk in Suider-Afrika, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika en Uniting Presbyterian Church in Southern Africa, en hulle verteenwoordig saam sowat 1,5 miljoen kiesers.

Die kerkleiers wat die aanval op die Openbare Beskermer geloods het, het die spot van Johann Maarman, senior assistent-redakteur van Die Burger op die lyf geloop. “Die bose geeste meld dan vir diens aan by adv.

Thuli Madonsela en knip hul aktetasse oop en slaan die leggers van beweerde oortreders voor haar oop. Dan hou die wakker juris kajuitraad met die bose geeste en besluit Hlaudi Motsoeneng, waarnemende uitvoerende hoof van die SABC, moet vervolg word.”

Die waarheid is egter ook dat, ongeag hoe indrukwekkend die lys van kerke lyk wat die Konvent se verklaring onderteken het, die gesamentlike 1,5 miljoen stemgeregtigde lidmate verteenwoordig maar ‘n druppel aan die emmer van sowat 25 miljoen geregistreerde kiesers. Bygesê, daar is ander kerke wat nie lid is nie, maar wat ook al herhaaldelik die ANC gemaan, en selfs reguit gewaarsku het as met godslastering onkant gespeel word.

Ook emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het al ‘n paar maande gelede laat blyk hy gaan nie weer vir die ANC stem nie.

Die feit is egter dat daar baie kerke is met baie lidmate wat anders as die konvensionele kerke na sake kyk. Trouens, Zuma is selfs deur een van hierdie “ander” kerke as ere-pastoor ingelyf.

Die dae toe hoofstroomkerke die samelewingsnorme oor ‘n wye verskeidenheid gebiede bepaal het, is blykbaar nou so verby soos genoeg elektrisiteit, (e-)tolvrye teerpaaie, en ander “vanselfsprekendhede.”

Die eertydse hoofstroomdenke word tot die denke van minderhede gerangeer, en minderhede, so weet ons nou, het ‘n opdraande stryd om die minderheidsregte wat in die grondwet verskans is, opgeëis te kry.

En Christene kan ook nie maar hul hande was oor die ANC se kandidatelys wat duidelik demonstreer dat die partye geen morele kompas het nie.

Dit is moeilik om te dink dat die ANC nou goedsmoeds sy rug op 1,5 miljoen kiesers, plus nog baie ander kerke soos charismatiese kerke te draai wat ook ‘n groot ongemak het met hoe die ANC-ringkoppe nie net godsdiens misbruik nie, maar ongesteurd voortgaan asof daar nie vermanings daaroor was nie.

Die ware Christen is immers die werktuig van God – ook in die politiek – en maak nie van God die mens (waaronder politici) se werktuig nie. En om te weet wat reg en verkeerd is, word God se Woord ingespan.

Ja, niemand is sonder sonde nie – almal is feilbaar – maar om kerkleiers se vermanings in die wind te slaan, dui minstens op nie goeie oordeel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dr P E van der Dussen ·

Dankie aan Herman Toerien vir ‘n ewewigtige maar duidelike kommentaar. Die saak van Godsdiens in die alledaagse partypolitiek gaan nogtans baie dieper en is veral baie ernstiger as bloot die ge- of misbruik daarvan. In die openbare reaksies vind jy geen of weinig aandag aan die lastering van die Drieenige God. In opklimmende orde is deur ANC-leiers een na die ander verklaar: Lidmaatskap van die ANC gee toegang tot die hemel. Die SAKP-ANC-COSATU-alliansie word met die Goddelike Drieeenheid gelykgestel. Uiteindelik verklaar Ramaphosa op 7 Desember 2013 (News24 8 Desember 2013; let op die aanhalingstekens): He said he was sure that Mandela would find members of the ANC waiting for him in heaven. “Mandela will find a branch of the ANC,” said Ramaphosa. “They will roll out a red carpet and say Nelson Rolihlahla Mandela, welcome home.” Mandela had once said that if he died and went to heaven, when he got there, he would search for a branch of the ANC. ANC anti-apartheid stalwarts Oliver Tambo, Lilian Ngoyi, Joe Slovo, and Walter Sisulu would also be there, said Ramaphosa. He hailed Madiba as the only leader who was able to bring change to the country and the world. Hiervolgens het Mandela die regeerstaf van Jesus Christus die Here uit Sy Hand geneem en die regering van die wereld op hom (Mandela) geneem het nadat Mandela die wereld verander het. Dit is nie net ‘n volslae miskenning van die almag van God nie, maar selfs ‘n selfverheffing teen die Almagtige. Mandela is sodoende vergoddelik wat beteken dat gebede tot Mandela gerig word en gerig moet word. daarmee word die proses voltrek wat begin het toe die Tien Gebooie van God met die Handves van Menseregte vervang is. Oor hierdie lastering van die Naam en Wese van die HERE Here mag nie geswyg word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.